Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 46

LIED 49 Maak Jehovah se hart bly

Broers – Reik julle uit om bedieningsknegte te wees?

Broers – Reik julle uit om bedieningsknegte te wees?

“Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.”HAND. 20:35.

DOEL

Om gedoopte broers aan te moedig om uit te reik en as bedieningsknegte te kwalifiseer.

1. Hoe het die apostel Paulus oor bedieningsknegte gevoel?

 BEDIENINGSKNEGTE doen baie belangrike werk in die gemeentes. Dit is duidelik dat die apostel Paulus hierdie lojale mans waardeer het. Byvoorbeeld, toe hy aan die Christene in Filippi geskryf het, het hy die bedieningsknegte spesifiek saam met die ouermanne gegroet. – Fil. 1:1.

2. Hoe voel ’n broer met die naam Luis oor sy toewysing as ’n bedieningskneg?

2 Baie gedoopte broers, of hulle nou jonk of oud is, geniet dit baie om bedieningsknegte te wees. Byvoorbeeld, Devan is aangestel toe hy 18 was. Maar ’n broer met die naam Luis is aangestel toe hy in sy vroeë 50’s was. Hy het die gevoelens van baie opgesom toe hy gesê het: “Ek voel so bevoorreg om die werk van ’n bedieningskneg te doen, veral wanneer ek dink aan al die liefde wat die gemeente aan my betoon het!”

3. Watter vrae sal ons bespreek?

3 As jy ’n gedoopte broer is, maar nog nie ’n bedieningskneg is nie, kan jy dit jou doelwit maak? Wat kan jou motiveer om dit te doen? En wat is die Skriftuurlike kwalifikasies waaraan jy moet voldoen? In hierdie artikel sal ons kyk na die antwoorde op hierdie vrae. Maar kom ons bespreek eers wat die rol van ’n bedieningskneg is.

WAT IS DIE ROL VAN ’N BEDIENINGSKNEG?

4. Wat is die rol van ’n bedieningskneg? (Sien ook prent.)

4 ’n Bedieningskneg is ’n gedoopte broer wat deur die heilige gees aangestel is om die ouermanne te help om na baie praktiese dinge in die gemeente om te sien. Party bedieningsknegte maak seker dat verkondigers genoeg gebied en lektuur het vir hulle bediening. Ander help om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou. Bedieningsknegte dien ook as saalwagters en werk met die klank- en videotoerusting gedurende gemeentelike vergaderinge. Baie van die werk wat bedieningsknegte doen, is praktiese werk. Maar die belangrikste van alles is, bedieningsknegte is geestelike mans; hulle is lief vir Jehovah en lewe volgens sy regverdige standaarde. En hulle is baie lief vir hulle Christenbroers en -susters (Matt. 22:37-39). Hoe kan ’n gedoopte broer uitreik om ’n bedieningskneg te wees?

Bedieningsknegte volg Jesus na deur van hulleself te gee om ander te dien (Sien paragraaf 4)


5. Wat beteken dit om uit te reik?

5 Die Bybel sê wat die kwalifikasies is vir dié wat as bedieningsknegte aangestel kan word (1 Tim. 3:8-10, 12, 13). Jy kan uitreik vir hierdie voorreg deur hierdie Skriftuurlike kwalifikasies te bestudeer en dan hard te werk om daaraan te voldoen. Maar eers moet jy goed nadink oor hoekom jy uitreik.

WAT MOTIVEER JOU OM UIT TE REIK?

6. Wat moet jou motiveer om enige iets vir jou broers en susters te doen? (Matteus 20:28; sien ook prent.)

6 Ons beste voorbeeld, Jesus Christus, is deur liefde gemotiveer – liefde vir sy Vader en liefde vir mense. Daardie liefde het hom gemotiveer om hard te werk en om nederige dinge vir ander te doen. (Lees Matteus 20:28; Joh. 13:5, 14, 15.) As jy deur liefde gemotiveer word, sal Jehovah jou seën en jou help om jou doelwit om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer, te bereik. – 1 Kor. 16:14; 1 Pet. 5:5.

Jesus leer sy apostels deur middel van sy voorbeeld om ander nederig te dien, eerder as om ’n belangrike posisie te wil hê (Sien paragraaf 6)


7. Hoekom moet ’n broer selfsugtige ambisie vermy?

7 In die wêreld word mense wat hulleself bevorder, dikwels bewonder. Maar dit is nie so in Jehovah se organisasie nie. ’n Broer wat gemotiveer word deur liefde, soos Jesus was, soek nie gesag oor ander of status nie. As so ’n ambisieuse persoon in die gemeente aangestel sou word, sou hy heel moontlik weier om party van die nederige dinge te doen wat nodig is om vir Jehovah se kosbare skape te sorg. Hy dink dalk dat hy te belangrik is om hierdie dinge te doen (Joh. 10:12). Jehovah sal nie enige iemand seën wat aangedryf word deur trots of selfsugtige ambisie nie. – 1 Kor. 10:24, 33; 13:4, 5.

8. Watter raad het Jesus aan sy apostels gegee?

8 Selfs Jesus se goeie vriende het soms vir die verkeerde rede na voorregte uitgereik. Dink aan iets wat gebeur het waarby twee van Jesus se apostels – Jakobus en Johannes – betrokke was. Hulle het Jesus gevra om vir hulle spesiale posisies in sy Koninkryk te gee. Jesus het hulle nie vir hulle ambisie geprys nie. Hy het eerder aan al 12 apostels verduidelik: “As iemand onder julle groot wil wees, moet hy julle dienaar wees, en as iemand onder julle die eerste wil wees, moet hy almal se slaaf wees” (Mark. 10:35-37, 43, 44). Broers wat uitreik met die regte motief – dit wil sê om ander te dien – sal ’n seën vir die gemeente wees. – 1 Tess. 2:8.

WAT KAN JOU BEGEERTE OM UIT TE REIK, VERSTERK?

9. Hoe kan jy jou begeerte om uit te reik, versterk?

9 Jy is natuurlik lief vir Jehovah, en jy wil ander dien. Maar jy het dalk nie die begeerte om die ekstra werk te doen wat ’n bedieningskneg moet doen nie. Hoe kan jy jou begeerte om te dien, versterk? Hoekom dink jy nie aan hoe gelukkig dit jou sal maak om jou broers en susters te dien nie? Jesus het gesê: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Hy het volgens hierdie beginsel gelewe. Dit het hom regtig gelukkig gemaak om ander te dien, en dit kan jou ook gelukkig maak.

10. Hoe het Jesus gewys dat dit hom gelukkig gemaak het om ander te dien? (Markus 6:31-34)

10 Kyk na ’n voorbeeld van hoe Jesus gewys het dat dit hom gelukkig gemaak het om ander te dien. (Lees Markus 6:31-34.) Eenkeer was Jesus en sy apostels moeg. Hulle was op pad na ’n afgeleë plek om ’n bietjie te rus. Maar ’n skare het voor hulle daar aangekom en gehoop om deur Jesus geleer te word. Hy kon nee gesê het. Om die waarheid te sê, hy en sy apostels “het nie eers kans gehad om te eet nie”. Of Jesus kon die mense weggestuur het nadat hy net een of twee waarhede met hulle gedeel het. Maar omdat hy deur liefde gemotiveer is, het hy “hulle baie dinge begin leer”. En hy het aangehou om hulle te leer totdat dit “al laat geword” het (Mark. 6:35). Hy het dit gedoen, nie omdat hy moes nie, maar omdat hy “baie jammer vir hulle gevoel” het. Hy wou hulle leer omdat hy vir hulle lief was. Om ander te dien, het Jesus baie gelukkig gemaak.

11. Hoe het Jesus sy luisteraars op ’n praktiese manier gedien? (Sien ook prent.)

11 Maar Jesus het meer gedoen as om net die skare te leer. Hy het ook in hulle fisiese behoeftes voorsien. Hy het deur middel van ’n wonderwerk kos voorsien en sy dissipels dit toe laat versprei (Mark. 6:41). Deur dit te doen, het hy sy dissipels geleer hoe om ander te dien. Hy het ook vir hulle gewys dat praktiese werk – soos die werk wat bedieningsknegte dalk sal moet doen – belangrik is. Dink net hoe gelukkig dit die apostels gemaak het om saam met Jesus te werk om hierdie kos wat deur middel van ’n wonderwerk voorsien is, te versprei totdat “almal geëet en versadig geword” het! (Mark. 6:42). Dit was natuurlik nie die enigste keer dat Jesus die belange van ander bo sy eie gestel het nie. Hy het sy hele aardse lewe gebruik om mense te dien (Matt. 4:23; 8:16). Dit het Jesus baie gelukkig gemaak om ander te leer en om nederig in hulle behoeftes te voorsien. Dit sal jou beslis ook baie gelukkig maak as jy onselfsugtig uitreik om ’n bedieningskneg te wees.

Liefde vir Jehovah en ’n begeerte om ander te dien, sal jou motiveer om die gemeente op enige manier te dien (Sien paragraaf 11) a


12. Hoekom moet niemand van ons voel dat ons min het om die gemeente te bied nie?

12 As jy voel dat jy nie enige besondere vermoëns het nie, moet jy nie mismoedig wees nie. Jy het beslis eienskappe wat jy kan gebruik om die gemeente te help. Dink na oor wat Paulus in 1 Korintiërs 12:12-30 gesê het, en vra Jehovah dan om jou te help om te sien hoe dit op jou van toepassing is. Paulus se woorde maak dit duidelik dat jy, soos elke ander kneg van Jehovah, ’n belangrike en waardevolle rol het om in die gemeente te speel. As jy nie op die oomblik aan die kwalifikasies voldoen om as ’n bedieningskneg te dien nie, moet jy nie moed verloor nie. Hoekom doen jy nie eerder alles wat jy kan om deur Jehovah en jou broers gebruik te word nie? Wees verseker dat die ouermanne jou vermoëns in ag sal neem wanneer dit kom by enige toewysings wat hulle jou dalk sal gee. – Rom. 12:4-8.

13. Wat is waar wanneer dit kom by die meeste van die kwalifikasies vir aangestelde mans?

13 Dink aan nog ’n rede hoekom jy moet uitreik om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer: Die meeste van die kwalifikasies is op alle Christene van toepassing. Om die waarheid te sê, alle Christene moet nader aan Jehovah kom, graag aan ander wil gee en op ’n manier lewe wat God gelukkig maak. Watter spesifieke dinge kan ’n broer doen om uit te reik?

HOE OM UIT TE REIK

14. Wat beteken dit om “ernstig [te] wees”? (1 Timoteus 3:8-10, 12)

14 Kom ons kyk nou na party van die kwalifikasies wat genoem word in 1 Timoteus 3:8-10, 12. (Lees.) ’n Bedieningskneg moet “ernstig wees”. Daardie uitdrukking kan ook vertaal word as “respek verdien”, “waardig wees” of “eerbaar wees”. Dit beteken nie dat jy nooit kan lag of pret kan hê nie (Pred. 3:1, 4). Maar jy moet al jou verantwoordelikhede ernstig opneem. As jy ’n reputasie het as iemand wat betroubaar is, sal jy die respek van die gemeente verkry.

15. Wat beteken die uitdrukkings “nie bedrieglike dinge sê nie” en “nie gierig op soek wees na oneerlike wins nie”?

15 “Nie bedrieglike dinge sê nie” beteken dat jy opreg, eerlik en betroubaar is. Jy bly by jou woord, en jy bedrieg nie ander nie (Spr. 3:32). “Nie gierig op soek wees na oneerlike wins nie” beteken dat jy eerlik is in jou besigheidsake en wanneer jy geld hanteer. Jy sal nie misbruik maak van jou goeie verhoudings met jou broers en susters om geld te maak nie.

16. (a) Wat beteken die uitdrukking “nie aan baie wyn oorgee nie”? (b) Wat beteken dit om “’n skoon gewete” te hê?

16 “Nie aan baie wyn oorgee nie” beteken dat jy nie te veel alkohol drink of bekend is as iemand wat te veel drink nie. Om “’n skoon gewete” te hê, beteken dat jy volgens Jehovah se standaarde lewe. Al is jy nie volmaak nie, geniet jy die vrede wat ’n mens kry wanneer jy ’n goeie verhouding met God het.

17. Hoe kan ’n broer wys dat hy betroubaar is terwyl hy “getoets word om te sien of [hy] geskik is”? (1 Timoteus 3:10; sien ook prent.)

17 “Getoets . . . om te sien of hulle geskik is” beteken dat jy reeds gewys het dat jy met verantwoordelikhede vertrou kan word. Daarom moet jy, wanneer die ouermanne vir jou ’n toewysing gee, hulle instruksies en die riglyne wat deur die organisasie voorsien word, deeglik volg. Maak seker dat jy verstaan wat die toewysing behels en wanneer dit voltooi moet wees. Terwyl jy elke toewysing goed hanteer, sal ander in die gemeente jou goeie vordering raaksien en waardeer. Ouermanne, maak seker dat julle gedoopte broers oplei. (Lees 1 Timoteus 3:10.) Is daar gedoopte broers in julle gemeente wat in hulle vroeë tienerjare of jonger is? Is hulle voorbeeldig in hulle persoonlike studiegewoontes? Antwoord hulle gereeld by vergaderinge, en doen hulle gereeld velddiens? Indien wel, gee vir hulle toewysings wat by hulle ouderdom en omstandighede pas. Op hierdie manier kan hierdie jong broers “getoets word om te sien of hulle geskik is”. Teen die tyd dat hulle dan in hulle laat tienerjare is, kan hulle heel moontlik as bedieningsknegte kwalifiseer.

As ouermanne gedoopte broers toewysings gee, kan hulle hulle toets “om te sien of hulle geskik is” (Sien paragraaf 17)


18. Wat beteken dit om “vry van beskuldiging” te wees?

18 “Vry van beskuldiging” beteken dat geen geldige beskuldiging van verkeerde gedrag teen jou gemaak kan word nie. Christene kan natuurlik valslik beskuldig word. Jesus is valslik beskuldig, en hy het voorspel dat sy volgelinge dieselfde sou deurmaak (Joh. 15:20). Maar as jy jou gedrag rein hou, soos Jesus, sal jy ’n goeie reputasie in die gemeente verkry. – Matt. 11:19.

19. Wat beteken die uitdrukking “mans van een vrou”?

19 “Mans van een vrou.” As jy getroud is, moet jy by Jehovah se oorspronklike standaard vir die huwelik bly – een man en een vrou (Matt. 19:3-9). ’n Christenman moet nooit seksuele onsedelikheid pleeg nie (Heb. 13:4). Maar meer is daarby betrokke. Jy moet lojaal wees aan jou vrou en nooit ongepaste aandag aan enige ander vrou gee nie. – Job 31:1.

20. Hoe gee ’n man “goeie leiding” aan sy huisgesin?

20 “Wat goeie leiding aan hulle kinders en aan hulle eie huisgesinne gee.” As jy ’n gesinshoof is, moet jy jou verantwoordelikhede ernstig opneem. Hou gereeld gesinsaanbidding. Werk so gereeld as wat jy kan saam met elke lid van jou gesin in die bediening. Help jou kinders om ’n persoonlike verhouding met Jehovah op te bou (Ef. 6:4). ’n Man wat vir sy gesin sorg, wys dat hy vir die gemeente kan sorg. – Vergelyk 1 Timoteus 3:5.

21. Wat kan jy doen as jy nog nie as ’n bedieningskneg dien nie?

21 As jy nog nie as ’n bedieningskneg dien nie, lees asseblief hierdie artikel mooi deur en bid tot Jehovah oor die saak. Bestudeer die kwalifikasies vir bedieningsknegte en werk hard om aan daardie kwalifikasies te voldoen. Dink na oor hoe lief jy Jehovah en jou broers en susters het. Versterk jou begeerte om hulle te dien (1 Pet. 4:8, 10). Ondervind die vreugde wat ’n mens kry as jy jou geestelike familie dien. Mag Jehovah alles wat jy doen om uit te reik om as ’n bedieningskneg te dien, ryklik seën! – Fil. 2:13.

LIED 17 “Ek wil, ja”

a BESKRYWING VAN PRENT: Aan die linkerkant dien Jesus sy dissipels nederig; aan die regterkant help ’n bedieningskneg ’n bejaarde broer in die gemeente.