Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 45

Hoe die heilige gees ons help

Hoe die heilige gees ons help

“Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Fil. 4:13.

LIED 104 God se gawe van heilige gees

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat help ons om deur elke dag te kom? Verduidelik. (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

“WANNEER ek dink aan die moeilike tyd waardeur ek gegaan het, weet ek dat ek dit nie op my eie sou kon doen nie.” Het jy al iets soortgelyks gesê? Baie van ons het. Miskien het jy dit gesê nadat jy gedink het oor hoe jy ’n ernstige siekte of die dood van ’n geliefde hanteer het. As jy terugdink aan daardie tyd voel jy dat jy slegs deur elke dag kon kom omdat Jehovah se heilige gees jou “die krag wat bo die normale is,” gegee het. – 2 Kor. 4:7-9.

2 Ons het ook heilige gees nodig om ons te help om die invloed van hierdie goddelose wêreld te weerstaan (1 Joh. 5:19). Ons het ook krag nodig om teen “bose geesmagte” te stry (Ef. 6:12). Ons gaan nou twee maniere bespreek hoe die heilige gees ons met al hierdie probleme help. Dan sal ons bespreek wat ons kan doen om ten volle by die heilige gees baat te vind.

DIE HEILIGE GEES GEE ONS KRAG

3. Wat is een manier waarop Jehovah ons help om te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan?

3 Jehovah se heilige gees help ons deur ons die krag te gee wat ons nodig het om ons verantwoordelikhede na te kom ten spyte van probleme. Die apostel Paulus het gevoel dat hy Jehovah kon aanhou dien ten spyte van sy probleme omdat hy op “die krag van die Christus” staatgemaak het (2 Kor. 12:9). Gedurende Paulus se tweede sendingreis het hy nie net hard gewerk in die predikingswerk nie, maar hy het homself ook finansieel ondersteun. Hy het in Korinte gebly in die huis van Aquila en Priscilla. Hulle was tentmakers. Omdat Paulus ook ’n tentmaker was, het hy party dae saam met hulle gewerk (Hand. 18:1-4). Die heilige gees het Paulus die krag gegee om te werk en om die predikingswerk te doen.

4. Watter probleem het Paulus volgens 2 Korintiërs 12:7b-9 gehad?

4 Lees 2 Korintiërs 12:7b-9. Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat hy “’n doring in die vlees” het? As jy ’n doring het wat êrens in jou liggaam vassit, sou jy in baie pyn wees. So Paulus het gesê dat hy die een of ander persoonlike probleem gehad het wat hom baie pyn veroorsaak het. Hy het gesê dat hierdie probleem soos “’n engel van Satan” is wat hom “bly slaan”. Satan of sy demone het dalk nie Paulus se probleem, wat soos ’n doring in sy vlees was, direk veroorsaak nie. Maar toe daardie bose geeste die “doring” sien, was hulle dalk gretig om dit dieper in te druk, met ander woorde om Paulus se pyn te vererger. Wat het Paulus gedoen?

5. Hoe het Jehovah Paulus se gebede beantwoord?

5 Aan die begin wou Paulus hê dat Jehovah die “doring” moes verwyder. Hy het erken: “Ek [het] die Here [Jehovah] drie keer dringend versoek dat dit van my sou wyk.” Maar ten spyte van Paulus se gebede, het Jehovah nie die doring verwyder nie. Beteken dit dat Jehovah nie Paulus se gebede beantwoord het nie? Glad nie. Hy het dit beantwoord. Jehovah het nie die probleem verwyder nie, maar hy het Paulus die krag gegee om te volhard. Jehovah het gesê: “My krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring” (2 Kor. 12:8, 9). En met God se hulp kon Paulus sy vreugde en innerlike vrede behou! – Fil. 4:4-7.

6. (a) Hoe sal Jehovah dalk ons gebede beantwoord? (b) Watter beloftes in die tekste in die paragraaf gee jou krag?

6 Het jy al soos Paulus ’n probleem gehad en Jehovah gesmeek om dit weg te neem? Miskien het jy baie keer ernstig daaroor gebid, maar die probleem het nie weggegaan nie – of dit het selfs erger geword. Het dit jou dalk laat dink dat Jehovah ontevrede is met jou? Indien wel, dink aan Paulus se voorbeeld. Net soos Jehovah sy gebede beantwoord het, sal Hy beslis jou gebede ook beantwoord! Jehovah sal dalk nie die probleem wegneem nie. Maar hy sal deur middel van die heilige gees jou die krag gee om te volhard (Ps. 61:3, 4). Jy voel dalk “neergewerp,” maar Jehovah sal jou nie verlaat nie. – 2 Kor. 4:8, 9; Fil. 4:13.

HEILIGE GEES HELP ONS OM JEHOVAH AAN TE HOU DIEN

7-8. (a) Hoe is die heilige gees soos die wind? (b) Hoe het Petrus die manier waarop die heilige gees werk, beskryf?

7 Wat is nog ’n manier waarop die heilige gees ons help? Ons kan die heilige gees met die wind vergelyk. ’n Skip kan ’n wind wat in die regte rigting waai, gebruik om veilig by sy bestemming aan te kom selfs al is die see stormagtig. Net so help heilige gees ons om Jehovah aan te hou dien ten spyte van ons probleme totdat ons in God se beloofde nuwe wêreld is.

8 Omdat die apostel Petrus ’n visserman was, het hy baie omtrent seilvaart geweet. Dit is miskien hoekom hy ’n uitdrukking gebruik het wat blykbaar met seilvaart verband hou toe hy beskryf het hoe die heilige gees werk. Hy het geskryf: “Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.” Die Griekse woord wat as “meegevoer” vertaal word, dra die gedagte oor “om gelei te word”, of “om beweeg te word”. – 2 Pet. 1:21.

9. Waaraan wou Petrus hê moes mense dink toe hy die woord “meegevoer” gebruik het?

9 Waaraan wou Petrus hê moes mense dink toe hy die woord “meegevoer” gebruik het? Lukas, die skrywer van Handelinge, het dieselfde Griekse woord gebruik om te beskryf hoe ’n skip deur die wind “meegevoer” word (Hand. 27:15). Toe Petrus gesê het dat Bybelskrywers deur heilige gees “meegevoer” is, het hy volgens een Bybelgeleerde ’n uitdrukking gebruik wat mense aan seilvaart sou laat dink. Petrus het eintlik gesê dat net soos ’n skip deur die wind meegevoer word om sy reis te voltooi, is Bybelprofete en skrywers deur heilige gees meegevoer om hulle taak te voltooi. Dieselfde Bybelgeleerde het gesê dat die profete soos skepe was wat hulle “seile oopgemaak het”. Jehovah het sy deel gedoen. Hy het “die wind”, of die heilige gees voorsien. Die Bybelskrywers het hulle deel gedoen. Hulle het die leiding van die heilige gees gevolg.

STAP 1: Neem gereeld deel aan geestelike aktiwiteite

STAP 2: Wees heeltemal betrokke by hierdie geestelike aktiwiteite tot die beste van jou vermoë (Sien paragraaf 11) *

10-11. Watter twee dinge moet ons doen om seker te maak dat ons deur die heilige gees gelei word? Gee ’n voorbeeld.

10 Vandag gebruik Jehovah natuurlik nie meer sy heilige gees om mense te inspireer om Bybelboeke te skryf nie. Maar hy gebruik nog steeds sy heilige gees om sy knegte te lei. Jehovah doen nog steeds sy deel. Hoe kan ons seker maak dat die heilige gees ons lei? Ons moet seker maak dat ons aanhou om ons deel te doen. Hoe doen ons dit?

11 Dink aan hierdie vergelyking. As ’n seeman wil hê dat die wind hom moet help, moet hy twee dinge doen. Eerstens moet hy die boot kry waar die wind waai. Sy boot sal nie vorentoe beweeg as hy in ’n hawe bly ver weg van waar die wind waai nie. Tweedens moet hy sy seile oplig en dit so groot as moontlik oopmaak. Want selfs al waai die wind, sal die boot net vorentoe beweeg as die seile die wind vang. Net so sal ons slegs in Jehovah se diens kan volhard as ons die hulp van die heilige gees het. Om deur hierdie gees gehelp te word, moet ons twee dinge doen. Eerstens moet ons wees waar God se gees is deur deel te neem aan die aktiwiteite wat deur God se gees gerig word. Tweedens moet ons ons seile so groot as moontlik oopmaak deur heeltemal betrokke te wees by hierdie aktiwiteite tot die beste van ons vermoë (Ps. 119:32). Wanneer ons hierdie dinge doen, sal die heilige gees ons vorentoe beweeg en ons help om deur die golwe van teenstand en beproewinge te kom en om getrou te volhard totdat ons in God se nuwe wêreld is.

12. Wat sal ons nou bespreek?

12 Sover het ons twee maniere bespreek waarop die heilige gees ons help. Die heilige gees gee ons krag en dit help ons om getrou te bly terwyl ons probleme het. Die heilige gees help ons ook om vorentoe te beweeg en om op die pad na die ewige lewe te bly. Ons gaan nou vier dinge bespreek wat ons moet doen om ten volle by die heilige gees baat te vind.

HOE OM TEN VOLLE BY DIE HEILIGE GEES BAAT TE VIND

13. Wat kan die Bybel vir ons doen volgens 2 Timoteus 3:16, 17, maar wat moet ons doen?

13 Eerstens, studeer God se Woord. (Lees 2 Timoteus 3:16, 17.) Die Griekse woord wat vertaal word as “deur God geïnspireer”, beteken letterlik “deur God ingeblaas”. God het sy gees gebruik om sy gedagtes in die verstande van Bybelskrywers “in te blaas”. Wanneer ons die Bybel lees en nadink oor wat ons lees, gaan God se instruksies in ons verstand en hart in. Hierdie geïnspireerde gedagtes beweeg ons om veranderinge in ons lewe te maak sodat ons Jehovah se hart kan bly maak (Heb. 4:12). Maar om ten volle by die heilige gees baat te vind, moet ons tyd maak om gereeld die Bybel te studeer en diep na te dink oor wat ons lees. Dan sal God se Woord ’n invloed hê op alles wat ons doen en sê.

14. (a) Hoekom kan ons sê dat “die wind waai” by ons Christelike vergaderinge? (b) Hoe kan ons die vergaderinge met “oop seile” bywoon?

14 Tweedens, aanbid God saam met jou broers en susters (Ps. 22:22). In ’n sekere sin is ons Christelike vergaderinge ’n plek waar “die wind waai”. Dit is waar Jehovah se gees is (Op. 2:29). Hoekom kan ons dit sê? Want wanneer ons saam met ons broers en susters bymekaarkom om Jehovah te aanbid, bid ons vir heilige gees, sing ons Koninkryksliedere wat op God se Woord gebaseer is en luister ons na instruksies wat uit die Bybel kom en deur broers aangebied word wat deur die heilige gees aangestel is. En daardie selfde heilige gees help ons susters om vir hulle dele voor te berei en dit aan te bied. Maar om ten volle by die heilige gees baat te vind, moet ons gereed wees om by die vergaderinge te antwoord. Op hierdie manier woon ons die vergaderinge by met “oop seile”.

15. Hoe is die heilige gees by die predikingswerk betrokke?

15 Derdens, neem deel aan die predikingswerk. Wanneer ons die Bybel in die predikings- en onderrigtingswerk gebruik, laat ons toe dat die heilige gees betrokke is in ons bediening (Rom. 15:18, 19). Om ten volle by God se gees baat te vind, moet ons gereeld deelneem aan die predikingswerk en die Bybel gebruik wanneer ons ook al kan. Een manier hoe jy betekenisvolle gesprekke in die bediening kan hê, is deur die voorgestelde aanbiedings in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek te gebruik.

16. Wat is die beste manier om heilige gees te kry?

16 Vierdens, bid tot Jehovah (Matt. 7:7-11; Luk. 11:13). Die beste manier om heilige gees te kry, is om Jehovah in gebed daarvoor te vra. Niks kan keer dat ons gebede Jehovah bereik nie of dat ons God se gees ontvang nie – nie eers Satan of enige tronkmuur nie (Jak. 1:17). Hoe moet ons bid sodat ons ten volle by die heilige gees kan baat vind? Om hierdie vraag te beantwoord, kom ons bespreek die onderwerp van gebed in meer detail deur te kyk na ’n illustrasie wat slegs in Lukas se Evangelieverslag gevind word. *

HOU AAN BID

17. Watter les oor gebed kan ons leer uit Jesus se illustrasie wat opgeteken is in Lukas 11:5-9, 13?

17 Lees Lukas 11:5-9, 13. Jesus se illustrasie wys hoe ons vir heilige gees moet bid. Die man in die illustrasie het ontvang wat hy nodig gehad het “weens sy onbeskroomde volharding”, of omdat hy aanhou vra het. Hy was nie bang om sy vriend te vra om hom te help nie, al was dit laat in die aand. * Hoe het Jesus hierdie illustrasie op gebed toegepas? Hy het gesê: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word.” So wat leer ons hieruit? Om hulp van die heilige gees te ontvang, moet ons aanhou bid daarvoor.

18. Hoekom kan ons volgens Jesus se illustrasie die vertroue hê dat Jehovah ons sy heilige gees sal gee?

18 Jesus se illustrasie help ons ook om te sien hoekom Jehovah ons heilige gees sal gee. Die man in die illustrasie wou ’n goeie gasheer wees. Hy het gevoel dat dit sy plig is om vir sy besoeker wat laat in die aand daar aangekom het, kos te gee, maar hy het niks gehad om vir hom te gee nie. Jesus het gesê dat die buurman vir die man brood gegee het omdat hy aangehou het om daarvoor te vra. Wat wou Jesus ons leer? As ’n onvolmaakte man bereid is om ’n buurman te help wat aanhou vra, hoeveel te meer sal ons liefdevolle hemelse Vader dié help wat hom aanhou vra vir heilige gees! Daarom kan ons die vertroue hê dat Jehovah ons gebede sal beantwoord as ons aanhou om hom vir heilige gees te vra. – Ps. 10:17; 66:19.

19. Hoekom kan ons seker wees dat ons sal volhard?

19 Ons kan daarvan seker wees dat ons sal volhard, selfs al hou Satan nie op om ons aan te val nie. Hoekom? Omdat die heilige gees ons op twee maniere help. Eerstens, dit gee ons die krag wat ons nodig het om probleme te verduur. Tweedens, dit is soos “die wind in ons seile” wat ons help om vorentoe te beweeg en Jehovah te bly dien totdat ons in sy nuwe wêreld kom. Kom ons wees vasbeslote om soveel as moontlik by die heilige gees baat te vind!

LIED 41 Hoor my gebed

^ par. 5 Hierdie artikel beklemtoon hoe God se heilige gees ons kan help om te volhard. Dit bespreek ook wat ons kan doen om ten volle by die heilige gees baat te vind.

^ par. 16 Lukas beklemtoon meer as enige ander Evangelieskrywer dat gebed ’n belangrike deel van Jesus se lewe was. – Luk. 3:21; 5:16; 6:12; 9:18, 28, 29; 18:1; 22:41, 44.

^ par. 17 Sien die studienota “onbeskroomde volharding” in die Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek, Julie 2018, bladsy 4.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENTE: STAP 1: ’n Broer en suster kom by die Koninkryksaal aan. Deur saam met hulle broers en susters bymekaar te kom, is hulle by ’n plek waar Jehovah se heilige gees is. STAP 2: Hulle is gereed om by die vergadering te antwoord. Dieselfde twee stappe geld wanneer dit by die ander aktiwiteite kom wat in hierdie artikel genoem word: Om God se Woord te studeer, deel te neem aan die predikingswerk en tot Jehovah te bid