Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 48

Doen wat jy besluit het om te doen

Doen wat jy besluit het om te doen

‘Maak klaar waarmee julle begin het.’ – 2 KOR. 8:11, Engelse weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling.

LIED 35 ‘Maak seker van die belangriker dinge’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat laat Jehovah ons toe om te doen?

JEHOVAH laat ons toe om te kies wat ons met ons lewe wil doen. Hy leer ons om goeie besluite te maak en hy help ons om suksesvol te wees wanneer ons besluite maak wat sy hart bly maak (Ps. 119:173). So wanneer ons die wyse raad in God se Woord toepas, sal ons beter besluite maak. – Heb. 5:14.

2. Waarmee sukkel ons dalk nadat ons ’n besluit gemaak het?

2 Maar selfs nadat ons ’n wyse besluit gemaak het, sukkel ons dalk om te doen wat ons besluit het. Kyk na ’n paar voorbeelde: ’n Jong broer besluit om die Bybel deur te lees. Hy doen goed vir ’n paar weke, maar vir die een of ander rede hou hy op. ’n Suster besluit om as ’n gewone pionier te dien, maar sy bly die datum uitstel waarop sy wil begin. ’n Liggaam van ouermanne besluit saam om meer herdersbesoeke in die gemeente te doen, maar ná ’n paar maande het hulle nog nie begin nie. Hierdie situasies verskil, maar hulle het iets in gemeen. Mense het besluite gemaak, maar hulle het nie gedoen wat hulle besluit het nie. Die eerste-eeuse Christene in Korinte het dieselfde uitdaging gehad. Kom ons bespreek wat ons uit hulle voorbeeld kan leer.

3. Watter besluit het die Korintiërs gemaak, maar wat het gebeur?

3 Omtrent 55 HJ het die Korintiërs ’n belangrike besluit gemaak. Hulle het gehoor dat hulle broers in Jerusalem en Judea deur moeilike tye gaan en as gevolg van armoede ly en dat ander gemeentes geld insamel om hulle te help. Die Korintiërs was goedhartig en vrygewig en het besluit dat hulle ook ’n bydra wil maak en hulle het die apostel Paulus gevra hoe hulle kan help. Hy het die gemeente instruksies gestuur en Titus aangestel om te help om die geld in te samel (1 Kor. 16:1; 2 Kor. 8:6). Maar ’n paar maande later het Paulus uitgevind dat die Korintiërs nie gedoen het wat hulle gesê het hulle sou doen nie. As gevolg hiervan sou hulle geskenk waarskynlik nie gereed wees om na Jerusalem gestuur te word saam met die donasies van die ander gemeentes nie. – 2 Kor. 9:4, 5

4. Wat het Paulus die Korintiërs aangespoor om te doen soos beklemtoon word in 2 Korintiërs 8:7, 10, 11?

4 Die Korintiërs het ’n goeie besluit gemaak, en Paulus het hulle geprys vir hulle sterk geloof en hulle opregte begeerte om vrygewig te wees. Maar hy moes hulle ook aanspoor om te doen wat hulle besluit het om te doen. (Lees 2 Korintiërs 8:7, 10, 11.) Hulle ondervinding leer ons dat dit selfs vir getroue Christene moeilik kan wees om te doen wat hulle besluit het.

5. Watter vrae sal ons beantwoord?

5 Net soos vir die Korintiërs is dit dalk vir ons moeilik om te doen wat ons besluit het. Hoekom? Omdat ons onvolmaak is, hou ons miskien aan om dinge uit te stel. Of iets onverwags gebeur dalk wat dit vir ons moeilik maak om te doen wat ons besluit het (Pred. 9:11; Rom. 7:18). Hoe kan ons weer na ’n besluit kyk wat ons gemaak het en bepaal of ons ’n verandering moet maak? En hoe kan ons seker maak dat ons doen wat ons besluit het om te doen?

VOORDAT JY ’N BESLUIT MAAK

6. Wanneer moet ons dalk ’n besluit verander?

6 Party belangrike besluite sal ons nooit verander nie. Byvoorbeeld, ons bly by ons besluit om Jehovah te dien en ons is vasbeslote om getrou te bly aan ons huweliksmaat (Matt. 16:24; 19:6). Maar ander besluite moet dalk verander word. Hoekom? Omdat omstandighede verander. Wat kan ons help om die beste besluite te maak?

7. Waarvoor moet ons bid, en hoekom?

7 Bid vir wysheid. Jehovah het Jakobus geïnspireer om te skryf: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik” (Jak. 1:5). In sekere opsigte het ons almal wysheid nodig. So vertrou op Jehovah wanneer jy ’n besluit maak en wanneer jy ’n besluit moet verander. Jehovah sal jou dan help om wyse besluite te maak.

8. Watter navorsing moet jy doen voordat jy ’n besluit maak?

8 Doen deeglike navorsing. Lees God se Woord en die publikasies van Jehovah se organisasie en praat met mense wat jou goeie raad sal gee (Spr. 20:18). Dit is baie belangrik om sulke navorsing te doen voordat jy besluit om van werk te verander, te trek of voordat jy besluit watter opvoeding jy gaan kies om jou in jou bediening te ondersteun.

9. Hoe sal dit ons help as ons eerlik met onsself is?

9 Ondersoek die redes vir jou besluit. Die redes waarom ons dinge doen, maak vir Jehovah saak (Spr. 16:2). Hy wil hê dat ons in alles eerlik moet wees. So wanneer ons ’n besluit maak, wil ons ook eerlik met onsself en ander wees oor die rede waarom ons die besluit maak. As ons nie heeltemal eerlik is nie, sal dit vir ons moeilik wees om by ons besluit te bly. Byvoorbeeld, ’n jong broer besluit dalk om ’n gewone pionier te word. Maar later sukkel hy om sy ure in te kry en hy geniet nie meer sy bediening so baie nie. Hy het dalk gedink dat die hoofrede hoekom hy pionier is om Jehovah se hart bly te maak. Maar kon dit dalk wees dat hy sy ouers of iemand anders gelukkig wou maak?

10. Wat is nodig om veranderinge te maak?

10 Dink aan die situasie van ’n Bybelstudent wat besluit om op te hou rook. Aan die begin sukkel hy en hy doen goed vir ’n week of twee, maar dan begin hy weer rook. Uiteindelik kry hy dit reg om op te hou! Sy liefde vir Jehovah en sy begeerte om Sy hart bly te maak, het hom gehelp om sy gewoonte te oorkom. – Kol. 1:10; 3:23.

11. Hoekom moet jy spesifieke doelwitte hê?

11 Wees spesifiek. Hoe meer spesifiek jy is, hoe makliker sal dit wees om te doen wat jy beplan het. Byvoorbeeld, jy het dalk besluit om die Bybel meer gereeld te lees. Maar as jy nie ’n spesifieke skedule in gedagte het nie, sal jy dalk nie jou doelwit bereik nie. * Of die ouermanne besluit dalk om meer herdersbesoeke in die gemeente te doen, maar ná ’n rukkie het hulle nog nie gedoen wat hulle besluit het nie. Om hulle te help, kan hulle die volgende vrae vra: “Het ons ’n lys van broers en susters opgestel wat veral by ’n herdersbesoek sal baat vind? Het ons ’n spesifieke tyd opsygesit om hulle te besoek?”

12. Wat moet ons dalk doen, en hoekom?

12 Wees realisties. Nie een van ons het die tyd, middele of energie om alles te doen wat ons graag wil doen nie. Wees dus realisties en redelik. Wanneer nodig, moet jy dalk ’n besluit verander wat jy besef te moeilik is om uit te voer (Pred. 3:6). Maar sê nou jy het weer na jou besluit gekyk, die nodige veranderinge gemaak en voel dat jy wel kan doen wat jy besluit het. Kyk na vyf dinge wat jou kan help om te doen wat jy besluit het.

WAT JOU KAN HELP OM TE DOEN WAT JY BESLUIT HET

13. Hoe kan jy die krag kry om te doen wat jy besluit het?

13 Bid vir die krag om op te tree. God kan jou die krag gee om te doen wat jy besluit het (Fil. 2:13). So vra Jehovah vir sy heilige gees om jou die krag te gee wat jy nodig het. Hou aan om te bid selfs al voel dit of jou gebed nog nie beantwoord is nie. Soos Jesus gesê het: ‘Hou aan vra, en heilige gees sal vir julle gegee word.’ – Luk. 11:9, 13.

14. Hoe kan die beginsel in Spreuke 21:5 jou help om te doen wat jy besluit het?

14 Beplan. (Lees Spreuke 21:5.) Jy het ’n plan nodig om enige projek te voltooi wat jy begin. Dan moet jy volgens daardie plan werk. Net so wanneer jy ’n besluit maak, moet jy ’n lys maak van alles wat jy moet doen om daardie besluit uit te voer. Wanneer jy ’n groot taak in kleiner takies verdeel, kan dit jou help om te sien hoeveel jy al uitgerig het. Paulus het die Korintiërs aangespoor om “op elke eerste dag van die week” iets opsy te sit vir hulle bydra, in plaas daarvan om te wag en die geld bymekaar te maak wanneer hy daar aankom (1 Kor. 16:2). Om ’n groot taak in kleiner takies te verdeel, kan jou ook help om nie so oorweldig te voel nie.

15. Wat kan jy doen nadat jy beplan het?

15 As jy neerskryf wat jy beplan het, sal dit vir jou makliker wees om dit te doen (1 Kor. 14:40). Liggame van ouermanne word byvoorbeeld aangespoor om een ouerman aan te stel om elke besluit neer te skryf wat die ouermanne maak, insluitende wie die besluit moet uitvoer en die datum wanneer dit gedoen moet wees. As ouermanne hierdie riglyne volg, is dit meer waarskynlik dat hulle sal doen wat hulle besluit het om te doen (1 Kor. 9:26). Jy kan iets soortgelyks in jou persoonlike lewe doen. Jy kan byvoorbeeld ’n lys maak van die dinge wat jy elke dag wil doen en die dinge wat jy eerste wil doen boaan die lys sit. Dit sal jou nie net help om te doen wat jy besluit het nie, maar ook om meer gedoen te kry.

16. Wat is belangrik as jy wil doen wat jy besluit het, en hoe ondersteun Romeine 12:11 dit?

16 Werk hard. Jy moet hard werk om te doen wat jy beplan het om te doen. (Lees Romeine 12:11.) Paulus het vir Timoteus gesê om ‘voort te gaan’ om hom ‘toe te lê’ om ’n beter onderrigter te word. Hierdie raad kan ook op ander geestelike doelwitte toegepas word. – 1 Tim. 4:13, 16.

17. Hoe kan Efesiërs 5:15, 16 ons help om te doen wat ons beplan het?

17 Gebruik jou tyd wyslik. (Lees Efesiërs 5:15, 16.) Kies ’n tyd wanneer jy wil doen wat jy beplan het en moet dit nie verander nie. Moenie vir die perfekte tyd wag nie; die perfekte tyd sal waarskynlik nooit kom nie (Pred. 11:4). Moenie toelaat dat minder belangriker dinge jou tyd mors en jou beroof van die energie wat jy nodig het vir die belangriker dinge nie (Fil. 1:10). Indien moontlik, kies ’n tyd wanneer ander jou nie sal steur terwyl jy besig is nie. Laat ander weet dat jy tyd nodig het om te konsentreer. Miskien kan jy jou foon afsit en later na jou e-posse kyk of op sosiale media gaan. *

18-19. Wat kan jou help om jou besluit deur te voer selfs wanneer dit moeilik is om dit te doen?

18 Fokus op die resultaat. Die resultaat van jou besluit is soos die bestemming van ’n reis. As jy regtig jou bestemming wil bereik, sal jy aanhou met jou reis selfs al is die pad gesluit en jy ’n ander pad moet ry. Net so as ons fokus op die resultaat van ons besluit, sal ons nie maklik opgee as dinge moeilik word nie. – Gal. 6:9.

19 Dit is nie maklik om goeie besluite te maak nie. En om te doen wat ons besluit het, kan ’n uitdaging wees. Maar met Jehovah se hulp kan jy die wysheid en krag kry wat jy nodig het om te doen wat jy besluit het om te doen.

LIED 65 Gaan vooruit!

^ par. 5 Is jy spyt oor party van die besluite wat jy gemaak het? Of sukkel jy soms om goeie besluite te maak en te doen wat jy besluit het? Hierdie artikel sal jou help om hierdie uitdagings te hanteer en om klaar te maak wat jy begin het.

^ par. 11 Om jou te help om jou persoonlike Bybellees te beplan, kan jy die “Rooster vir Bybellees” gebruik wat op jw.org® beskikbaar is.

^ par. 17 Vir meer voorstelle oor hoe om jou tyd wyslik te gebruik, sien die artikel “20 maniere om meer tyd te skep” in die Ontwaak! van April 2010.