Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 47

Laat niks jou van Jehovah skei nie

Laat niks jou van Jehovah skei nie

“Ek vertrou op u, o Jehovah.” – PS. 31:14.

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoe weet ons dat Jehovah na aan ons wil wees?

 JEHOVAH nooi ons om na aan hom te wees (Jak. 4:8). Hy wil ons God, ons Vader en ons Vriend wees. Hy beantwoord ons gebede en help ons gedurende moeilike tye. En hy gebruik sy organisasie om ons te leer en te beskerm. Maar wat moet ons doen om nader aan Jehovah te kom?

2. Hoe kan ons nader aan Jehovah kom?

2 Ons kan nader aan Jehovah kom deur tot hom te bid en deur sy Woord te lees en daaroor na te dink. Wanneer ons dit doen, versterk dit ons liefde en waardering vir hom. Ons word gemotiveer om hom te gehoorsaam en om hom die eer te gee wat hy verdien (Op. 4:11). Hoe beter ons Jehovah leer ken, hoe meer sal ons op hom vertrou en in die organisasie wat hy ons gegee het om ons te help.

3. Hoe probeer die Duiwel ons van Jehovah skei, maar wat sal ons help om nooit ons God en sy organisasie te verlaat nie? (Psalm 31:13, 14)

3 Maar die Duiwel probeer ons van Jehovah skei, veral wanneer ons deur moeilike tye gaan. Hoe doen hy dit? Hy probeer stadig maar seker ons vertroue in Jehovah en sy organisasie verswak. Maar ons kan sy aanvalle weerstaan. As ons geloof en ons vertroue in Jehovah sterk is, sal ons nie ons God en sy organisasie verlaat nie. – Lees Psalm 31:13, 14.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel sal ons drie uitdagings bespreek wat dalk van buite die gemeente kom. Elkeen van hulle kan ons vertroue in Jehovah en sy organisasie verswak. Hoe kan hierdie uitdagings ons van Jehovah skei? En wat kan ons doen om Satan se aanvalle te weerstaan?

WANNEER ONS DEUR SWAAR TYE GAAN

5. Hoe kan dit ons vertroue in Jehovah en sy organisasie verswak wanneer ons deur swaar tye gaan?

5 Soms gaan ons deur swaar tye – soos wanneer ons familie ons teëstaan of wanneer ons ons werk verloor. Hoe kan sulke swaar tye ons vertroue in Jehovah se organisasie verswak en ons van hom skei? Wanneer ons probleme het wat lank aanhou, sal ons dalk hopeloos en depressief voel. Satan buit sulke geleenthede uit en wil ons laat dink dat Jehovah ons nie liefhet nie. Die Duiwel wil hê dat ons moet dink dat Jehovah of sy organisasie ons swaarkry veroorsaak. Iets soortgelyks het met party van die Israeliete in Egipte gebeur. Hulle het eers geglo dat Jehovah Moses en Aäron aangestel het om hulle uit slawerny te bevry (Eks. 4:29-31). Maar later toe Farao hulle lewens moeiliker gemaak het, het hulle Moses en Aäron vir hulle probleme blameer en vir hulle gesê: “Dit is julle skuld dat Farao en sy knegte ons haat, en julle het ’n swaard in hulle hand gesit om ons dood te maak” (Eks. 5:19-21). Hulle het God se lojale knegte blameer. Dit is baie hartseer! Hoe kan jy jou vertroue in Jehovah en sy organisasie sterk hou as jy al ’n ruk lank deur swaar tye gaan?

6. Wat leer ons by die profeet Habakuk oor hoe om swaar tye te hanteer? (Habakuk 3:17-19)

6 Stort jou hart in gebed voor Jehovah uit en vertrou op hom om jou te ondersteun. Die profeet Habakuk het baie keer deur swaar tye gegaan. Eenkeer het dit gelyk asof hy getwyfel het dat Jehovah vir hom omgee. Daarom het hy tot Jehovah gebid en vir hom gesê hoe hy voel. Hy het gesê: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep? Wanneer sal u luister? . . . Hoekom laat u onderdrukking toe?” (Hab. 1:2, 3). Jehovah het op die opregte gebed van sy lojale kneg gereageer (Hab. 2:2, 3). Nadat Habakuk nagedink het oor Jehovah se reddingsdade, het hy weer sy vreugde teruggekry. Hy was toe oortuig dat Jehovah vir hom omgee en dat hy hom sou help om enige probleem suksesvol te hanteer. (Lees Habakuk 3:17-19.) Wat is die les vir ons? Wanneer jy deur swaar tye gaan, bid tot Jehovah en sê vir hom hoe jy voel. Vertrou dan op hom om jou te ondersteun. Wanneer jy dit doen, kan jy die vertroue hê dat Jehovah vir jou die krag sal gee wat jy nodig het om te volhard. En wanneer jy sien hoe hy jou ondersteun, sal jou geloof in hom sterker word.

7. Waarvan het Shirley se familielede haar probeer oortuig, en wat het haar gehelp om nie haar geloof in Jehovah te verloor nie?

7 Bly by jou geestelike roetine. Dit is wat Shirley, ’n suster in Papoea-Nieu-Guinee, gehelp het toe sy swaar tye deurgemaak het. b Shirley se familie was arm, en soms het hulle nie genoeg kos gehad nie. ’n Familielid het probeer om haar vertroue in Jehovah te verswak. Hy het gesê: “Jy sê dat God se heilige gees jou help, maar hoe help dit jou? Die familie is nog steeds arm. Jy mors jou tyd deur te preek.” Shirley erken: “Ek het myself afgevra: ‘Gee God vir ons om of nie?’ Ek het toe onmiddellik tot Jehovah gebid en vir hom alles vertel. Ek het aangehou om die Bybel en ons publikasies te lees, sowel as om te preek en vergaderinge by te woon.” Sy het gou besef dat Jehovah na haar familie kyk. Haar familie het nie honger gely nie, en hulle was gelukkig. Shirley sê: “Ek het gevoel dat Jehovah besig was om my gebede te beantwoord” (1 Tim. 6:6-8). As jy by jou geestelike roetine bly, sal jy ook nie toelaat dat swaar tye of twyfelgedagtes jou van Jehovah skei nie.

WANNEER VERANTWOORDELIKE BROERS MISHANDEL WORD

8. Wat kan met verantwoordelike broers in Jehovah se organisasie gebeur?

8 Ons vyande versprei deur middel van die media en sosiale netwerke leuens of valse inligting oor verantwoordelike broers in Jehovah se organisasie (Ps. 31:13). Party broers is gearresteer en as misdadigers aangekla. Die eerste-eeuse Christene het ’n soortgelyke situasie deurgemaak toe die apostel Paulus valslik beskuldig en gearresteer was. Hoe het hulle gereageer?

9. Hoe het party Christene gereageer toe die apostel Paulus in die tronk was?

9 Party Christene in die eerste eeu het opgehou om die apostel Paulus te ondersteun toe hy in die tronk was in Rome (2 Tim. 1:8, 15). Hoekom? Het hulle hulle vir Paulus geskaam omdat mense hom as ’n krimineel beskou het? (2 Tim. 2:8, 9). Of was hulle bang dat hulle ook vervolg sou word? Wat ook al hulle rede was, dink net hoe Paulus moes gevoel het. Hy het baie keer deur swaar tye gegaan en het selfs sy lewe vir hulle in gevaar gestel (Hand. 20:18-21; 2 Kor. 1:8). Ons moenie soos dié word wat Paulus in sy tyd van nood verlaat het nie. Wat moet ons in gedagte hou wanneer verantwoordelike broers vervolg word?

10. Wat moet ons onthou wanneer verantwoordelike broers vervolg word, en hoekom?

10 Onthou hoekom ons vervolg word en wie dit veroorsaak. Tweede Timoteus 3:12 sê: “Almal wat met toegewydheid aan God as ’n volgeling van Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.” So dit moet ons nie verbaas dat Satan veral verantwoordelike broers aanval nie. Hy wil hierdie aanvalle gebruik om hulle integriteit te breek en om ons bang te maak. – 1 Pet. 5:8.

Al was Paulus in die tronk, was Onesiforus nie bang om hom te ondersteun nie. Vandag ondersteun ons broers en susters hulle mede-aanbidders wat in die tronk is, soos ons in hierdie prent kan sien (Sien paragraaf 11-12)

11. Wat leer ons uit die voorbeeld van Onesiforus? (2 Timoteus 1:16-18)

11 Hou aan om jou broers te ondersteun en bly lojaal aan hulle. (Lees 2 Timoteus 1:16-18.) ’n Eerste-eeuse Christen met die naam Onesiforus het anders gereageer toe Paulus in die tronk was. Hy het “hom nie vir [Paulus se] gevangenisboeie geskaam nie”. Onesiforus het eerder na Paulus gesoek, en toe hy hom vind, het hy na praktiese maniere gesoek om hom te help. Deur dit te doen, het Onesiforus sy eie lewe in gevaar gestel. Wat is die les vir ons? Ons moenie toelaat dat mensevrees ons intimideer nie of keer dat ons ons broers ondersteun wat vervolg word nie. Ons moet hulle eerder verdedig en hulle help (Spr. 17:17). Hulle het ons liefde en ondersteuning nodig.

12. Wat leer ons by ons broers en susters in Rusland?

12 Kyk hoe ons broers en susters in Rusland hulle mede-aanbidders gehelp het wat in die tronk is. Wanneer party in die hof moet verskyn, gaan baie broers en susters daarheen om hulle te ondersteun. Wat is die les vir ons? Wanneer verantwoordelike broers valslik beskuldig, gearresteer of vervolg word, moet ons nie bang word nie. Bid vir hulle en sorg vir hulle familielede, en soek na ander praktiese maniere om hulle te ondersteun. – Hand. 12:5; 2 Kor. 1:10, 11.

WANNEER ONS GESPOT WORD

13. Hoe kan dit ons vertroue in Jehovah en sy organisasie verswak wanneer ons gespot word?

13 Ongelowige familielede, werksmaats of skoolmaats spot ons dalk omdat ons preek of omdat ons volgens Jehovah se standaarde lewe (1 Pet. 4:4). Hulle sê dalk: “Ek hou van jou as ’n persoon, maar jou godsdiens is te streng en outyds.” Party kritiseer ons dalk vir hoe ons uitgesettenes behandel en sê: “Hoe kan jy sê dat jy ’n liefdevolle persoon is?” Sulke kommentare kan saadjies van twyfel by ons saai. Ons begin dalk wonder: ‘Verwag Jehovah te veel van my? Is sy organisasie te streng?’ Hoe kan jy na aan Jehovah en sy organisasie bly as jy in so ’n situasie is?

Job het geweier om die leuens te glo van sogenaamde vriende wat hom gespot het. Hy was eerder vasbeslote om sy integriteit aan Jehovah te behou (Sien paragraaf 14)

14. Hoe moet ons reageer wanneer ander ons spot omdat ons volgens Jehovah se standaarde lewe? (Psalm 119:50-52)

14 Wees vasbeslote om volgens Jehovah se standaarde te lewe. Job was ’n man wat volgens Jehovah se standaarde gelewe het, al was hy gespot daarvoor. Een van Job se sogenaamde vriende het selfs probeer om hom te oortuig dat dit nie vir God saak gemaak het of Job Sy standaarde gevolg het of nie (Job 4:17, 18; 22:3). Maar Job het geweier om sulke leuens te glo. Hy het geweet dat Jehovah se standaarde van reg en verkeerd, reg is, en hy was vasbeslote om dit te gehoorsaam. Hy het nie toegelaat dat ander sy integriteit breek nie (Job 27:5, 6). Wat is die les vir ons? Moenie Jehovah se standaarde bevraagteken wanneer ander jou spot nie. Dink aan wat al in jou lewe gebeur het. Het jy nie al oor en oor gesien dat Jehovah se standaarde reg is en jou help nie? Wees vasbeslote om die organisasie te ondersteun wat daardie standaarde volg. Dan sal jy nooit ophou om Jehovah te dien nie, maak nie saak hoe baie mense jou spot nie. – Lees Psalm 119:50-52.

15. Hoekom was Brizit gespot?

15 Kyk na die ondervinding van Brizit, ’n suster in Indië. Haar familielede het haar gespot as gevolg van haar geloof. Kort nadat sy in 1997 gedoop is, het haar ongelowige man sy werk verloor. Hy het toe besluit dat hy, Brizit en hulle dogters by sy ouers moet intrek, wat in ’n ander stad gebly het. Maar Brizit sou selfs groter uitdagings hê. Omdat haar man werkloos was, sou sy voltyds moes werk om haar familie te onderhou. En die naaste gemeente was omtrent 350 kilometer daarvandaan. Ongelukkig het haar man se familie haar teëgestaan as gevolg van haar geloof. Die situasie het so erg geword dat Brizit se familie weer moes trek. Toe het haar man onverwags gesterf. Later het een van haar dogters aan kanker gesterf toe sy maar net 12 jaar oud was. Om dinge erger te maak, het Brizit se familielede haar vir alles blameer. Hulle het gesê dat al daardie slegte dinge nie sou gebeur het as sy nie een van Jehovah se Getuies geword het nie. Maar sy het op Jehovah bly vertrou en na aan sy organisasie gebly.

16. Hoe was Brizit geseën omdat sy na aan Jehovah en sy organisasie gebly het?

16 Omdat Brizit so ver van die gemeente af gebly het, het ’n kringopsiener haar aangemoedig om in haar plaaslike gebied te preek en om vergaderinge in haar huis te hou. Eers het sy oorweldig gevoel. Maar sy het die broer se raad gevolg. Sy het die goeie nuus met ander gedeel, vergaderinge in haar huis gehou en tyd opsygesit om gesinsaanbidding met haar dogters te doen. Wat was die resultaat? Brizit kon baie Bybelstudies begin en hou, en baie van haar studente is gedoop. In 2005 het sy as ’n gewone pionier begin dien. Haar vertroue in Jehovah en haar lojaliteit aan sy organisasie was beloon. Haar dogters dien Jehovah getrou, en daar is nou twee gemeentes in daardie gebied! Brizit is oortuig dat Jehovah haar die krag gegee het om haar probleme te hanteer en om te volhard, al het haar familie haar gespot.

BLY LOJAAL AAN JEHOVAH EN SY ORGANISASIE

17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Satan wil ons laat glo dat Jehovah ons gedurende swaar tye sal verlaat en dat dit net die lewe vir ons moeiliker sal maak as ons Jehovah se organisasie ondersteun. Satan wil ons intimideer wanneer verantwoordelike broers valslik beskuldig, vervolg of in die tronk gegooi word. En hy wil hê dat dit ons vertroue in Jehovah se standaarde en Sy organisasie moet verswak wanneer mense ons spot. Maar ons ken sy goddelose planne en word nie geflous nie (2 Kor. 2:11). Wees vasbeslote om Satan se leuens te verwerp en om lojaal aan Jehovah en sy organisasie te bly. Onthou dat Jehovah jou nooit sal verlaat nie (Ps. 28:7). So moenie toelaat dat enige iets jou van Jehovah skei nie! – Rom. 8:35-39.

18. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 In hierdie artikel het ons uitdagings bespreek wat van buite die gemeente kom. Maar ons vertroue in Jehovah en sy organisasie kan ook getoets word deur uitdagings wat van binne die gemeente kom. Hoe kan ons sulke uitdagings suksesvol hanteer? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

a Om in hierdie laaste dae getrou te bly, moet ons op Jehovah en in sy organisasie vertrou. Die Duiwel probeer moeilike tye gebruik om daardie vertroue te breek. Hierdie artikel sal drie uitdagings bespreek wat die Duiwel gebruik en wat ons kan doen om getrou aan Jehovah en sy organisasie te bly.

b Party name is verander.