Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie vorm jou denke?

Wie vorm jou denke?

“Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie.” — ROM. 12:2.

LIED: 88, 45

1, 2. (a) Hoe het Jesus gereageer toe Petrus vir hom gesê het om goed te wees vir homself? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoekom het Jesus so gereageer?

JESUS se dissipels kon hulle ore nie glo nie. Jesus, die een wie hulle gedink het die koninkryk van Israel sou herstel, het gesê dat hy binnekort pyn en lyding sou deurmaak en sou sterf. Die apostel Petrus het toe gesê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.” Toe het Jesus geantwoord: “Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.” — Matt. 16:21-23; Hand. 1:6.

2 Met hierdie woorde het Jesus gewys dat daar ’n verskil is tussen Jehovah se denke en die denke van die wêreld wat onder Satan se beheer is (1 Joh. 5:19). Petrus het Jesus aangemoedig om die selfsugtige gesindheid te hê wat baie mense in die wêreld het. Maar Jesus het geweet dat sy Vader se beskouing van hierdie saak anders was. Hy het geweet dat God wou hê dat hy homself moes gereedmaak vir die lyding en dood wat op hom gewag het. Jesus se antwoord aan Petrus wys duidelik dat hy soos Jehovah gedink het, en nie soos die wêreld nie.

3. Hoekom is dit makliker om soos die wêreld te dink as om soos God te dink?

3 Wat van ons? Dink ons soos God of soos hierdie wêreld? Ons het waarskynlik ons gedrag verander om met God se standaarde ooreen te stem. Maar wat van ons denke? Probeer ons om soos Jehovah te dink en sy beskouing van sake te hê? Dit vereis beslis harde werk om dit te doen. Maar om soos die wêreld te dink is weer baie maklik, want die gees van die wêreld is oral om ons (Ef. 2:2). En omdat die wêreld ons aanmoedig om net aan onsself te dink, kan die wêreld se denke vir ons aanloklik wees. Ja, dit is moeilik om soos Jehovah te dink, maar baie maklik om soos die wêreld te dink.

4. (a) Wat sal gebeur as ons toelaat dat die wêreld ons denke vorm? (b) Hoe sal hierdie artikel ons help?

4 Maar as ons toelaat dat die wêreld ons denke vorm, sal ons heel moontlik selfsugtig word en self wil besluit wat reg en verkeerd is (Mark. 7:21, 22). Daarom is dit baie belangrik dat ons leer om “God se gedagtes” te dink, en nie “dié van mense” nie. Hierdie artikel sal ons help om dit te doen. Ons gaan leer hoekom dit nie te beperkend is om soos Jehovah te dink nie, maar tot ons voordeel is. Dit gaan ook vir ons wys wat ons moet doen om nie deur hierdie wêreld se denke gevorm te word nie. In die volgende artikel gaan ons bespreek hoe ons Jehovah se beskouing van sekere sake kan kry en hoe ons sy denke ons eie kan maak.

HOE DIT ONS HELP OM SOOS JEHOVAH TE DINK

5. Hoekom wil party nie hê dat ander hulle denke moet vorm nie?

5 Party mense wil nie hê dat enigiemand hulle denke moet vorm, of beïnvloed, nie. Hulle sê: “Ek kan vir myself dink.” Wat hulle waarskynlik probeer sê, is dat hulle hulle eie besluite wil neem en dat hulle die reg het om dit te doen. Hulle wil nie gesê word wat om te doen nie, en hulle wil nie geforseer word om soos ander te wees nie. *

6. (a) Watter vryheid gee Jehovah ons? (b) Het hierdie vryheid perke?

6 Ons kan daarvan seker wees dat om Jehovah se beskouing van sake te hê nie beteken dat ons nie ons eie opinies kan hê nie. Tweede Korintiërs 3:17 sê: “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.” Ons het die vryheid om te kies watter tipe persoon ons wil wees. Ons kan ons eie voorkeure en belangstellings hê. Dit is hoe Jehovah ons gemaak het. Maar dit beteken nie dat ons vryheid geen perke het nie. (Lees 1 Petrus 2:16.) Wanneer dit kom by wat reg en verkeerd is, wil Jehovah hê dat ons deur sy denke, wat in sy Woord opgeteken is, gelei moet word. Is dit te beperkend of help dit ons?

7, 8. Hoekom is dit nie te beperkend om Jehovah se beskouing van sake te hê nie? Gee ’n voorbeeld.

7 Kyk na die volgende voorbeeld. Ouers probeer om goeie waardes vir hulle kinders te leer. Hulle leer hulle dalk om eerlik en hardwerkend te wees en om vir ander om te gee. Hierdie dinge is nie te beperkend nie. Die ouers help hulle eerder om suksesvol te wees as onafhanklike volwassenes. Wanneer die kinders grootword en uit die huis trek, sal hulle hulle eie besluite kan neem. As hulle besluit om volgens die waardes te lewe wat hulle ouers hulle geleer het, sal hulle heel moontlik besluite neem waaroor hulle later nie spyt sal wees nie. Die gevolg sal wees dat hulle minder probleme oor hulleself sal bring.

8 Net soos ’n goeie ouer, wil Jehovah hê dat sy kinders die beste lewe moontlik moet hê (Jes. 48:17, 18). Daarom gee hy vir ons basiese beginsels oor hoe ons moet optree en hoe ons ander moet behandel. Hy nooi ons om sy beskouing van sake te hê en om volgens sy standaarde te lewe. Dit is nie te beperkend nie. Dit help ons eerder om op die regte manier oor dinge te redeneer (Ps. 92:5; Spr. 2:1-5; Jes. 55:9). As ons dit doen, kan ons nog steeds persoonlike voorkeure hê en die regte besluite neem, en dit sal ons gelukkig maak (Ps. 1:2, 3). Ja, dit help ons beslis om soos Jehovah te dink!

JEHOVAH SE DENKE IS VERHEWE

9, 10. Watter bewyse is daar dat Jehovah se denke verhewe is bo die wêreld s’n?

9 Nog ’n rede hoekom aanbidders van Jehovah graag soos hy wil dink, is omdat sy denke ver verhewe is bo hierdie wêreld s’n. Die wêreld gee raad oor wat reg en verkeerd is, hoe om ’n gelukkige gesin en ’n suksesvolle loopbaan te hê, asook raad oor ander aspekte van die lewe. Baie van hierdie raad stem nie ooreen met Jehovah se denke nie. Byvoorbeeld, die wêreld moedig mense aan om hulle eie behoeftes eerste te stel en bevorder ook die idee dat seksuele sondes aanvaarbaar is. Mense word aangemoedig om sonder goeie rede uitmekaar te gaan of te skei as hulle voel dat dit hulle gelukkig sal maak. Hierdie raad stem nie ooreen met wat die Bybel leer nie. Maar is die wêreld se raad vandag praktieser as die Bybel s’n?

10 Jesus het gesê: “Wysheid word deur sy werke geregverdig” (Matt. 11:19). Die wêreld het baie vordering op die gebied van tegnologie gemaak, maar kry dit nie reg om groot probleme, wat baie hartseer veroorsaak, op te los nie, soos oorlog, rassisme en misdaad. Die wêreld dink ook dat seksuele sondes aanvaarbaar is. Maar baie mense erken dat dit gesinne verwoes, gesondheidsprobleme veroorsaak en ander slegte gevolge het. Christene wat God se beskouing het, geniet ’n gelukkige gesinslewe, is gesonder en daar is vrede tussen hulle en hulle broers en susters regoor die wêreld (Jes. 2:4; Hand. 10:34, 35; 1 Kor. 6:9-11). Is dit nie ’n bewys dat Jehovah se denke verhewe is bo die wêreld s’n nie?

11. Wie het Moses se denke gevorm, en wat was die resultaat?

11 Getroue aanbidders van Jehovah in die verlede het geweet dat Jehovah se denke verhewe is bo die mens s’n. Alhoewel Moses byvoorbeeld in “al die wysheid van die Egiptenaars” onderrig is, het hy geweet dat ware wysheid van Jehovah kom (Hand. 7:22; Ps. 90:12). Daarom het hy Jehovah gevra: “Maak dan asseblief u weë aan my bekend” (Eks. 33:13). Omdat Moses toegelaat het dat Jehovah sy denke vorm, het Jehovah hom op ’n wonderlike manier gebruik om Sy voorneme te vervul en het hy eer aan hom gegee deur na hom te verwys as ’n man met sterk geloof. — Heb. 11:24-27.

12. Waarop het die apostel Paulus sy besluite gebaseer?

12 Die apostel Paulus was ’n intelligente en geleerde man en kon ten minste twee tale praat (Hand. 5:34; 21:37, 39; 22:2, 3). Maar wanneer hy moes besluit of sekere dinge reg of verkeerd is, het hy die wysheid van die wêreld verwerp en het hy sy besluite op God se Woord gebaseer. (Lees Handelinge 17:2; 1 Korintiërs 2:6, 7, 13.) As gevolg hiervan het Paulus ’n suksesvolle bediening gehad en het hy uitgesien na ’n beloning wat vir ewig sou duur. — 2 Tim. 4:8.

13. Wie se verantwoordelikheid is dit om ons denke in ooreenstemming met Jehovah s’n te bring?

13 Dit is duidelik dat God se denke verhewe is bo die wêreld s’n. As ons volgens sy standaarde lewe, sal ons regtig gelukkig en suksesvol wees. Maar Jehovah sal ons nie forseer om soos hy te dink nie. “Die getroue en verstandige slaaf” en die ouer manne beheer nie ons gedagtes nie (Matt. 24:45; 2 Kor. 1:24). Elke Christen het die verantwoordelikheid om sy of haar denke in ooreenstemming met God s’n te bring. Hoe kan ons dit doen?

MOENIE DEUR HIERDIE WÊRELD GEVORM WORD NIE

14, 15. (a) Waaroor moet ons nadink as ons Jehovah se beskouing van sake wil hê? (b) Hoekom moet ons volgens Romeine 12:2 nie toelaat dat die wêreld se idees ons denke beïnvloed nie? Gee ’n voorbeeld.

14 Romeine 12:2 sê: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” Hierdie geïnspireerde woorde wys dat dit moontlik is om meer soos God te dink, maak nie saak wat ons denke gevorm het voordat ons die waarheid geleer het nie. Dit is waar dat ons denke tot ’n mate deur ons gene en ons ondervindinge in die lewe beïnvloed word. Maar ons kan nog steeds ons denke verander. Sulke veranderinge hang grootliks af van waaroor ons besluit om te dink. Wanneer ons nadink oor Jehovah se beskouing van sake, sal dit ons help om oortuig te wees dat sy beskouing altyd reg is. Dit sal dan ons begeerte wees om sy beskouing van sake te hê.

15 Maar as ons ons verstand wil hervorm om soos Jehovah te dink, moet ons nie “langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie”. Ons moet ophou om ons gedagtes te vul met idees en beskouings wat in stryd is met God se denke. Om ons te help om te verstaan hoe belangrik dit is, kan ons kos as ’n voorbeeld gebruik. Iemand wat gesonder wil wees, sal dalk besluit om gesonde kos te eet. Maar hoe sal dit hom help as hy ook gereeld besmette kos eet? Net so sal dit van geen waarde wees om ons verstand met Jehovah se gedagtes te vul as ons ook ons gedagtes met wêreldse idees besmet nie.

16. Waarteen moet ons onsself beskerm?

16 Is dit moontlik om die wêreld se denke heeltemal te vermy? Nee, ons kan nie letterlik uit die wêreld uitgaan nie. Daar sal tye wees wanneer ons aan die wêreld se idees blootgestel word (1 Korintiërs 5:9, 10). Selfs wanneer ons velddiens doen, word ons blootgestel aan verkeerde idees en valse leringe. Maar wanneer ons wel in kontak kom met hierdie verkeerde idees, hoef ons nie daaroor te dink of dit te aanvaar nie. Net soos Jesus moet ons gou wees om denke te verwerp wat Satan se planne bevorder. Ons kan onsself ook beskerm teen onnodige blootstelling aan die wêreld se denke. — Lees Spreuke 4:23.

17. Hoe kan ons onsself beskerm teen onnodige blootstelling aan die wêreld se denke?

17 Byvoorbeeld, ons moet versigtig wees wanneer ons ons vriende kies. Die Bybel waarsku dat ons nie goeie vriende moet wees met mense wat nie aanbidders van Jehovah is nie, want ons kan later soos hulle begin dink (Spr. 13:20; 1 Kor. 15:12, 32, 33). Ons moet ook versigtig wees wanneer ons vermaak kies. Wanneer ons vermaak verwerp wat geweld, onsedelikheid en die teorie van evolusie bevorder, vermy ons giftige denke wat “teen die kennis van God” is. — 2 Kor. 10:5.

Help ons ons kinders om skadelike vermaak te vermy? (Sien paragraaf 18, 19)

18, 19. (a) Hoekom moet ons op die uitkyk wees vir wêreldse idees wat op ’n subtiele manier aangebied word? (b) Watter vrae moet ons onsself afvra, en hoekom?

18 Daar is ook wêreldse idees wat op ’n subtiele manier aangebied word, en dit is belangrik dat ons dit identifiseer en verwerp. Byvoorbeeld, ’n nuusberig word dalk op so ’n manier aangebied om sekere politieke idees te ondersteun. En party nuusberigte bevorder die wêreld se beskouing van doelwitte en prestasies. Party films en boeke bevorder die “ek eerste”- en “familie eerste”-gesindheid en laat dit aanloklik, redelik en selfs reg klink. Sulke beskouings ignoreer die Bybel se raad dat ons en ons families werklik gelukkig sal wees as ons Jehovah meer as enigiets anders liefhet (Matt. 22:36-39). En party kinderstories, wat oor die algemeen aanvaarbaar is, kan kinders dalk op ’n subtiele manier laat dink dat verkeerde gedrag aanvaarbaar is.

19 Dit beteken nie dat dit verkeerd is om goeie en opbouende vermaak te geniet nie. Maar dit sal goed wees om onsself af te vra: ‘Kan ons wêreldse leringe identifiseer selfs wanneer dit op ’n subtiele manier bevorder word? Beskerm ons ons kinders en onsself teen blootstelling aan sekere TV-programme en leesstof? Help ons ons kinders om soos Jehovah te dink sodat hulle nie beïnvloed word deur die wêreld se idees wat hulle sien en hoor nie?’ As ons die verskil kan sien tussen God se denke en die wêreld s’n, dan sal ons nie “langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie”.

WIE IS BESIG OM JOU TE VORM?

20. Wat sal bepaal of ons deur God se denke of deur die wêreld s’n beïnvloed word?

20 Ons moet onthou dat daar net twee bronne van inligting is — Jehovah en die wêreld wat onder Satan se beheer is. Watter bron is besig om ons te vorm? Die antwoord is, die bron waarvan ons ons inligting kry. As ons die wêreld se idees aanvaar, sal dit ons denke vorm en dan sal ons soos die meeste mense in die wêreld begin dink en optree. Daarom is dit baie belangrik dat ons die dinge waarmee ons ons verstand vul, versigtig kies.

21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Soos ons vroeër in hierdie artikel gesien het, om soos Jehovah te dink, moet ons meer doen as om net slegte invloede te vermy. Ons moet ook ons verstande met God se gedagtes vul as ons sy denke ons eie wil maak. In die volgende artikel gaan ons leer hoe om dit te doen.

^ par. 5 Eintlik kan selfs die onafhanklikste persoon dit nie vermy om deur ander beïnvloed te word nie. Byvoorbeeld, of ’n mens nou dink oor die oorsprong van lewe en of jy net besluit wat jy gaan aantrek, ons almal word tot ’n mate deur ander beïnvloed. Maar ons kan wel besluit wie ons sal toelaat om ons te beïnvloed.