Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het Mordegai regtig bestaan?

’N JOOD met die naam Mordegai speel ’n belangrike rol in die gebeure van die Bybelboek Ester. Hy was ’n Joodse gevangene wat in die koninklike Persiese paleis gewerk het. Dit was aan die begin van die vyfde eeu VHJ “in die tyd van [koning] Ahasveros”. (Vandag glo die meeste mense dat hierdie koning Xerxes I was.) Mordegai het die plan om die koning te laat doodmaak, gekeer. Uit dankbaarheid het die koning gereël dat Mordegai in die openbaar geëer word. Later, ná die dood van Haman, ’n vyand van Mordegai en van die ander Jode, het die koning Mordegai die eerste minister gemaak. Daardie posisie het Mordegai toegelaat om ’n bevel te gee wat Jode in die Persiese Ryk van volksmoord gered het. – Est. 1:1; 2:5, 21-23; 8:1, 2; 9:16.

Party geskiedkundiges van vroeg in die 20ste eeu het gesê dat die boek Ester fiksie is en dat Mordegai nooit bestaan het nie. Maar in 1941 het argeoloë moontlik bewyse gevind wat die Bybelverslag oor Mordegai ondersteun. Wat het hulle gevind?

Navorsers het ’n Persiese spykerskrifteks gevind wat ’n man noem met die naam Marduka (Engels Mordegai). Hy het as ’n administrateur, moontlik ’n rekenmeester, in Susan gewerk. Arthur Ungnad, ’n deskundige in Oosterse geskiedenis, het gesê dat hierdie spykerskrif op daardie stadium “die enigste ekstra Bybelse verwysing na Mordegai” was.

Ná Ungnad se verslag het geleerdes duisende ander Persiese spykerskriftekste vertaal. Onder hulle is die Persepolis-tablette, wat in die ruïnes van die Skatkamer naby die stadspoorte gevind is. Hierdie tablette kom uit die tydperk toe Xerxes I koning was. Dit is in die Elamitiese taal en bevat ’n hele paar name wat in die boek Ester gevind word. a

Die naam Mordegai (Marduka) soos dit in Persiese spykerskrif verskyn

’n Hele paar Persepolis-tablette noem die naam Marduka, wat as ’n sekretaris vir die koning by die paleis in Susan gewerk het toe Xerxes I koning was. Een tablet beskryf Marduka as ’n vertaler. Dit pas by die Bybelse beskrywing van Mordegai. Hy was ’n amptenaar in die hof van koning Ahasveros (Xerxes I), en hy het ten minste twee tale gepraat. Mordegai het gereeld in die koning se poort by die paleis in Susan gesit (Est. 2:19, 21; 3:3). Hierdie koninklike poort was ’n groot gebou waar paleisamptenare gewerk het.

Daar is interessante ooreenkomste tussen Marduka wat in die tablette genoem word en Mordegai wat in die Bybel genoem word. Hulle het op dieselfde tyd gelewe en op dieselfde plek gebly en het by dieselfde plek as amptenare gewerk. Dit lyk of al hierdie feite wys dat Marduka en Mordegai wat in die boek Ester genoem word dieselfde persoon is.

a In 1992 het Professor Edwin M. Yamauchi tien name gepubliseer uit die Persepolis-tekste wat ook in die boek Ester gevind word.