Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 47

Hoe sterk sal jou geloof wees?

Hoe sterk sal jou geloof wees?

“Moenie dat julle harte ontsteld word nie. Beoefen geloof.” – JOH. 14:1.

LIED 119 Ons moet geloof hê

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Waaroor wonder ons miskien?

VOEL jy partykeer angstig wanneer jy dink aan die dinge wat voorlê – die vernietiging van valse godsdiens, die aanval van Gog van Magog en die oorlog van Armageddon? Wonder jy soms of jy getrou sal bly wanneer hierdie skrikwekkende dinge gebeur? As jy al hieroor gewonder het, sal hierdie bespreking van Jesus se woorde in ons temateks vir jou moontlik baie aanmoedigend wees. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Moenie dat julle harte ontsteld word nie. Beoefen geloof” (Joh. 14:1). Sterk geloof sal ons help om moedig te wees, maak nie saak wat in die toekoms gebeur nie.

2. Hoe kan ons ons geloof versterk, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons kan ons geloof versterk vir toekomstige uitdagings deur te kyk na hoe ons nou al toetse van geloof hanteer. Dit sal ons help om aspekte van ons lewe te identifiseer waar ons ons geloof moet versterk. Elke keer wanneer ons ’n toets van geloof slaag, sal ons geloof sterker word. En dit sal ons help om uitdagings in die toekoms te hanteer. In hierdie artikel sal ons vier situasies bespreek waar Jesus se dissipels meer geloof nodig gehad het. Ons sal ook bespreek hoe ons soortgelyke uitdagings vandag kan hanteer en hoe hierdie uitdagings ons vir die toekoms kan voorberei.

GELOOF DAT GOD MATERIEEL VIR ONS SAL SORG

Al sukkel ons finansieel, sal ons geloof ons help om op Koninkryksbelange gefokus te bly (Sien paragraaf 3-6)

3. Hoe kan Matteus 6:30, 33 ons geloof versterk dat Jehovah materieel vir ons sal sorg?

3 ’n Gesinshoof wil natuurlik seker maak dat sy gesin genoeg kos, klere en ’n blyplek het. Maar dit is nie altyd maklik in hierdie moeilike tye nie. Party van ons broers en susters het hulle werk verloor en hulle sukkel om weer werk te vind. Ander moes nee sê vir ’n werk wat nie vir Christene gepas is nie. In sulke gevalle het ons sterk geloof nodig dat Jehovah op die een of ander manier vir ons gesin sal sorg. Dit is wat Jesus aan sy dissipels in die bergpredikasie verduidelik het. (Lees Matteus 6:30, 33.) Wanneer ons heeltemal oortuig is dat Jehovah ons nie sal verlaat nie, dan sal ons op die belangriker dinge – Koninkryksbelange – kan fokus. Wanneer ons sien hoe Jehovah vir ons sorg, sal ons nader aan hom kom en sal ons geloof sterker word.

4-5. Wat het een gesin gehelp om nie angstig te wees oor hulle materiële behoeftes nie?

4 Kyk na hoe Jehovah een gesin in Venezuela gehelp het toe hulle angstig was oor hulle materiële behoeftes. In die verlede het die Castro-gesin ’n bestaan gemaak deur op hulle plaas te werk. Toe het ’n bende met wapens die familie se plaas van hulle af weggeneem en hulle gedwing om die plaas te verlaat. Die pa, Miguel, sê: “Nou bewerk ons ’n klein stuk grond wat ons by iemand geleen het om ’n bestaan te probeer maak. Aan die begin van elke dag vra ek dat Jehovah voorsien wat ons vir daardie dag nodig het.” Die lewe is moeilik vir hierdie gesin, maar omdat hulle sterk geloof het dat ons liefdevolle Vader vir hulle sal sorg, woon hulle gereeld vergaderinge by en doen hulle gereeld velddiens. Hulle stel Koninkryksbelange eerste in hulle lewe, en Jehovah voorsien wat hulle nodig het.

5 Gedurende hierdie moeilike tyd het Miguel en sy vrou, Yurai, gefokus op hoe Jehovah vir hulle gesorg het. Soms het Jehovah hulle broers en susters gebruik om te voorsien wat hulle nodig het of om Miguel te help om ’n werk te kry. Op ander tye het Jehovah voorsien wat hulle nodig het deur middel van die noodlenigingswerk van die takkantoor. Jehovah het hulle nooit in die steek gelaat nie. En daarom het hulle gesin se geloof sterker geword. Nadat Yoselin, hulle oudste dogter, ’n ondervinding vertel het van hoe Jehovah hulle gehelp het, het sy gesê: “Dit raak ’n mens se hart om Jehovah se hand so duidelik te kan sien. Ek sien hom as ’n vriend op wie ek altyd kan staatmaak.” Sy sê verder: “Die toetse wat ons gesin deurgemaak het, het ons voorberei vir moeiliker toetse in die toekoms.”

6. Hoe kan jy jou geloof versterk as jy finansieel swaarkry?

6 Sukkel jy finansieel? As dit die geval is, is dit vir jou seker ’n moeilike tyd. Maar jy kan hierdie tyd gebruik om jou geloof op te bou. Lees Jesus se woorde in Matteus 6:25-34 biddend en dink daaroor na. Dink na oor ondervindinge van mense in ons dag wat bewys dat Jehovah altyd sorg vir dié wat besig bly in sy diens (1 Kor. 15:58). As jy dit doen, sal dit jou vertroue versterk dat jou hemelse Vader vir jou sal sorg, net soos hy vir dié gesorg het wat in ’n soortgelyke situasie was as jy. Hy weet wat jy nodig het, en hy weet hoe om dit te voorsien. Wanneer jy sien hoe Jehovah jou help, sal jou geloof sterker word en dan sal jy groter uitdagings in die toekoms kan hanteer. – Hab. 3:17, 18.

GELOOF OM “’N GROOT STORM” TE VERDUUR

Sterk geloof kan ons help om enige groot storm te verduur, of dit nou ’n letterlike of ’n figuurlike storm is (Sien paragraaf 7-11)

7. Volgens Matteus 8:23-26, hoe het “’n groot storm” die dissipels se geloof getoets?

7 Toe Jesus en sy dissipels eenkeer in ’n storm op see vasgevang was, het Jesus daardie geleentheid gebruik om vir sy dissipels te wys dat hulle meer geloof nodig gehad het. (Lees Matteus 8:23-26.) Die storm was so erg dat die golwe bo-oor die boot begin spoel het, maar Jesus het rustig geslaap. Die dissipels was baie bang en het Jesus wakker gemaak en hom gevra om hulle te red. Toe het hy vir hulle gevra: “Hoekom is julle so bang? Hoekom het julle so min geloof?” Die dissipels moes besef het dat Jehovah Jesus en dié wat saam met hom was, maklik kon beskerm. Wat is die les vir ons? Sterk geloof kan ons help om enige letterlike of figuurlike “groot storm” te verduur.

8-9. Hoe is Anel se geloof getoets, en wat het haar gehelp?

8 Kyk na hoe ’n groot toets Anel, ’n ongetroude suster van Puerto Rico, gehelp het om sterker geloof te ontwikkel. Sy het ’n letterlike “groot storm” ondervind. Die toets het in 2017 begin toe die orkaan Maria Anel se huis vernietig het. As gevolg van die storm het sy haar werk verloor. Anel sê: “Gedurende daardie moeilike tyd het ek angstig gevoel, maar ek het geleer om op Jehovah te vertrou in gebed en om nie toe te laat dat angstigheid my oorweldig nie.”

9 Nog iets wat Anel gehelp het om deur daardie moeilike tyd te kom, was gehoorsaamheid. Sy sê: “Om die leiding van die organisasie te volg, het my gehelp om kalm te bly. Ek het gesien hoe Jehovah my deur middel van die broers en susters gehelp het. Hulle het my aangemoedig en vir my alles gegee wat ek nodig gehad het.” Sy sê verder: “Jehovah het my meer gegee as wat ek ooit voor kon vra, en my geloof het baie sterker geword.”

10. Wat kan jy doen as jy voor “’n groot storm” te staan kom?

10 Ondervind jy op die oomblik “’n groot storm” in jou lewe? Miskien kry jy swaar as gevolg van ’n natuurramp. Of miskien ondervind jy ’n figuurlike storm, soos ’n ernstige gesondheidsprobleem wat jou laat voel asof jy nie weet watter kant toe nie. Dalk voel jy soms angstig. Maar moenie toelaat dat jou angstigheid jou keer om op Jehovah te vertrou nie. Kom nader aan hom deur uit die hart met hom te praat. Versterk jou geloof deur na te dink oor die tye in die verlede toe Jehovah jou gehelp het (Ps. 77:11, 12). Jy kan seker wees dat hy jou nooit ooit in die steek sal laat nie.

11. Hoekom moet ons vasbeslote wees om gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding neem?

11 Wat kan jou nog help om moeilike tye te verduur? Soos Anel genoem het, kan gehoorsaamheid ons help. Leer om dié te vertrou wat Jehovah en Jesus vertrou. Soms sal dié wat aangestel is om die leiding te neem vir ons dalk instruksies gee wat nie vir ons sin maak nie. Maar Jehovah seën gehoorsaamheid. Sy Woord en die ondervindinge van sy getroue knegte bewys dat gehoorsaamheid lewens red (Eks. 14:1-4; 2 Kron. 20:17). Dink na oor sulke voorbeelde. As jy dit doen, sal dit jou meer vasbeslote maak om nou en in die toekoms gehoorsaam te wees aan die organisasie se instruksies (Heb. 13:17). Dan sal jy geen rede hê om bang te wees vir die groter storm wat voorlê nie. – Spr. 3:25.

GELOOF OM ONGEREGTIGHEID TE VERDUUR

As ons aanhoudend bid, sal dit ons geloof versterk (Sien paragraaf 12)

12. Volgens Lukas 18:1-8, hoe kan geloof ons help om ongeregtigheid te verduur?

12 Jesus het geweet dat ongeregtigheid sy dissipels se geloof sou toets. Om hulle te help om ongeregtigheid te verduur, het hy ’n illustrasie vertel wat in die boek Lukas gevind word. Jesus het die storie vertel van ’n weduwee wat ’n onregverdige regter bly vra het om regverdig te oordeel tussen haar en die een teen wie sy ’n regsaak gehad het. Sy was seker dat hy haar uiteindelik sou help as sy hom aanhou vra. Op die ou end het die regter gedoen wat sy gevra het. Wat is die les vir ons? Jehovah is nie onregverdig nie. Daarom het Jesus gesê: “Sal God dan nie sorg dat dié wat hy uitgekies het en wat dag en nag tot hom uitroep, regverdig behandel word . . . nie?” (Lees Lukas 18:1-8.) Toe het Jesus gevra: “Maar sal die Seun van die mens werklik hierdie geloof op die aarde vind wanneer hy kom?” Wanneer ons onregverdig behandel word, moet ons wys dat ons sterk geloof het soos die weduwee deur geduldig te wees en te volhard. Ons geloof sal ons die vertroue gee dat Jehovah ons sal help. Ons moet ook glo in die krag van gebed. Soms sal God ons gebede op onverwagse maniere beantwoord.

13. Hoe het gebed een familie gehelp wat onregverdig behandel was?

13 Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Vero, wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo bly. Vero, haar 15-jarige dogter en haar man wat nie ’n Getuie was nie, moes uit hulle dorpie vlug toe ’n groep soldate dit aangeval het. Op pad het die familie by ’n padblokkade gekom, waar die soldate gedreig het om hulle dood te maak. Toe Vero begin huil, het haar dogter haar probeer kalmeer deur hardop te bid en Jehovah se naam herhaaldelik in haar gebed te gebruik. Toe sy klaar gebid het, het die bevelvoerder vir haar gevra: “Meisie, wie het jou geleer bid?” Sy het geantwoord: “My ma het my geleer, en sy het die modelgebed in Matteus 6:9-13 gebruik.” Die bevelvoerder het gesê: “Meisie, jy en jou ouers kan maar in vrede gaan, en mag Jehovah julle God julle beskerm!”

14. Wat sal ons geloof dalk toets, en wat sal ons help om te volhard?

14 Sulke ondervindinge leer ons om nooit die krag van gebed te onderskat nie. Maar sê nou jou gebed word nie onmiddellik of op ’n baie indrukwekkende manier beantwoord nie? Soos die weduwee in Jesus se illustrasie, moet jy aanhou bid met die volste vertroue dat ons God jou nie in die steek sal laat nie en dat hy jou gebed op die een of ander manier sal beantwoord. Hou aan om Jehovah vir sy heilige gees te smeek (Fil. 4:13). Onthou dat Jehovah jou binnekort so ryklik sal seën dat jy heeltemal sal vergeet van enige moeilike tye van die verlede. Wanneer jy moeilike tye met Jehovah se hulp verduur, sal jou geloof sterker word, en dan sal jy gereed wees vir die dinge wat voorlê. – 1 Pet. 1:6, 7.

GELOOF OM UITDAGINGS TE OORKOM

15. Volgens Matteus 17:19, 20, watter uitdaging het Jesus se dissipels ondervind?

15 Jesus het sy dissipels geleer dat geloof hulle sou help om uitdagings te oorkom. (Lees Matteus 17:19, 20.) Eenkeer kon hulle nie ’n demoon uitdryf nie, al het hulle dit by vorige geleenthede gedoen. Wat was die probleem? Jesus het verduidelik dat hulle meer geloof nodig gehad het. Hy het vir hulle gesê dat hulle bergagtige uitdagings sal kan oorkom as hulle genoeg geloof het! Vandag ondervind ons ook soms uitdagings wat vir ons soos berge lyk.

Al is ons baie hartseer, sal geloof ons help om besig te bly in Jehovah se diens (Sien paragraaf 16)

16. Hoe het geloof Geydi gehelp om ’n tragedie en groot hartseer te hanteer?

16 Kyk na die ondervinding van Geydi, ’n suster van Guatemala. Geydi se man, Edi, is vermoor toe hulle ná ’n vergadering op pad huis toe was. Hoe het Geydi se geloof haar gehelp om haar groot hartseer te hanteer? Sy sê: “Gebed help my om my las vir Jehovah te gee. En dít help my om vrede te ervaar. Deur middel van my familie en my vriende in die gemeente, sien ek hoe Jehovah vir my omgee. Om besig in Jehovah se diens te bly, verlig my pyn en help my om een dag op ’n slag te vat sonder om my te veel te bekommer oor die volgende dag. Hierdie ondervinding het my geleer dat ek enige toets in die toekoms met die hulp van Jehovah, Jesus en die organisasie sal kan hanteer.”

17. Wat kan ons help om ’n uitdaging te hanteer wat vir ons soos ’n berg lyk?

17 Treur jy oor ’n geliefde wat gesterf het? Maak tyd om jou geloof in die opstanding te versterk deur Bybelverslae te lees van dié wat uit die dood opgewek is. Is jy baie hartseer omdat ’n familielid uitgesit is? Studeer sodat jy jouself kan oortuig dat God se dissipline altyd die beste is. Gebruik elke uitdaging as ’n geleentheid om jou geloof op te bou. Stort jou hart voor Jehovah uit in gebed. Moet jouself nie afsonder nie, maar bly eerder na aan jou broers en susters (Spr. 18:1). Neem deel aan aktiwiteite wat jou sal help om te volhard, selfs al moet jy dit met trane doen (Ps. 126:5, 6). Bly by ’n goeie geestelike roetine deur vergaderinge gereeld by te woon, velddiens te doen en die Bybel te lees. En bly gefokus op die wonderlike seëninge wat Jehovah vir jou in die toekoms sal gee. Wanneer jy sien hoe Jehovah jou help, sal jou geloof al hoe sterker word.

“GEE ONS MEER GELOOF”

18. Wat moet jy doen as jy agterkom dat jy meer geloof nodig het?

18 As ’n uitdaging wat jy nou ondervind of ’n uitdaging wat jy in die verlede ondervind het, wys dat jy meer geloof nodig het, moet jy nie mismoedig voel nie. Sien dit as ’n geleentheid om jou geloof te versterk. Soos Jesus se apostels, moet jy Jehovah vir meer geloof vra (Luk. 17:5). En dink na oor die voorbeelde wat ons in hierdie artikel bespreek het. Soos Miguel en Yurai, moet jy dink aan al die tye toe Jehovah jou gehelp het. Soos Vero se dogter en Anel, moet jy Jehovah smeek om jou te help wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan. En net soos Geydi, moet jy besef dat Jehovah jou dalk deur middel van familie en vriende die nodige hulp sal gee. As jy Jehovah toelaat om jou nou te help om deur moeilike tye te kom, dan sal dit jou vertroue versterk dat hy jou in die toekoms deur enige soort moeilike tyd sal kan help.

19. Waarvan was Jesus seker, en waarvan kan jy seker wees?

19 Jesus het sy dissipels gehelp om te sien waar hulle meer geloof nodig gehad het, maar hy het nooit getwyfel dat hulle met Jehovah se hulp toetse van hulle geloof sal kan slaag nie (Joh. 14:1; 16:33). Hy was ook seker dat ’n groot menigte deur middel van hulle geloof die toekomstige groot verdrukking sal oorleef (Op. 7:9, 14). Sal jy deel van daardie groep wees? Deur middel van Jehovah se onverdiende goedheid sal jy deel van daardie groep wees as jy nou al van elke geleentheid gebruik maak om jou geloof te versterk! – Heb. 10:39.

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

^ par. 5 Ons sien uit na die einde van hierdie goddelose wêreld. Maar soms wonder ons dalk of ons geloof sterk genoeg sal wees om deur daardie tydperk te kom. In hierdie artikel sal ons na ondervindinge en praktiese lesse kyk wat ons kan help om ons geloof te versterk.