Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

“Jehovah het my nooit vergeet nie”

“Jehovah het my nooit vergeet nie”

EK BLY in Orealla, ’n Amerindiaanse dorpie van omtrent 2 000 mense in Guyana, Suid-Amerika. Die dorpie is afgesonder; jy kan net daar uitkom deur ’n klein vliegtuigie of ’n boot te gebruik.

Ek is in 1983 gebore. Die eerste paar jaar van my lewe was ek ’n gesonde kind, maar toe ek tien jaar oud was, het ek begin om verskriklike pyn regdeur my liggaam te voel. Omtrent twee jaar later het ek een oggend wakker geword en kon ek nie beweeg nie. Dit maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, ek kon nie my bene beweeg nie. Vanaf daardie dag het ek nie weer geloop nie. My siekte het ook veroorsaak dat ek ophou groei. Vandag is ek nog steeds so klein soos ’n kind.

’n Paar maande nadat ek siek geword het en nie meer die huis kon verlaat nie, het twee van Jehovah se Getuies ons huis besoek. Wanneer ons kuiergaste gekry het, het ek gewoonlik probeer om weg te kruip, maar daardie dag het ek die vrouens toegelaat om met my te praat. Terwyl hulle oor die Paradys gepraat het, het ek onthou wat ek gehoor het toe ek omtrent vyf jaar oud was. Gedurende daardie tyd het ’n sendeling met die naam Jethro, wat in Suriname gebly het, ons dorpie een keer ’n maand besoek en die Bybel met my pa studeer. Jethro het my baie goed behandel. Ek het baie van hom gehou. My ouma en oupa het my ook saam met hulle na die vergaderinge van die Getuies geneem, wat in ons dorpie gehou was. So toe Florence, een van die vrouens wat my daardie dag besoek het, my gevra het of ek meer wou leer, het ek ja gesê.

Florence het saam met haar man, Justus, na my toe teruggekom, en saam het hulle die Bybel met my studeer. Toe hulle agterkom dat ek nie kon lees nie, het hulle my geleer om te lees. Ná ’n tydjie kon ek op my eie lees. Een dag het die paartjie vir my gesê dat hulle gevra is om in Suriname te dien. Ongelukkig was daar niemand in Orealla wat die Bybel verder met my kon studeer nie. Maar gelukkig het Jehovah my nooit vergeet nie.

Nie lank daarna nie het ’n pionier met die naam Floyd in Orealla aangekom, en hy het my ontmoet terwyl hy besig was om van hut tot hut te preek. Toe hy met my gepraat het oor ’n Bybelstudie, het ek geglimlag. “Hoekom glimlag jy?” het hy gevra. Ek het vir hom gesê dat ek alreeds die brosjure Wat vereis God van ons? gestudeer het en dat ek begin het om die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei te studeer. * Ek het verduidelik hoekom ek nie meer studeer nie. Floyd het die res van die Kennis-boek met my gestudeer, maar toe is hy ook gevra om êrens anders te dien. Ek was weer sonder ’n Bybelonderrigter.

Maar in 2004 was Granville en Joshua, twee spesiale pioniers, gevra om in Orealla te dien. Hulle het van hut tot hut gepreek toe hulle my gekry het. Toe hulle my gevra het of ek die Bybel wou studeer, het ek geglimlag. Ek het vir hulle gevra om die Kennis-boek weer van vooraf met my te studeer. Ek wou sien of hulle vir my dieselfde dinge sou leer as wat my vorige onderrigters my geleer het. Granville het vir my gesê dat daar vergaderinge in die dorp gehou word. Alhoewel ek vir amper tien jaar nie my huis verlaat het nie, wou ek dit bywoon. So Granville het na my huis toe gekom, my in ’n rolstoel gesit en my na die Koninkryksaal gestoot.

Later het Granville my aangemoedig om by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit. Hy het gesê: “Jy is gestremd, maar jy kan praat. Eendag sal jy ’n openbare toespraak gee. Dit sal gebeur.” Sy aanmoedigende woorde het my selfvertroue gegee.

Ek het begin om saam met Granville te preek. Maar baie van die grondpaaie in die dorpie was te hobbelrig vir ’n rolstoel. So ek het Granville gevra om my in ’n kruiwa rond te stoot. Daardie reëling het baie goed gewerk. Ek is in April 2005 gedoop. Kort daarna het die broers my opgelei om vir die gemeente se lektuur te sorg en om die klankstelsel by die Koninkryksaal te hanteer.

Toe, in 2007, het my pa in ’n bootongeluk gesterf. Ons familie was in skok. Granville het saam met ons gebid en het vertroostende verse uit die Bybel vir ons gelees. Twee jaar later het nog ’n tragedie ons getref – Granville het in ’n bootongeluk gesterf.

Ons klein gemeentetjie wat baie hartseer was, was nou sonder ouermanne en het net een bedieningskneg gehad. Granville se dood het my baie hartseer gemaak; hy was ’n baie goeie vriend. Hy het my altyd gehelp om nader aan Jehovah te kom en om baie ander dinge te kry wat ek nodig gehad het. By die vergadering ná sy dood, moes ek die paragrawe vir die Wagtoring-studie lees. Ek het net die eerste twee paragrawe gelees toe ek begin huil het, en die trane het net aanhou rol. Ek moes van die verhoog af gaan.

Ek het beter begin voel toe broers van ’n ander gemeente gekom het om ons in Orealla uit te help. Die takkantoor het ook Kojo, ’n spesiale pionier, gestuur. Dit het my baie bly gemaak toe my ma en my jonger broer begin studeer het en gedoop geword het. Toe, in Maart 2015, is ek as ’n bedieningskneg aangestel. Ná ’n rukkie het ek my eerste openbare toespraak gegee. Daardie dag het ek met ’n glimlag op my gesig en met trane van dankbaarheid teruggedink aan wat Granville jare gelede vir my gesê het: “Eendag sal jy ’n openbare toespraak gee. Dit sal gebeur.”

Deur middel van JW Broadcasting®-programme het ek geleer van broers en susters wat in ’n soortgelyke situasie as ek is. Maar ten spyte van hulle gestremdheid, lewe hulle ’n produktiewe en gelukkige lewe. Daar is ook party dinge wat ek nog kan doen. My begeerte om Jehovah al my krag te gee wat ek nog het, het my gemotiveer om ’n gewone pionier te word. En in September 2019 het ek nuus ontvang wat ek glad nie verwag het nie! Daardie maand het ek uitgevind dat ek as ’n ouerman in ons gemeente van omtrent 40 verkondigers aangestel is.

Ek is dankbaar vir die dierbare broers en susters wat met my gestudeer het en my gehelp het om Jehovah te dien. Maar ek is veral dankbaar dat Jehovah my nooit vergeet het nie.

^ par. 8 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar word nie meer gedruk nie.