Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek sal in u waarheid wandel”

“Ek sal in u waarheid wandel”

“Onderrig my, o Jehovah, aangaande u weg. Ek sal in u waarheid wandel.” — PS. 86:11.

LIED: 31, 72

1-3. (a) Hoe moet ons oor Bybelwaarheid voel? Gee ’n voorbeeld. (Sien prente aan begin van artikel.) (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

VANDAG is dit algemeen om iets terug te neem wat jy gekoop het. Daar word geskat dat mense in party lande byna 9 persent van die items wat hulle by winkels koop, weer terugneem. Die hoeveelheid items wat aanlyn gekoop en teruggestuur word, kan meer as 30 persent wees. Dalk was die item nie wat hulle verwag het nie, miskien was daar iets fout met die item of dalk het hulle net nie daarvan gehou nie. Daarom het hulle besluit om die item vir iets anders te verruil of om hulle geld terug te vra.

2 Alhoewel ons dalk ons geld sou terugvra vir materiële dinge wat ons gekoop het, sou ons nooit die “juiste kennis” van Bybelwaarheid wat ons “koop”, terugneem, of “verkoop”, nie. (Lees Spreuke 23:23; 1 Tim. 2:4.) Soos ons in die vorige artikel gesien het, het ons die waarheid verkry deur baie tyd te spandeer om dit te leer. Om die waarheid te koop het ons dalk ook ’n suksesvolle loopbaan opgegee. Miskien moes ons aanvaar dat ons verhoudings met ander verander het, ons moes dalk ons denke en gedrag verander of ophou om volgens onskriftuurlike gewoontes en gebruike te lewe. Maar die prys wat ons betaal het, is min in vergelyking met die seëninge wat ons ontvang.

3 Wanneer dit by Bybelwaarheid kom, voel ons ook soos die man in Jesus se illustrasie. Om te wys hoe kosbaar die waarheid van God se Koninkryk is vir diegene wat dit vind, het Jesus ’n illustrasie vertel van ’n reisende koopman wat goeie pêrels gesoek het en toe een gevind het. Daardie pêrel was van groot waarde, en daarom het hy “dadelik alles verkoop” wat hy gehad het om dit te kon koop (Matt. 13:45, 46). Net so is die waarheid wat ons gevind het — die waarheid oor God se Koninkryk en al die ander kosbare waarhede wat ons uit God se Woord geleer het — so waardevol vir ons dat ons bereid was om enige opofferings te maak om dit te verkry. As ons aanhou om die waarheid te waardeer sal ons dit nooit “verkoop” nie. Maar ongelukkig het party van God se knegte vergeet hoe waardevol die waarheid is — en het dit selfs verkoop. Ons moenie toelaat dat dit met ons gebeur nie! Om te wys dat die waarheid vir ons baie kosbaar is en dat ons dit nooit sal verkoop nie, moet ons luister na die Bybel se raad en “voortgaan om in die waarheid te wandel”. (Lees 3 Johannes 2-4.) Om in die waarheid te wandel beteken dat ons dit eerste in ons lewe stel en dat ons daarvolgens lewe. Kom ons kyk na die volgende vrae: Waarom en hoe “verkoop” party dalk die waarheid? Hoe kan ons seker maak dat ons nie hierdie fout maak nie? Wat kan ons help om meer vasbeslote te wees om ‘voort te gaan om in die waarheid te wandel’?

WAAROM EN HOE “VERKOOP” PARTY DIE WAARHEID?

4. Hoekom het party in die eerste eeu die waarheid “verkoop”?

4 In die eerste eeu het party wat na Jesus se leringe geluister het, later opgehou om in die waarheid te wandel. Nadat Jesus byvoorbeeld ’n groot skare op ’n wonderdadige manier gevoed het, het die skare hom na die anderkant van die See van Galilea gevolg. Daar het Jesus vir hulle iets gesê wat hulle geskok het: “Tensy julle die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink, het julle geen lewe in julleself nie.” In plaas daarvan om vir Jesus te vra wat hy bedoel het, het sy woorde hulle laat struikel en het hulle gesê: “Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?” As gevolg hiervan het “baie van sy dissipels teruggegaan na die dinge wat hulle agtergelaat het en nie meer saam met hom gewandel nie”. — Joh. 6:53-66.

5, 6. (a) Hoekom het party in ons dag die waarheid verlaat? (b) Hoe kan ’n mens geleidelik die waarheid verlaat?

5 Ongelukkig het party in ons dag die waarheid verlaat. Party het gestruikel omdat daar ’n aanpassing was in die manier hoe ons ’n sekere Bybelgedeelte verstaan of as gevolg van iets wat ’n bekende broer gesê of gedoen het. Ander het weer nie daarvan gehou toe iemand hulle raad uit die Bybel gegee het nie of het die waarheid verlaat omdat hulle nie met ’n ander Christen oor die weg kon kom nie. Party het selfs die valse leringe van afvalliges en diegene wat die waarheid teëstaan, begin volg. Daarom het party doelbewus begin om van Jehovah en die gemeente ‘terug te trek’ (Heb. 3:12-14). Dit sou soveel beter gewees het as hulle voortgegaan het om in Jesus te glo en op hom te vertrou, net soos die apostel Petrus gedoen het! Toe Jesus die apostels gevra het of hulle wou gaan, het Petrus onmiddellik geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.” — Joh. 6:67-69.

6 Ander het die waarheid geleidelik verlaat, miskien sonder dat hulle eers besef het wat besig was om te gebeur. ’n Persoon wat die waarheid geleidelik verlaat, is soos ’n boot wat stadig “wegdryf” van die rivieroewer (Heb. 2:1). Iemand wat hom van die waarheid terugtrek, doen dit doelbewus, maar iemand wat wegdryf, besef nie dat dit gebeur nie. ’n Persoon wat wegdryf laat sy verhouding met Jehovah verswak en kan dit dalk selfs verloor. Hoe kan ons seker maak dat so iets nooit met ons gebeur nie?

HOE KAN ONS SEKER MAAK DAT ONS NOOIT DIE WAARHEID VERKOOP NIE?

7. Wat sal ons help om nie die waarheid te verkoop nie?

7 As ons in die waarheid wil wandel, moet ons al Jehovah se woorde aanvaar en daaraan gehoorsaam wees. Ons moet die waarheid eerste in ons lewe stel en volgens Bybelbeginsels lewe. Koning Dawid het in gebed vir Jehovah gesê: “Ek sal in u waarheid wandel” (Ps. 86:11). Dawid was vasbeslote om in God se waarheid te bly wandel, en ons moet ook vasbeslote wees om dit te doen. As ons nie vasbeslote is nie, sal ons miskien wonder oor die dinge wat ons opgegee het vir die waarheid en dalk van daardie dinge wil terughê. Ons wil eerder aan die volle waarheid vashou. Ons besef dat ons nie kan kies watter waarhede ons wil aanvaar en wat ons wil ignoreer nie. Ons moet in “die hele waarheid” wandel (Joh. 16:13). Kom ons kyk na vyf dinge wat ons dalk opgegee het om die waarheid te verkry. Dit sal ons meer vasbeslote maak om nie in die versoeking te kom om selfs ’n gedeelte van wat ons opgegee het, terug te wil hê nie. — Matt. 6:19.

8. Hoe kan die manier waarop ’n Christen sy tyd gebruik, veroorsaak dat hy van die waarheid af wegdryf? Gee ’n voorbeeld.

8 Tyd. Ons moet ons tyd wyslik gebruik as ons nie van die waarheid wil wegdryf nie. As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk baie tyd daaraan spandeer om televisie te kyk, om op die Internet te wees of om aan ontspanning en stokperdjies deel te neem. Al is dit nie verkeerd om hierdie dinge te doen nie, kan die hoeveelheid tyd wat ons daaraan spandeer, veroorsaak dat ons minder tyd het vir persoonlike studie en ander geestelike aktiwiteite. Kyk wat met ’n Christensuster met die naam Emma gebeur het. * Sy was van kleins af baie lief vir perde. Wanneer sy ook al kon, het sy gaan perdry. Na ’n ruk het sy skuldig begin voel oor die hoeveelheid tyd wat sy aan haar stokperdjie spandeer het. Sy het veranderinge gemaak en dit uiteindelik reggekry om minder tyd aan ontspanning te spandeer. Sy was ook aangemoedig deur die ondervinding van Cory Wells, wat voorheen by rodeo’s perdgery het. * Emma geniet dit nou om meer tyd aan geestelike aktiwiteite te spandeer en om saam met haar vriende en familie te wees wat in die waarheid is. Sy voel nader aan Jehovah en is gelukkig omdat sy weet dat sy haar tyd wyslik gebruik.

9. Watter uitwerking kan dit op ons geestelike doelwitte hê as materiële dinge vir ons te belangrik word?

9 Materiële dinge. As ons wil voortgaan om in die waarheid te wandel, moet ons nie toelaat dat materiële dinge vir ons te belangrik word nie. Toe ons die waarheid geleer het, het ons besef dat geestelike doelwitte belangriker as materiële dinge is. Ons was bereid om materiële opofferings te maak om in die waarheid te wandel. Maar met verloop van tyd sien ons dalk hoe ander die nuutste elektroniese toestelle of ander materiële dinge koop. Miskien begin ons voel dat ons ook hierdie dinge nodig het. Omdat ons nie meer tevrede is met wat ons het nie, begin ons dalk om materiële dinge bymekaar te maak eerder as om op geestelike doelwitte te fokus. Dit herinner ons aan wat met Demas gebeur het. Sy liefde vir “die teenswoordige stelsel van dinge” het veroorsaak dat hy opgehou het om saam met die apostel Paulus te dien (2 Tim. 4:10). Hoekom het Demas Paulus verlaat? Die Bybel sê nie. Maar miskien was sy liefde vir materiële dinge groter as sy liefde vir geestelike aktiwiteite. Of dalk was hy nie meer bereid om persoonlike opofferings te maak om saam met Paulus te dien nie. Ons wil sekerlik nie hê dat die begeerte na materiële dinge weer so sterk word dat ons ons liefde vir die waarheid verloor nie.

10. Wie se invloed moet ons weerstaan as ons wil voortgaan om in die waarheid te wandel?

10 Verhoudings met ander. As ons wil voortgaan om in die waarheid te wandel, moet ons die invloed van ander weerstaan. Toe ons in die waarheid begin wandel het, het ons verhoudings met vriende en familielede wat nie in die waarheid is nie, verander. Party het respek gehad vir ons nuwe oortuigings, maar ander het ons teëgestaan (1 Pet. 4:4). Al wil ons graag goeie verhoudings met familielede hê en vriendelik teenoor hulle wees, kan ons nie Jehovah se standaarde ignoreer om hulle tevrede te stel nie. Ons sal nog steeds probeer om goed oor die weg te kom met familielede. Maar 1 Korintiërs 15:33 maak dit duidelik dat ons slegs goeie vriende moet wees met persone wat lief is vir Jehovah.

11. Hoe kan ons onskriftuurlike gebruike vermy?

11 Verkeerde denke en gedrag. Almal wat in die waarheid wandel, moet heilig wees. (Jes. 35:⁠8; lees 1 Petrus 1:​14-16.) Toe ons in die waarheid gekom het, het ons almal veranderinge gemaak om volgens die Bybel se regverdige standaarde te lewe. Party moes groot veranderinge maak. Maar ons moet versigtig wees dat ons nooit die rein lewe wat ons nou lei, verruil vir ’n onsedelike lewe nie. Hoe kan ons dit vermy om iets onsedeliks te doen? Dink aan die duur prys wat Jehovah betaal het vir ons om heilig te wees — die kosbare bloed van sy Seun, Jesus Christus (1 Pet. 1:​18, 19). Om rein in Jehovah se oë te bly, moet ons altyd nadink oor hoe kosbaar Jesus se losprysoffer is.

12, 13. (a) Hoekom is dit belangrik om Jehovah se beskouing van vakansiedae te hê? (b) Wat sal ons volgende bespreek?

12 Onskriftuurlike gewoontes en gebruike. Familielede, werksmaats en skoolmaats probeer ons dalk kry om saam met hulle aan hulle feesvieringe deel te neem. Hoe kan ons die druk weerstaan om aan gebruike deel te neem en vakansiedae te vier wat Jehovah nie goedkeur nie? Ons kan dit doen deur te verstaan hoekom Jehovah dit nie goedkeur nie. Dit kan ons baie help as ons weer artikels in ons publikasies lees wat verduidelik wat die oorsprong van sekere vakansiedae is. Wanneer ons nadink oor die skriftuurlike redes hoekom ons nie sulke vakansiedae vier nie, oortuig dit ons dat ons op die pad wandel wat “vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10). As ons op Jehovah en sy Woord van waarheid vertrou, sal ons nie vir ‘mense bewe’ nie. — Spr. 29:25.

13 Om in die waarheid te wandel is ’n aanhoudende proses, en ons hoop om daardie weg vir ewig te volg. Hoe kan ons meer vasbeslote wees om voort te gaan om in die waarheid te wandel? Kom ons kyk na drie maniere.

WEES MEER VASBESLOTE OM IN DIE WAARHEID TE WANDEL

14. (a) Hoe kan ’n studie van God se Woord ons help om meer vasbeslote te wees om nooit die waarheid te verkoop nie? (b) Hoekom is wysheid, dissipline en begrip belangrik?

14 Eerstens, hou aan om God se Woord te studeer en dink na oor die kosbare waarhede daarin. Ja, koop waarheid deur gereeld tyd opsy te sit om hierdie dinge te doen. Op hierdie manier sal jy jou waardering vir die waarheid vergroot en meer vasbeslote wees om dit nooit te verkoop nie. Volgens Spreuke 23:23 moet ons ook “wysheid en dissipline en begrip” koop. Om net kennis te hê is nie genoeg nie. Ons moet die waarheid in ons lewe toepas. Om begrip te hê beteken dat ons verstaan hoe al Jehovah se woorde met mekaar ooreenstem. Wysheid beweeg ons om op te tree volgens die kennis wat ons het. Partykeer dissiplineer die waarheid ons deur vir ons te wys waar ons veranderinge moet maak. Ons moet gou wees om op sulke raad te reageer. Dit is baie meer werd as silwer. — Spr. 8:10.

15. Hoe beskerm die gordel van waarheid ons?

15 Tweedens, wees vasbeslote om elke dag volgens die waarheid te lewe. Dra die gordel van waarheid om jou middel (Ef. 6:14). In Bybeltye het ’n soldaat se gordel sy middellyf en organe beskerm. As sy gordel nie styf vasgemaak was nie, kon dit hom nie beskerm nie. Hoe beskerm ons geestelike gordel van waarheid ons? As ons die waarheid styf om ons vasmaak, soos ’n gordel, sal dit ons beskerm teen verkeerde redenasies en ons help om goeie besluite te neem. Wanneer ons in die versoeking kom of beproewinge deurmaak, sal Bybelwaarheid ons help om meer vasbeslote te wees om te doen wat reg is. Net soos ’n soldaat nooit sonder sy gordel oorlog sou gaan voer nie, moet ons ook vasbeslote wees om nooit ons gordel van waarheid los te maak of af te haal nie. Ons doen eerder alles wat ons kan om seker te maak dat dit styf om ons vasgemaak is deur in ooreenstemming met die waarheid te lewe. ’n Soldaat se gordel het ook ’n plek gehad waar hy sy swaard kon hang. Dit bring ons by die volgende punt wat ons sal help om meer vasbeslote te wees om in die waarheid te bly wandel.

16. Hoe help dit ons om in die waarheid te bly wandel as ons die waarheid aan ander leer?

16 Derdens, doen soveel as wat jy kan om mense Bybelwaarheid te leer. Op hierdie manier sal jy stewig vashou aan ons geestelike swaard — “God se woord” (Ef. 6:17). Ons almal kan probeer om beter onderrigters te wees, “wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Tim. 2:15). Wanneer ons die Bybel gebruik om ander te help om waarheid te koop en valse leerstellings te verwerp, is ons ook besig om die waarheid in ons hart en verstand te laat insink. Op hierdie manier word ons meer vasbeslote om voort te gaan om in die waarheid te wandel.

17. Hoekom is die waarheid vir jou kosbaar?

17 Die waarheid is ’n kosbare geskenk van Jehovah. Hierdie geskenk maak dit vir ons moontlik om ’n hegte verhouding met ons hemelse Vader te hê. Dit is ons kosbaarste besitting. Wat Jehovah ons tot nou toe geleer het, is maar net die begin! Hy het belowe dat hy ons vir ewig sal bly leer. Daarom moet die waarheid vir ons so kosbaar wees soos ’n goeie pêrel. Hou aan om ‘waarheid te koop en moet dit nie verkoop nie’. Dan sal jy, net soos Dawid, hierdie belofte aan Jehovah hou: “Ek sal in u waarheid wandel.” — Ps. 86:11.

^ par. 8 Naam is verander.

^ par. 8 Gaan na JW Broadcasting (Engels), en kyk onder INTERVIEWS AND EXPERIENCES > TRUTH TRANSFORMS LIVES.