Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

“Ek wou vir Jehovah werk”

“Ek wou vir Jehovah werk”

ONS het totsiens gewaai vir ’n klein groepie mense wat ons naby die Granbori-dorpie besoek het, wat diep in die reënwoud in Suriname is. Ons het toe in ’n houtboot op die Tapanahoni-rivier vertrek. Later, terwyl ons deur sterk rivierstrome gegaan het, het die skroef van die enjin ’n rots getref. Die voorkant van die boot het onmiddellik in die rivier begin sink. My hart het in my keel geklop. Al het ek as ’n kringopsiener oor die jare al baie in bote op riviere gereis, het ek nie geweet hoe om te swem nie!

Voordat ek sê wat volgende gebeur het, kom ek vertel vir julle hoe ek in die voltydse diens begin het.

Ek is in 1942 gebore op die pragtige Karibiese eiland, Curaçao. My pa is oorspronklik van Suriname, maar hy het na die eiland getrek vir werk. ’n Paar jaar voordat ek gebore is, was hy een van die eerste gedoopte Getuies in Curaçao. a Hy het elke week die Bybel met ons as kinders gestudeer, al het ons dit nie altyd vir hom maklik gemaak nie. Toe ek 14 jaar oud was, het ons saam met my pa na Suriname getrek sodat hy vir sy bejaarde ma kon sorg.

GOEIE ASSOSIASIE HET ’N VERSKIL GEMAAK

In Suriname het ek met die jongmense in die gemeente begin assosieer wat Jehovah ywerig gedien het. Hulle was ’n paar jaar ouer as ek en het as gewone pioniers gedien. Wanneer hulle gepraat het oor die ondervindinge wat hulle in die veldbediening gehad het, kon ek sien hoe gelukkig hulle was. Ná gemeentelike vergaderinge het ek en my vriende ook gepraat oor Bybelonderwerpe – soms terwyl ons buite onder die sterre gesit het. Hierdie vriende het my gehelp om te besef wat ek in die lewe wou hê. Ek wou vir Jehovah werk. Daarom het ek my laat doop toe ek 16 jaar oud was. Later, toe ek 18 was, het ek as ’n gewone pionier begin dien.

EK LEER WAARDEVOLLE LESSE

Terwyl ek in Paramaribo pionier

Ek het as ’n pionier baie lesse geleer, en dit het my regdeur my loopbaan in die voltydse diens gehelp. Byvoorbeeld, een van die eerste lesse wat ek geleer het, is dat dit belangrik is om ander op te lei. Toe ek begin pionier het, het ’n sendeling met die naam Willem van Seijl my onder sy vlerk geneem. b Hy het my baie geleer oor hoe om teokratiese toewysings te hanteer. Op daardie stadium het ek nie besef dat ek die opleiding so nodig gehad het nie. Die jaar daarna is ek as ’n spesiale pionier aangestel, en daarna het ek die leiding begin neem in afgesonderde groepe wat diep in die reënwoud van Suriname is. Ek is baie dankbaar vir die opleiding wat die broers my gegee het! Van toe af het ek my bes probeer om hulle voorbeeld te volg deur tyd te neem om ander op te lei.

’n Tweede les wat ek geleer het, is dat dit goed is om ’n eenvoudige, maar goed georganiseerde lewe te lei. Aan die begin van elke maand het ek en my spesiale pioniermaat probeer bepaal watter materiële dinge ons sou nodig hê vir die weke wat voorlê. Dan sou een van ons die lang reis na die hoofstad aanpak om die dinge te koop wat ons nodig het. Ons moes mooi werk met ons maandelikse toelaag en ons voorraad op so ’n manier gebruik dat dit die hele maand sou hou. As iets opgeraak het terwyl ons in die reënwoud was, was daar nie eintlik iemand wat ons kon help nie. Omdat ek op ’n jong ouderdom geleer het om ’n eenvoudige, maar goed georganiseerde lewe te lei, het dit my gehelp om regdeur my lewe op Jehovah se werk gefokus te bly.

’n Derde les wat ek geleer het, is dat dit goed is om mense in hulle moedertaal te onderrig. Terwyl ek grootgeword het, het ek Nederlands gepraat, sowel as Engels, Papiamentoe en Sranantongo – (ook bekend as Sranan), die algemene taal van Suriname. Maar in die reënwoud het ek gesien dat mense beter op die goeie nuus reageer wanneer ons met hulle in hulle moedertaal gepraat het. Dit was vir my moeilik om party van hierdie tale te praat, soos Saramaccaans, wat hoë en lae tone gebruik. Maar dit was alles die moeite werd. Oor die jare kon ek vir baie meer mense die waarheid leer omdat ek hulle moedertaal kon praat.

Ek het natuurlik ’n hele paar ondervindinge gehad wat my skaam laat voel het. Eenkeer wou ek byvoorbeeld vir ’n Saramaccaans-sprekende Bybelstudent vra hoe sy gevoel het omdat sy maagpyn gehad het. Maar ek het haar eintlik gevra of sy swanger was! Sy het natuurlik nie van daardie vraag gehou nie. Al het ek foute gemaak, het ek altyd probeer om die moedertaal te praat van die mense in my toewysings.

EK AANVAAR MEER VERANTWOORDELIKHEDE

In 1970 is ek as ’n kringopsiener aangestel. Daardie jaar het ek die skyfieprogram “’n Besoek aan die Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies” aangebied aan baie afgesonderde groepe in die reënwoud. Om hulle te bereik, het ek en ’n groep broers ’n lang, houtboot gebruik om op die rivier te vaar. Ons het ’n kragopwekker, ’n petroltenk, petrollampies en die toerusting om die skyfieprogram te speel, saam met ons gevat. Toe ons daar aankom, moes ons al die toerusting dra na waar ons die skyfieprogram sou aanbied. Maar wat ek die meeste omtrent hierdie besoeke onthou, is hoe baie die mense in daardie afgesonderde gebiede die programme geniet het. Ek was baie bly om ander te help om oor Jehovah en die aardse deel van sy organisasie te leer. Die geestelike belonings is baie beter as enige fisiese opofferings wat ek gemaak het terwyl ek Jehovah se werk gedoen het.

’N DRIEDUBBELE TOU

Ek en Ethel het in September 1971 getrou

Al kon ek sien dat die ongetroude lewe baie voordele vir my diens ingehou het, wou ek nog steeds baie graag trou. Daarom het ek spesifiek begin bid vir ’n vrou wat vreugdevol saam met my in hierdie moeilike voltydse toewysing in die reënwoud sou dien. Omtrent ’n jaar later het ek begin uitgaan met Ethel, ’n spesiale pionier wat ’n selfopofferende gees gehad het. Ethel het van jongs af die apostel Paulus bewonder en wou net soos hy haar bes doen in die bediening. Ons het in September 1971 getrou en het saam op die kring begin dien.

Ethel het arm grootgeword, so sy het goed aangepas by die reisende werk in die reënwoud. Byvoorbeeld, wanneer ons gereedgemaak het om gemeentes diep in die woud te besoek, het ons nie baie dinge ingepak nie. Ons het ons klere en onsself in riviere gewas. Ons het ook enige iets geëet wat die broers vir ons gegee het – likkewane, piranhas of enige iets wat hulle dalk in die woud gejag het of in die riviere gevang het. Wanneer daar nie borde was nie, het ons op piesangblare geëet. Wanneer daar nie messe of vurke was nie, het ons met ons vingers geëet. Ek en Ethel voel dat die opofferings wat ons gemaak het terwyl ons vir Jehovah gewerk het, ons driedubbele tou versterk het (Pred. 4:12). Ons sal nooit hierdie ondervindinge vir enige iets verruil nie!

Ons was op pad terug van ’n afgesonderde gebied in die woud toe ons die ondervinding gehad het wat ek aan die begin genoem het. Toe die boot die sterk strome tref, het dit vir ’n kort rukkie onderwater gegaan maar gou weer opgekom. Ons het gelukkig reddingsbaadjies aangehad en het nie uit die boot geval nie. Maar ons boot was vol water. Ons het ons kospotte in die rivier leeggemaak en dit toe gebruik om die water uit die boot te skep.

Ons het nie enige kos oorgehad nie, en daarom het ons begin visvang terwyl ons op die rivier was. Maar ons het niks gevang nie. Ons het toe tot Jehovah gebid en hom gevra om vir ons ons kos vir die dag te gee. Onmiddellik nadat ons gebid het, het een van die broers ’n vislyn uitgegooi en ’n vis gevang wat groot genoeg was dat al vyf van ons daardie aand genoeg kon eet.

HUWELIKSMAAT, PA EN REISENDE OPSIENER

Nadat ons vyf jaar lank in die reisende werk was, het ek en Ethel ’n onverwagse seëning gekry – ons sou ouers word. Ek was bly om die nuus te hoor, al was ek nie seker wat die toekoms sou inhou nie. Ek en Ethel wou baie graag in die voltydse diens bly as dit enigsins moontlik was. Ons seun Ethniël is in 1976 gebore. Ons tweede seun, Giovanni, is twee en ’n half jaar later gebore.

Ek woon ’n doop by in die Tapanahoni-river naby Godo Holo in Oos-Suriname – 1983

As gevolg van die behoeftes wat op daardie stadium in Suriname was, het die takkantoor gereël dat ek op die kring bly terwyl ons ons kinders grootgemaak het. Toe ons seuns klein was, het ek kringe gekry met minder gemeentes. Dit het my gewoonlik toegelaat om elke maand vir ’n paar weke as ’n reisende opsiener te dien en die res van die maand as ’n pionier in die gemeente waarheen ons aangewys was. Ethel en ons seuns het saam met my gekom wanneer ek gemeentes naby ons huis besoek het. Maar ek het alleen gereis wanneer ek gemeentes en byeenkomste in die reënwoud gedien het.

Terwyl ek op die kring was, het ek dikwels met ’n boot gereis om afgesonderde gemeentes te besoek

Ek moes my sake mooi reël sodat ek al my verantwoordelikhede kon nakom. Ek het seker gemaak dat ons elke week ons gesinstudie hou. Wanneer ek gemeentes in die woud gaan besoek het, sou Ethel die gesinstudie met ons seuns by die huis hou. Maar ons het, so dikwels as moontlik, dinge saam as ’n gesin gedoen. Ek en Ethel het ook gereeld lekker dinge saam met ons seuns gedoen. Ons het speletjies gespeel of interessante plekke besoek. Ek het baie keer laat opgebly om vir teokratiese toewysings voor te berei. En omdat Ethel ’n goeie vrou is, soos wat in Spreuke 31:15 beskryf word, sou sy vroeg opstaan om seker te maak dat ons die dagteks as ’n gesin kon lees en dat ons ontbyt kon eet voordat ons seuns skool toe gaan. Ek is dankbaar om so ’n selfopofferende vrou te hê wat my nog altyd gehelp het om my Skriftuurlike verantwoordelikhede na te kom!

Ons het as ouers hard gewerk om ons seuns te help om Jehovah en die bediening lief te hê. Ons wou hê dat ons seuns die voltydse diens as hulle loopbaan moes kies, nie omdat ons wou hê dat hulle dit moes doen nie, maar omdat dit hulle keuse was. Ons het altyd gepraat oor hoe gelukkig die voltydse diens hulle kon maak. Sonder om die uitdagings weg te steek, het ons beklemtoon hoe Jehovah ons as ’n familie gehelp en geseën het. Ons het ook seker gemaak dat ons seuns vriende gemaak het met Getuies wat Jehovah eerste in hulle lewe gestel het.

Jehovah het in al ons behoeftes voorsien, terwyl ons ons kinders grootgemaak het. Ek het natuurlik altyd probeer om my deel te doen. My ondervinding in die reënwoud as ’n ongetroude spesiale pionier het my geleer om vooruit te beplan vir ons materiële behoeftes. Maar al het ons ons bes probeer, het ons soms nie alles gehad wat ons nodig gehad het nie. Wanneer dit gebeur het, het Jehovah ons gehelp. Daar was byvoorbeeld gedurende die laat 1980’s en vroeg in die 1990’s ’n opstand in Suriname. In daardie jare was dit soms moeilik om selfs net die basiese dinge te kry. Maar Jehovah het na ons gekyk. – Matt. 6:32.

EK KYK TERUG

Van links na regs: Saam met my vrou, Ethel

Ons oudste seun Ethniël saam met sy vrou, Natalie

Ons seun Giovanni saam met sy vrou, Christal

Jehovah het regdeur ons lewe altyd vir ons gesorg en ons gehelp om gelukkig en tevrede te wees. Ons kinders was ’n groot seëning vir ons en om hulle groot te maak om Jehovah te dien, was ’n voorreg. Ons is baie bly dat hulle ook gekies het om die voltydse diens hulle loopbaan te maak. Ethniël en Giovanni het albei teokratiese skole bygewoon en dien nou by die takkantoor in Suriname met hulle vrouens.

Ek en Ethel is nou baie ouer, maar ons is nog steeds besig om vir Jehovah te werk as spesiale pioniers. Om die waarheid te sê, ons is so besig dat ek nog nie die tyd gekry het om te leer hoe om te swem nie! Maar ek is oor niks spyt nie. As ek nou terugkyk, kan ek eerlikwaar sê dat een van die beste besluite wat ek nog ooit gemaak het, was om op ’n jong ouderdom die voltydse diens my lewenswerk te maak.

b Willem van Seijl se lewensverhaal, “Die werklikheid het my verwagtinge oortref”, verskyn in die Ontwaak! van 8 Oktober 1999.