Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertrou op Jehovah en bly lewe!

Vertrou op Jehovah en bly lewe!

“Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.” — SPR. 3:5.

LIED: 3, 8

1. Hoekom het ons almal vertroosting nodig?

ONS almal het vertroosting nodig. Dalk is ons lewe vol bekommernisse, teleurstellings en dinge wat ons angstig laat voel. Ons is dalk hartseer omdat ons ouer word, ’n ernstige siekte het of ’n geliefde aan die dood verloor het. Party van ons word dalk vervolg. En ons lewe in ’n wêreld waarin geweld al hoe erger word. Ons weet dat hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” ’n bewys is dat ons “in die laaste dae” lewe en dat elke dag nog ’n dag nader aan die nuwe wêreld is (2 Tim. 3:1). Maar dalk wag ons al lank om die vervulling van Jehovah se beloftes te sien, en intussen word ons probleme dalk al hoe erger. Daarom wonder ons miskien, waar kan ons vertroosting kry?

2, 3. (a) Wat weet ons oor Habakuk? (b) Hoekom gaan ons die boek Habakuk bespreek?

2 Kom ons ondersoek die boek Habakuk om uit te vind waar ons vertroosting kan kry. Alhoewel die Bybel nie vir ons baie besonderhede oor Habakuk se lewe gee nie, is hierdie boek nog steeds ’n bron van aanmoediging. Die naam Habakuk beteken moontlik “vurige omhelsing”. Dit kan verwys na hoe Jehovah ons op ’n vertroostende manier omhels, of in sy arms neem. Of dit kan ook verwys na hoe ons met volle vertroue styf aan hom vashou. Habakuk het met God gepraat en vir hom vrae gevra. Jehovah het Habakuk geantwoord en hom geïnspireer om die gesprek neer te skryf omdat Hy geweet het dat ons daarby sal baat vind. — Hab. 2:2.

3 Hierdie intieme gesprek tussen die bedroefde profeet en Jehovah is al wat die Bybel oor Habakuk sê. Sy boek is deel van “alles wat tevore geskryf is” in God se Woord, die Bybel, “sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). Hoe kan elkeen van ons by die boek Habakuk baat vind? Dit kan ons help om te sien wat dit beteken om op Jehovah te vertrou. Habakuk se profesie gee ons ook die versekering dat dit moontlik is om ’n kalm hart te hê ten spyte van ons beproewinge en probleme. Met dit in gedagte, kom ons ondersoek nou die boek Habakuk.

BID TOT JEHOVAH

4. Hoekom was Habakuk bedroef?

4 Lees Habakuk 1:2, 3Habakuk het gedurende ’n baie moeilike tyd gelewe. Hy was baie hartseer omdat die mense om hom goddeloos en gewelddadig was. Wanneer sou die goddeloosheid ophou? Hoekom het Jehovah so lank geneem om iets te doen? Al wat Habakuk gesien het, was hoe die Israeliete mekaar sleg en onregverdig behandel. Hy het hulpeloos gevoel. Daarom het hy in hierdie donker tyd vir Jehovah gesmeek om iets te doen. Habakuk het dalk begin dink dat Jehovah nie omgee nie. Dit het gelyk asof God nie gou genoeg sou optree nie. Voel jy ook soos hierdie geliefde kneg van God?

5. Watter belangrike les leer ons uit die boek Habakuk? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Het Habakuk sy vertroue in Jehovah verloor en ophou glo dat Sy beloftes vervul sou word? Glad nie! Hy het na Jehovah gegaan met sy probleme en bekommernisse, en nie na mense nie. Dit wys dat hy nie hoop verloor het nie. Maar hy het nog steeds gesukkel om te verstaan hoekom God nie dadelik iets doen nie en hoekom Jehovah toelaat dat hy in so ’n moeilike situasie moet wees. Jehovah het Habakuk geïnspireer om sy bekommernisse neer te skryf. Dit leer vir ons ’n belangrike les: Ons moenie bang wees om vir Jehovah te sê waaroor ons bekommerd en onseker is nie. Hy nooi ons om tot hom te bid en ons hart voor hom uit te stort (Ps. 50:15; 62:8). Spreuke 3:5 moedig ons ook aan om ‘op Jehovah te vertrou met [ons] hele hart’ en om nie ‘op [ons] eie begrip te steun nie’. Habakuk het waarskynlik hierdie woorde geken en het dit in sy lewe toegepas.

6. Hoekom is dit belangrik om te bid?

6 Habakuk het die inisiatief geneem om nader aan Jehovah te kom, sy getroue Vriend en Vader. Habakuk het hom nie net bekommer oor sy situasie of sake in sy eie hande geneem nie. Hy het eerder oor sy gevoelens en bekommernisse gebid en het hierdeur vir ons ’n goeie voorbeeld gestel. Jehovah, die Hoorder van gebed, nooi ons om te wys dat ons op hom vertrou deur tot hom te bid en hom van ons bekommernisse te vertel (Ps. 65:2). As ons dit doen, sal ons sien hoe Jehovah ons gebede beantwoord. Ons sal sy liefdevolle besorgdheid voel, asof hy ons in sy arms neem en omhels deur ons te vertroos en te lei (Ps. 73:23, 24). Jehovah sal ons help om te verstaan hoe hy ons situasie beskou, maak nie saak watter probleme ons het nie. Ons opregte gebede is een van die beste maniere om te wys dat ons op God vertrou.

LUISTER NA JEHOVAH

7. Hoe het Jehovah gereageer toe Habakuk vir hom gesê het waaroor hy bekommerd is?

7 Lees Habakuk 1:5-7. Nadat Habakuk vir Jehovah gesê het waaroor hy bekommerd is, het hy dalk gewonder hoe Jehovah sou reageer. As ’n liefdevolle Vader, het Jehovah verstaan hoe Habakuk voel. God het geweet dat Habakuk bedroef was en gesmeek het vir hulp. Daarom het Jehovah hom nie bestraf nie, maar eerder vir hom gesê wat Hy binnekort met die opstandige Jode sou doen. Dit kan wees dat Habakuk die eerste persoon was vir wie Jehovah gesê het dat die einde van daardie gewelddadige tyd baie naby is.

8. Hoekom was Jehovah se antwoord nie wat Habakuk verwag het nie?

8 Jehovah het vir Habakuk gewys dat Hy gereed is om op te tree. Hy sou daardie gewelddadige en goddelose geslag binnekort straf. Deur die uitdrukking “in julle dae” te gebruik, het Jehovah gewys dat sy oordeel gedurende die profeet se leeftyd of gedurende sy tydgenote s’n sou kom. Jehovah se antwoord was glad nie wat Habakuk verwag het nie, want dit sou beteken dat die nasie Juda se lyding erger sou word. * Die Galdeërs (Babiloniërs) was genadeloos en wreed. Hulle was gewelddadiger as Habakuk se eie volk, wat ten minste Jehovah se standaarde geken het. Hoekom sou Jehovah hierdie wrede heidense nasie gebruik om Sy volk te straf? Hoe sou jy gereageer het as jy hierdie woorde van Jehovah gehoor het?

9. Watter vrae het Habakuk homself dalk afgevra?

9 Lees Habakuk 1:12-14, 17. Alhoewel Habakuk geweet het dat Jehovah Babilon sou gebruik om die goddelose mense om hom te straf, het hy dit nog steeds nie heeltemal verstaan nie. Maar hy het nederig gesê dat Jehovah nog steeds sy “Rots” is (Deut. 32:4; Jes. 26:4). Habakuk het aangehou om te vertrou dat God liefdevol en goedhartig is, en daarom was hy nie bang om vir Jehovah nog vrae te vra nie. Hoekom sou God toelaat dat toestande in Juda erger word? Hoekom sou hy nie onmiddellik optree nie? Hoekom sou die Almagtige toelaat dat sy volk selfs meer ly? Hoekom sou hy ‘stilbly’ terwyl daar oral goddeloosheid is? Hy is die “Heilige” en ‘sy oë is te suiwer om die kwaad te sien’.

10. Hoekom voel ons dalk soms soos Habakuk?

10 Soms voel ons dalk soos Habakuk. Ons luister na Jehovah. Ons vertrou op hom en lees en studeer sy Woord, en dit gee ons hoop. Ons leer meer oor sy beloftes deur die onderrigting wat sy organisasie ons gee. Maar ons wonder dalk nog steeds: ‘Wanneer sal ons probleme tot ’n einde kom?’ Wat kan ons leer uit wat Habakuk volgende gedoen het?

WAG OP JEHOVAH

11. Wat was Habakuk vasbeslote om te doen nadat hy na Jehovah geluister het?

11 Lees Habakuk 2:1. Habakuk se gesprek met Jehovah het hom ’n kalm hart gegee. Daarom was hy vasbeslote om op Jehovah te bly wag om op te tree. Dit was nie ’n oorhaastige besluit nie, want hy het later weer gewys dat hy vasbeslote is toe hy gesê het dat hy “rustig [sou] wag op die dag van benoudheid” (Hab. 3:16). Ander getroue knegte van God het ook gewys dat hulle geduldig was en op God vertrou het. Hulle voorbeeld moedig ons aan om op Jehovah te bly wag om op te tree. — Miga 7:7; Jak. 5:7, 8.

12. Watter lesse leer ons by Habakuk?

12 Wat leer ons uit Habakuk se vasbeslotenheid? Eerstens, ons moet nooit ophou om tot Jehovah te bid nie, maak nie saak watter probleme ons ondervind nie. Tweedens, ons moet luister na wat Jehovah vir ons deur sy Woord en organisasie sê. Derdens, ons moet geduldig op Jehovah wag en die volle vertroue hê dat hy op sy tyd ons pyn en lyding sal wegneem. Net soos Habakuk, moet ons aanhou om uit ons hart met Jehovah te praat en geduldig na hom luister. Dit sal ons ook ’n kalm hart gee en ons help om te volhard. Die hoop wat ons het, sal ons help om geduldig te wees. En as ons geduldig is, sal dit ons help om gelukkig te wees ten spyte van al die probleme wat ons dalk het. Hoop gee ons die vertroue dat ons hemelse Vader sal optree. — Rom. 12:12.

13. Watter liefdevolle versekering kry ons in Habakuk 2:3?

13 Lees Habakuk 2:3. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah bly was dat Habakuk besluit het om te wag. Die Almagtige was heeltemal bewus van Habakuk se verskriklike omstandighede. Daarom het God die profeet vertroos deur hom liefdevol te verseker dat sy opregte vrae beantwoord sal word. Jehovah sou binnekort vir hom verligting bring. Dit was asof God vir Habakuk gesê het: “Wees geduldig, vertrou op my. Ek sal jou vrae beantwoord, al lyk dit asof dit lank neem!” Jehovah het hom daaraan herinner dat Hy ’n spesifieke tyd het wanneer hy Sy beloftes sou vervul. Hy het Habakuk aangespoor om te wag vir die vervulling van Sy beloftes. Die profeet sou nie teleurgesteld wees nie.

Hoekom is ons vasbeslote om Jehovah tot die beste van ons vermoë te dien? (Sien paragraaf 14)

14. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen wanneer ons probleme ondervind?

14 As ons geduldig op Jehovah wag en luister na wat hy vir ons sê, sal dit ons help om op hom te vertrou en om ’n kalm hart te hê ten spyte van enige probleme en beproewinge. Jesus het bevestig dat ons op Jehovah as die Groot Tydhouer kan vertrou en het gesê dat ons nie moet fokus op “tye of tydperke” wat God nog nie bekendgemaak het nie (Hand. 1:7). Daarom moet ons nie opgee nie, maar ons moet nederig en geduldig wees en geloof in God hê. En terwyl ons wag, moet ons ons tyd goed gebruik om Jehovah tot die beste van ons vermoë te dien. — Mark. 13:35-37; Gal. 6:9.

VERTROUE OP JEHOVAH LEI TOT LEWE EN ’N WONDERLIKE TOEKOMS

15, 16. (a) Watter wonderlike beloftes kry ons in die boek Habakuk? (b) Wat leer hierdie beloftes ons?

15 Jehovah het die volgende aan die regverdiges wat op hom vertrou, belowe: “Wat die regverdige betref, deur sy getroue geloof sal hy bly lewe”, en “die aarde sal vol wees van die kennis van die heerlikheid van Jehovah” (Hab. 2:4, 14). Ja, diegene wat geduldig op God vertrou, sal met die ewige lewe beloon word.

16 Dit lyk miskien of die belofte in Habakuk 2:4 net ’n algemene stelling is. Maar hierdie versekering van Jehovah het so baie vir die apostel Paulus beteken dat hy hierdie vers drie keer aangehaal het! (Rom. 1:17; Gal. 3:11; Heb. 10:38). Maak nie saak watter probleme die regverdige ondervind nie, as hy lojaal aan Jehovah bly en geloof in Hom het, sal hy die vervulling van God se beloftes sien. Jehovah sê vir ons om verby ons huidige omstandighede te kyk.

17. Watter versekering kry ons in die boek Habakuk?

17 Die boek Habakuk leer vir elkeen van ons wat in die laaste dae lewe ’n baie belangrike les. Jehovah belowe dat elke regverdige persoon wat geloof in hom het en op hom vertrou, die ewige lewe sal kry. Laat ons aanhou om ons geloof en vertroue in God te versterk, maak nie saak watter probleme of bekommernisse ons het nie. Jehovah se woorde aan Habakuk verseker ons dat Hy ons sal ondersteun en red. Hy vra ons op ’n liefdevolle manier om op hom te vertrou en om geduldig op sy vasgestelde tyd te wag wanneer die hele aarde, onder God se Koninkryk, vol gelukkige en saggeaarde aanbidders sal wees. — Matt. 5:5; Heb. 10:36-39.

WEES BLY EN VERTROU OP JEHOVAH

18. Watter uitwerking het Jehovah se woorde op Habakuk gehad?

18 Lees Habakuk 3:16-19. Jehovah se woorde het ’n groot uitwerking op Habakuk gehad. Hy het nagedink oor die wonderlike dinge wat Jehovah in die verlede vir sy volk gedoen het, en dit het hom meer vertroue in Jehovah gegee. Hy het geweet dat Jehovah binnekort sou optree! Dit het die profeet vertroos, al het hy geweet dat hy nog ’n tyd lank moeilike tye sou deurmaak. Habakuk het nie meer getwyfel nie, maar het die volle vertroue gehad dat Jehovah hom sou red. Sy woorde in vers 18 is dalk een van die pragtigste uitdrukkings van vertroue wat nog ooit deur enige mens gesê is. Party geleerdes dink dat hierdie vers letterlik beteken: “Ek sal spring van vreugde in die Here; ek sal ronddans omdat ek my in God verheug.” Vers 16-19 gee ons beslis ’n wonderlike versekering! Jehovah het nie net vir ons wonderlike beloftes gegee nie, hy het ons ook verseker dat hy spoedig sy voornemens sal vervul.

19. Hoe kan ons ook soos Habakuk deur Jehovah vertroos word?

19 Die belangrike les wat ons uit die boek Habakuk leer, is dat ons op Jehovah moet vertrou (Hab. 2:4). Ons kan sulke vertroue kry en behou as ons ons verhouding met Jehovah versterk deur (1) te volhard in gebed en Jehovah van al ons bekommernisse te vertel; (2) mooi te luister na wat Jehovah vir ons in sy Woord sê en enige riglyne te volg wat ons deur sy organisasie kry en (3) getrou en geduldig te wees terwyl ons op Jehovah wag. Dit is wat Habakuk gedoen het. Hoewel hy bedroef was toe hy sy boek begin het, het hy dit afgesluit met ’n uitroep van vertroue en vreugde. Kom ons volg hierdie aanmoedigende voorbeeld na sodat ons ook Jehovah se liefdevolle besorgdheid kan voel! Ons kan beslis nie sulke vertroosting in hierdie goddelose wêreld kry nie.

^ par. 8 Habakuk 1:5 gebruik die meervoudsvorm “julle”, wat wys dat al die mense van Juda deur die vernietiging geraak sou word.