Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 46

Hoe Jehovah ons help om met vreugde te volhard

Hoe Jehovah ons help om met vreugde te volhard

“Jehovah wag geduldig om goedheid aan julle te betoon, en hy sal opstaan om genade aan julle te betoon.” – JES. 30:18.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. (a) Watter vrae sal ons bespreek? (b) Wat wys dat Jehovah gretig is om ons te help?

 JEHOVAH kan ons help om die uitdagings in ons lewe te hanteer en om vreugde te vind in ons heilige diens. Op watter maniere help hy ons? En hoe kan ons ten volle baat vind by die hulp wat Jehovah voorsien? Hierdie vrae sal in hierdie artikel beantwoord word. Maar voordat ons die antwoorde bespreek, kom ons beantwoord eers hierdie vraag: Is Jehovah regtig gewillig om ons te help?

2 ’n Woord wat die apostel Paulus in sy brief aan die Hebreërs gebruik het, kan ons help om die antwoord te vind. Paulus het geskryf: “Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?” (Heb. 13:6). Bybelnaslaanwerke sê dat die woord “helper”, soos dit in hierdie vers gebruik word, verwys na ’n persoon wat hardloop om iemand wat om hulp roep, te help. Stel jou voor hoe Jehovah vinnig iets doen om iemand te red. Jy sal sekerlik saamstem dat hierdie beskrywing wys hoe gewillig – ja, gretig – Jehovah is om ons Helper te wees. Met Jehovah aan ons kant, kan ons met vreugde volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan.

3. Wat is drie maniere hoe Jehovah ons help om met vreugde te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan?

3 Wat is ’n paar maniere hoe Jehovah ons help om met vreugde te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan? Om dit te beantwoord, kom ons gaan na die boek Jesaja. Hoekom? Baie van die profesieë wat Jesaja geïnspireer was om te skryf, is van toepassing op God se knegte van vandag. En Jesaja beskryf Jehovah baie keer met woorde wat ons maklik kan verstaan. Daar is ’n paar voorbeelde hiervan in Jesaja hoofstuk 30. In hierdie hoofstuk gebruik Jesaja pragtige illustrasies om te beskryf hoe Jehovah ons as sy volk help (1) deur mooi te luister na ons gebede en daarop te reageer, (2) deur ons te lei en (3) deur ons nou en in die toekoms te seën. Kom ons bespreek nou hierdie drie maniere hoe Jehovah ons help.

JEHOVAH LUISTER NA ONS

4. (a) Hoe het Jehovah die Jode van Jesaja se dag beskryf, en wat het Hy uiteindelik toegelaat om te gebeur? (b) Watter hoop het Jehovah vir die getroues gegee? (Jesaja 30:18, 19)

4 Aan die begin van Jesaja hoofstuk 30 noem Jehovah die Jode “hardkoppige kinders” wat “die een sonde by die ander [voeg]”. Hy sê verder: “Hulle is ’n opstandige volk, . . . wat nie die wet van Jehovah wil hoor nie” (Jes. 30:1, 9). Omdat die volk geweier het om te luister, het Jesaja voorspel dat Jehovah sou toelaat dat slegte dinge met hulle gebeur (Jes. 30:5, 17; Jer. 25:8-11). En dit is wat gebeur het toe die Babiloniërs hulle gevange geneem het. Maar daar was party getroues onder die Jode, en Jesaja het ’n boodskap van hoop vir hulle gehad. Hy het vir hulle gesê dat Jehovah hulle eendag sou toelaat om terug te keer na Jerusalem. (Lees Jesaja 30:18, 19.) En dit is presies wat gebeur het. Jehovah het hulle uit Babilon bevry. Maar hy het dit nie onmiddellik gedoen nie. Die woorde “Jehovah wag geduldig om goedheid aan julle te betoon” het gewys dat tyd sou verbygaan voordat die getroues bevry sou word. Om die waarheid te sê, die Israeliete was 70 jaar in gevangenskap in Babilon voordat party van hulle toegelaat was om terug te keer na Jerusalem (Jes. 10:21; Jer. 29:10). Toe die volk weer terug was in hulle tuisland is hulle trane van hartseer wat hulle gehad het toe hulle gevangenes was, deur trane van vreugde vervang.

5. Watter versekering gee Jesaja 30:19 ons?

5 Vandag kan die volgende woorde ons vertroos: “Hy sal vir seker goedheid aan jou betoon wanneer jy om hulp roep” (Jes. 30:19). Jesaja verseker ons dat Jehovah mooi sal luister wanneer ons om hulp roep en vinnig sal reageer wanneer ons bid. Jesaja voeg by: “Hy sal jou antwoord sodra hy jou hoor.” Hierdie vertroostende woorde herinner ons daaraan dat ons Vader gewillig – ja, gretig – is om dié te help wat hom vir hulp vra. Omdat ons dit weet, help dit ons om met vreugde te volhard.

6. Hoe wys Jesaja se woorde dat Jehovah na elkeen van sy knegte se gebede luister?

6 Wat leer hierdie vers ons nog oor ons gebede? Jehovah luister mooi wanneer elkeen van ons bid. Hoekom kan ons dit sê? In die eerste deel van Jesaja hoofstuk 30 word die voornaamwoord “julle” gebruik omdat Jehovah met sy volk as ’n groep praat. Maar in vers 19 word die woord “jy” gebruik omdat daar met individue gepraat word. Jesaja skryf: “Jy [sal] beslis nie huil nie”; “hy sal vir seker goedheid aan jou betoon”; “hy sal jou antwoord”. As ’n liefdevolle Vader sê Jehovah nie vir ’n seun of dogter wat mismoedig is: “Jy moet so sterk soos jou broer of suster wees” nie. Hy beskou ons eerder as individue, en hy luister na ons elkeen se gebede. – Ps. 116:1; Jes. 57:15.

Jesaja het gesê: “Moenie ophou om tot [Jehovah]te bid . . . nie (Sien paragraaf 7)

7. Hoe wys Jesaja en Jesus dat ons aanhoudend moet bid?

7 Wanneer ons met ons God praat oor iets waaroor ons bekommerd is, sal Jehovah ons dalk eers die krag gee wat ons nodig het om te volhard. En as ons probleem nie so gou weggaan as wat ons gehoop het nie, sal ons Jehovah dalk oor en oor vir die krag moet vra om dit te verduur. Hy nooi ons om dit te doen. Jesaja sê: “Moenie ophou om tot hom te bid . . . nie” (Jes. 62:7). So ons moet aanhoudend tot Jehovah bid. Jesaja se woorde herinner ons aan Jesus se illustrasies oor gebed in Lukas 11:8-10, 13. Daar moedig Jesus ons aan om “aanhoudend” te bid en om ‘aan te hou vra’ vir heilige gees. Ons kan Jehovah ook smeek om ons te lei sodat ons goeie besluite sal maak.

JEHOVAH LEI ONS

8. Hoe het die woorde van Jesaja 30:20, 21 in die ou tyd waar geword?

8 Lees Jesaja 30:20, 21. Toe die Babiloniese leërmag Jerusalem ’n jaar en ’n half lank omsingel het, het die volk so baie swaargekry dat dit vir hulle so algemeen soos brood en water geword het. Maar volgens vers 20 en 21 het Jehovah die Jode belowe dat hy hulle sou red as hulle berou getoon het en hulle gedrag verander het. Jesaja het Jehovah hulle “Groot Onderrigter” genoem en die volk belowe dat Jehovah hulle sou leer hoe om Hom op ’n aanvaarbare manier te aanbid. Daardie woorde het waar geword toe die Jode uit gevangenskap bevry is. Jehovah was vir hulle ’n Groot Onderrigter en onder sy leiding het sy volk dit reggekry om rein aanbidding te herstel. Ons is geseënd om Jehovah vandag as ons Groot Onderrigter te hê.

9. Wat is een manier hoe Jehovah ons vandag lei?

9 Jesaja gaan voort met sy illustrasie en beskryf ons as studente wat op twee maniere deur Jehovah geleer word. Eerstens sê Jesaja: “Jy sal jou Groot Onderrigter met jou eie oë sien.” In hierdie illustrasie sê Jesaja dat die Onderrigter voor sy studente staan. Ons is bevoorreg om vandag deur God geleer te word. Hoe onderrig Jehovah ons? Hy doen dit deur middel van sy organisasie. Ons is baie dankbaar vir die duidelike instruksies wat ons van Jehovah se organisasie kry! Die onderrigting wat ons by ons gemeentelike vergaderinge en byeenkomste kry, sowel as deur die publikasies, Broadcasting-programme en baie ander dinge help ons om met vreugde te volhard gedurende moeilike tye.

10. Hoe hoor ons “’n woord agter [ons]”?

10 Jesaja noem ’n tweede manier waarop Jehovah ons onderrig, en hy sê: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor.” Hier beskryf die profeet Jehovah as ’n goeie onderrigter wat agter sy studente loop en vir hulle sê in watter rigting om te gaan. Vandag hoor ons God se stem agter ons. Hoe? God se geïnspireerde woorde is lank gelede in die Bybel neergeskryf, ’n tyd ver agter ons. So wanneer ons die Bybel lees, is dit asof ons God se stem agter ons hoor. – Jes. 51:4.

11. Watter stappe moet ons neem om met vreugde te volhard, en hoekom?

11 Hoe kan ons ten volle baat vind by die leiding wat Jehovah deur middel van sy organisasie en sy Woord gee? Let op dat Jesaja twee dinge noem. Eerstens, “dit is die weg”. Tweedens, “volg dit” (Jes. 30:21). Dit is nie genoeg om net “die weg” te ken nie. Ons moet dit ook “volg”. Deur middel van Jehovah se Woord en die verduidelikings daarvan deur sy organisasie, leer ons wat Jehovah van ons verwag. Ons leer ook hoe om toe te pas wat ons leer. Om met vreugde in ons diens aan Jehovah te volhard, moet ons albei stappe neem. Slegs dan kan ons seker wees dat Jehovah ons sal seën.

JEHOVAH SEËN ONS

12. Hoe sou Jehovah sy volk seën, volgens Jesaja 30:23-26?

12 Lees Jesaja 30:23-26. Hoe het hierdie profesie waar geword vir die Jode wat teruggekeer het na Israel nadat hulle gevangenes in Babilon was? Hulle het baie seëninge gekry – fisies en geestelik. Jehovah het sy volk met ’n oorvloed fisiese kos geseën. Maar die belangrikste was dat hy hulle ’n oorvloed geestelike kos gegee het sodat hulle hom weer op ’n rein manier kon aanbid. Die geestelike seëninge wat God se volk op daardie tyd geniet het, was baie meer as enige iets wat hulle al voorheen gehad het. Vers 26 wys dat Jehovah hulle baie meer geestelike lig gegee het (Jes. 60:2). Jehovah se seëninge het sy knegte gehelp om hom met vreugde en innerlike krag te bly dien “weens die vreugde in hulle hart”. – Jes. 65:14.

13. Hoe het die herstellingsprofesie in ons dag waar geword?

13 Is die profesie oor die herstelling van rein aanbidding vandag op ons van toepassing? Beslis! Hoe? Vanaf 1919 HJ is miljoene mense nie meer gevangenes van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, nie. Hulle is gelei na ’n baie beter plek as Israel se Beloofde Land. Hulle is na ’n geestelike paradys gelei (Jes. 51:3; 66:8). Wat is daardie geestelike paradys?

14. Wat is die geestelike paradys, en wie bly vandag daar? (Sien “Wat dit beteken”.)

14 Die gesalfdes bly vanaf 1919 HJ in ’n geestelike paradys. b Later het dié met ’n aardse hoop, die “ander skape”, ook hierdie geestelike land binnegegaan en Jehovah se oorvloedige seëninge geniet. – Joh. 10:16; Jes. 25:6; 65:13.

15. Waar is die geestelike paradys?

15 Waar is die geestelike land, of paradys, vandag? Jehovah se aanbidders kan regoor die wêreld gevind word. Daarom is die geestelike paradys waarin hulle bly ook regoor die wêreld. So maak nie saak waar ons vandag op die aarde bly nie, ons kan deel van die geestelike paradys wees so lank as wat ons ware aanbidding ondersteun.

Hoe kan elkeen van ons help om die geestelike paradys nog mooier te maak? (Sien paragraaf 16-17)

16. Hoe kan ons aanhou om te sien hoe mooi die geestelike paradys is?

16 Om in die geestelike paradys te bly, moet ons ons waardering vir die wêreldwye Christengemeente behou. Hoe kan ons dit doen? Deur te fokus op hoe mooi ons broers en susters is wat daar bly eerder as op hulle onvolmaakthede (Joh. 17:20, 21). Hoekom is dit so belangrik? Dink aan hierdie vergelyking. Ons verwag om verskillende bome in ’n pragtige park of tuin te sien. Net so is daar vandag verskillende mense in ons gemeentes wat met bome vergelyk word (Jes. 44:4; 61:3). Ons moet seker maak dat ons aanhou fokus op hoe mooi die “woud” is en nie op die onvolmaakthede van die “bome” wat die naaste aan ons is nie. Ons kan nie toelaat dat ons eie onvolmaakthede of dié van ander in die gemeente veroorsaak dat ons nie kan sien hoe mooi die verenigde wêreldwye Christengemeente is nie.

17. Wat kan elkeen van ons doen om by te dra tot die eenheid van die gemeente?

17 Hoe kan elkeen van ons bydra tot hierdie eenheid? Deur vredemakers te wees (Matt. 5:9; Rom. 12:18). Elke keer wanneer ons die inisiatief neem om vrede met ander in die gemeente te bevorder, help ons om die geestelike paradys nog mooier te maak. Ons hou in gedagte dat Jehovah elke persoon wat in die geestelike paradys is, na rein aanbidding getrek het (Joh. 6:44). Dink net hoe gelukkig Jehovah is wanneer hy sien dat ons hard werk om die vrede en eenheid te versterk onder dié wat vir hom kosbaar is – sy knegte! – Jes. 26:3; Hag. 2:7.

18. Waaroor moet ons dikwels diep nadink, en hoekom?

18 Hoe kan ons ten volle baat vind by die seëninge wat ons as God se knegte ontvang? Ons kan diep nadink oor wat ons in God se Woord en in ons Bybelpublikasies leer. As ons so studeer en diep daaroor nadink, sal dit ons help om Christelike eienskappe te ontwikkel wat ons motiveer om “hartlike broederliefde teenoor mekaar” in die gemeente te betoon (Rom. 12:10). As ons diep nadink oor die seëninge wat ons nou geniet, versterk ons ons verhouding met Jehovah. En as ons diep nadink oor die seëninge wat Jehovah vir die toekoms belowe, sal ons vashou aan die hoop om hom vir ewig te dien. Al hierdie dinge sal ons help om Jehovah nou met meer vreugde te dien.

VASBESLOTE OM TE VOLHARD

19. (a) Waarvan kan ons seker wees, volgens Jesaja 30:18? (b) Wat sal ons help om met vreugde te volhard?

19 Jehovah “sal opstaan” vir ons wanneer hy hierdie goddelose wêreld vernietig (Jes. 30:18). Ons is oortuig dat Jehovah – “’n God van geregtigheid” – nie sal toelaat dat Satan se wêreld ’n dag langer bestaan as wat nodig is nie (Jes. 25:9). Ons wag geduldig saam met Jehovah vir daardie dag van redding om te kom. Intussen is ons vasbeslote om aan te hou om die voorreg van gebed te waardeer, sowel as om te studeer en God se Woord toe te pas en om diep na te dink oor ons seëninge. Wanneer ons dit doen, sal Jehovah ons help om met vreugde te volhard in ons aanbidding aan hom.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

a Hierdie artikel bespreek drie maniere hoe Jehovah sy aanbidders help om met vreugde te volhard wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Ons sal Jesaja hoofstuk 30 ondersoek om meer oor hierdie maniere te leer. Terwyl ons hierdie hoofstuk hersien, sal ons herinner word aan hoe belangrik dit is om tot Jehovah te bid, sy Woord te bestudeer en diep na te dink oor die seëninge wat ons nou geniet en in die toekoms sal geniet.

b WAT DIT BETEKEN: “Geestelike paradys” verwys na die veilige omgewing waarin ons Jehovah in eenheid aanbid. In hierdie omgewing het ons ’n oorvloed geestelike kos wat vry is van godsdiensleuens, en ons geniet die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Ons geniet ’n sterk verhouding met Jehovah en ons lewe in vrede met ons liefdevolle broers en susters wat ons help om met vreugde te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan. Ons gaan die geestelike paradys binne wanneer ons Jehovah op die regte manier begin aanbid en wanneer ons ons bes doen om hom na te volg.