Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 46

Pasgetroude paartjies – Maak Jehovah se diens die middelpunt van julle lewe

Pasgetroude paartjies – Maak Jehovah se diens die middelpunt van julle lewe

“Jehovah is my sterkte . . . My hart vertrou op hom.” – Ps. 28:7.

LIED 131 ‘Wat God saamgevoeg het’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoekom moet pasgetroude paartjies op Jehovah vertrou? (Psalm 37:3, 4) (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

IS JY op die punt om te trou, of is jy pasgetroud? As dit die geval is, sien jy seker baie daarna uit om die lewe saam met die liefde van jou lewe te geniet. Die huwelik het natuurlik sy uitdagings. En julle sal belangrike besluite moet maak. Daardie besluite en hoe julle op die uitdagings reageer, sal jare lank ’n uitwerking hê op julle geluk as ’n paartjie. As julle op Jehovah vertrou, sal julle wyse besluite maak, sal julle huwelik sterker word en sal julle gelukkiger wees. As julle nie God se raad toepas nie, sal julle heel moontlik probleme in julle huwelik ondervind en nie gelukkig wees nie. – Lees Psalm 37:3, 4

2 Alhoewel hierdie artikel veral vir pasgetroude paartjies bedoel is, sal dit ook uitdagings bespreek wat alle getroude paartjies dalk kan ondervind. Ons sal ook kyk wat ons kan leer uit die voorbeelde van party getroue manne en vroue in die Bybel. Hierdie Bybelvoorbeelde leer ons lesse wat ons in verskillende aspekte van ons lewe, insluitende die huwelik, kan toepas. Ons sal ook kyk wat ons kan leer uit die ondervindinge van party paartjies van vandag.

WATTER UITDAGINGS SAL PASGETROUDE PAARTJIES DALK ONDERVIND?

Watter besluite kan pasgetroude paartjies dalk keer om Jehovah se diens eerste in hulle lewe te stel? (Sien paragraaf 3-4)

3-4. Watter uitdagings sal pasgetroude paartjies dalk ondervind?

3 Party mense sal dalk ’n pasgetroude paartjie aanmoedig om ’n sogenaamde “normale lewe” te lei. Byvoorbeeld, ouers en ander familielede plaas dalk druk op hulle om so gou as moontlik kinders te hê. Of vriende en familie sal dalk die pasgetroude paartjie aanmoedig om ’n huis te koop en dit met mooi dingetjies te vul.

4 As ’n paartjie nie versigtig is nie, kan hulle dalk besluite maak wat hulle diep in die skuld sal laat beland. En dan sal die man en vrou albei waarskynlik lang ure moet werk om die skuld af te betaal. Hulle moet dalk so baie werk dat hulle nie genoeg tyd het vir persoonlike studie, gesinsaanbidding en velddiens nie. Die paartjie sal miskien selfs vergaderinge mis om oortyd te werk, om meer geld te verdien of om hulle werk te behou. En dan sal hulle opwindende geleenthede om meer in Jehovah se diens te doen, deur hulle vingers laat glip.

5. Wat leer ons uit die voorbeeld van Klaus en Marisa?

5 Baie ondervindinge het al gewys dat dit ’n mens nie gelukkig maak as jy materiële dinge eerste in jou lewe stel nie. Dit is wat Klaus en Marisa geleer het. * Toe hulle pasgetroud was, het hulle al twee voltyds gewerk sodat hulle ’n gemaklike lewe kon hê. Maar hulle was nie regtig gelukkig nie. Klaus erken: “Ons het meer materiële dinge gehad as wat ons nodig gehad het, maar ons het geen geestelike doelwitte gehad nie. Om die waarheid te sê, ons lewe was ingewikkeld en stresvol.” Miskien het jy ook al gesien dat dit ’n mens nie gelukkig maak as jy materiële dinge eerste in jou lewe stel nie. As dit met jou die geval is, moet jy nie mismoedig voel nie. Die goeie voorbeeld van ander kan jou help om die nodige veranderinge te maak. Kom ons kyk eers wat mans uit koning Josafat se voorbeeld kan leer.

VERTROU OP JEHOVAH, NET SOOS KONING JOSAFAT

6. Hoe het koning Josafat die woorde in Spreuke 3:5, 6 toegepas toe ’n groot leërmag teen sy volk kom veg het?

6 Mans, raak julle verantwoordelikhede soms vir julle te veel? Wel, dan kan koning Josafat se voorbeeld julle help. As koning, was Josafat verantwoordelik vir die veiligheid van die hele nasie! Hoe het hy daardie massiewe verantwoordelikheid nagekom? Josafat het alles gedoen wat hy kon om dié onder sy sorg te beskerm. Hy het die stede van Juda versterk, en hy het ’n leërmag van meer as 1 160 000 soldate bymekaargemaak (2 Kron. 17:12-19). Later het Josafat hom in ’n baie moeilike situasie bevind. ’n Groot leërmag van Ammoniete, Moabiete en manne van die bergstreek Seïr het teen hom en sy volk kom veg (2 Kron. 20:1, 2). Wat het Josafat gedoen? Hy het op Jehovah vertrou, net soos Spreuke 3:5, 6 vir ons sê om te doen. (Lees.) Josafat se nederige gebed in 2 Kronieke 20:5-12 wys hoe sterk sy vertroue in sy liefdevolle hemelse Vader was. Hoe het Jehovah Josafat se gebed beantwoord?

7. Hoe het Jehovah Josafat se gebed beantwoord?

7 Deur middel van ’n Leviet met die naam Jahasiël het Jehovah vir Josafat gesê: “Neem julle posisies in, staan stil en sien hoe Jehovah julle red” (2 Kron. 20:13-17). Dit is beslis nie wat ’n mens gewoonlik in ’n oorlog sal doen nie! Maar daardie instruksies het nie van ’n mens af gekom nie, maar van Jehovah af. Met volle vertroue in sy God het Josafat presies gedoen wat Jehovah vir hom gesê het. Toe hy en sy manne uitgaan na hulle vyande toe, het hy nie die beste soldate nie, maar eerder die ongewapende sangers, voor laat loop. Jehovah het nie vir Josafat in die steek gelaat nie. Hy het hulle vyande oorwin. – 2 Kron. 20:18-23.

Pasgetroude paartjies kan Jehovah se diens die middelpunt van hulle lewe maak deur te bid en sy Woord te studeer (Sien paragraaf 8, 10)

8. Wat kan mans uit Josafat se voorbeeld leer?

8 Mans, julle kan uit Josafat se voorbeeld leer. Dit is julle verantwoordelikheid om vir julle gesin te sorg, en daarom werk julle hard om hulle te beskerm en te ondersteun. Wanneer jy probleme het, voel jy dalk dat jy dit op jou eie kan hanteer. Maar moenie op jou eie krag staatmaak nie. Bid eerder tot Jehovah wanneer jy alleen is, en vra hom om jou te help. En bid saam met jou vrou uit jou hart uit. Soek Jehovah se leiding deur die Bybel en die publikasies te bestudeer wat deur God se organisasie voorsien word, en pas die inligting toe wat jy daarin vind. Ander sal dalk nie saamstem met die besluite wat jy maak nie, en hulle sal dalk selfs vir jou sê dat jy nie wys optree nie. Hulle sal dalk sê dat geld en materiële dinge die beste beskerming vir jou familie is. Maar hou Josafat se voorbeeld in gedagte. Hy het gewys dat hy op Jehovah vertrou. Jehovah het daardie lojale man nie in die steek gelaat nie, en hy sal jou ook nie in die steek laat nie (Ps. 37:28; Heb. 13:5). Wat kan paartjies doen om seker te maak dat hulle ’n gelukkige lewe sal hê?

MAAK JEHOVAH SE DIENS DIE MIDDELPUNT VAN JULLE LEWE, NET SOOS JESAJA EN SY VROU

9. Hoekom is die profeet Jesaja en sy vrou vir ons ’n goeie voorbeeld?

9 Die profeet Jesaja en sy vrou het Jehovah se diens die middelpunt van hulle lewe gemaak. Jesaja was ’n profeet, en sy vrou het dalk ook haar eie profetiese toewysings gehad, want sy word “die profetes” genoem (Jes. 8:1-4). As ’n paartjie, het Jesaja en sy vrou Jehovah se aanbidding eerste in hulle lewe gestel. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir getroude paartjies van vandag!

10. Hoe kan Bybelprofesieë getroude paartjies help om vasbeslote te wees om soveel as moontlik in Jehovah se diens te doen?

10 Getroude paartjies kan Jehovah se diens die middelpunt van hulle lewe maak deur hulle bes te doen in sy diens. Hulle kan hulle vertroue in Jehovah versterk deur Bybelprofesieë saam te bestudeer en te sien hoe dit altyd waar word (Tit. 1:2). * Hulle kan nadink oor wat hulle kan doen om te help om sekere Bybelprofesieë te vervul. Hulle kan byvoorbeeld help om Jesus se profesie te vervul dat die goeie nuus wêreldwyd verkondig sal word voordat die einde kom (Matt. 24:14). Hoe meer oortuig ’n paartjie is dat Bybelprofesieë waar word, hoe meer vasbeslote sal hulle wees om soveel as moontlik in Jehovah se diens te doen.

STEL KONINKRYKSBELANGE EERSTE, NET SOOS PRISCILLA EN AQUILA

11. Hoe het Priscilla en Aquila Koninkryksbelange eerste in hulle lewe gestel?

11 Jong getroude paartjies kan leer uit die voorbeeld van Priscilla en Aquila, ’n Joodse paartjie wat in Rome gebly het. Hulle het die goeie nuus oor Jesus gehoor en Christene geword. Ons het goeie rede om te glo dat hulle tevrede met hulle lewe was. Maar hulle lewe het skielik verander toe keiser Claudius al die Jode beveel het om Rome te verlaat. Dink aan wat dit vir Aquila en Priscilla beteken het. Hulle moes alles wat hulle geken het, verlaat, ’n nuwe huis vind en hulle tentmaakbesigheid êrens anders begin. Sou hierdie moeilike omstandighede hulle keer om Koninkryksbelange eerste in hulle lewe te stel? Jy weet seker wat die antwoord op daardie vraag is. Nadat Aquila en Priscilla Korinte toe getrek het, het hulle die plaaslike gemeente daar gehelp en saam met die apostel Paulus gewerk om die broers daar te versterk. Later het hulle na ander dorpies toe getrek waar daar meer verkondigers nodig was (Hand. 18:18-21; Rom. 16:3-5). Dink net aan hoe gelukkig en vol seëninge hulle lewe moes gewees het!

12. Hoekom moet ’n getroude paartjie geestelike doelwitte stel?

12 Getroude paartjies kan Aquila en Priscilla navolg deur Koninkryksbelange eerste in hulle lewe te stel. Die beste tyd vir ’n paartjie om oor hulle doelwitte te praat, is terwyl hulle nog uitgaan. As ’n paartjie saam besluite maak en probeer om saam geestelike doelwitte te bereik, sal hulle meer geleenthede hê om te sien hoe Jehovah se gees hulle lei (Pred. 4:9, 12). Kom ons kyk na die voorbeeld van Russell en Elizabeth. Russell sê: “Terwyl ons uitgegaan het, het ons ons geestelike doelwitte saam bespreek.” En Elizabeth sê: “Ons het daardie bespreking gehad om seker te maak dat ons toekomstige besluite nooit sal keer dat ons daardie doelwitte bereik nie.” Russell en Elizabeth se omstandighede het hulle toegelaat om Mikronesië toe te trek om te gaan dien waar meer verkondigers nodig is.

Pasgetroude paartjies kan Jehovah se diens die middelpunt van hulle lewe maak deur geestelike doelwitte te stel (Sien paragraaf 13)

13. Volgens Psalm 28:7, wat sal ons ondervind as ons op Jehovah vertrou?

13 Soos Russell en Elizabeth, het baie paartjies besluit om hulle lewe eenvoudig te hou sodat hulle soveel as moontlik in die predikingswerk kan doen. Wanneer ’n paartjie geestelike doelwitte stel en saam werk om dit te bereik, sal hulle baie seëninge geniet. Hulle sal sien hoe Jehovah vir hulle sorg, hulle vertroue in hom sal sterker word en hulle sal ook werklik gelukkig wees. – Lees Psalm 28:7.

VERTROU JEHOVAH SE BELOFTES, NET SOOS DIE APOSTEL PETRUS EN SY VROU

14. Hoe het die apostel Petrus en sy vrou gewys dat hulle die belofte in Matteus 6:25, 31-34, vertrou?

14 Die apostel Petrus en sy vrou het ook ’n goeie voorbeeld vir getroude paartjies gestel. ’n Hele paar maande nadat Petrus Jesus ontmoet het, moes Petrus ’n belangrike besluit maak. Petrus het ’n bestaan gemaak as ’n visserman. So toe Jesus vir Petrus genooi het om hom voltyds te volg, moes Petrus sy vrou in ag neem voordat hy ’n besluit kon maak (Luk. 5:1-11). Petrus het wyslik besluit om saam met Jesus te gaan preek. En ons het ook goeie rede om te glo dat Petrus se vrou sy besluit ondersteun het, want die Bybel wys dat sy ná Jesus se opstanding ten minste af en toe saam met Petrus gereis het (1 Kor. 9:5). Omdat Petrus se vrou ’n goeie Christenvrou was, het Petrus vryheid van spraak gehad toe hy vir Christenmans en -vrouens raad gegee het (1 Pet. 3:1-7). Dit is duidelik dat Petrus en sy vrou Jehovah se belofte vertrou het dat Hy vir hulle sou sorg as hulle die Koninkryk eerste in hulle lewe stel. – Lees Matteus 6:25, 31-34.

15. Wat leer jy uit Tiago en Esther se ondervinding?

15 As julle nou al ’n hele paar jaar getroud is, hoe kan julle julle begeerte versterk om meer in Jehovah se diens te doen? Een manier is deur uit die ondervindinge van ander paartjies te leer. Julle kan byvoorbeeld die reeks “Hulle het hulle gewillig aangebied” lees. Sulke artikels het Tiago en Esther, ’n getroude paartjie van Brasilië, gehelp om ’n sterk begeerte te ontwikkel om te gaan dien waar daar meer hulp nodig was. Tiago verduidelik: “Toe ons ondervindinge lees van hoe Jehovah sy knegte in ons tyd gehelp het, wou ons ook hê dat Jehovah ons so moet help en moet lei.” Hulle het uiteindelik Paraguay toe getrek, waar hulle vanaf 2014 in die Portugese veld dien. Esther sê: “Een van die verse waarvoor ons baie lief is, is Efesiërs 3:20. In ons diens aan Jehovah het ons oor en oor gesien hoe daardie woorde waar word.” In daardie brief aan die Efesiërs het Paulus belowe dat Jehovah baie meer sou voorsien as wat ons vra. Hoe waar is daardie belofte tog!

Pasgetroude paartjies kan Jehovah se diens die middelpunt van hulle lewe maak deur raad by geestelik volwasse persone te vra (Sien paragraaf 16)

16. By wie kan jong paartjies raad kry wanneer dit kom by hulle doelwitte?

16 Jong paartjies kan leer uit die ondervindinge van ander wat geleer het om op Jehovah te vertrou. Party paartjies is al jare lank in die voltydse diens. Dalk kan julle hulle vir raad vra wanneer dit kom by julle geestelike doelwitte. Dit is nog ’n manier om te wys dat julle op Jehovah vertrou (Spr. 22:17, 19). Ouermanne kan ook vir jong paartjies help om geestelike doelwitte te stel en te bereik.

17. Wat het met Klaus en Marisa gebeur, en wat leer ons uit hulle ondervinding?

17 Soms werk ons planne in Jehovah se diens nie altyd uit soos ons verwag het nie. Kyk na die voorbeeld van Klaus en Marisa, wat vroeër genoem was. Nadat hulle drie jaar getroud was, het hulle weggetrek en aansoek gedoen om konstruksiewerk by die takkantoor in Finland te doen. Maar toe vind hulle uit dat hulle nie vir meer as ses maande daar kon bly nie. Eers was hulle teleurgesteld. Maar later was hulle genooi om ’n kursus by te woon om Arabies te leer, en nou geniet hulle dit om in die Arabiese veld in ’n ander land te dien. Marisa erken: “Dit kan ’n mens nogal bang maak om iets te probeer wat jy nog nooit voorheen gedoen het nie en om heeltemal op Jehovah te vertrou. Maar ek het al gesien hoe Jehovah ons altyd op onverwagse maniere help. Dit het my geloof in Jehovah versterk.” Soos hierdie voorbeeld wys, kan jy seker wees dat Jehovah jou altyd sal beloon as jy ten volle op hom vertrou.

18. Wat sal getroude paartjies help om aan te hou om op Jehovah te vertrou?

18 Die huwelik is ’n geskenk van Jehovah (Matt. 19:5, 6). Hy wil hê dat getroude paartjies daardie geskenk moet geniet (Spr. 5:18). Jong paartjies, ondersoek gerus julle doelwitte. Vra julleself: ‘Doen ons alles wat ons kan om vir Jehovah te wys hoe baie ons die geskenke waardeer wat hy vir ons gegee het?’ Praat met Jehovah in gebed. Soek na beginsels in sy Woord wat julle kan help. En pas dan Jehovah se raad toe. Julle kan seker wees dat julle ’n baie gelukkige en vol lewe sal hê as julle Jehovah se diens die middelpunt van julle lewe maak!

LIED 132 Nou is ons een

^ par. 5 Party van ons besluite kan ’n uitwerking hê op hoeveel tyd en energie ons het om Jehovah te dien. Veral pasgetroude paartjies moet besluite neem wat vir ’n lang tyd ’n uitwerking kan hê op hulle lewe. Die artikel sal hulle help om wyse besluite te neem wat hulle sal help om ’n gelukkige, betekenisvolle lewe te hê.

^ par. 5 Party name is verander.