Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Koop waarheid en moet dit nie verkoop nie”

“Koop waarheid en moet dit nie verkoop nie”

“Koop waarheid en moet dit nie verkoop nie — wysheid en dissipline en begrip.” — SPR. 23:23.

LIED: 94, 96

1, 2. (a) Wat is ons kosbaarste besitting? (b) Watter waarhede is vir ons kosbaar, en hoekom? (Sien prente aan begin van artikel.)

WATTER besitting is vir jou die kosbaarste? Sou jy bereid wees om dit te verruil vir iets wat nie so waardevol is nie? Vir Jehovah se toegewyde knegte is die antwoorde op hierdie vrae baie eenvoudig. Ons kosbaarste besitting is ons verhouding met Jehovah, en ons sal dit vir niks in die wêreld verruil nie. Bybelwaarhede is ook vir ons kosbaar, want dit maak dit vir ons moontlik om ’n hegte verhouding met ons hemelse Vader te hê. — Kol. 1:9, 10.

2 Dink net aan alles wat ons Grootse Onderrigter ons in sy Woord, die Bybel, leer! Hy leer ons wat die waarheid is omtrent sy betekenisvolle naam en sy pragtige eienskappe. Hy vertel ons van die wonderlike voorsiening van die losprys, wat hy uit liefde vir ons gegee het deur middel van sy Seun, Jesus. Hy vertel ons ook van die Messiaanse Koninkryk. Hy gee die gesalfdes die hoop om in die hemel te lewe en die “ander skape” die hoop om op ’n paradysaarde te lewe (Joh. 10:16). En hy leer ons hoe ons moet optree. Hierdie waarhede is vir ons baie kosbaar, want dit help ons om nader aan ons Skepper te kom. Dit gee ons ’n doel in die lewe.

3. Verwag Jehovah dat ons geld vir die waarheid moet betaal?

3 Jehovah is ’n vrygewige God. Hy hou nie goeie dinge terug van diegene wat na die waarheid soek nie. Jehovah het selfs die lewe van sy dierbare Seun as ’n vrye gawe gegee. Daarom sou God nooit verwag dat ons geld vir die waarheid moet betaal nie. Toe ’n man met die naam Simon byvoorbeeld vir die apostel Petrus geld aangebied het in ruil vir die gesag om heilige gees aan ander te gee, het Petrus hom bestraf en gesê: “Mag jou silwer saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die vrye gawe van God deur geld in besit te kry” (Hand. 8:18-20). Wat beteken dit dan om ‘waarheid te koop’?

WAT BETEKEN DIT OM WAARHEID TE “KOOP”?

4. Wat sal ons in hierdie artikel oor die waarheid leer?

4 Lees Spreuke 23:23. Ons moet hard werk om die waarheid in God se Woord te kry. Ons moet bereid wees om enige opoffering te maak om dit te verkry. Soos die wyse skrywer van Spreuke sê, wanneer ons waarheid “koop”, of verkry, moet ons seker maak dat ons dit nie “verkoop”, of verloor, nie. Kom ons bespreek wat dit beteken om waarheid te “koop” en die prys wat ons dalk daarvoor moet betaal. Dit kan ons help om ons waardering vir die waarheid te vergroot en om meer vasbeslote te wees om dit nooit te “verkoop” nie. Ons sal sien dat dit die moeite werd is om waarheid te koop.

5, 6. (a) Hoe kan ons waarheid koop sonder om geld daarvoor te betaal? Gee ’n voorbeeld. (b) Hoe help waarheid ons?

5 Die feit dat iets verniet is, beteken nie dat dit niks gaan kos nie. Die Hebreeuse woord in Spreuke 23:23 wat met “koop” vertaal word, kan ook “verkry” beteken. Albei woorde dra die gedagte oor dat jy moeite doen of iets verruil vir ’n waardevolle item. Kom ons kyk na die volgende illustrasie om ons te help verstaan hoe ons waarheid kan koop: Stel jou voor dat ’n winkel piesangs verniet weggee. Sal die piesangs sommer vanself op jou tafel verskyn? Nee. Ons moet moeite doen om na die winkel toe te gaan om dit te kry. Is die piesangs verniet? Ja, maar ons moet moeite doen en tyd maak om na die winkel toe te gaan. Net so het ons nie geld nodig om waarheid te koop nie. Maar ons moet moeite doen om dit te verkry.

6 Lees Jesaja 55:1-3. Jehovah se woorde wat deur Jesaja opgeteken is, help ons om te verstaan wat dit beteken om waarheid te koop. In hierdie verse vergelyk Jehovah sy woord met water, melk en wyn. Net soos ’n glas koue water, is God se woorde van waarheid verfrissend. En net soos melk ons versterk en kinders help om te groei, so versterk Jehovah se woorde ons en help dit ons om geestelik te groei. Jehovah se woorde is ook soos wyn. Hoe so? In die Bybel word wyn en vrolikheid met mekaar verbind (Ps. 104:15). Deur vir ons te sê om ‘wyn te koop’, verseker Jehovah ons dat wanneer ons volgens sy woorde lewe, dit ons gelukkig sal maak (Ps. 19:8). Jehovah gebruik hierdie vergelykings om vir ons te wys watter voordele dit inhou as ons God se woorde van waarheid leer en dit toepas. Ons kan die moeite wat ons doen, vergelyk met die prys wat ons betaal. Kom ons kyk nou na vyf dinge wat ons dalk vir waarheid moet betaal.

WAT HET JY OPGEOFFER OM WAARHEID TE KOOP?

7, 8. (a) Hoekom neem dit tyd om waarheid te koop? (b) Hoeveel was een student bereid om te betaal, en wat was die resultaat?

7 Tyd. Almal wat waarheid koop, moet hierdie prys betaal. Dit neem tyd om te luister na die Koninkryksboodskap, om die Bybel en Bybellektuur te lees, om die Bybel met Jehovah se Getuies te studeer en om vir vergaderinge voor te berei en dit by te woon. Om tyd te hê vir hierdie dinge, moet ons tyd “uitkoop” van ander aktiwiteite wat minder belangrik is. (Lees Efesiërs 5:15, 16.) Hoe lank sal dit ons neem om ’n akkurate kennis van basiese Bybelleringe te kry? Dit hang af van ons omstandighede. Ons sal altyd meer oor Jehovah se wysheid, weë en werke kan leer (Rom. 11:33). Die eerste nommer van Die Wagtoring het die waarheid met “’n beskeie blommetjie” vergelyk en gesê: “Moenie met een blommetjie van waarheid tevrede wees nie. As een genoeg was, sou daar nie meer gewees het nie. Hou aan om bymekaar te maak, soek meer.” Ons kan ons afvra: ‘Hoeveel blomme van waarheid het ek?’ Selfs al lewe ons vir ewig, ons sal altyd meer oor Jehovah kan leer. Maar vandag is dit belangrik dat ons ons tyd wyslik gebruik om soveel waarheid te koop as wat ons omstandighede toelaat. Kom ons kyk na die voorbeeld van iemand wat graag die waarheid wou leer.

8 Mariko, * ’n jong Japannese vrou, het na die VSA getrek om in die stad New York skool te gaan. Op daardie stadium het sy aan ’n godsdiens behoort wat in die laat 1950’s in Japan begin het. ’n Pioniersuster het Mariko in die huis-tot-huis-bediening ontmoet. Toe sy die waarheid uit die Bybel leer, het dit haar so gelukkig gemaak dat sy die pionier gevra het om twee keer ’n week die Bybel met haar te studeer. Al het sy ’n besige skoolrooster en ’n deeltydse werk gehad, het Mariko onmiddellik die vergaderinge begin bywoon. Sy het ook minder tyd aan vermaak spandeer sodat sy meer tyd kon hê om die waarheid te leer. Sulke opofferings het haar gehelp om vinnig geestelike vordering te maak. Sy is in minder as ’n jaar gedoop. Ses maande later, in 2006, het sy begin pionier, en sy pionier nog steeds.

9, 10. (a) Hoe verander dit ons beskouing van materiële dinge wanneer ons waarheid koop? (b) Wat het ’n jong vrou opgeoffer, en hoe voel sy daaroor?

9 Materiële dinge. Ons moet dalk ’n goeie werk of ’n suksesvolle loopbaan opgee om waarheid te koop. Toe Jesus die vissermanne Petrus en Andreas genooi het om “vissers van mense” te word, het hulle hulle “nette laat staan” (Matt. 4:18-20). Natuurlik kan die meeste mense wat vandag die waarheid leer nie net hulle werk los nie. Hulle het skriftuurlike verantwoordelikhede (1 Tim. 5:8). Maar mense wat die waarheid leer, moet dikwels hulle beskouing van materiële dinge en hulle prioriteite verander. Jesus het dit duidelik gemaak toe hy gesê het: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar . . . Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op” (Matt. 6:19, 20). Kom ons kyk na die voorbeeld van ’n jong vrou.

10 Maria het dit geniet om gholf te speel nog voordat sy oud genoeg was om skool toe te gaan. Gedurende haar hoërskooljare het sy al hoe beter begin speel en uiteindelik ’n beurs gekry om universiteit toe te gaan. Gholf was haar lewe, en haar doelwit was om ’n professionele gholfspeler te word en om baie geld te maak. Maar toe het Maria die Bybel begin studeer, en sy het baie gehou van die waarhede wat sy geleer het. Sy was bly oor die veranderinge wat sy in haar lewe gemaak het as gevolg van die waarheid. Sy het gesê: “Hoe meer ek my gesindheid en my lewenstyl verander het om ooreen te stem met die Bybel se standaarde, hoe gelukkiger het ek geword.” Maria het besef dat dit vir haar moeilik sou wees om op geestelike sowel as materiële dinge te fokus (Matt. 6:24). Daarom het sy haar droom opgegee om ’n professionele gholfspeler te word en om ryk en beroemd te wees. Maar omdat sy die waarheid gekoop het, dien sy nou as ’n pionier, en volgens haar is dit “die gelukkigste en betekenisvolste lewe”.

11. Wat kan met party van ons verhoudings gebeur wanneer ons waarheid koop?

11 Verhoudings met ander. Wanneer ons besluit om volgens Bybelwaarhede te lewe, kan ons verhoudings met vriende en familie dalk verander. Hoekom? Jesus het in gebed die volgende oor sy volgelinge gesê: “Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is die waarheid” (Joh. 17:17). “Heilig hulle” kan ook beteken “sonder hulle af”. Wanneer ons die waarheid aanvaar, word ons afgesonder van die wêreld omdat ons nie meer volgens die wêreld se standaarde lewe nie. Mense se beskouing van ons verander omdat ons waardes verander het. Ons lewe volgens die Bybel se standaarde. Al wil ons nog steeds goeie verhoudings met ons vriende en familie hê, sal party van hulle dalk niks met ons te doen wil hê nie of ons selfs teëstaan vir dit waarin ons glo. Dit verbaas ons nie. Jesus het gesê: “Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matt. 10:36). Maar hy het ook die versekering gegee dat die belonings wat ons ontvang omdat ons die waarheid koop, baie meer sal wees as die prys wat ons dalk daarvoor betaal. — Lees Markus 10:28-30.

12. Watter prys het ’n Joodse man vir waarheid betaal?

12 ’n Joodse besigheidsman met die naam Aaron is van kleins af geleer dat God se naam nie uitgespreek moet word nie. Maar Aaron wou baie graag die waarheid oor God leer. Eendag het die Getuies vir hom gewys dat as hy klinkers by die vier Hebreeuse medeklinkers van God se naam voeg, dit as “Jehovah” uitgespreek kan word. Hy was so opgewonde hieroor dat hy na die sinagoge gegaan het om die rabbi’s hiervan te vertel. Hulle reaksie het Aaron verbaas. Hy het gedink dat hulle bly sou wees om die waarheid oor God se naam te leer, maar hulle het eerder op hom gespoeg en hom weggejaag. Sy familie was ook nie gelukkig met hom nie. Maar dit het hom nie gekeer nie. Aaron het een van Jehovah se Getuies geword en het vir die res van sy lewe Jehovah getrou gedien. Ons besef dat ons verhoudings met ons familie en met ander dalk sal verander. Maar net soos Aaron, is ons bereid om hierdie prys vir waarheid te betaal.

13, 14. Watter veranderinge moet ons in ons denke en gedrag maak om waarheid te koop? Gee ’n voorbeeld.

13 Verkeerde denke en gedrag. Om die waarheid te aanvaar en volgens die Bybel se sedelike standaarde te lewe, moet ons bereid wees om veranderinge in ons denke en gedrag te maak. Let op wat Petrus oor hierdie veranderinge gesê het: “As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het nie, maar word . . . self ook in julle hele gedrag heilig” (1 Pet. 1:14, 15). Baie mense in die eertydse stad Korinte was onsedelik. Daarom moes hulle groot veranderinge in hulle lewe maak om waarheid te koop (1 Kor. 6:9-11). Vandag het baie mense ook opgehou om verkeerde dinge te doen sodat hulle waarheid kon koop. Petrus het hierdie verandering beskryf toe hy gesê het: “Want die tyd wat verby is, is voldoende vir julle om die wil van die nasies te kon volbring toe julle in losbandige dade, welluste, oordadighede met wyn, swelgerye, drinkpartye en onwettige afgoderye gewandel het.” — 1 Pet. 4:3.

14 Devynn en Jasmine het jare lank alkohol misbruik. Devynn was ’n goeie boekhouer, maar omdat hy so baie gedrink het, was dit vir hom moeilik om ’n werk te behou. Jasmine was bekend vir haar aggressiewe en gewelddadige gedrag. Eendag terwyl Jasmine dronk by die straat afgeloop het, het sy twee Getuiesendelinge ontmoet. Die sendelinge het ’n Bybelstudie gereël, maar toe hulle die volgende week by Devynn se huis aankom, was Jasmine en Devynn dronk. Hulle het nie gedink dat die sendelinge genoeg vir hulle sou omgee om na hulle huis toe te kom nie. Toe die sendelinge hulle weer besoek het, was dinge anders. Van die eerste studie af was Jasmine en Devynn ywerige studente van die Bybel en het hulle begin toepas wat hulle geleer het. Binne drie maande het hulle besluit om op te hou drink, en later het hulle hulle huwelik wettig gemaak. Baie mense in hulle dorpie het die veranderinge gesien wat hulle gemaak het, en dit het hulle gemotiveer om ook die Bybel te studeer.

15. Wat kan een van die duurste pryse wees wat ons vir waarheid betaal, en hoekom?

15 Onskriftuurlike gewoontes en gebruike. Een van die duurste pryse wat ons vir waarheid kan betaal, is om op te hou om volgens onskriftuurlike gewoontes en gebruike te lewe. Vir party is dit maklik om die skriftuurlike redes te aanvaar waarom ons nie hierdie dinge moet doen nie. Maar vir ander is dit moeilik om hierdie prys te betaal omdat hulle bang is vir wat hulle familielede, werksmaats en vriende gaan sê. Hulle weet dat mense dikwels baie sterk voel oor sekere gebruike, soos om familielede wat gesterf het te vereer (Deut. 14:1). Die moedige voorbeeld van ander kan ons help om die nodige veranderinge te maak. Kom ons kyk na wat party inwoners van Efese in die eerste eeu gedoen het.

16. Wat het party in Efese gedoen om waarheid te koop?

16 In die eertydse stad Efese was daar baie mense wat toorkuns beoefen het. Wat het nuwe Christene wat voorheen toorkuns beoefen het, gedoen om waarheid te koop? Die Bybel verduidelik: “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand. En hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was. So het die woord van Jehovah op ’n magtige wyse bly groei en seëvier” (Hand. 19:19, 20). Die getroue Christene het hierdie duur prys betaal en seëninge van onskatbare waarde ontvang.

17. (a) Wat kan ingesluit word in die prys wat ons moet betaal om die waarheid te koop? (b) Watter vrae sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Wat het jy vir waarheid betaal? Ons almal spandeer tyd om blommetjies van waarheid bymekaar te maak. Party moet vir waarheid betaal deur materiële dinge op te offer. Ander se verhoudings met familie en vriende het dalk verander. Baie moet veranderinge in hulle denke en gedrag maak en ophou om volgens onskriftuurlike gewoontes en gebruike te lewe. Maar maak nie saak wat dit ons kos nie, ons is daarvan oortuig dat dit die moeite werd is om daardie prys vir Bybelwaarhede te betaal. Dit gee vir ons ons kosbaarste besitting, ’n hegte verhouding met Jehovah. Wanneer ons nadink oor al die seëninge wat ons geniet omdat ons die waarheid ken, is dit vir ons moeilik om te dink dat enigiemand dit sou wou verkoop. Hoe kan dit gebeur, en hoe kan ons seker maak dat ons nie so ’n ernstige fout maak nie? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.

^ par. 8 Party name in hierdie artikel is verander.