Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

My soeke na ’n betekenisvolle lewe

My soeke na ’n betekenisvolle lewe

TERWYL ek in die middel van die Middellandse See geseil het, was ek geskok toe ek besef dat my ou seilboot so erg lek dat dit besig was om vol water te raak. Toe het ’n storm opgekom. Ek het bang geword en vir die eerste keer in baie jare gebid. Hoe het ek in hierdie situasie beland? Kom ek begin by die begin.

Toe ek sewe jaar oud was en ek en my familie in Brasilië gebly het

Ek is in 1948 in Nederland gebore. Die volgende jaar het my familie na São Paulo, Brasilië, getrek. My ouers was baie betrokke by die kerk, en as ’n gesin het ons die Bybel gereeld ná aandete gelees. In 1959 het ons weer geïmmigreer, maar hierdie keer het ons na die staat Massachusetts in die Verenigde State getrek.

My pa het baie hard gewerk om vir ons gesin van agt te sorg. Oor die jare het hy gewerk as ’n verkoopsman, ’n padkonstruksiewerker en ’n verkoopsverteenwoordiger vir ’n internasionale lugredery. Almal in die gesin was baie bly toe hy die werk by die lugredery gekry het, want toe kon ons baie reis.

Toe ek op hoërskool was, het ek baie gewonder oor wat ek gaan doen nadat ek skool klaarmaak. Party van my vriende het besluit om universiteit toe te gaan, terwyl ander by die weermag aangesluit het. Maar die weermag was nie vir my ’n opsie nie, want ek het niks gehou van stryery en bakleiery nie. Ek het besluit om universiteit toe te gaan sodat ek militêre diens kon vryspring. Maar wat ek eintlik wou doen, is om ander te help, want ek het gedink dat dit my lewe betekenisvol sou maak.

LEWE OP KAMPUS

Ek het jare lank na ’n doel in die lewe gesoek

By die universiteit het ek in antropologie belanggestel omdat ek wou weet wat die oorsprong van die lewe is. Daar het ons oor evolusie geleer, en daar was verwag dat ons dit as ’n feit moes aanvaar. Maar party van die verduidelikings was nie logies nie en kon nie bewys word nie, en dit is in stryd met die wetenskap.

Op universiteit het hulle ons nie goeie waardes geleer nie. Die fokus was eerder om ten alle koste suksesvol te wees. Ek het dit geniet om na partytjies toe te gaan en om met dwelms te eksperimenteer, maar die geluk wat ek ondervind het, het nie lank gehou nie. Ek het gewonder: ‘Is dit regtig ’n betekenisvolle lewe?’

Intussen het ek Boston toe getrek en by ’n universiteit daar begin studeer. Om vir my studies te betaal, het ek ’n vakansiewerk gekry, waar ek vir die eerste keer kontak met Jehovah se Getuies gehad het. ’n Werksmaat het met my gepraat oor die profesie van die “sewe tye” in Daniël hoofstuk 4, en hy het vir my verduidelik dat ons in die tyd van die einde lewe (Dan. 4:13-17). Ek het gou besef dat ek my lewenstyl sal moet verander as ek aanhou met hierdie gesprekke en dit ernstig opneem. En daarom het ek daardie werksmaat soos die plaag vermy.

By die universiteit het ek kursusse gekies wat my sou voorberei vir vrywillige werk in Suid-Amerika. Ek het gedink dat dit my lewe betekenisvol sou maak as ek mense help wat hulp nodig het. Maar toe het ek besef dat dit nie die geval was nie. Ek was so teleurgesteld dat ek teen die einde van die semester die universiteit verlaat het.

MY SOEKE NA ’N BETEKENISVOLLE LEWE IN ANDER LANDE

In Mei 1970 het ek Amsterdam, in Nederland, toe getrek om by dieselfde lugredery te werk as my pa. As gevolg van hierdie werk kon ek baie reis, en ek het verskillende lande in Afrika, die Amerikas, Europa en die Verre Ooste besoek. Ek het gou besef dat al hierdie lande massiewe probleme gehad het en dat nie een van hulle oplossings gehad het daarvoor nie. Ek wou nog steeds iets met my lewe doen wat betekenisvol was, en daarom het ek besluit om weer na die Verenigde State te trek en by dieselfde universiteit in Boston te studeer.

Maar kort voor lank het ek besef dat ek nie antwoorde op my vrae oor die lewe by die universiteit kry nie. Omdat ek nie geweet het wat om te doen nie, het ek een van my dosente vir raad gevra. Hy het my verbaas toe hy gesê het: “Hoekom studeer jy nog? Hoekom hou jy nie nou op nie?” Dit was al wat ek nodig gehad het. En toe het ek besluit om die universiteit eens en vir altyd te verlaat.

Ek het nog steeds gevoel asof ek nie ’n doel in die lewe het nie, en daarom het ek besluit om meer betrokke te raak by die sogenaamde flower-power-generasie. Ek en ’n paar vriende het duimgegooi en regoor die Verenigde State tot by Acapulco, Mexiko, gereis. Ons het in ’n woongemeenskap saam met hippies gebly wat gelyk het asof hulle geen bekommernisse in die lewe gehad het nie. Maar ek het gou agtergekom dat hulle nie ’n betekenisvolle lewe gehad het nie en dat hulle lewenswyse hulle nie regtig gelukkig gemaak het nie. Ek het eerder gesien dat baie van hulle oneerlik en dislojaal was.

MY SOEKE GAAN VOORT – ’N AVONTUUR OP ’N SEILBOOT

Ek het saam met ’n vriend na ’n paradyseiland gesoek

Op daardie stadium het ek weer begin dink aan ’n droom wat ek as ’n kind gehad het. Ek wou ’n kaptein van ’n seilboot wees. Maar dan sou ek natuurlik eers my eie seilboot moes kry. Omdat een van my vriende met die naam Tom dieselfde droom gehad het, het ons besluit om saam om die wêreld te seil. Ek wou ’n paradys op ’n tropiese eiland vind waar ek weg van die reëls van die samelewing sou wees.

Ek en Tom het na Arenys de Mar, naby Barcelona, Spanje, gereis. Daar het ons ’n seilboot met die naam Llygra gekoop, wat 9,4 meter lank was. Ons het die seilboot begin herbou om dit seewaardig te maak. Omdat ons nie haastig was om by ons bestemming uit te kom nie, het ons die enjin uitgehaal en die spasie gebruik om ekstra drinkwater te stoor. Ons het twee vyf meter lange roeispane gekoop sodat ons by klein hawens kon inroei. Uiteindelik het ons ons reis na die Seychelles, in die Indiese Oseaan, begin. Ons plan was om langs die weskus van Afrika en om die Kaap van Goeie Hoop, in Suid-Afrika, te seil. Ons het ’n sekstant gebruik sodat ons met behulp van die sterre, sterrekaarte en boeke in die regte rigting kon reis. Ek was verstom oor hoe ons presies kon uitwerk waar ons is.

Kort voor lank het ons besef dat die ou houtbootjie nie seewaardig was nie. Omtrent 22 liter water het elke uur by die boot ingelek. Soos ek in die inleiding genoem het, het ek gedurende ’n storm baie bang geword en vir die eerste keer in baie jare gebid en God belowe dat ek sou probeer om hom te leer ken as ek oorleef. Die storm het bedaar, en vir ’n verandering het ek my belofte gehou.

Ek het die Bybel begin lees terwyl ons nog op see was. Dit was so lekker om in die middel van die Middellandse See te wees, omring deur vlieënde visse, dolfyne en eindelose horisonne. Saans was ek gefassineer deur die Melkwegstelsel, en ek het al hoe meer oortuig geword dat daar ’n God is wat in mense belangstel.

Nadat ons ’n paar weke lank op see was, het ons by die hawe in Alicante, Spanje, ingeroei. Toe ons daar was, het ons probeer om ons boot verkoop te kry sodat ons ’n beter een kon koop. Ons het natuurlik gesukkel om ’n koper te kry vir ’n ou seilboot wat gelek het en wat nie ’n enjin gehad het nie! Maar dit was darem ’n goeie tyd om die Bybel te lees.

Hoe meer ek die Bybel gelees het, hoe meer het ek besef dat dit soos ’n handboek is wat ons kan help om suksesvol in die lewe te wees. Ek was beïndruk met die Bybel se duidelike riglyne oor hoe om ’n rein, sedelike lewe te lei, en ek het gewonder hoekom so baie mense – insluitende myself – hulleself as Christene sien as hulle ignoreer wat die Bybel sê.

Ek was vasbeslote om my lewe te verander, en daarom het ek opgehou om dwelms te gebruik. Ek was seker dat daar mense moet wees wat volgens die Bybel se hoë sedelike standaarde lewe, en ek wou hulle ontmoet. Ek het toe vir die tweede keer gebid en God gevra om my te help om hulle te vind.

MY SOEKE NA DIE WARE GODSDIENS

Dit was vir my logies om die ware godsdiens te probeer vind deur ’n proses van eliminasie. Terwyl ek deur die strate van Alicante gestap het, het ek baie godsdiensgeboue gesien. Maar omdat die meeste van hulle beelde gehad het, was dit vir my maklik om hulle van my lysie af te krap.

Een Sondagmiddag het ek op ’n heuwel gesit wat oor die hawe uitkyk en Jakobus 2:1-5 gelees, wat sê dat ons nie ryk mense moet voortrek nie. Op pad terug na ons boot toe het ek verby ’n gebou geloop wat soos ’n godsdiensgebou gelyk het. Daar was ’n teken bo die ingang wat gesê het: “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies.”

Ek het gedink: ‘Kom ek toets dié mense. Kom ek kyk hoe hulle my verwelkom.’ En daarom het ek met ’n baard, ’n geskeurde jeans en kaalvoet by die Koninkryksaal ingestap. Die saalwagter het my na ’n sitplek langs ’n bejaarde vrou gelei, en sy het my gehelp om die tekste op te soek wat die spreker genoem het. Ná die vergadering was ek baie verbaas oor hoe vriendelik almal my kom verwelkom het. Een man het my na sy huis toe genooi om die Bybel te bespreek, maar omdat ek nog nie die Bybel klaar gelees het nie, het ek vir hom gesê: “Ek sal jou laat weet wanneer ek gereed is.” Intussen het ek al die vergaderinge begin bywoon.

’n Paar weke later het ek die man by sy huis gaan besoek, en hy het my Bybelvrae beantwoord. ’n Week later het hy my ’n sak vol baie mooi klere gegee. Hy het vir my gesê dat die man aan wie die klere behoort, in die tronk is omdat hy gehoorsaam is aan die Bybel se opdrag om ander lief te hê en om nie oorlog toe te gaan nie (Jes. 2:4; Joh. 13:34, 35). Nou was ek seker dat ek gevind het waarna ek gesoek het – mense wat gehoorsaam is aan die Bybel se duidelike riglyne oor hoe om ’n rein, sedelike lewe te lei! My doelwit was nie meer om ’n paradyseiland te vind nie, maar om die Bybel in diepte te studeer. En daarom het ek na Nederland teruggegaan.

OP SOEK NA WERK

Om by die stad Groningen, in Nederland, uit te kom, het ek duimgegooi, en dit het my vier dae geneem om daar uit te kom. Toe moes ek ’n werk kry om myself te onderhou. By een skrynwerkwinkel, waar ek vir werk aansoek gedoen het, moes ek op die vorm sê aan watter godsdiens ek behoort. Ek het geskryf: “Jehovah se Getuies”. Toe die eienaar dit lees, het sy gesigsuitdrukking verander. Hy het gesê: “Ek sal jou bel.” Maar hy het toe nooit gebel nie.

By ’n ander skrynwerkwinkel het ek vir die eienaar gevra of hy hulp nodig het. Hy het vir my gevra om vir hom my diplomas en verwysingsbriewe te gee. Ek het verduidelik dat ek herstelwerk aan ’n houtseilboot gedoen het. Tot my verbasing het hy gesê: “Jy kan vanmiddag begin, maar onder een voorwaarde: Ek wil nie hê dat jy hier in my winkel moeilikheid kom maak nie, want ek is een van Jehovah se Getuies en ek lewe volgens Bybelbeginsels.” Ek het hom verbaas aangekyk en gesê: “Ek is ook!” Hy het seker geweet dat ek nie ’n Getuie is nie omdat ek lang hare en ’n baard gehad het, en toe sê hy: “Dan sal ek die Bybel met jou studeer.” Ek het met graagte sy aanbod aanvaar. Toe het ek geweet hoekom die ander eienaar my nooit gebel het nie. Jehovah was besig om my die begeertes van my hart te gee (Ps. 37:4). Ek het ’n jaar lank in daardie broer se winkel gewerk en die Bybel saam met hom studeer, en toe is ek in Januarie 1974 gedoop.

UITEINDELIK VIND EK ’N BETEKENISVOLLE LEWE!

’n Maand later het ek met ’n nuwe loopbaan begin – die pionierdiens – en dit het vir my baie vreugde gegee. Die volgende maand het ek na Amsterdam getrek om ’n nuwe Spaanse groepie te ondersteun. Dit was vir my so lekker om Bybelstudies in Spaans en Portugees te hou! In Mei 1975 het ek die voorreg gekry om as ’n spesiale pionier te dien.

Eendag het ’n suster met die naam Ineke, wat ’n spesiale pionier was, na ons Spaanse vergadering toe gekom om haar Boliviaanse Bybelstudent aan ons voor te stel. Ek en Ineke het besluit om mekaar beter te leer ken deur aan mekaar te skryf, en ons het toe gou agtergekom dat ons dieselfde doelwitte het. Ons is in 1976 getroud en ons het aangehou om as spesiale pioniers te dien totdat ons in 1982 genooi is om die 73ste Gileadklas by te woon. Ons was so opgewonde toe ons aangewys is om in Oos-Afrika te dien. Ons het toe vyf jaar lank in Mombasa, Kenia, gedien! In 1987 is ons aangewys om in Tanzanië te gaan dien, waar die verbod op die predikingswerk gelig is. Ons het 26 jaar lank daar gedien en toe het ons na Kenia teruggetrek.

Om mense in Oos-Afrika Bybelwaarhede te leer, het vir my en my vrou baie vreugde gegee

Om nederige mense Bybelwaarhede te leer, het ons lewe baie betekenisvol gemaak. Byvoorbeeld, my eerste Bybelstudent in Mombasa was ’n man wat ek ontmoet het terwyl ek openbare getuieniswerk gedoen het. Nadat ek vir hom twee tydskrifte gegee het, het hy gevra: “As ek klaar is hiermee, wat moet ek dan doen?” Die week daarna het ons die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe begin studeer, wat kort tevore in Swahili vrygestel is. Die jaar daarna is hy gedoop, en hy het toe ’n gewone pionier geword. Van daardie tyd af het hy en sy vrou omtrent 100 mense gehelp om tot toewyding en doop te vorder.

Ek en Ineke het self ondervind hoe Jehovah sy knegte seën met ’n lewe wat regtig betekenisvol is

Toe ek ontdek het wat die doel van die lewe is, het ek gevoel soos die reisende handelaar wat ’n spesiale pêrel gevind het en wat daaraan wou vasklou (Matt. 13:45, 46). Ek wou my lewe gebruik om ander te help om uit te vind wat die ware doel van die lewe is. Ek en my vrou het self ondervind dat Jehovah sy knegte help om ’n lewe te hê wat regtig betekenisvol is!