Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 45

Hoe Jehovah ons help om ons bediening uit te voer

Hoe Jehovah ons help om ons bediening uit te voer

“Hulle sal beslis weet dat daar ’n profeet onder hulle was.” – ESEG. 2:5

LIED 67 Preek getrou

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat kan ons verwag, en waarvan kan ons seker wees?

 ONS kan verwag om teëgestaan te word terwyl ons ons predikingswerk uitvoer. Daardie teenstand kan in die toekoms erger word (Dan. 11:44; 2 Tim. 3:12; Op. 16:21). Maar ons kan seker wees dat Jehovah ons die hulp sal gee wat ons nodig het. Hoekom? Jehovah het nog altyd sy knegte gehelp om hulle toewysings uit te voer – maak nie saak hoe moeilik die toewysing is nie. Byvoorbeeld, kom ons kyk wat gebeur het met die profeet Esegiël wat vir die Joodse gevangenes in Babilon gepreek het.

2. Hoe het Jehovah die mense in Esegiël se gebied beskryf, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Esegiël 2:3-6)

2 Watter soort mense was in Esegiël se predikingsgebied? Jehovah het hulle beskryf as “uitdagend”, “hardkoppig” en ‘opstandig’. Hulle was so skadelik soos dorings en so gevaarlik soos skerpioene. Dit is hoekom Jehovah oor en oor vir Esegiël gesê het: “Moenie . . . bang wees nie.” (Lees Esegiël 2:3-6.) Esegiël kon sy toewysing uitvoer omdat hy (1) deur Jehovah gestuur was, (2) deur God se gees versterk was en (3) deur God se woorde gevoed was. Hoe het hierdie drie faktore Esegiël gehelp? En hoe help dit ons vandag?

ESEGIËL – DEUR JEHOVAH GESTUUR

3. Watter woorde het Esegiël heel moontlik versterk, en hoe het Jehovah hom van Sy ondersteuning verseker?

3 Jehovah het vir Esegiël gesê: “Ek stuur jou” (Eseg. 2:3, 4). Daardie woorde het Esegiël heel moontlik versterk. Hoekom? Want Esegiël het moontlik onthou dat Jehovah vir Moses en Jesaja iets soortgelyks gesê het toe Hy hulle gekies het as Sy profete (Eks. 3:10; Jes. 6:8). Esegiël het ook geweet hoe Jehovah daardie twee profete gehelp het om uitdagings te oorkom. So toe Jehovah twee keer vir Esegiël gesê het: “Ek stuur jou”, het die profeet goeie rede gehad om te vertrou dat Jehovah hom sou ondersteun. En in die boek Esegiël vind ons hierdie woorde ’n hele paar keer: “Jehovah [het] met my gepraat en gesê” (Eseg. 3:16). Hy het ook ’n hele paar keer geskryf: “Jehovah het weer met my gepraat en gesê” (Eseg. 6:1). Dit is duidelik dat Esegiël oortuig was dat hy deur Jehovah gestuur was. En Esegiël se pa was ’n priester, so hy het hom heel moontlik geleer hoe Jehovah regdeur die geskiedenis Sy profete verseker het dat Hy hulle sou ondersteun. Byvoorbeeld, Jehovah het vir Isak, Jakob en Jeremia gesê: “Ek is met jou.” – Gen. 26:24; 28:15; Jer. 1:8.

4. Watter vertroostende gedagtes het Esegiël heel moontlik versterk?

4 Hoe sou die Israeliete oor die algemeen op Esegiël se predikingswerk reageer? Jehovah het gesê: “Die huis van Israel sal weier om na jou te luister, want hulle wil nie na my luister nie” (Eseg. 3:7). Deur Esegiël te verwerp, het die volk Jehovah verwerp. Daardie woorde het Esegiël verseker dat die volk se verwerping nie beteken het dat hy as ’n profeet misluk het nie. Jehovah het Esegiël ook verseker dat die volk sou “weet dat daar ’n profeet onder hulle was” wanneer die oordele wat hy verkondig het, waar geword het (Eseg. 2:5; 33:33). Daardie vertroostende gedagtes het Esegiël beslis die krag gegee wat hy nodig gehad het om sy bediening uit te voer.

DEUR JEHOVAH GESTUUR – VANDAG

Soos Esegiël, sal ons dalk onverskilligheid en teenstand ondervind, maar ons weet dat Jehovah met ons is (Sien paragraaf 5-6)

5. Wat kan ons moed gee, volgens Jesaja 44:8?

5 Ons kan ook moed hê omdat ons weet dat ons deur Jehovah gestuur is om te preek. Hy eer ons deur ons sy “getuies” te noem (Jes. 43:10). Dit is ’n baie groot voorreg! Net soos Jehovah vir Esegiël gesê het: “Moenie bang wees nie,” sê Jehovah vir ons: “Moenie bang wees nie.” Hoekom hoef ons nie bang te wees vir ons teenstanders nie? Soos Esegiël, is ons deur Jehovah gestuur en het ons Sy ondersteuning. – Lees Jesaja 44:8.

6. (a) Hoe verseker Jehovah ons van sy ondersteuning? (b) Wat vertroos ons en gee ons krag?

6 Jehovah verseker ons van sy ondersteuning. Byvoorbeeld, net voordat Jehovah gesê het: “Julle is my getuies”, het hy gesê: “As jy deur die waters gaan, sal ek met jou wees, en as jy riviere oorsteek, sal dit nie bo-oor jou spoel nie. As jy deur die vuur loop, sal jy nie geskroei word nie, en die vlam sal jou ook nie brand nie” (Jes. 43:2). Wanneer ons preek, ondervind ons partykeer so baie struikelblokke dat ons dit met ’n vloed kan vergelyk en uitdagings wat so moeilik is dat ons dit met ’n vuur kan vergelyk. Maar Jehovah sal ons help om aan te hou preek (Jes. 41:13). Soos in Esegiël se tyd, verwerp die meeste mense vandag die boodskap. Maar ons hou in gedagte dat dit nie beteken dat ons as God se Getuies misluk het nie. Dit vertroos ons en gee ons krag om te weet dat ons Jehovah gelukkig maak wanneer ons getrou aanhou om sy boodskap te verkondig. Die apostel Paulus het gesê: “Elkeen sal sy eie beloning ontvang volgens sy eie werk” (1 Kor. 3:8; 4:1, 2). Een suster wat al lank pionier, sê: “Dit maak my baie bly om te weet dat Jehovah ons pogings seën.”

ESEGIËL – VERSTERK DEUR GOD SE GEES

Esegiël sien ’n visioen van Jehovah se hemelse strydwa wat sy oortuiging versterk dat Jehovah hom sal help om sy bediening uit te voer (Sien paragraaf 7)

7. Hoe het Esegiël gevoel wanneer hy ook al aan die visioen gedink het wat hy gesien het? (Sien prent op voorblad.)

7 Esegiël het gesien hoe kragtig God se heilige gees is. Esegiël het in ’n visioen gesien hoe die heilige gees die magtige engele help en hoe dit die massiewe wiele van ’n hemelse strydwa beweeg (Eseg. 1:20, 21). Hoe het Esegiël gereageer? Hy het neergeskryf wat gebeur het. “Toe ek dit sien, het ek met my gesig na die grond toe neergeval.” Esegiël was so beïndruk dat hy op die grond neergeval het (Eseg. 1:28). Later, wanneer Esegiël ook al aan daardie indrukwekkende visioen gedink het, het dit hom meer oortuig dat hy sy bediening met die hulp van God se gees kon uitvoer.

8-9. (a) Wat het Jehovah se opdrag Esegiël gegee? (b) Hoe het Jehovah Esegiël verder versterk vir sy moeilike gebied?

8 Jehovah het Esegiël beveel: “Mensekind, staan op jou voete sodat ek met jou kan praat.” Daardie opdrag het Esegiël die innerlike krag, of die “gees”, gegee wat hy nodig gehad het om van die grond af op te staan. Esegiël het geskryf: “Gees [het] in my gekom en my op my voete laat staan” (Eseg. 2:1, 2). Later en ook regdeur sy bediening was Esegiël gelei deur God se “hand” – dit wil sê God se heilige gees (Eseg. 3:22; 8:1; 33:22; 37:1; 40:1). God se heilige gees het Esegiël versterk vir die werk wat hy gekry het – om vir die ‘hardkoppige mense en dié wie se harte verhard is’ in sy bediening te preek (Eseg. 3:7). Jehovah het vir Esegiël gesê: “Ek het jou gesig net so hard soos hulle gesigte gemaak en jou voorkop net so hard soos hulle voorkoppe. Ek het jou voorkop soos ’n diamant gemaak, harder as vuurklip. Moenie vir hulle bang wees nie, en moenie dat hulle gesigte jou afskrik nie” (Eseg. 3:8, 9). Jehovah het eintlik vir Esegiël gesê: ‘Moenie toelaat dat die mense se hardkoppigheid jou mismoedig maak nie. Ek sal jou versterk.’

9 Daarna het God se heilige gees Esegiël deur sy predikingsgebied gedra. Esegiël het geskryf: “Die hand van Jehovah was sterk op my.” Dit het die profeet ’n week gevat om die boodskap wat hy moes oordra, te absorbeer en om dit sy eie te maak (Eseg. 3:14, 15). Toe het Jehovah vir hom gesê om na ’n valleivlakte te gaan waar “gees in [hom] gekom” het (Eseg. 3:23, 24). Esegiël was gereed om sy bediening te begin.

VERSTERK DEUR GOD SE GEES – VANDAG

Wat het Esegiël gehelp, en wat help ons vandag om ons bediening uit te voer? (Sien paragraaf 10)

10. Watter hulp het ons nodig om ons predikingswerk te doen, en hoekom?

10 Watter hulp het ons nodig om ons predikingswerk te doen? Om dit te beantwoord, moet ons terugdink aan wat met Esegiël gebeur het. Voordat hy met sy predikingswerk begin het, het God se gees hom die krag gegee wat hy nodig gehad het. Vandag, soos in Esegiël se geval, kan ons die predikingswerk net met die hulp van God se gees doen. Hoekom? Want Satan voer oorlog teen ons omdat hy ons predikingswerk wil stop (Op. 12:17). Vanuit ’n menslike oogpunt lyk dit asof ons nie ’n kans staan teen Satan nie. Maar deur middel van ons predikingswerk oorwin ons hom! (Op. 12:9-11). Hoe? Wanneer ons preek, wys ons dat Satan se dreigemente ons nie intimideer nie. Elke keer dat ons preek, verloor Satan. So tot watter gevolgtrekking kan ons kom uit die feit dat ons ons predikingswerk kan doen ten spyte van teenstand? Dit is duidelik dat Jehovah vir ons krag gee deur middel van sy heilige gees en dat ons Jehovah se goedkeuring het. – Matt. 5:10-12; 1 Pet. 4:14.

11. Wat sal God se gees vir ons doen, en hoe kan ons dit aanhou ontvang?

11 Watter verdere versekering kan ons kry uit die feit dat Jehovah Esegiël se gesig en voorkop figuurlik hard gemaak het? God se gees kan ons die krag gee wat ons nodig het om enige probleem wat ons in ons bediening het, te oorkom (2 Kor. 4:7-9). So wat kan ons doen om seker te maak dat ons God se gees aanhou ontvang? Ons moet aanhoudend daarvoor bid met die vertroue dat Jehovah ons gebede sal hoor. Jesus het sy dissipels geleer: “Hou aan vra, . . . Hou aan soek, . . . Hou aan klop.” Dan sal Jehovah “heilige gees gee vir dié wat hom vra”. – Luk. 11:9, 13; Hand. 1:14; 2:4.

ESEGIËL – GEVOED DEUR GOD SE WOORDE

12. Waar het die boekrol vandaan gekom en wat het dit bevat, volgens Esegiël 2:9–3:3?

12 Esegiël was nie net versterk deur God se gees nie, maar ook gevoed deur God se woorde. In ’n visioen het Esegiël ’n hand gesien wat ’n boekrol vashou. (Lees Esegiël 2:9–3:3.) Waar het die boekrol vandaan gekom? Wat het dit bevat? Hoe het dit Esegiël gevoed? Kom ons kyk. Die boekrol het van God se troon af gekom. Jehovah het heel moontlik een van die vier engele wat Esegiël vroeër gesien het, gebruik om die boekrol vir hom te gee (Eseg. 1:8; 10:7, 20). Die boekrol het God se woorde bevat – ’n lang oordeelsboodskap wat Esegiël aan die opstandige gevangenes moes gee (Eseg. 2:7). Daardie boodskap was aan die voorkant en aan die agterkant van die boekrol geskryf.

13. Wat het Jehovah vir Esegiël gesê om met die boekrol te doen, en hoekom was dit soet?

13 Jehovah het vir sy profeet gesê om die boekrol te eet “sodat [sy] maag kan vol word”. Esegiël was gehoorsaam, en hy het die boekrol opgeëet. Wat het hierdie deel van die visioen beteken? Esegiël moes die boodskap wat hy moes oordra, heeltemal absorbeer. Dit moes deel van hom word; dit moes so te sê sy diepste gevoelens affekteer. Toe het iets verbasends gebeur. Esegiël het besef dat die boekrol “so soet soos heuning” was (Eseg. 3:3). Hoekom? Die eer om Jehovah te verteenwoordig, was vir Esegiël ’n soet, of ’n aangename, ondervinding (Ps. 19:8-11). Hy was dankbaar dat Jehovah hom goedgekeur het om as sy profeet te dien.

14. Wat het Esegiël gehelp om gereed te wees vir sy toewysing?

14 Later het Jehovah vir Esegiël gesê: “Laat al my woorde diep in jou hart insink en luister daarna” (Eseg. 3:10). Met daardie instruksies het Jehovah vir Esegiël gesê om die woorde in die boekrol te onthou en daaroor na te dink. Toe Esegiël dit gedoen het, het sy geloof sterker geword. Hy het ook ’n kragtige boodskap daaruit gekry om aan die volk oor te dra (Eseg. 3:11). Met God se boodskap in sy hart en op sy lippe was Esegiël gereed om sy toewysing uit te voer. – Vergelyk Psalm 19:14.

GEVOED DEUR GOD SE WOORDE – VANDAG

15. Wat moet ons ‘in ons hart laat insink’ om te volhard?

15 Om in ons bediening te volhard, moet ons ook aanhou om deur God se woorde gevoed te word. Ons moet alles wat Jehovah vir ons sê ‘in ons hart laat insink’. Vandag praat Jehovah met ons deur middel van sy geskrewe Woord, die Bybel. Hoe kan ons seker maak dat God se Woord aanhou om ons gedagtes, gevoelens en beweegredes te affekteer?

16. Wat moet ons met God se Woord doen, en hoe kan ons dit in ons hart absorbeer?

16 Net soos wat ons fisies gevoed word wanneer ons kos eet en dit verteer, word ons geestelik gevoed wanneer ons God se Woord studeer en daaroor nadink. Ons hou die les oor die boekrol in gedagte. Wanneer dit by God se Woord kom, wil Jehovah hê dat ons dit moet “eet . . . sodat [ons] maag kan vol word” daarvan, dit wil sê dat ons dit moet absorbeer. Ons kan dit doen deur te bid, God se Woord te lees en daaroor na te dink. Eerstens bid ons om ons hart voor te berei om God se gedagtes te ontvang. Dan lees ons ’n Bybelgedeelte. Daarna pouseer ons sodat ons diep kan nadink oor wat ons gelees het. Wat sal die gevolg wees? Hoe meer ons oor God se Woord nadink, hoe meer sal ons figuurlike hart dit absorbeer.

17. Hoekom is dit belangrik om na te dink oor wat ons in die Bybel lees?

17 Hoekom is dit belangrik om die Bybel te lees en daaroor na te dink? As ons dit doen, sal dit ons die innerlike krag gee wat ons nodig het om nou die Koninkryksboodskap te verkondig en om die sterk oordeelsboodskap te verkondig wat ons dalk in die nabye toekoms sal moet oordra. En as ons nadink oor Jehovah se wonderlike eienskappe sal ons verhouding met hom al hoe sterker word. Dan sal ons iets geniet wat werklik soet, of aangenaam, is – innerlike vrede en tevredenheid. – Ps. 119:103.

GEMOTIVEERD OM TE VOLHARD

18. Wat sal die mense in ons gebied moet erken, en hoekom?

18 Anders as Esegiël, is ons nie geïnspireer om te profeteer nie. Maar ons is vasbeslote om aan te hou om die geïnspireerde boodskap te verkondig wat Jehovah in sy geskrewe Woord bewaar het totdat die predikingswerk volgens hom voltooi is. Wanneer die oordeelstyd kom, sal die mense in ons gebied nie kan sê dat hulle nie gewaarsku is nie of dat God hulle geïgnoreer het nie (Eseg. 3:19; 18:23). Hulle sal eerder moet erken dat die boodskap wat ons verkondig het, van God af gekom het.

19. Wat sal ons die krag gee om ons bediening uit te voer?

19 Wat sal ons die krag gee om ons bediening uit te voer? Dieselfde drie faktore wat Esegiël versterk het. Ons hou aan om te preek omdat ons weet dat ons deur Jehovah gestuur is, omdat ons deur God se heilige gees versterk word en omdat ons deur God se Woord gevoed word. Met Jehovah se hulp is ons gemotiveerd om ons bediening uit te voer en om “tot die einde toe” te volhard. – Matt. 24:13.

LIED 65 Gaan vooruit!

a In hierdie artikel sal ons drie faktore bespreek wat die profeet Esegiël gehelp het om sy predikingswerk uit te voer. Terwyl ons kyk hoe Jehovah sy profeet gehelp het, sal ons ons vertroue versterk dat Jehovah ons sal help om ons bediening uit te voer.