Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 44

Wat beteken Jehovah se lojale liefde vir jou?

Wat beteken Jehovah se lojale liefde vir jou?

“[Jehovah se] lojale liefde duur vir ewig.” – PS. 136:1.

LIED 108 God se lojale liefde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moedig Jehovah ons aan om te doen?

JEHOVAH vind vreugde in lojale liefde (Hos. 6:6). En hy moedig sy knegte aan om dieselfde te doen. Deur middel van die profeet Miga moedig ons God ons aan ‘om lojale liefde lief te hê’ (Miga 6:8, vtn.). Maar voordat ons dit kan doen, moet ons eers weet wat lojale liefde is.

2. Wat is lojale liefde?

2 Wat is lojale liefde? Volgens die “Woordelys” in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel verwys lojale liefde na “liefde wat deur toegewydheid, integriteit, lojaliteit en sterk gehegtheid gemotiveer word. Dit word dikwels gebruik in verband met God se liefde vir mense, maar dit kan ook verwys na liefde wat mense aan mekaar betoon.” Jehovah is die heel beste voorbeeld van lojale liefde. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jehovah lojale liefde aan mense betoon. In die volgende artikel gaan ons bespreek hoe ons, as God se knegte, Jehovah kan navolg deur lojale liefde aan mekaar te betoon.

JEHOVAH IS “VOL LOJALE LIEFDE”

3. Wat het Jehovah vir Moses oor homself gesê?

3 Kort nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het Jehovah met Moses gepraat en die volgende oor homself gesê: “Jehovah, Jehovah, ’n God wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is, wat lojale liefde aan duisende betoon, wat ongehoorsaamheid en oortreding en sonde vergewe” (Eks. 34:6, 7). Met hierdie pragtige woorde het Jehovah vir Moses iets baie spesiaals omtrent sy lojale liefde gesê. Wat is dit?

4-5. (a) Hoe het Jehovah homself beskryf? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

4 Jehovah het homself beskryf, nie net as iemand wat lojale liefde het nie, maar as iemand wat “vol lojale liefde” is. Hierdie beskrywing kom ’n hele paar keer in die Bybel voor (Num. 14:18; Neh. 9:17; Ps. 86:15; 103:8; Joël 2:13; Jona 4:2). In die Bybel is dit net Jehovah wat so beskryf word. Is dit nie pragtig om te sien dat Jehovah soveel klem lê op sy lojale liefde nie? Dit is duidelik dat lojale liefde vir hom baie belangrik is. Geen wonder koning Dawid het die volgende oor Jehovah gesê nie: “O Jehovah, u lojale liefde strek tot by die hemel . . . Hoe kosbaar is u lojale liefde tog, o God! In die skaduwee van u vlerke kom soek mense beskerming” (Ps. 36:5, 7). Waardeer ons Jehovah se lojale liefde soos Dawid gedoen het?

5 Om beter te verstaan wat lojale liefde is, kom ons kyk na twee vrae: Aan wie betoon Jehovah lojale liefde? En hoe vind ons baat by Jehovah se lojale liefde?

AAN WIE BETOON JEHOVAH LOJALE LIEFDE?

6. Wie vind baat by Jehovah se lojale liefde?

6 Aan wie betoon Jehovah lojale liefde? Die Bybel sê dat ons lief kan wees vir baie dinge, soos “boerdery”, “wyn en olie”, “dissipline”, “kennis” en “wysheid” – om maar net ’n paar te noem (2 Kron. 26:10; Spr. 12:1; 21:17; 29:3). Maar ons kan nie lojale liefde aan dinge betoon nie. Ons kan net lojale liefde aan persone betoon. Maar Jehovah betoon nie lojale liefde aan sommer net enige iemand nie. Hy betoon dit aan persone wat ’n spesiale verhouding met hom het. Ons God is lojaal aan sy vriende. Hy het ’n wonderlike toekoms vir hulle in gedagte en hy sal nooit ophou om hulle lief te hê nie.

Jehovah gee baie goeie dinge aan alle mense, selfs aan dié wat hom nie aanbid nie (Sien paragraaf 7) *

7. Hoe het Jehovah gewys dat hy lief is vir alle mense?

7 Jehovah het liefde aan alle mense betoon. Jesus het vir Nikodemus gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê.” – Joh. 3:1, 16; Matt. 5:44, 45.

Koning Dawid en die profeet Daniël het gesê dat Jehovah lojale liefde betoon aan dié wat hom ken, vrees, liefhet en sy gebooie gehoorsaam (Sien paragraaf 8-9)

8-9. (a) Hoekom betoon Jehovah lojale liefde aan sy knegte? (b) Wat sal ons volgende bespreek?

8 Soos ons vroeër genoem het, betoon Jehovah sy lojale liefde net aan sy knegte – dié wat ’n verhouding met hom het. Ons weet dit as gevolg van sekere dinge wat koning Dawid en die profeet Daniël geskryf het. Byvoorbeeld, Dawid het gesê: “Hou aan om u lojale liefde te betoon aan dié wat u ken.” “Jehovah se lojale liefde is tot in alle ewigheid vir dié wat hom vrees.” En Daniël het gesê: “O Jehovah, die ware God, u is die . . . Een . . . wat lojale liefde betoon aan almal wat u liefhet en u gebooie gehoorsaam” (Ps. 36:10; 103:17; Dan. 9:4). Volgens hierdie verse betoon Jehovah lojale liefde aan sy knegte omdat hulle hom ken, vrees, liefhet en sy gebooie gehoorsaam. Jehovah betoon net lojale liefde aan sy ware aanbidders.

9 Voordat ons Jehovah begin dien het, het ons baat gevind by die liefde wat hy aan alle mense betoon (Ps. 104:14). Maar as sy aanbidders, vind ons ook baat by sy lojale liefde. Jehovah gee sy knegte die versekering: “My lojale liefde [sal] nie van jou verwyder word nie” (Jes. 54:10). Net soos Dawid ondervind het, ‘behandel Jehovah sy lojale kneg op ’n spesiale manier’ (Ps. 4:3). Wat moet Jehovah se spesiale liefde vir ons, ons beweeg om te doen? Die psalmis het gesê: “Enigiemand wat wys is, sal hierdie dinge sien en sal diep nadink oor Jehovah se dade van lojale liefde” (Ps. 107:43). Met daardie geïnspireerde raad in gedagte, kom ons bespreek drie maniere hoe Jehovah se knegte by sy lojale liefde baat vind.

HOE KAN ONS BY JEHOVAH SE LOJALE LIEFDE BAAT VIND?

Jehovah gee spesiale seëninge aan dié wat hom aanbid (Sien paragraaf 10-16) *

10. Hoe vind ons baat by God se ewige lojale liefde? (Psalm 31:7)

10 God se lojale liefde duur vir ewig. Psalm 136 sê 26 keer dat Jehovah se lojale liefde vir ewig duur. Die eerste vers van daardie psalm sê: “Dank Jehovah, want hy is goed. Sy lojale liefde duur vir ewig” (Ps. 136:1). En ons vind die woorde “want sy lojale liefde duur vir ewig” in elke vers vanaf vers 2 tot 26. Ons is verstom wanneer ons in hierdie psalm lees van al die maniere hoe Jehovah aanhou om lojale liefde te betoon. Die woorde “sy lojale liefde duur vir ewig” gee ons die versekering dat Jehovah nooit sal ophou om sy knegte lief te hê nie. Dit is baie aanmoedigend om te weet dat Jehovah nie vinnig tou opgooi met sy knegte nie! Hy verbind hom eerder aan sy knegte en hy bly by hulle, veral wanneer dinge moeilik raak. Hoe ons baat vind: Die feit dat ons weet dat Jehovah ons nooit sal verlaat nie, gee ons die vreugde en die krag wat ons nodig het om moeilike tye te verduur en om op die pad na die lewe te bly. – Lees Psalm 31:7.

11. Volgens Psalm 86:5, wat motiveer Jehovah om te vergewe?

11 God se lojale liefde motiveer hom om te vergewe. Wanneer Jehovah sien dat ’n sondaar berouvol is en opgehou het om verkeerde dinge te doen, motiveer sy lojale liefde hom om daardie persoon te vergewe. Die psalmis Dawid het die volgende oor Jehovah gesê: “Hy het ons nie volgens ons sondes gestraf of ons volgens ons oortredings terugbetaal nie” (Ps. 103:8-11). Dawid het uit eie ondervinding geweet hoe swaar die las van ’n skuldige gewete kan wees. Maar hy het ook geleer dat Jehovah ‘vryelik vergewe’. Wat motiveer Jehovah om te vergewe? Ons kry die antwoord in Psalm 86:5. (Lees.) Soos Dawid in gebed gesê het, vergewe Jehovah omdat hy vol lojale liefde is vir almal wat hom aanroep.

12-13. Wat sal ons help as ons skuldig en hartseer voel oor foute wat ons in die verlede gemaak het?

12 Wanneer ons sondig, is dit goed om spyt te voel oor wat ons gedoen het. Dit kan ons beweeg om berou te toon en om stappe te neem om ons foute reg te stel. Maar party van God se knegte voel oorweldig deur hulle skuldgevoelens. Hulle sukkel om te glo dat Jehovah hulle ooit sal vergewe – maak nie saak hoe berouvol hulle is nie. As jy sukkel met sulke gevoelens, sal dit jou help as jy meer leer oor hoe graag Jehovah lojale liefde aan sy knegte wil betoon.

13 Hoe ons baat vind: Al is ons onvolmaak, kan ons Jehovah met vreugde en met ’n skoon gewete dien. Dit is moontlik omdat “die bloed van Jesus, sy Seun, . . . ons van alle sonde [reinig]” (1 Joh. 1:7). Wanneer jy mismoedig is as gevolg van die een of ander swakheid, moet jy in gedagte hou dat Jehovah nie net bereid is om ’n berouvolle sondaar te vergewe nie, maar dat hy ook gretig is om dit te doen. Wat is die verband tussen lojale liefde en vergifnis? Kyk na wat Dawid gesê het: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so groot is sy lojale liefde vir dié wat hom vrees. So ver as wat die sonsopkoms van die sonsondergang is, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder” (Ps. 103:11, 12). Dit is duidelik dat Jehovah bereid is om “ryklik [te] vergewe”. – Jes. 55:7.

14. Hoe beskerm Jehovah se lojale liefde ons?

14 Jehovah se lojale liefde beskerm ons geestelik. Dawid het vir Jehovah in gebed gesê: “U is ’n skuilplek vir my. U sal my beskerm teen groot moeilikheid. U sal my omring met vreugdevolle uitroepe van redding. . . . Die een wat op Jehovah vertrou, word deur Sy lojale liefde omring” (Ps. 32:7, 10). In Bybeltye het die mure van ’n stad die mense daarin teen hulle vyande beskerm. Net so omring Jehovah se lojale liefde ons. Dit beskerm ons teen enige iets wat ons verhouding met hom kan beskadig. En Jehovah se lojale liefde beweeg hom om ons na hom toe te trek. – Jer. 31:3.

15. Hoe is Jehovah se lojale liefde soos ’n skuilplek en ’n vesting?

15 Dawid het nog ’n vergelyking gebruik om te beskryf hoe God sy volk beskerm. Hy het gesê: “God is my veilige skuilplek, die God wat lojale liefde aan my betoon.” Dawid het ook die volgende oor Jehovah gesê: “Hy is my lojale liefde en my vesting, my veilige skuilplek en my redder, my skild en die Een by wie ek skuiling kom vind het” (Ps. 59:17; 144:2). Hoekom het Dawid Jehovah se lojale liefde met ’n skuilplek en ’n vesting vergelyk? Maak nie saak waar ons is nie, solank as wat ons Jehovah se knegte is, sal hy ons beskerm deur ons te help om ons kosbare verhouding met hom te beskerm. Psalm 91 verseker ons ook hiervan. Die skrywer van daardie psalm het gesê: “Ek sal vir Jehovah sê: ‘U is my skuilplek en my vesting’” (Ps. 91:1-3, 9, 14). Moses het ook ’n soortgelyke vergelyking gebruik (Ps. 90:1, vtn.). Kort voor Moses se dood het hy die volgende hartroerende beskrywing van Jehovah gegee. Hy het gesê: “God is van die ou tyd af ’n beskerming, sy ewige arms is onder jou” (Deut. 33:27). Wat beteken die uitdrukking “sy ewige arms is onder jou”, en wat leer dit ons oor Jehovah?

16. Op watter twee maniere is ons geseënd? (Psalm 136:23)

16 Wanneer Jehovah ons Skuilplek is, voel ons veilig. Maar party dae voel ons dalk emosioneel platgeslaan, asof ons net nie op ons voete kan kom nie. Wat sal Jehovah vir ons doen wanneer ons so voel? (Lees Psalm 136:23.) Hy sal sy arms gebruik om ons saggies op te tel en ons help om weer op ons voete te kom (Ps. 28:9; 94:18). Hoe ons baat vind: Die feit dat ons altyd op Jehovah kan staatmaak, help ons om te besef dat ons op twee maniere geseënd is. Eerstens, ons het ’n veilige skuilplek of vesting, maak nie saak waar ons is nie. Tweedens, ons liefdevolle hemelse Vader gee verskriklik baie vir ons om.

HOE GOD SE LOJALE LIEFDE ONS VERTROUE IN HOM VERSTERK

17. As gevolg van God se lojale liefde, waarvan kan ons seker wees? (Psalm 33:18-22)

17 Wanneer ons deur moeilike tye gaan, kan ons heeltemal seker wees dat Jehovah ons die ondersteuning sal gee wat ons nodig het om getrou aan hom te bly (2 Kor. 4:7-9). Die profeet Jeremia het gesê: “Danksy Jehovah se lojale liefde het ons nie aan ons einde gekom nie, want daar is geen einde aan sy genade nie” (Klaagl. 3:22). Die psalmis het ons die versekering gegee: “Die oog van Jehovah waak oor dié wat hom vrees, dié wat op sy lojale liefde wag.” So ons kan heeltemal seker wees dat Jehovah sal aanhou om lojale liefde aan ons te betoon. – Lees Psalm 33:18-22.

18-19. (a) Wat moet ons in gedagte hou? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 Wat moet ons in gedagte hou? Voordat ons Jehovah begin dien het, het ons baat gevind by die liefde wat God aan alle mense betoon. Maar as sy aanbidders vind ons ook baat by sy lojale liefde. Daardie liefde motiveer Jehovah om ons met sy beskermende arms vas te hou. Hy sal ons altyd na aan hom hou en al sy beloftes nakom wat hy aan ons gemaak het. Hy wil graag hê dat ons suksesvol moet wees! (Ps. 46:1, 2, 7). So, maak nie saak waardeur ons gaan nie, Jehovah sal ons altyd die krag gee om getrou aan hom te bly.

19 Ons het gesien hoe Jehovah lojale liefde aan sy knegte betoon. En hy verwag dat ons lojale liefde aan mekaar moet betoon. Hoe kan ons dit doen? In die volgende artikel sal ons hierdie belangrike onderwerp bespreek.

LIED 136 “’n Volmaakte beloning” van Jehovah

^ par. 5 Wat is lojale liefde? Aan wie betoon Jehovah lojale liefde en hoe behandel hy dié aan wie hy lojale liefde betoon? Hierdie en die volgende artikel sal hierdie pragtige eienskap bespreek en sal hierdie vrae beantwoord.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENT: Jehovah wys dat hy vir alle mense, insluitende sy knegte, lief is. Die prentjies bo die groep mense beeld ’n paar maniere uit hoe God wys dat hy lief is vir alle mense. Die belangrikste is die kans om baat te vind by die losprys.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: Jehovah behandel almal wat sy knegte word en geloof in die losprys stel, op ’n spesiale manier. Bo en behalwe die liefde wat God aan alle mense betoon, vind God se knegte ook baat by sy lojale liefde. Voorbeelde van sy lojale liefde word in die prentjies uitgebeeld.