Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 48

Bly helder van verstand wanneer jou lojaliteit getoets word

Bly helder van verstand wanneer jou lojaliteit getoets word

“[Bly] in alles helder van verstand.” – 2 TIM. 4:5.

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat beteken dit om helder van verstand te bly? (2 Timoteus 4:5)

 WANNEER ons deur moeilike tye gaan, kan ons lojaliteit aan Jehovah en sy organisasie getoets word. Hoe kan ons sulke uitdagings oorkom? Ons moet helder van verstand bly en wakker bly en vasstaan in die geloof. (Lees 2 Timoteus 4:5.) Ons bly helder van verstand deur kalm te bly, reguit te dink en dinge te probeer sien soos Jehovah dit sien. Wanneer ons dit doen, sal ons gedagtes nie deur ons emosies beheer word nie.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In die vorige artikel het ons drie uitdagings bespreek wat van buite die gemeente kom. In hierdie artikel sal ons drie uitdagings bespreek wat van binne die gemeente kom wat ons lojaliteit aan Jehovah kan toets. Dit is (1) wanneer ons voel dat ’n broer of ’n suster ons sleg behandel het, (2) wanneer ons dissipline ontvang en (3) wanneer ons sukkel om by veranderinge in die organisasie aan te pas. Hoe kan ons helder van verstand bly en lojaal aan Jehovah en sy organisasie bly wanneer ons sulke uitdagings het?

WANNEER ONS VOEL DAT ’N BROER OF ’N SUSTER ONS SLEG BEHANDEL HET

3. Hoe reageer ons dalk as ons voel dat ’n broer of ’n suster ons sleg behandel het?

3 Het jy al ooit gevoel dat ’n broer of ’n suster, dalk iemand in ’n verantwoordelike posisie, jou sleg behandel het? Die persoon het heel moontlik nie bedoel om jou seer te maak nie (Rom. 3:23; Jak. 3:2). Maar wat hy gedoen het, het jou dalk ontstel. Jy het dalk slapelose nagte daaroor gehad. Jy het dalk selfs gewonder: ‘Is dit regtig God se organisasie as ’n broer so iets kan doen?’ Dit is presies hoe Satan wil hê ons moet reageer (2 Kor. 2:11). Sulke negatiewe gedagtes kan veroorsaak dat ons ons van Jehovah en sy organisasie skei. So hoe kan ons helder van verstand bly en nie dink soos Satan wil hê ons moet dink nie as ons voel dat ’n broer of ’n suster ons sleg behandel het?

4. Hoe het Josef helder van verstand gebly toe hy sleg behandel was, en watter lesse kan ons uit sy voorbeeld leer? (Genesis 50:19-21)

4 Moenie bitter word nie. Toe Josef ’n tiener was, het sy ouer broers hom sleg behandel. Hulle het hom gehaat, en party van hulle wou hom selfs doodmaak (Gen. 37:4, 18-22). Hulle het hom uiteindelik as ’n slaaf verkoop. As gevolg daarvan het Josef baie moeilike dinge deurgemaak wat omtrent 13 jaar lank aangehou het. Josef kon gedink het dat Jehovah nie lief is vir hom nie. En hy kon gewonder het of Jehovah hom in sy tyd van nood verlaat het. Maar Josef het nie bitter geword nie. Hy het eerder helder van verstand gebly deur kalm te bly. Toe hy die kans gehad het om sy broers terug te kry, het hy dit nie gedoen nie, maar hy het eerder liefde aan hulle betoon en hulle vergewe (Gen. 45:4, 5). Josef het so opgetree omdat hy helder gedink het. Eerder as om op sy probleme te fokus, het hy die groter prentjie gesien – wat Jehovah wou hê. (Lees Genesis 50:19-21.) Wat is die les? As jy sleg behandel word, moenie verbitterd word teenoor Jehovah of wonder of hy jou verlaat het nie. Dink eerder na oor hoe hy jou help om die probleem te verduur. En wanneer ander jou sleg behandel, moet jy probeer om hulle onvolmaakthede met liefde te bedek. – 1 Pet. 4:8.

5. Hoe het Miqueas helder van verstand gebly toe hy gevoel het dat hy sleg behandel is?

5 Kyk na ’n ondervinding van ’n ouerman uit Suid-Amerika met die naam Miqueas. b Hy kan ’n tyd onthou toe hy gevoel het dat hy baie sleg behandel is deur party broers in verantwoordelike posisies. Hy het gesê: “Ek het nog nooit daardie soort stres ondervind nie. Ek was bang. Ek kon nie saans slaap nie, en ek het gehuil omdat ek so hulpeloos gevoel het.” Maar Miqueas het helder van verstand gebly en hard gewerk om sy gevoelens te beheer. Hy het baie gebid en Jehovah gevra om hom heilige gees en krag te gee om te volhard. Hy het ook inligting in ons publikasies gesoek wat hom kon help. Wat is die les? As jy voel dat ’n broer of ’n suster jou sleg behandel het, bly kalm en probeer enige negatiewe gevoelens beheer wat jy dalk het. Jy weet dalk nie hoekom die persoon gesê het wat hy gesê het of gedoen het wat hy gedoen het nie. So praat met Jehovah in gebed, en vra hom om jou te help om dinge te sien soos die ander persoon dit sien. As jy dit doen, kan dit jou help om nie te dink dat jou broer of suster jou aspris wou seermaak nie en om hom of haar te vergewe (Spr. 19:11). Onthou Jehovah is bewus van jou situasie, en hy sal jou die krag gee wat jy nodig het om te volhard. – 2 Kron. 16:9; Pred. 5:8.

WANNEER ONS DISSIPLINE ONTVANG

6. Hoekom is dit belangrik dat ons Jehovah se dissipline as ’n bewys van sy liefde sien? (Hebreërs 12:5, 6, 11)

6 Dissipline kan ons baie hartseer en sleg laat voel. Maar as ons net op die pyn fokus, kan ons begin dink dat die dissipline onregverdig is of te streng is. As gevolg daarvan kan ons op iets spesiaals uitmis – om die dissipline as ’n bewys van Jehovah se liefde vir ons te sien. (Lees Hebreërs 12:5, 6, 11.) En as ons toelaat dat ons emosies ons beheer, gee ons Satan ’n geleentheid om ons gevoelens uit te buit. Hy wil hê dat ons die dissipline moet verwerp en, selfs erger, om onsself van Jehovah en van die gemeente te skei. Hoe kan jy helder van verstand bly as jy dissipline ontvang het?

Omdat Petrus nederig was en dissipline aanvaar het, was hy waardevoller vir Jehovah (Sien paragraaf 7)

7. (a) Hoe was Petrus deur Jehovah gebruik nadat hy dissipline aanvaar het, soos ons in die prent kan sien? (b) Wat leer jy uit Petrus se voorbeeld?

7 Aanvaar dissipline en maak die nodige veranderinge. Jesus het Petrus meer as een keer voor die ander apostels streng raad gegee (Mark. 8:33; Luk. 22:31-34). Dit het Petrus seker baie skaam laat voel. Maar Petrus het lojaal aan Jesus gebly. Hy het die dissipline aanvaar en uit sy foute geleer. As gevolg daarvan het Jehovah Petrus se lojaliteit beloon en hom belangrike verantwoordelikhede in die gemeente gegee (Joh. 21:15-17; Hand. 10:24-33; 1 Pet. 1:1). Wat kan ons uit Petrus se voorbeeld leer? Ons en ander vind daarby baat wanneer ons nie fokus op hoe skaam ons voel nie, maar die raad eerder aanvaar en die nodige veranderinge maak. Wanneer ons dit doen, word ons selfs waardevoller vir Jehovah en vir ons broers.

8-9. Hoe het Bernardo eers gevoel nadat hy dissipline ontvang het, maar wat het hom gehelp om sy denke reg te stel?

8 Kyk wat met Bernardo, ’n broer in Mosambiek, gebeur het. Hy was afgehaal as ’n ouerman. Hoe het Bernardo eers gevoel? Hy sê: “Ek was bitter omdat ek nie van die dissipline gehou het nie.” Hy was bekommerd oor wat ander in die gemeente van hom sou dink. Hy erken: “Dit het my ’n paar maande gevat om die regte beskouing van die dissipline te kry en om weer op Jehovah en in sy organisasie te vertrou.” Wat het Bernardo gehelp om sy gesindheid te verander?

9 Bernardo het sy denke reggestel. Hy verduidelik: “Toe ek ’n ouerman was, het ek Hebreërs 12:7 gebruik om ander te help om die regte beskouing van Jehovah se dissipline te hê. Nou het ek myself afgevra: ‘Wie moet hierdie vers toepas?’ Al Jehovah se knegte – insluitende ek.” Toe het Bernardo nog veranderinge gemaak om weer sy vertroue in Jehovah en Sy organisasie op te bou. Hy het die Bybel meer gelees en meer daaroor nagedink. Al was hy nog bekommerd oor wat sy broers en susters van hom gedink het, het hy saam met hulle in die bediening gewerk en aan gemeentelike vergaderinge deelgeneem. Later is Bernardo weer as ’n ouerman aangestel. As jy, soos Bernardo, dissipline ontvang het, moet jy nie te veel fokus op hoe skaam jy voel nie, maar aanvaar die raad en maak die nodige veranderinge (Spr. 8:33; 22:4). c As jy dit doen, kan jy seker wees dat Jehovah jou sal beloon omdat jy lojaal aan hom en sy organisasie bly.

WANNEER ONS SUKKEL OM BY VERANDERINGE IN DIE ORGANISASIE AAN TE PAS

10. Watter verandering in die organisasie het dalk die lojaliteit van party Israelitiese mans getoets?

10 Veranderinge in die organisasie kan ons lojaliteit toets. As ons nie versigtig is nie, kan ons selfs toelaat dat dit ons van Jehovah skei. Byvoorbeeld, kyk hoe ’n verandering in die organisasie onder die Wet van Moses dalk party Israeliete geaffekteer het. Voordat die Wet ingestel was, het familiehoofde pligte gedoen wat priesters sou doen. Hulle het altare gebou en vir hulle families offerandes aan Jehovah gebring (Gen. 8:20, 21; 12:7; 26:25; 35:1, 6, 7; Job 1:5). Maar toe die Wet ingestel was, moes familiehoofde daardie voorreg opgee. Jehovah het priesters uit Aäron se familie aangestel om offerandes te offer. Van toe af kon ’n familiehoof wat nie een van Aäron se nakomelinge was nie, doodgemaak word as hy dinge gedoen het wat ’n priester moes doen (Lev. 17:3-6, 8, 9). d Was hierdie verandering dalk een van die redes hoekom Korag, Datan, Abiram en 250 hoofmanne teen Moses en Aäron se gesag gerebelleer het? (Num. 16:1-3). Ons kan nie met sekerheid sê nie. Wat ook al die rede was, Korag en die ander mans wat saam met hom was, het nie lojaal aan Jehovah gebly nie. Wat kan jy doen as veranderinge in die organisasie jou lojaliteit toets?

Toe die Kehatiete ’n nuwe toewysing ontvang het, het hulle gewillig as sangers, as poortwagters of as werkers in stoorkamers gedien (Sien paragraaf 11)

11. Wat leer ons uit die voorbeeld van party van die Kehatitiese Leviete?

11 Ondersteun veranderinge in die organisasie ten volle. Gedurende hulle reise in die wildernis het die Kehatiete ’n belangrike toewysing gehad. Elke keer dat die Israeliete hulle kamp geskuif het, het party van die Kehatiete die ark van die verbond voor die hele volk gedra (Num. 3:29, 31; 10:33; Jos. 3:2-4). Dit was ’n baie groot voorreg! Maar dinge het vir hulle verander toe die Israeliete in die Beloofde Land gaan bly het. Dit was nie meer nodig om die Ark gereeld te skuif nie. So teen die tyd dat Salomo koning was, is party Kehatiete toegewys om as sangers te dien, party was poortwagters en ander het toesig gehou oor die stoorkamers (1 Kron. 6:31-33; 26:1, 24). Daar is geen rekord dat die Kehatiete gekla het of ’n belangriker rol wou hê omdat hulle voorheen hierdie spesiale toewysing gehad het nie. Watter les kan ons leer? Ondersteun veranderinge wat Jehovah se organisasie maak ten volle, insluitende enige wat jou toewysing affekteer. Vind vreugde in watter toewysing jy ook al kry. Onthou dat jou toewysing nie bepaal hoe waardevol jy vir Jehovah is nie. Jehovah waardeer jou gehoorsaamheid meer as enige toewysing. – 1 Sam. 15:22.

12. Hoe het Zaina gevoel toe sy ’n nuwe toewysing gekry het?

12 Kyk na die voorbeeld van Zaina, ’n suster in die Midde-Ooste, wat ’n nuwe toewysing gekry het en ’n kosbare voorreg verloor het. Sy was gevra om veld toe te gaan nadat sy meer as 23 jaar lank in Bethel was. Sy sê: “Toe ek ’n nuwe toewysing kry, was dit ’n baie groot skok. Ek het waardeloos gevoel en myself heeltyd afgevra: ‘Wat het ek verkeerd gedoen?’” Ongelukkig het party broers en susters in die gemeente haar erger laat voel deur vir haar te sê: “As jy goed genoeg was, sou die organisasie jou in Bethel gehou het.” Zaina het ’n ruk lank so hartseer gevoel dat sy elke aand gehuil het. Maar sy sê: “Ek het myself nooit toegelaat om te twyfel dat Jehovah of die organisasie vir my lief is nie.” Hoe kon Zaina helder van verstand bly?

13. Wat het Zaina gedoen om haar negatiewe gevoelens te oorkom?

13 Zaina kon haar negatiewe gevoelens oorkom. Hoe? Sy het artikels in ons publikasies gelees wat haar uitdaging bespreek het. Die artikel: “Jy kan ontmoediging die hoof bied!” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2001 het haar baie gehelp. Daardie artikel verduidelik hoe die Bybelskrywer Markus dalk met soortgelyke gevoelens gesukkel het toe hy nuwe toewysings ontvang het. Zaina vertel: “Markus se voorbeeld het my gehelp om ontmoediging te oorkom.” Zaina het ook na aan haar vriende gebly. Sy het haarself nie afgesonder en haarself nie jammer gekry nie. Sy het besef dat Jehovah se gees deur sy organisasie werk en dat dié wat die leiding neem, baie vir haar omgee. Maar sy het ook besef dat God se organisasie moet doen wat die beste is om Jehovah se werk gedoen te kry.

14. Met watter verandering in die organisasie het Vlado gesukkel, en wat het hom gehelp?

14 Vlado, ’n 73-jarige ouerman in Slowenië, het gesukkel toe sy gemeente met ’n ander gemeente saamgesmelt het en die Koninkryksaal wat hy bygewoon het, toegemaak is. Hy sê: “Ek het nie verstaan hoekom so ’n pragtige Koninkryksaal toegemaak sou word nie. Ek het seergemaak gevoel omdat ons onlangs opknappingswerk aan die saal gedoen het. Ek doen houtwerk, en ek het party van die nuwe meubels gemaak. Die samesmelting het ook baie veranderinge ingesluit wat nie maklik was vir ons as ouer verkondigers nie.” Wat het Vlado gehelp om die riglyne te ondersteun? Hy verduidelik: “As jy aanpas by veranderinge wat Jehovah se organisasie maak, bring dit altyd seëninge. Hierdie veranderinge berei ons voor vir selfs groter veranderinge in die toekoms.” Sukkel jy met die aanpassings as gevolg van ’n samesmelting of ’n nuwe toewysing? Wees verseker dat Jehovah jou gevoelens verstaan. Wanneer jy sulke veranderinge ondersteun en lojaal bly aan Jehovah en die organisasie wat hy gebruik, sal jy beslis geseën word. – Ps. 18:25.

BLY IN ALLES HELDER VAN VERSTAND

15. Hoe kan ons helder van verstand bly wanneer ons uitdagings in die gemeente ondervind?

15 Terwyl ons nader aan die einde van hierdie wêreld kom, kan ons verwag dat daar uitdagings van binne die gemeente sal kom. Daardie uitdagings kan ons lojaliteit aan Jehovah toets. So ons moet helder van verstand bly. As jy voel dat ’n broer of ’n suster jou sleg behandel het, moet jy nie jouself toelaat om bitter te word nie. As jy dissipline ontvang, moenie fokus op hoe skaam dit jou laat voel nie; aanvaar die raad en maak die nodige veranderinge. En wanneer Jehovah se organisasie veranderinge maak wat jou persoonlik raak, aanvaar dit heelhartig en wees gehoorsaam aan die riglyne.

16. Hoe kan jy jou vertroue in Jehovah en sy organisasie behou?

16 Jy kan jou vertroue in Jehovah en sy organisasie behou wanneer jou lojaliteit getoets word. Maar om dit te doen, moet jy helder van verstand bly, dit wil sê kalm bly, reguit dink en dinge sien soos Jehovah dit sien. Wees vasbeslote om meer te leer oor Bybelkarakters wat soortgelyke probleme suksesvol hanteer het en dink na oor hulle voorbeelde. Bid tot Jehovah vir hulp. En moet jouself nooit van die gemeente afsonder nie. Dan, maak nie saak wat gebeur nie, sal Satan jou nie van Jehovah of Sy organisasie kan skei nie. – Jak. 4:7.

LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam

a Ons lojaliteit aan Jehovah en sy organisasie kan getoets word, veral wanneer ons uitdagings in die gemeente het. Hierdie artikel sal drie van hierdie uitdagings bespreek en wat ons kan doen om lojaal aan Jehovah en sy organisasie te bly.

b Party name is verander.

c Jy kan nog goeie voorstelle kry in die artikel “Het jy voorheen gedien? Kan jy weer dien?” in Die Wagtoring van 15 Augustus 2009, bl. 30.

d Die Wet het vereis dat familiehoofde wat ’n mak dier vir vleis wou slag, die dier na die heiligdom toe moes vat. Uitsonderings was gemaak vir familiehoofde wat te ver van die heiligdom af gebly het. – Deut. 12:21.