Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 44

LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah

Hoe om ongeregtigheid te verduur

Hoe om ongeregtigheid te verduur

“Moenie toelaat dat die slegte jou oorwin nie, maar hou aan om die slegte met die goeie te oorwin.”ROM. 12:21.

DOEL

Hoe om ongeregtigheid te verduur op ’n manier wat dinge nie erger maak nie.

1-2. Hoe kan ons almal op die een of ander manier deur ongeregtigheid geraak word?

 JESUS het ’n illustrasie vertel oor ’n weduwee wat ’n regter aanhou vra het om seker te maak dat sy regverdig behandel word. Baie van Jesus se dissipels het daardie illustrasie verstaan omdat die gewone mense in sy dag dikwels slagoffers van ongeregtigheid was (Luk. 18:​1-5). Die storie is ook vandag vir ons betekenisvol omdat ons almal al op die een of ander tyd ongeregtigheid ondervind het.

2 In vandag se wêreld is diskriminasie, ongelykheid en onderdrukking algemeen, so ons is nie verbaas wanneer ons onregverdig behandel word nie (Pred. 5:8). Maar ons verwag dalk nie om deur ’n broer of ’n suster onregverdig behandel te word nie; en tog kan dit gebeur. Natuurlik staan ons broers en susters nie die waarheid teë nie. Hulle is maar net onvolmaak. Ons kan baie leer uit hoe Jesus gereageer het op onregverdige behandeling van goddelose teenstanders. As ons geduldig kan wees met teenstanders wat ons onregverdig behandel, hoeveel te meer moet ons geduldig wees met ons broers en susters! Hoe voel Jehovah wanneer ons onregverdig behandel word deur dié buite die gemeente of deur dié binne die gemeente? Gee hy om?

3. Gee Jehovah om wanneer ons onregverdig behandel word, en hoekom?

3 Jehovah is baie besorg oor die manier hoe ons behandel word. “Jehovah is lief vir geregtigheid” (Ps. 37:28). Jesus verseker ons dat Jehovah, sodra die tyd reg is, “dadelik [sal] sorg dat [ons] regverdig behandel word” (Luk. 18:7, 8). En hy sal binnekort al ons pyn en lyding verwyder, en hy sal nie toelaat dat ons ooit weer ongeregtigheid deurmaak nie. – Ps. 72:1, 2.

4. Hoe help Jehovah ons vandag?

4 Terwyl ons wag vir die tyd wanneer Jehovah alle probleme sal oplos, help hy ons om ongeregtigheid te verduur (2 Pet. 3:13). Hy leer ons hoe om dit te vermy om iets dwaas te doen wanneer ons onregverdig behandel word. Deur middel van sy Seun gee Jehovah ons die volmaakte voorbeeld van hoe ons ongeregtigheid kan hanteer. En hy gee ons praktiese raad wat ons kan toepas wanneer ons onregverdig behandel word.

WEES VERSIGTIG WANNEER DIT KOM BY HOE JY OP ONGEREGTIGHEID REAGEER

5. Hoekom moet ons versigtig wees wanneer dit kom by hoe ons op ongeregtigheid reageer?

5 Ons voel dalk diep seergemaak en baie ontsteld as gevolg van ongeregtigheid (Pred. 7:7). Getroue knegte soos Job en Habakuk het dieselfde gevoel (Job 6:2, 3; Hab. 1:1-3). Al is dit normaal om so te voel, moet ons versigtig wees wanneer dit kom by hoe ons reageer sodat ons nie iets dwaas doen nie.

6. Wat leer ons uit Absalom se voorbeeld? (Sien ook prent.)

6 Wanneer iemand ons sleg behandel, wil ons dalk sake in ons eie hande neem. Maar om op hierdie manier te reageer, kan dinge baie erger maak. Kyk na die voorbeeld van koning Dawid se seun Absalom. Hy was woedend toe sy suster Tamar deur hulle halfbroer Amnon verkrag is. Volgens die Wet van Moses het Amnon verdien om te sterf vir wat hy gedoen het (Lev. 20:17). Absalom het beslis rede gehad om kwaad te wees, maar hy het nie die reg gehad om sake in sy eie hande te neem nie. – 2 Sam. 13:20-23, 28, 29.

Absalom het nie sy woede beheer toe sy suster Tamar verkrag is nie (Sien paragraaf 6)


7. Hoe het ongeregtigheid ’n psalmis tydelik geaffekteer?

7 Wanneer dit lyk asof dié wat onregverdig optree, nie gestraf word nie, wonder ons dalk of dit die moeite werd is om te doen wat reg is. Dink aan die psalmis wat gesien het hoe goeie mense deur goddelose mense sleg behandel word, maar vir wie dit gelyk het of die goddelose mense voorspoedig is. Hy het gesê: “So is die goddeloses, wie se lewe altyd maklik is” (Ps. 73:12). Hy was ook so ontsteld oor die ongeregtigheid wat hy gesien het, dat hy amper vertroue verloor het in die voordele daarvan om Jehovah te dien, en hy het gesê: “Toe ek dit probeer verstaan het, was dit vir my moeilik” (Ps. 73:14, 16). Om die waarheid te sê, hy het erken: “Maar my voete het amper afgedwaal. My voete het amper gegly” (Ps. 73:2). Iets soortgelyks het met ’n broer gebeur wat ons Alberto sal noem.

8. Hoe het ’n broer gereageer toe hy onregverdig behandel is?

8 Alberto is verkeerdelik daarvan beskuldig dat hy geld gesteel het wat aan die gemeente behoort. As gevolg daarvan het hy sy voorregte verloor, sowel as die respek van baie in die gemeente wat daarvan gehoor het. Hy vertel: “Ek het bitter, kwaad en gefrustreerd gevoel.” Hy het toegelaat dat sy emosionele pyn sy geestelikheid affekteer, en hy was selfs vir vyf jaar onbedrywig. Hierdie ondervinding wys wat kan gebeur as ons verbitterd word wanneer ons onregverdig behandel word.

VOLG DIE MANIER NA HOE JESUS ONGEREGTIGHEID VERDUUR HET

9. Watter onregverdige behandeling het Jesus verduur? (Sien ook prent.)

9 Jesus het ’n volmaakte voorbeeld gestel van hoe om ongeregtigheid te verduur. Dink aan hoe onregverdig hy behandel is deur familie en deur ander. Sy ongelowige familielede het hom daarvan beskuldig dat hy van sy kop af is, die godsdiensleiers het hom daarvan beskuldig dat hy saam met demone werk en Romeinse soldate het hom bespot, hom fisies aangerand en hom uiteindelik doodgemaak (Mark. 3:21, 22; 14:55; 15:16-20, 35-37). Maar Jesus het al hierdie dinge en meer verduur sonder om hulle te probeer terugkry. Wat kan ons uit sy voorbeeld leer?

Jesus het ’n volmaakte voorbeeld gestel van hoe om ongeregtigheid te verduur (Sien paragraaf 9-10)


10. Hoe het Jesus ongeregtigheid verduur? (1 Petrus 2:21-23)

10 Lees 1 Petrus 2:21-23. a Jesus het vir ons ’n volmaakte voorbeeld gelaat om te volg wanneer ons onregverdig behandel word. Hy het geweet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat (Matt. 26:62-64). Hy het nie gereageer op elke valse stelling wat oor hom gemaak is nie (Matt. 11:19). Wanneer hy wel gepraat het, het hy nie sy vervolgers beledig of hulle gedreig nie. Jesus het selfbeheersing gehad omdat hy “die saak oorgelaat [het] aan die Een wat regverdig oordeel”. Jesus het geweet dat Jehovah se beskouing van sake die belangrikste is. Hy het vertrou dat Jehovah op die regte tyd alle onregte sal verwyder.

11. Wat is ’n paar maniere hoe ons ons spraak kan beheer? (Sien ook prente.)

11 Ons kan Jesus navolg deur te beheer wat ons sê wanneer ons onregverdig behandel word. Partykeer is dit iets kleins, en ons kan dit net oorsien. Of ons kan dalk stilbly sodat ons nie iets sê wat dinge erger kan maak nie (Pred. 3:7; Jak. 1:19, 20). Op ander tye sal ons dalk iets moet sê wanneer ons sien dat iemand onregverdig behandel word of wanneer ons die waarheid moet verdedig (Hand. 6:1, 2). As ons iets wil sê, moet ons ons bes probeer om kalm en respekvol te wees. – 1 Pet. 3:15. b

Wanneer ons onregverdig behandel word, kan ons Jesus navolg deur mooi te dink oor wanneer en hoe om te praat (Sien paragraaf 11-12)


12. Hoe laat ons sake oor aan “die Een wat regverdig oordeel”?

12 Ons kan Jesus ook navolg deur sake oor te laat aan “die Een wat regverdig oordeel”. Wanneer ander ons verkeerd oordeel of ons sleg behandel, vertrou ons dat Jehovah weet wat die waarheid is. Daardie vertroue kan ons help om onregverdige behandeling te verduur omdat ons weet dat Jehovah sake uiteindelik sal regstel. Deur dinge in Jehovah se hande te laat, keer ons dat woede of haat in ons hart groei. Daardie emosies kan veroorsaak dat ons oorreageer, dit kan ons vreugde vernietig, en dit kan ons verhouding met Jehovah beskadig. – Ps. 37:8.

13. Wat kan ons help om ongeregtigheid geduldig te verduur?

13 Ons sal Jesus se voorbeeld natuurlik nooit volmaak kan navolg nie. Soms sal ons dalk dinge doen of sê waaroor ons later spyt is (Jak. 3:2). En party onregte sal ons dalk met emosionele en fisiese letsels laat wat moeilik kan wees om te dra. As dit die geval is met jou, wees verseker dat Jehovah weet wat jy deurmaak. En Jesus, wat ook onregverdig behandel is, kan met jou gevoelens simpatiseer (Heb. 4:15, 16). Jehovah het nie net vir ons Jesus se volmaakte voorbeeld gegee nie, maar hy gee ons ook praktiese raad wat ons help om ongeregtigheid te hanteer. Kom ons kyk na twee verse uit die boek Romeine wat ons kan help.

“LAAT DIE WOEDE AAN GOD OOR”

14. Wat beteken die woorde “laat die woede aan God oor”? (Romeine 12:19)

14 Lees Romeine 12:19. Die apostel Paulus het Christene aangemoedig: “Laat die woede aan God oor.” Ons laat die woede aan Jehovah oor deur hom toe te laat om geregtigheid te bring op sy eie tyd en op sy eie manier. Nadat ’n broer met die naam John onregverdig behandel is, het hy gesê: “Ek moes hard daarteen stry om nie dinge op my eie manier reg te stel nie. Romeine 12:19 het my gehelp om op Jehovah te wag.”

15. Hoekom is dit beter om op Jehovah te wag om ’n saak reg te stel?

15 Ons vind daarby baat wanneer ons op Jehovah wag om ’n saak reg te stel. As ons dit doen, kan ons baie van die stres en teleurstelling vermy wat ons dikwels voel wanneer ons probeer om ’n moeilike probleem op ons eie op te los. Jehovah bied aan om ons te help. Hy sê as ’t ware: ‘Laat die ongeregtigheid aan my oor; ek sal dinge regstel.’ As ons Jehovah se belofte “Ek sal terugbetaal,” aanvaar, kan ons die saak laat gaan, met die vertroue dat hy dit op die beste moontlike manier sal hanteer. Dit is wat John, wat vroeër genoem is, gehelp het. Hy het gesê: “As ek net op Jehovah wag, sal hy dit baie beter hanteer as wat ek kan.”

“HOU AAN OM DIE SLEGTE MET DIE GOEIE TE OORWIN”

16-17. Hoe kan gebed ons help om ‘aan te hou om die slegte met die goeie te oorwin’? (Romeine 12:21)

16 Lees Romeine 12:21. Paulus het Christene ook aangemoedig: “Hou aan om die slegte met die goeie te oorwin.” In Jesus se Bergpredikasie het hy gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir die mense wat julle vervolg” (Matt. 5:44). Dit is presies wat hy gedoen het. Ons het moontlik al gedink aan die lyding wat Jesus deurgemaak het toe hy deur Romeinse soldate aan die paal gehang is. Ons kan ons nie eens voorstel hoe baie pyn hy gehad het, sowel as hoe erg hy verneder is en die ongeregtigheid wat hy verduur het nie.

17 Jesus is nie oorwin deur die ongeregtigheid wat hy deurgemaak het nie. In plaas daarvan om te vra dat daardie soldate gestraf word, het hy gebid: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Wanneer ons bid vir dié wat ons sleg behandel, sal dit ons help om kalm te wees en om nie so kwaad te wees nie. Dit kan selfs ons beskouing verander van dié wat ons seermaak.

18. Hoe het gebed Alberto en John gehelp om ongeregtigheid te verduur?

18 Gebed het die twee broers wat vroeër in hierdie artikel genoem is, gehelp om die onregte wat hulle verduur het, te hanteer. Alberto sê: “Ek het gebid vir die broers wat my onregverdig behandel het. Ek het Jehovah verskeie kere gevra om my te help om hierdie onreg agter my te sit.” Ons is bly dat Alberto Jehovah weer getrou dien. John sê: “Ek het baie keer vir die broer gebid wat my seergemaak het. Sulke gebede het my gehelp om die regte beskouing van hom te hê sonder om hom te oordeel. En daardie gebede het my ook innerlike vrede gegee.”

19. Wat moet ons doen totdat die einde van hierdie wêreld kom? (1 Petrus 3:8, 9)

19 Ons weet nie watter onregte ons dalk nog sal ondervind voordat hierdie wêreld tot ’n einde kom nie. Maar wat ook al op ons pad kom, laat ons nooit ophou om Jehovah in gebed te vra om ons te help nie. En laat ons die manier navolg hoe Jesus gereageer het toe ander hom sleg behandel het en aanhou om Bybelbeginsels toe te pas. As ons dit doen, kan ons daarvan seker wees dat ons ’n seën van Jehovah sal ontvang. – Lees 1 Petrus 3:8, 9.

LIED 38 Hy maak jou sterk

a In hoofstuk 2 en 3 van die apostel Petrus se eerste brief het hy situasies beskryf waarin ’n paar eerste-eeuse Christene onregverdig behandel is deur wrede meesters of ongelowige mans. – 1 Pet. 2:18-20; 3:1-6, 8, 9

b Sien op jw.org die video Hoe liefde tot ware vrede lei.