Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp om gereeld te studeer

Hulp om gereeld te studeer

SUKKEL jy soms om jou persoonlike Bybelstudie gereeld te doen en om dit te geniet? Ons almal voel soms so. Maar dink aan ander dinge wat ons gereeld doen, soos om te bad. Dit neem tyd en moeite om te bad, maar ons voel so verfris daarna! Bybelstudie kan ook so verfrissend wees soos om “in die water van die woord te bad” (Ef. 5:26). Kom ons kyk na ’n paar wenke wat kan help:

  • Stel ’n rooster op. Persoonlike Bybelstudie is onder “die belangriker dinge” wat ’n Christen nie moet afskeep nie (Fil. 1:10). Om jou te help om by jou rooster te bly, hoekom sit jy dit nie iewers waar dit maklik gesien kan word nie, soos op ’n kennisgewingbord of die yskasdeur? Of stel ’n alarm op jou foon wat jou kort voor jou studietyd herinner.

  • Pas by jou behoeftes aan. Is dit vir jou makliker om vir ’n lang ruk te konsentreer, of vir korter rukkies? Jy ken jou omstandighede die beste. Pas jou studiesessies daarvolgens aan. As jy nie lus voel om te studeer wanneer jy moet nie, hoekom studeer jy nie net vir tien minute nie? As jy selfs vir so ’n kort rukkie studeer, sou jy meer bereik het as wat jy andersins sou. En as jy eers begin, sal jy heel moontlik gemotiveerd voel om aan te gaan. – Fil. 2:13.

  • Besluit vooraf wat om te studeer. As jy gaan sit en dan wonder wat om te studeer, maak jy dalk nie “die beste gebruik van [jou] tyd” nie (Ef. 5:16). Hoekom maak jy nie ’n lys van die artikels of onderwerpe wat jy graag wil studeer nie? Wanneer jy aan ’n vraag dink, skryf dit neer. Aan die einde van elke studiesessie kan jy dalk ander idees by jou lys voeg van wat jy wil studeer.

  • Wees aanpasbaar. Pas jou rooster aan as dit nodig is, soos wanneer dit kom by die hoeveelheid tyd wat jy studeer of die onderwerpe wat jy kies. Wat saak maak, is – nie wanneer, hoe lank of wat jy studeer nie – maar hoe gereeld jy studeer.

Ons vind regtig baat by ’n gereelde studieroetine. Ons kom nader aan Jehovah, ons leer om wys op te tree en ons voel verfris. – Jos. 1:8.