Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jehovah het ons versterk in tye van oorlog en in tye van vrede

Jehovah het ons versterk in tye van oorlog en in tye van vrede

Paul: Ons was so opgewonde! Dit was November 1985, en ons was op pad na ons eerste toewysing as sendelinge in Liberië, Wes Afrika. Ons vlug het in Senegal gestop. Anne het gesê: “In net meer as ’n uur sal ons in Liberië wees!” Toe hoor ons ’n aankondiging: “Passasiers op pad na Liberië moet van die vliegtuig afklim. Ons kan nie daar land nie omdat daar ’n poging is om die land se regering oor te neem.” Oor die volgende tien dae het ons by sendelinge in Senegal gebly. Ons het op die nuus gehoor van vragte dooie liggame en dat die regering mense nie toegelaat het om hulle huise saans te verlaat nie, of anders het die regering hulle onmiddellik doodgemaak.

Anne: Ons is van nature baie versigtige mense. Om die waarheid te sê, ek staan van kleins af bekend as Angstige Annie. Ek is selfs senuweeagtig om ’n pad oor te steek! Maar ons was vasbeslote om by ons toewysing uit te kom.

Paul: Ek en Anne het in dieselfde gebied in die weste van Engeland grootgeword. My ouers en Anne se ma het ons altyd aangemoedig om te pionier. So nadat ons skool klaargemaak het, het ons albei begin pionier. Hulle het ons begeerte om die voltydse diens ons loopbaan te maak, ten volle ondersteun. Op die ouderdom van 19 het ek die voorreg gehad om Bethel toe te gaan, en nadat ons in 1982 getrou het, het Anne by my aangesluit.

Gileadgraduering, 8 September 1985

Anne: Ons was lief vir Bethel, maar ons het nog altyd die begeerte gehad om te gaan dien waar daar hulp nodig is. By Bethel het ons saam met broers en susters gewerk wat voorheen as sendelinge gedien het, en dit het hierdie begeerte versterk. Ons het drie jaar lank elke aand tot Jehovah gebid oor ons begeerte om sendelinge te word. So toe ons in 1985 ’n uitnodiging ontvang om die 79ste klas van Gilead by te woon, was ons in die wolke! Ons was aangewys na Liberië, Wes-Afrika.

VERSTERK DEUR DIE LIEFDE VAN ONS BROERS EN SUSTERS

Paul: Nadat mens weer na Liberië toe kon vlieg, was ons op die eerste beskikbare vlug. Mense was baie bang, en hulle was nog steeds nie toegelaat om saans hulle huise te verlaat nie. ’n Kar wat skielik ’n harde geluid gemaak het, was genoeg om almal in die markte paniekbevange te maak. Om kalm te bly, het ons elke aand gedeeltes van die Psalms saam gelees. Maar ons was regtig lief vir ons toewysing. Anne was ’n sendeling in die veld, en ek het saam met John Charuk in Bethel gewerk. Sy ondervinding en die feit dat hy ons broers en susters se omstandighede so goed verstaan het, het gehelp om my op te lei.

Anne: Hoekom het ons so gou lief geword vir ons toewysing in Liberië? As gevolg van ons broers en susters. Hulle was liefdevol, het gehou van kuier en was getrou. Ons het baie na aan hulle gevoel, en hulle het ons nuwe familie geword. Hulle goeie raad het ons geestelik versterk. Die bediening was fantasties. Huisbewoners het kwaad geword as jy nie lank genoeg by hulle gebly het nie! Mense het op die straat oor die Bybel gepraat. Jy kon net nader staan en saam gesels. Ons het so baie Bybelstudies gehad dat dit moeilik was om genoeg tyd te hê om met almal van hulle te studeer. Dit was ’n wonderlike probleem om te hê!

JEHOVAH HET ONS VERSTERK TOE ONS BANG WAS

Die Bethel in Liberië het dié gehelp wat moes vlug, 1990

Paul: Vier jaar lank was die situasie in die land redelik kalm, maar in 1989 het daar ’n verskriklike burgeroorlog uitgebreek. Op 2 Julie 1990 het rebelle die gebied rondom Bethel oorgeneem. Drie maande lank kon ons niemand buite die land kontak nie, nie eens ons families of die wêreldhoofkwartier nie. Daar was oral geweld en chaos, baie min kos, en baie vrouens is verkrag. Hierdie hartseer situasie het 14 jaar lank aangehou en die hele land geaffekteer.

Anne: Mense van party stamme het met mense van ander stamme baklei en mekaar doodgemaak. Swaar gewapende vegters in vreemde klere het in die strate geloop en elke gebou gestroop. Party van hulle het gesê dat daar geen verskil vir hulle was tussen om ’n hoender te slag en om iemand dood te maak nie. Liggame het by kontrolepunte opgehoop, selfs naby die takkantoor. Getroue Getuies was doodgemaak, insluitende twee van ons dierbare sendelinge.

Wanneer die vegters mense gekry het wat aan die stamme behoort wat hulle gehaat het, het hulle hulle doodgemaak. Ons broers het hulle eie lewens in gevaar gestel om broers en susters weg te steek en hulle te red. Sendelinge en Betheliete het dit ook gedoen. By Bethel het party Getuies wat gevlug het, op die grondvloer gebly, en ander het bo by ons in ons kamers gebly. Ons het ons kamer met ’n gesin van sewe gedeel.

Paul: Elke dag het die vegters probeer inkom om te kyk of ons mense wegsteek. Ons het ’n sekuriteitstelsel met vier persone gehad. Twee het by die venster gestaan en kyk, terwyl die ander twee na die buitenste hek gegaan het. As die twee by die hek hulle hande voor hulle gehou het, was alles oukei. Maar as hulle hulle hande agter hulle rug gesit het, het dit beteken dat die vegters aggressief was. So dié wat by die venster gestaan en kyk het, het vinnig ons vriende weggesteek.

Anne: Eendag kon die broers nie ’n groep woedende vegters keer om in te kom nie. Ek het myself en ’n suster in ’n badkamer toegesluit waar ons ’n klein wegsteekplek binne-in ’n kas met ’n vals bodem gehad het. Die suster het in die klein spasie weggekruip. Die vegters wat met masjiengewere gewapen was, het my by die trappe op gevolg. Hulle was kwaad en het teen die deur gehamer. Paul het gesmeek: “My vrou is besig om die badkamer te gebruik.” Toe ek die vals bodem waar die suster weggekruip het, teruggesit het, het dit geraas gemaak. Toe moes ek alles op die rakke terugsit, en dit het tyd gevat. Ek was seker dat die vegters gewonder het waarmee ek besig was, en ek het so bang geword dat my hele lyf begin bewe het. Ek het geweet dat ek moes kalmeer voordat ek die deur oopmaak. Ek het stilletjies gebid en Jehovah gesmeek om my te help. Ek het toe die deur oopgesluit en kon hulle kalm groet. Toe hulle verby my stoot, het een van hulle reguit na die kas gegaan, dit oopgemaak en deur die rakke gekrap. Hy kon nie glo dat hy niks gevind het nie. Hy en sy groep het toe die ander kamers en die dakkamer deursoek. Maar hulle het weer eens niks gekry nie.

DIE WAARHEID WAS SOOS ’N LIG IN DIE DONKERTE

Paul: Ons het maande lank baie min gehad om te eet. Maar geestelike voedsel was ons lewenslyn. Die oggendaanbidding by Bethel was ons enigste “ontbyt”, en ons het almal die innerlike krag wat dit ons gegee het, waardeer.

Ons het geweet dat as ons kos of water moes gaan kry, ons nie dié wat ons weggesteek het, sou kon beskerm nie en dat hulle doodgemaak kon word. Jehovah het dikwels op wonderdadige maniere vir ons gegee wat ons nodig gehad het op net die regte tyd. Jehovah het vir ons gesorg en ons gehelp om kalm te bly.

Hoe donkerder die wêreld geword het, hoe helderder het die waarheid geskyn. Ons broers en susters moes keer op keer vir hulle lewens vlug, maar hulle het hulle geloof en waardigheid behou. Party het gesê dat om gedurende hierdie moeilike tyd te volhard hulle “vir die groot verdrukking voorberei”. Ouermanne en jong broers het moedig alles gedoen wat hulle kon om hulle broers en susters te help. Broers en susters wat na ander gebiede gevlug het, het bymekaargebly en in daardie gebiede begin preek. Hulle het vergaderinge gehou in tydelike Koninkryksale wat hulle in die bos gebou het. In daardie aaklige tye het dit ons broers en susters hoop gegee en hulle baie aangemoedig om na vergaderinge toe te gaan en om vir ander te preek. Toe ons noodlenigingsvoorrade uitgedeel het, het dit ons diep geraak toe ons broers vir velddienssakke in plaas van klere gevra het. Mense wat hartseer en getraumatiseer was, het na die goeie nuus geluister. Hulle was verbaas oor hoe gelukkig en positief die Getuies was; hulle het soos ’n lig in die donkerte geskyn (Matt. 5:14-16). Omdat ons broers so ywerig was, het party van hierdie wrede vegters selfs ons broers geword.

JEHOVAH HET ONS VERSTERK TOE ONS ONS BROERS MOES VERLAAT

Paul: Partykeer moes ons die land verlaat, drie keer net kortliks en twee keer vir ’n hele jaar. Een sendelingsuster het ons gevoelens so mooi opgesom. Sy het gesê dat hulle ons in Gilead geleer het om ons broers en susters in ons toewysing met ons hele hart lief te hê, en dit is wat ons gedoen het. So toe ons ons broers en susters in daardie moeilike situasie moes verlaat, het dit ons hart gebreek! Gelukkig kon ons die veld in Liberië vanaf lande daar naby ondersteun.

Ons is bly om terug te wees in Liberië, 1997

Anne: In Mei 1996 het vier van ons in een van Bethel se karre vertrek. Die kar was propvol belangrike takverslae. Ons wou na ’n veiliger plek anderkant die dorp ry, wat 16 kilometer daarvandaan was. Op daardie oomblik is ons gebied aangeval. Woedende vegters het in die lug geskiet, ons gestop, drie van ons uit die kar uitgetrek en weggery terwyl Paul nog daarin was. Ons was heeltemal geskok. Skielik het ons gesien hoe Paul na ons toe aangestap kom met bloed wat by sy voorkop afloop. In die verwarring het ons gedink dat hy geskiet was, maar toe besef ons dat hy nie sou kon loop as dit die geval was nie! Een vegter het hom geslaan toe hy hom by die kar uitgestoot het. Gelukkig was dit net ’n klein wond.

Daar was ’n militêre voertuig vol baie bang mense daar naby. Ons het met ons vingerpunte aan die buitekant van die voertuig vasgeklou. Die bestuurder het so vinnig weggery dat ons amper afgeval het. Ons het hom gesmeek om te stop, maar hy was te bang om te luister. Ons het dit reggekry om nie af te val nie, maar toe die voertuig stop, was ons heeltemal uitgeput omdat ons aan die voertuig vasgeklou het, en ons liggame het gebewe van vrees.

Paul: Ons het met net die vuil, stukkende klere aan ons lyf na mekaar gekyk en gewonder hoe ons nog lewendig was. Ons het in ’n oop veld geslaap langs ’n ou helikopter wat vol koeëlgate was as gevolg van die geskietery. Dit sou ons die volgende dag Sierra Leone toe neem. Ons was dankbaar dat ons nog gelewe het, maar ons was baie bekommerd oor ons Christenbroers.

JEHOVAH HET ONS VERSTERK OM TE VOLHARD GEDURENDE ANDER UITDAGINGS

Anne: Ons het veilig by Bethel in Freetown, Sierra Leone, aangekom, waar die broers mooi vir ons gesorg het. Maar ek het begin om terugflitse te kry. Elke dag was ek heeltyd bang dat iets verskrikliks sou gebeur, en ek kon nie reguit dink nie. Alles om my het onwerklik gevoel. In die nag het ek dikwels gebewe wanneer ek wakker geword het, en ek was bang dat iets aakligs sou gebeur. Dit was moeilik om asem te haal. Paul het my vasgehou en saam met my gebid. Ons het Koninkryksliedjies gesing totdat ek ophou bewe het. Ek het gevoel asof ek mal word en nie meer as ’n sendeling kon dien nie.

Ek sal nooit vergeet wat volgende gebeur het nie. Ons het daardie selfde week twee tydskrifte ontvang. Die een tydskrif was die Ontwaak! van 8 Junie 1996. Dit het die artikel “Hoe om paniekaanvalle die hoof te bied” bevat. Nou het ek verstaan wat besig was om met my te gebeur. Die tweede tydskrif was Die Wagtoring van 15 Mei 1996 wat die artikel “Waar kry hulle hulle krag vandaan?” bevat het. In Die Wagtoring was daar ’n prentjie van ’n skoenlapper wat seergekry het. Die artikel het ons vergelyk met ’n skoenlapper wat kan aanhou vlieg selfs al is sy vlerke erg beskadig. Dit het verduidelik dat selfs al voel ons swak as gevolg van die verskriklike dinge wat al in ons lewe gebeur het, Jehovah ons kan help om aan te hou om ander te help. Deur hierdie artikels het Jehovah my die krag wat ek nodig gehad het, op net die regte tyd gegee (Matt. 24:45). Ek het vir soortgelyke artikels gesoek, dit bymekaargemaak en in ’n boek gesit. Dit het my baie gehelp. Ná ’n rukkie het my simptome van posttraumatiese stres begin weggaan.

JEHOVAH HET ONS VERSTERK OM AAN TE PAS

Paul: Wanneer ons ook al teruggegaan het huis toe na Liberië, was ons so gelukkig. Teen die einde van 2004 was ons al byna 20 jaar lank in ons toewysing. Die oorlog was verby. Daar was planne om konstruksiewerk by die takkantoor te doen. Maar skielik is ons gevra om ’n nuwe toewysing te aanvaar.

Dit was ’n groot toets. Ons was so na aan ons geestelike familie – hoe sou ons dit hanteer? Maar ons het al gesien hoe Jehovah ons geseën het toe ons ons eie families verlaat het om na Gilead te gaan. Daarom het ons die nuwe toewysing aanvaar. Ons was na Ghana, ’n land daar naby, gestuur.

Anne: Ons het baie gehuil toe ons Liberië verlaat het. Ons was verbaas toe Frank, ’n wyse en bejaarde broer, vir ons gesê het: “Julle moet van ons vergeet!” Hy het toe verduidelik: “Ons weet julle sal ons nooit vergeet nie, maar julle moet julle nuwe toewysing heelhartig uitvoer. Dit kom van Jehovah, so fokus op die broers en susters daar.” Dit het ons versterk vir die uitdaging om oor te begin waar min mense ons geken het en waar ons nie ’n geskiedenis gehad het nie.

Paul: Maar ons broers en susters in Ghana het gou ons nuwe familie geword. Daar was so baie Getuies daar! Ons het baie geleer by die lojaliteit en sterk geloof van ons nuwe vriende. Toe, nadat ons 13 jaar lank in Ghana gedien het, het ons nog ’n verrassing gekry. Ons is gevra om in Kenia by die takkantoor vir Oos-Afrika te gaan dien. Ons het natuurlik ons broers en susters in Ghana en Liberië baie gemis, maar ons het onmiddellik nuwe vriende met die dierbare broers en susters in Kenia gemaak. Ons dien nog steeds in ’n wyd, uitgestrekte gebied waar daar ’n baie groot behoefte is.

Saam met nuwe vriende in ons huidige toewysing in Kenia, 2023

WAT ONS UIT ONS VERSKILLENDE TOEWYSINGS GELEER HET

Anne: In my lewe het ek baie moeilike omstandighede deurgemaak en met tye was ek baie bang. Gevaarlike of stresvolle situasies kan beide ’n fisiese en emosionele uitwerking op ons hê. Ons word nie op ’n wonderdadige manier teen hierdie dinge beskerm nie. Selfs nou as ek geweerskote hoor, voel ek naar en kan ek nie my hande voel nie. Maar ek het geleer om staat te maak op al die hulp wat Jehovah ons gee om ons te versterk, insluitende die ondersteuning van ons broers en susters. En ek het gesien dat wanneer ons aanhou studeer, bid, vergaderinge toe gaan en preek, Jehovah ons kan help om in ons toewysing te bly.

Paul: Partykeer vra mense ons: “Is julle lief vir julle toewysing?” Lande kan pragtig wees, maar hulle kan ook onstabiel en gevaarlik word. So waarvoor is ons liewer as die land? Die dierbare broers en susters, ons familie. Al verskil ons agtergronde, dink en voel ons dieselfde oor Jehovah. Ons het gedink dat ons gestuur is om hulle aan te moedig, maar in werklikheid het hulle ons versterk.

Ons wêreldwye broederskap is ’n wonderwerk van Jehovah! Ons het oral familie! So lank as wat ons deel van ’n gemeente is, het ons ’n familie en ’n huis. Ons is oortuig dat Jehovah ons sal versterk volgens wat ons nodig het as ons aanhou om op hom te vertrou. – Fil. 4:13.