Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 47

LIED 103 Herders​—Gawes in mense

Broers – Reik julle uit om as ouermanne te dien?

Broers – Reik julle uit om as ouermanne te dien?

“As ’n man ’n opsiener wil wees, begeer hy ’n goeie werk.”1 TIM. 3:1.

DOEL

Party van die Skriftuurlike vereistes waaraan ’n broer moet voldoen sodat hy as ’n ouerman kan dien.

1-2. Wat behels die “goeie werk” van ’n ouerman?

 AS JY al ’n ruk lank as ’n bedieningskneg dien, is jy dalk goed op pad om te kwalifiseer om as ’n ouerman te dien. Kan jy uitreik na daardie “goeie werk”? – 1 Tim. 3:1.

2 Wat behels die werk van ’n ouerman? Hy neem die leiding in die predikingswerk, werk hard in die herders- en onderrigtingswerk en bou die gemeente op deur wat hy sê en wat hy doen. Die Bybel noem hardwerkende ouermanne met goeie rede “gawes in die vorm van mense”. – Ef. 4:8.

3. Hoe kan ’n broer kwalifiseer om as ’n ouerman te dien? (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9)

3 Hoe kan jy kwalifiseer om as ’n ouerman te dien? Om as ’n ouerman te kwalifiseer, is nie dieselfde as om vir ’n sekulêre werk te kwalifiseer nie. In die sekulêre wêreld kan jy dikwels ’n werk kry as jy die basiese werksvaardighede het waarna ’n werkgewer soek. Maar as jy as ’n ouerman aangestel wil word, het jy meer as predikings- en onderrigvaardighede nodig. Jy moet voldoen aan die Skriftuurlike vereistes vir ouermanne wat genoem word in 1 Timoteus 3:1-7 en Titus 1:5-9. (Lees.) Hierdie artikel sal bespreek wat op drie belangrike gebiede van ouermanne vereis word: om ’n goeie reputasie binne en buite die gemeente te verkry, om ’n goeie voorbeeld as ’n gesinshoof te stel en om bereid te wees om die gemeente te dien.

VERKRY ’N GOEIE REPUTASIE

4. Hoe kan ’n broer ’n goeie reputasie verkry?

4 Om as ’n ouerman te kwalifiseer, moet jy jou in die gemeente “so gedra dat mense geen rede het om [jou] te kritiseer nie”. En jy moet ook “’n goeie reputasie hê onder mense buite die gemeente”. Ongelowiges sal dalk jou Christelike oortuigings kritiseer, maar hulle moenie ’n geldige rede hê om jou eerlikheid of gedrag te bevraagteken nie (Dan. 6:4, 5). Vra jouself: ‘Het ek ’n goeie reputasie binne en buite die gemeente?’

5. Hoe kan jy wys dat jy ‘die goeie liefhet’?

5 As jy ‘die goeie liefhet,’ soek jy na die goeie in ander en prys jy hulle vir hulle goeie eienskappe. Jy doen ook graag goeie dinge vir ander, selfs meer as wat verwag word (1 Tess. 2:8). Hoekom is hierdie eienskap so belangrik vir ouermanne? Omdat hulle baie van hulle kosbare tyd gebruik om na die gemeente om te sien en hulle toewysings uit te voer (1 Pet. 5:1-3). Al is dit die geval, is die vreugde wat hulle ondervind omdat hulle ander dien, baie groter as enige opoffering. – Hand. 20:35.

6. Wat is party maniere om “gasvry” te wees? (Hebreërs 13:2, 16; sien ook prent.)

6 Jy wys dat jy “gasvry” is wanneer jy goeie dinge vir ander doen, insluitende vir dié buite jou goeie vriendekring (1 Pet. 4:9). ’n Naslaanwerk beskryf ’n gasvrye man op hierdie manier: “Die deur van sy huis – en van sy hart – moet vir vreemdelinge oop wees.” Vra jouself: ‘Wat is my reputasie wanneer dit kom by hoe ek besoekers verwelkom?’ (Lees Hebreërs 13:2, 16.) ’n Gasvrye persoon deel wat hy kan met besoekers, insluitende met dié wat nie baie het nie en met hardwerkende knegte, soos kringopsieners en besoekende sprekers. – Gen. 18:2-8; Spr. 3:27; Luk. 14:13, 14; Hand. 16:15; Rom. 12:13.

’n Gasvrye Christenpaartjie verwelkom ’n reisende opsiener en sy vrou (Sien paragraaf 6)


7. Hoe wys ’n ouerman dat hy “nie iemand [is] wat lief is vir geld nie”?

7 “Nie iemand wat lief is vir geld nie.” Dit beteken dat jy nie op materiële dinge fokus nie. Of jy nou ryk of arm is, jy stel Koninkryksbelange eerste in alle aspekte van jou lewe (Matt. 6:33). Jy gebruik jou tyd, energie en ander middele om Jehovah te aanbid, om vir jou gesin te sorg en om die gemeente te dien (Matt. 6:24; 1 Joh. 2:15-17). Vra jouself: ‘Hoe beskou ek geld? Is ek tevrede met die nodige dinge? Of fokus ek daarop om geld te maak en meer materiële besittings te verkry?’ – 1 Tim. 6:6, 17-19.

8. Wat is party maniere hoe jy wys dat jy “matig in gewoontes” is en “selfbeheersing” het?

8 As jy “matig in gewoontes” is en “selfbeheersing” het, is jy gebalanseerd op alle gebiede van jou lewe. Byvoorbeeld, jy eet en drink nie te veel nie, jou kleredrag en haarstyl is beskeie, en jy maak goeie keuses wanneer dit by vermaak kom. Jy is nie ’n slaaf van die giere van die wêreld nie (Luk. 21:34; Jak. 4:4). Jy bly kalm, selfs wanneer ander onbeskof is met jou. Jy is “nie ’n dronkaard nie”; en jy het nie ’n reputasie as iemand wat baie drink nie. Vra jouself: ‘Wys die manier hoe ek lewe dat ek matig in gewoontes is en selfbeheersing het?’

9. Wat behels dit om “verstandig” en “ordelik” te wees?

9 As jy “verstandig” is, gebruik jy Bybelbeginsels om mooi oor sake te dink. Jy het diep gedink oor hierdie beginsels, en dit het jou insig en begrip gegee. Jy maak nie oorhaastige gevolgtrekkings nie. Jy maak eerder seker dat jy al die nodige feite het (Spr. 18:13). As gevolg daarvan maak jy gebalanseerde besluite wat Jehovah se denke weerspieël. As jy “ordelik” is, is jy georganiseerd en stiptelik. Jy staan bekend as iemand wat betroubaar is en wat riglyne volg. Hierdie eienskappe sal tot jou goeie reputasie bydra. Kom ons bespreek nou die eienskappe wat ’n ouerman volgens die Bybel moet hê sodat hy ’n goeie voorbeeld as ’n gesinshoof kan stel.

STEL ’N GOEIE VOORBEELD AS ’N GESINSHOOF

10. Hoe gee ’n man “goeie leiding aan sy eie huisgesin”?

10 As jy getroud is en as ’n ouerman wil kwalifiseer, sal jou gesin se reputasie jou kwalifikasies affekteer. So jy moet “’n man [wees] wat goeie leiding aan [jou] eie huisgesin gee”. Jy moet ’n reputasie hê as ’n liefdevolle en verantwoordelike gesinshoof. Dit sluit in dat jy die leiding neem in alle aspekte van ons aanbidding. Hoekom is dit so belangrik? Die apostel Paulus het gevra: “As ’n man nie weet hoe om aan sy eie huisgesin leiding te gee nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg?” – 1 Tim. 3:5.

11-12. Hoe affekteer die gedrag van ’n man se gesin sy kwalifikasies? (Sien ook prent.)

11 As jy ’n pa is, moet jou minderjarige “kinders onderdanig [wees] en hulle goed gedra”. Jy moet hulle liefdevol leer en oplei. Soos alle kinders sal hulle dit natuurlik geniet om te lag en te speel. Maar as gevolg van jou goeie opleiding sal hulle gehoorsaam, respekvol en goed gemanierd wees. Jy moet ook jou bes probeer om jou kinders te help om ’n goeie verhouding met Jehovah te ontwikkel, om volgens Bybelbeginsels te lewe en om tot doop te vorder.

12 “Die pa van gelowige kinders wat nie van wilde of opstandige gedrag aangekla word nie.” Hoe sou dit ’n pa affekteer as ’n gelowige kind in sy huisgesin ernstig sondig? As die pa nie sy kind opgelei en gedissiplineer het nie, sal hy moontlik nie as ’n ouerman kwalifiseer nie. – Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1996, bl. 21, par. 6-7.

Gesinshoofde lei hulle kinders op deur hulle by verskillende aspekte van heilige diens te betrek (Sien paragraaf 11)


DIEN DIE GEMEENTE

13. Hoe kan jy wys dat jy “redelik” en nie “hardkoppig” is nie?

13 Broers wat goeie Christelike eienskappe het, is ’n aanwins vir die gemeente. ’n Persoon wat “redelik” is, bevorder vrede. As jy bekend wil staan as ’n redelike persoon, moet jy na ander luister en probeer verstaan hoe hulle voel. Byvoorbeeld, sal jy gedurende ’n ouermanvergadering bereid wees om die besluit van die meerderheid te ondersteun as geen Bybelwet of -beginsel gebreek word nie? Om nie “hardkoppig” te wees nie, beteken dat jy nie daarop aandring om dinge op jou manier te doen nie. Jy waardeer die waarde van baie raadgewers (Gen. 13:8, 9; Spr. 15:22). Jy is “nie iemand wat daarvan hou om te stry nie” of wat “gou kwaad word” nie. Eerder as om disrespekvol of stryerig te wees, is jy liefdevol en taktvol. As ’n vreedsame man neem jy die inisiatief om vrede te maak, selfs in stresvolle situasies (Jak. 3:17, 18). Jou liefdevolle woorde kan gesindhede versag, insluitende dié van teenstanders. – Rigt. 8:1-3; Spr. 20:3; 25:15; Matt. 5:23, 24.

14. Wat beteken dit om nie “’n pasbekeerde” te wees nie en om “lojaal” te wees?

14 ’n Broer wat as ’n ouerman kwalifiseer, is nie “’n pasbekeerde” nie. Al hoef jy nie jare lank gedoop te wees nie, het jy tyd nodig om ’n volwasse Christen te word. Voordat jy as ’n ouerman aangestel word, moet jy wys dat jy, soos Jesus, nederig en tevrede is om op Jehovah te wag vir enige toewysing (Matt. 20:23; Fil. 2:5-8). Jy kan wys dat jy “lojaal” is deur getrou aan Jehovah en sy regverdige standaarde te bly en deur die riglyne te volg wat deur sy organisasie gegee word. – 1 Tim. 4:15.

15. Moet ’n ouerman ’n uitstekende openbare spreker wees, en hoekom sê ons so?

15 Die Bybel wys duidelik dat opsieners moet “kan onderrig”. Beteken dit dat jy ’n uitstekende openbare spreker moet wees? Nee. Baie bekwame ouermanne is nie die beste openbare sprekers nie, maar onderrig effektief in die bediening en op herdersbesoeke. (Vergelyk 1 Korintiërs 12:28, 29 en Efesiërs 4:11.) Al is dit die geval, moet jy jou vaardighede as ’n onderrigter heeltyd probeer verbeter. Hoe kan jy effektiewer word?

16. Hoe kan jy effektiewer word as ’n onderrigter? (Sien ook prent.)

16 “Stewig aan die betroubare woord vashou.” Om effektiewer te wees as ’n onderrigter, moet jy jou openbare onderrigting en raad wat jy in privaat gee, op God se Woord baseer. Wees ’n goeie student van die Bybel en van ons publikasies (Spr. 15:28; 16:23). Terwyl jy studeer, moet jy seker maak van wat die regte toepassing van Bybelverse is. En wanneer jy onderrig, moet jy hard probeer om die hart van dié in jou gehoor te bereik. Jy kan as ’n onderrigter verbeter as jy ervare ouermanne vir voorstelle vra en dit toepas (1 Tim. 5:17). Ouermanne moet hulle broers en susters “kan opbou”, maar ouermanne moet hulle soms raad gee of selfs “teregwys”. In albei gevalle moet hulle altyd liefdevol wees. As jy liefdevol is en jou onderrigting op God se Woord baseer, sal jy effektief wees omdat jy die Groot Leermeester, Jesus, navolg. – Matt. 11:28-30; 2 Tim. 2:24.

’n Bedieningskneg maak gebruik van ’n geleentheid om te leer hoe om uit die Bybel te onderrig terwyl hy saam met ’n ervare ouerman is. Die bedieningskneg oefen ook sy gemeentelike toespraak voor ’n spieël (Sien paragraaf 16)


HOU AAN OM UIT TE REIK

17. (a) Wat kan bedieningsknegte help om aan te hou om uit te reik? (b) Wat moet ouermanne in gedagte hou wanneer hulle kyk of hulle broers kan aanstel? (Sien die venster “ Wees redelik wanneer ’n broer bespreek word”.)

17 Nadat bedieningsknegte die kwalifikasies hersien het om as ouermanne te dien, voel party van hulle dalk dat hulle nooit kan kwalifiseer nie. Maar onthou dat Jehovah en sy organisasie nie verwag dat jy volmaak aan hierdie kwalifikasies moet voldoen nie (1 Pet. 2:21). En dit is Jehovah se kragtige gees wat jou help om aan hierdie kwalifikasies te voldoen (Fil. 2:13). Is daar ’n spesifieke aspek waaraan jy graag wil werk? Bid tot Jehovah daaroor. Doen navorsing oor die onderwerp en vra een van die ouermanne vir voorstelle oor hoe om te verbeter.

18. Wat word alle bedieningsknegte aangemoedig om te doen?

18 Mag ons almal, insluitende dié wat alreeds as ouermanne dien, aanhou om aan die kwalifikasies te werk wat in hierdie artikel bespreek word (Fil. 3:16). Is jy ’n bedieningskneg? Reik uit! Vra Jehovah om jou op te lei en jou te vorm om selfs meer in sy diens en in die gemeente te doen (Jes. 64:8). Mag Jehovah alles wat jy doen om te kwalifiseer om as ’n ouerman te dien, ryklik seën.

LIED 101 Werk eensgesind saam