Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 45

Hou aan om mekaar met lojale liefde te behandel

Hou aan om mekaar met lojale liefde te behandel

“Behandel mekaar met lojale liefde en genade.” – SAG. 7:9.

LIED 107 God se voorbeeld van liefde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter goeie redes het ons om lojale liefde aan mekaar te betoon?

ONS het goeie redes om lojale liefde aan mekaar te betoon. Wat is party van hierdie redes? Let op hoe die volgende Bybelverse hierdie vraag beantwoord: “Moenie dat lojale liefde en getrouheid jou verlaat nie. . . . Dan sal jy die goedkeuring van God en van mense geniet, en hulle sal jou beskou as iemand met insig.” “’n Man wat lojale liefde betoon, doen goed aan sy eie siel.” “Die een wat regverdigheid en lojale liefde nastreef, sal die lewe . . . vind.” – Spr. 3:3, 4; 11:17, vtn.; 21:21.

2 Hierdie verse noem drie redes hoekom ons lojale liefde moet betoon. Eerstens, dié wat lojale liefde betoon, is kosbaar in God se oë. Tweedens, wanneer ons lojale liefde betoon, vind ons self daarby baat. Byvoorbeeld, ons bou sterk vriendskappe met ander op. Derdens, as ons lojale liefde betoon, sal ons seëninge in die toekoms, insluitende die ewige lewe, kry. Ons het beslis goeie rede om te doen wat Jehovah sê: “Behandel mekaar met lojale liefde en genade.” – Sag. 7:9.

3. Watter vrae gaan ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel gaan ons die antwoorde op vier vrae bespreek. Aan wie moet ons lojale liefde betoon? Wat kan ons uit die boek Rut oor lojale liefde leer? Hoe kan ons lojale liefde betoon vandag? Watter seëninge ontvang almal wat lojale liefde betoon?

AAN WIE MOET ONS LOJALE LIEFDE BETOON?

4. Hoe kan ons Jehovah se voorbeeld van lojale liefde navolg? (Markus 10:29, 30)

4 Soos ons in die vorige artikel geleer het, betoon Jehovah net lojale liefde aan dié wat hom liefhet en hom dien (Dan. 9:4). Ons wil “navolgers van God [word], as geliefde kinders” (Ef. 5:1). Daarom wil ons ’n sterk band van lojale liefde vir ons geestelike broers en susters ontwikkel. – Lees Markus 10:29, 30.

5-6. Watter soort mense word baie keer as “lojaal” beskryf?

5 Hoe beter ons lojale liefde verstaan, hoe beter sal ons dit aan ons broers en susters kan betoon. Om ons te help om te verstaan wat lojale liefde is, kom ons kyk na die verskil tussen lojale liefde en baie mense se beskouing van lojaliteit. Dink aan die volgende voorbeeld.

6 Vandag word iemand wat jare lank by dieselfde maatskappy werk, baie keer as ’n lojale werker beskryf. Maar al werk hy al so lank by die maatskappy, het hy dalk nog nie eers die bestuurders ontmoet nie. Hy stem dalk nie altyd saam met die besluite wat die maatskappy neem nie. Hy is nie lief vir die maatskappy nie, maar hy is bly dat hy ’n werk het wat hom help om kos op die tafel te sit. Hy sal aanhou om daar te werk totdat hy aftree, tensy hy ’n beter werk aangebied word.

7-8. (a) Wat motiveer ’n mens om lojale liefde te betoon? (b) Hoekom gaan ons ’n paar verse in die boek Rut bespreek?

7 Wat is die verskil tussen lojale liefde en party mense se beskouing van lojaliteit? Dit is ’n mens se beweegrede. Hoekom het God se knegte in Bybeltye lojale liefde betoon? Hulle het dit gedoen, nie omdat hulle moes nie, maar omdat hulle harte hulle beweeg het om dit te doen. Kom ons kyk na Dawid se voorbeeld. Sy hart het hom beweeg om lojale liefde aan sy geliefde vriend Jonatan te betoon, al wou Jonatan se pa Dawid doodmaak. Selfs jare ná Jonatan se dood het Dawid aangehou om lojale liefde aan Jonatan se seun Mefiboset te betoon. – 1 Sam. 20:9, 14, 15; 2 Sam. 4:4; 8:15; 9:1, 6, 7.

8 Ons kan baie oor lojale liefde leer deur ’n paar verse in die boek Rut te ondersoek. Wat kan ons by Rut, Naomi en Boas oor lojale liefde leer? Hoe kan ons hierdie lesse in ons gemeente toepas? *

WAT KAN ONS UIT DIE BOEK RUT OOR LOJALE LIEFDE LEER?

9. Hoekom het Naomi gedink dat Jehovah teen haar was?

9 In die boek Rut lees ons die verhaal van Naomi, haar skoondogter Rut en ’n godvresende man met die naam Boas, wat ’n familielid van Naomi se man was. As gevolg van ’n hongersnood in Israel het Naomi, haar man en hulle twee seuns na Moab getrek. Terwyl hulle daar was, het Naomi se man gesterf. Haar twee seuns het getrou, maar ongelukkig het hulle ook later gesterf (Rut 1:3-5; 2:1). Daardie tragedies het veroorsaak dat Naomi verskriklik mismoedig word. Haar pyn was so erg dat sy gedink het dat Jehovah teen haar was. Let op wat sy oor God gesê het: “Die hand van Jehovah [het] teen my gedraai.” “Die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.” Sy het ook gesê: “Jehovah [het] teen my gedraai . . . en die Almagtige [het] rampspoed oor my gebring.” – Rut 1:13, 20, 21.

10. Hoe het Jehovah gereageer op wat Naomi gesê het?

10 Hoe het Jehovah gereageer op wat Naomi gesê het? Hy het haar nie verlaat nie. Hy het eerder meegevoel vir haar gehad. Jehovah verstaan dat “onderdrukking . . . ’n wyse persoon dwaas [kan] laat optree” (Pred. 7:7). Maar Naomi moes nog steeds gehelp word om te sien dat Jehovah aan haar kant is. Watter hulp het God haar gegee? (1 Sam. 2:8). Hy het Rut beweeg om Naomi te help en om lojale liefde aan haar te betoon. Uit liefde het Rut haar skoonma gehelp om emosioneel en geestelik sterker te word. Wat leer ons uit Rut se voorbeeld?

11. Wat beweeg ons om broers en susters by te staan wat hartseer of mismoedig is?

11 Lojale liefde beweeg ons om dié by te staan wat hartseer of mismoedig is. Net soos Rut Naomi lojaal bygestaan het, staan broers en susters dié in die gemeente by wat hartseer of mismoedig is. Hulle is lief vir hulle broers en susters en hulle doen alles wat hulle kan om hulle te help (Spr. 12:25; 24:10). Dit is presies wat die apostel Paulus ons aangemoedig het om te doen toe hy gesê het: “Praat vertroostend met dié wat terneergedruk is, ondersteun dié wat swak is, wees geduldig met almal.” – 1 Tess. 5:14.

Ons kan ’n mismoedige broer of suster baie help deur na hom of haar te luister (Sien paragraaf 12)

12. Wat is een van die beste maniere om ’n broer te help wat mismoedig is?

12 Een van die beste maniere om ’n broer te help wat mismoedig is, is deur na hom te luister en hom te verseker dat jy vir hom lief is. Jehovah waardeer baie wat jy vir sy kosbare skapies doen (Ps. 41:1). Spreuke 19:17 sê: “Die een wat goed is vir die armes, leen aan Jehovah, en Hy sal hom terugbetaal vir wat hy doen.”

Rut bly by haar skoonma, Naomi, terwyl Orpa na Moab teruggaan. Rut sê vir Naomi: “Waar Ma gaan, sal ek gaan” (Sien paragraaf 13)

13. Hoe was Rut anders as Orpa, en hoe het Rut lojale liefde betoon? (Sien prent op voorblad.)

13 Die dinge wat ná die dood van Naomi se man en haar twee seuns gebeur het, leer ons nog ’n les oor lojale liefde. Toe Naomi uitvind dat “Jehovah weer aan sy volk aandag geskenk het deur vir hulle kos te gee”, het sy besluit om terug huis toe te gaan (Rut 1:6). Al twee haar skoondogters het saam met haar vertrek. Maar op pad het Naomi die vrouens drie keer gevra om terug Moab toe te gaan. Wat het gebeur? Ons lees: “Orpa [het] haar skoonma gesoen en vertrek. Maar Rut het by haar gebly” (Rut 1:7-14). Deur terug huis toe te gaan, het Orpa presies gedoen wat Naomi vir haar gesê het om te doen. Sy het gedoen wat van haar verwag word. Maar Rut het verder gegaan as wat van haar verwag word. Sy kon ook teruggegaan het, maar as gevolg van haar lojale liefde het sy besluit om by haar skoonma te bly en om haar te help (Rut 1:16, 17). Rut het besluit om by Naomi te bly, nie omdat sy moes nie, maar omdat sy dit regtig wou doen. Daardie besluit was ’n bewys van Rut se lojale liefde. Watter les leer ons uit hierdie verslag?

14. (a) Hoe betoon baie broers en susters lojale liefde vandag? (b) Volgens Hebreërs 13:16, watter offerandes maak God bly?

14 Lojale liefde gaan verder as wat verwag word. Soos in die verlede, betoon baie van ons broers en susters lojale liefde aan ander broers en susters, selfs al ken hulle hulle nie persoonlik nie. Byvoorbeeld, ná ’n natuurramp wil hulle onmiddellik uitvind hoe hulle kan help. Wanneer iemand in die gemeente finansieel sukkel, is hulle gou om daardie persoon te help. Net soos die Masedoniërs in die eerste eeu, doen hulle meer as wat van hulle verwag word. Hulle maak selfs persoonlike opofferings om vir hulle broers te gee wat hulle nodig het (2 Kor. 8:3). Dink net hoe bly dit Jehovah maak wanneer hy sulke lojale liefde sien! – Lees Hebreërs 13:16.

HOE KAN ONS LOJALE LIEFDE BETOON VANDAG?

15-16. Hoekom kan ons sê dat Rut ’n goeie voorbeeld van lojale liefde was?

15 Ons kan ’n hele paar goeie lesse leer deur te kyk na hoe Rut Naomi gehelp het. Kom ons bespreek ’n paar van hulle.

16 Moenie tou opgooi nie. Toe Rut aangebied het om saam met Naomi na Juda te gaan, het Naomi eers nee gesê. Maar Rut het nie opgegee nie. Wat was die resultaat? “Toe Naomi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat.” – Rut 1:15-18.

17. Wat sal ons help om nie gou op te gee nie?

17 Die les vir ons: Ons het geduld nodig wanneer ons ons broers probeer help wat depressief is, maar ons moenie tou opgooi met hulle nie. So ’n broer of suster sal dalk weier om ons hulp te aanvaar. Maar lojale liefde sal ons motiveer om nie op te hou om die persoon te probeer help nie (Gal. 6:2). Ons hoop dat die persoon uiteindelik ons hulp sal aanvaar en ons sal toelaat om hom te vertroos en om vir hom ’n emosionele hupstoot te gee.

18. Hoekom het Naomi se woorde Rut dalk seergemaak?

18 Moet dit nie persoonlik vat nie. Toe Naomi en Rut in Betlehem aangekom het, het Naomi vir haar vorige bure gesê: “Ek het baie gehad toe ek gegaan het, maar Jehovah het my met leë hande laat terugkeer” (Rut 1:21). Dink net hoe Rut moes gevoel het toe Naomi dit gesê het! Rut het uit haar pad uit gegaan om Naomi te help. Rut het saam met haar gehuil, haar vertroos en dae lank saam met haar gestap. Maar ten spyte van dit alles het Naomi gesê: “Jehovah het my met leë hande laat terugkeer.” Naomi het nie eers gepraat van die ondersteuning wat Rut haar gegee het nie, al het Rut reg langs haar gestaan. Dink net hoe seer Naomi se woorde Rut moes gemaak het! Maar sy het nie opgehou om Naomi te probeer help nie.

19. Wat sal ons help om nie op te hou om iemand te probeer help nie?

19 Die les vir ons: ’n Broer of suster wat mismoedig is, sal miskien vir ons iets sê wat ons seermaak, al doen ons ons bes om hom of haar te probeer help. Maar ons probeer om dit nie persoonlik te vat nie. Ons hou nie op om die persoon te probeer help nie, en ons vra Jehovah om ons te wys hoe ons die persoon kan vertroos. – Spr. 17:17.

Hoe kan ouermanne Boas se voorbeeld navolg? (Sien paragraaf 20-21)

20. Wat het Rut die krag gegee wat sy nodig gehad het om aan te gaan?

20 Moedig ander aan. Rut het lojale liefde aan Naomi betoon, maar nou het sy self aanmoediging nodig gehad. En Jehovah het Boas beweeg om haar aan te moedig. Boas het vir Rut gesê: “Mag Jehovah jou beloon vir wat jy gedoen het, en mag daar vir jou ’n volmaakte beloning wees van Jehovah, die God van Israel, onder wie se vlerke jy beskerming kom soek het.” Daardie aanmoedigende woorde het Rut diep geraak. Rut het toe vir Boas gesê: “U het my vertroos en gerusstellend met u slavin gepraat” (Rut 2:12, 13). Boas se aanmoediging was presies wat Rut nodig gehad het om aan te gaan.

21. Volgens Jesaja 32:1, 2, hoe sal liefdevolle ouermanne hulle broers en susters help?

21 Die les vir ons: Dié wat lojale liefde aan ander betoon, het soms self aanmoediging nodig. Boas het Rut geprys vir hoe sy Naomi gehelp het. En vandag prys ouermanne broers en susters in die gemeente wanneer hulle sien hoe hulle ander uit liefde help. Sulke liefdevolle aanmoediging sal die broers en susters die krag gee wat hulle nodig het om aan te gaan. – Lees Jesaja 32:1, 2.

WATTER SEËNINGE ONTVANG ALMAL WAT LOJALE LIEFDE BETOON?

22-23. Hoe het Naomi se gesindheid verander, en hoekom het dit verander? (Psalm 136:23, 26)

22 Later het Boas vir Rut en Naomi baie kos as ’n geskenk gegee (Rut 2:14-18). Hoe het Naomi gereageer? Sy het gesê: “Mag hy geseën word deur Jehovah, wat nie opgehou het om lojale liefde aan die lewendes en die dooies te betoon nie” (Rut 2:20a). Naomi se gesindheid het heeltemal verander! As gevolg van haar pyn het sy vroeër gesê: “Jehovah [het] teen my gedraai”, maar nou het sy met vreugde uitgeroep: “Jehovah, [het] nie opgehou . . . om lojale liefde . . . te betoon nie.” Wat het Naomi moontlik gehelp om haar gesindheid te verander?

23 Naomi het uiteindelik Jehovah se hand in haar lewe begin raaksien. Jehovah het Rut gebruik om haar te ondersteun toe sy op pad Juda toe was (Rut 1:16). Naomi het ook Jehovah se hand gesien toe Boas, een van hulle terugkopers, uit liefde vir die twee vrouens kos gegee het (Rut 2:19, 20b). * Sy moes seker by haarself gedink het: ‘Ek besef nou dat Jehovah my nooit verlaat het nie! Hy was nog die heeltyd saam met my.’ (Lees Psalm 136:23, 26.) Dink net hoe dankbaar Naomi moes gewees het dat Rut en Boas nooit tou opgegooi het met haar nie! Hulle al drie was seker baie bly dat Naomi weer haar vreugde teruggekry het.

24. Hoekom wil ons aanhou om ons broers en susters met lojale liefde te behandel?

24 Wat het ons uit die boek Rut oor lojale liefde geleer? Lojale liefde motiveer ons om nie tou op te gooi met ons broers en susters wat deur ’n moeilike tyd gaan nie. Dit motiveer ons ook om opofferings te maak sodat ons hulle kan help. Ouermanne moet broers en susters aanmoedig wat lojale liefde aan ander betoon. Wanneer ons sien hoe ons broers hulle vreugde in Jehovah se diens terugkry, gee dit ons groot vreugde (Hand. 20:35). Maar wat is die belangrikste rede hoekom ons aanhou om lojale liefde te betoon? Dit is omdat ons Jehovah, wat “vol lojale liefde” is, wil bly maak en wil navolg. – Eks. 34:6; Ps. 33:22.

LIED 130 Wees vergewensgesind

^ par. 5 Jehovah wil hê dat ons lojale liefde aan ons broers en susters in die gemeente moet betoon. As ons kyk na hoe party van God se knegte in die verlede lojale liefde betoon het, sal dit ons help om hierdie eienskap beter te verstaan. In hierdie artikel sal ons kyk na wat ons kan leer uit die voorbeeld van Rut, Naomi en Boas.

^ par. 8 Om ten volle baat te vind by hierdie artikel, moedig ons jou aan om Rut hoofstuk 1 en 2 te lees.

^ par. 23 Vir meer inligting oor Boas se rol as terugkoper, sien die artikel “Volg hulle geloof na—‘’n Voortreflike vrou’” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2012, bl. 20.