Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 45

LIED 138 Grysheid is ’n kroon

Leer uit die laaste woorde van getroue mans

Leer uit die laaste woorde van getroue mans

“Word wysheid nie by die bejaardes gevind nie, en kom insig nie met die ouderdom nie?”JOB 12:12.

DOEL

Gehoorsaamheid aan Jehovah God lei tot seëninge nou en tot ewige lewe in die toekoms.

1. Hoekom kan ons by ouer persone leer?

 ONS almal het leiding nodig om belangrike besluite in die lewe te maak. Ons kan baie van daardie leiding by ouermanne en ander volwasse Christene kry. As hulle baie ouer as ons is, moet ons nie outomaties dink dat hulle raad outyds is nie. Jehovah wil hê dat ons by ouer persone moet leer. Hulle het baie meer tyd as ons gehad om ondervinding, insig en wysheid op te doen. – Job 12:12.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In Bybeltye het Jehovah getroue ouer persone gebruik om sy volk aan te moedig en te lei. Dink byvoorbeeld aan Moses, Dawid en die apostel Johannes. Hulle het op verskillende tye gelewe, en hulle omstandighede was baie anders. Soos hulle nader aan die einde van hulle lewe gekom het, het hulle wyse raad aan jonger persone gegee. Elkeen van hierdie getroue ouer mans het beklemtoon hoe belangrik dit is om aan God gehoorsaam te wees. Jehovah het hulle wyse woorde vir ons vandag bewaar. Ons kan baat vind by hulle raad, of ons nou jonk of oud is (Rom. 15:4; 2 Tim. 3:16). In hierdie artikel sal ons kyk na die laaste woorde van hierdie drie ouer mans en die lesse wat ons kan leer uit wat hulle gesê het.

JY SAL “’N LANG TYD” BESTAAN

3. Op watter maniere het Moses God en sy volk gedien?

3 Moses was heeltemal aan Jehovah toegewy. Hy het as ’n profeet, ’n regter, ’n bevelvoerder en ’n geskiedskrywer gedien. Moses het baie lewensondervinding gehad. Hy het die nasie Israel uit slawerny in Egipte gelei, en hy het baie van Jehovah se wonderwerke persoonlik gesien. Jehovah het hom gebruik om die eerste vyf boeke van die Bybel, Psalm 90 en moontlik Psalm 91 te skryf. Hy het heel moontlik ook die boek Job geskryf.

4. Wie het Moses aangemoedig, en hoekom?

4 Kort voordat Moses op die ouderdom van 120 gesterf het, het hy al die Israeliete bymekaargeroep om hulle te herinner aan die dinge wat hulle gesien en ervaar het. Toe hulle jonk was, het party van sy luisteraars die baie tekens en wonderwerke van Jehovah gesien, sowel as sy oordele teen Egipte (Eks. 7:3, 4). Hulle het op droë grond deur die Rooisee geloop, en hulle het gesien hoe Farao se leërmag vernietig word (Eks. 14:29-31). In die wildernis het hulle Jehovah se beskerming en sorg ervaar (Deut. 8:3, 4). Nou terwyl die nasie gereed gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses hierdie laaste geleentheid aangegryp om die volk aan te moedig. a

5. Waarvan het Moses se laaste woorde in Deuteronomium 30:19, 20 die Israeliete verseker?

5 Wat het Moses gesê? (Lees Deuteronomium 30:19, 20.) Die nasie Israel het die vooruitsig op ’n wonderlike toekoms gehad. Met Jehovah se seën kon die Israeliete vir ’n lang tyd in die land woon wat hy aan hulle belowe het. En daardie land was pragtig en vrugbaar! Moses het dit aan hulle beskryf: “Groot en mooi stede wat julle nie gebou het nie, huise vol allerhande goeie dinge waarvoor julle nie gewerk het nie, uitgekapte reënputte wat julle nie gegrawe het nie en wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie.” – Deut. 6:10, 11.

6. Hoekom het God ander nasies toegelaat om Israel te oorwin?

6 Moses het die Israeliete ook ’n waarskuwing gegee. As hulle wou aanhou om in hulle pragtige land te woon, moes hulle Jehovah se gebooie gehoorsaam. Moses het hulle aangespoor om “die lewe [te] kies” deur na Jehovah te luister en “lojaal aan hom te bly”. Maar die Israeliete het Jehovah verwerp. So met verloop van tyd het God die Assiriërs en later die Babiloniërs toegelaat om hulle te oorwin en hulle gevange te neem. – 2 Kon. 17:6-8, 13, 14; 2 Kron. 36:15-17, 20.

7. Wat kan ons uit Moses se woorde leer? (Sien ook prent.)

7 Wat is die les vir ons? Gehoorsaamheid lei tot die lewe. Net soos die Israeliete wat op die drumpel van die Beloofde Land was, is ons op die punt om God se beloofde nuwe wêreld binne te gaan, waar ons sal sien hoe die aarde in ’n paradys verander word (Jes. 35:1; Luk. 23:43). Die Duiwel en sy demone sal nie daar wees nie (Op. 20:2, 3). Valse godsdiens sal mense nie meer van Jehovah af weglei nie (Op 1 7:16). Menseregerings sal dié wat onder hulle sorg is, nie meer onderdruk nie (Op. 19:19, 20). Daar sal glad nie plek vir rebelle in die Paradys wees nie (Ps. 37:10, 11). Alle mense sal Jehovah se regverdige wette gehoorsaam, wat eenheid en vrede bevorder. Almal sal mekaar liefhê en vertrou (Jes. 11:9). Wat ’n wonderlike vooruitsig! Wat meer is, as ons Jehovah gehoorsaam, kan ons aanhou om op ’n paradysaarde te lewe, nie net vir honderde jare nie maar vir ewig. – Ps. 37:29; Joh. 3:16.

As ons Jehovah gehoorsaam, kan ons op ’n paradysaarde lewe, nie net vir honderde jare nie maar vir ewig (Sien paragraaf 7)


8. Hoe het die belofte van die ewige lewe ’n sendeling gehelp? (Judas 20, 21)

8 As ons diep nadink oor God se belofte van die ewige lewe kan dit ons help om hom te gehoorsaam maak nie saak watter probleme ons dalk het nie. (Lees Judas 20, 21.) Daardie belofte kan ons ook help om teen ons persoonlike swakhede te veg. ’n Broer wat al jare lank ’n sendeling in Afrika is en met ’n aanhoudende vleeslike swakheid gesukkel het, het gesê: “Toe ek besef dat ek my vooruitsig om vir ewig te lewe, kon verloor, het dit my selfs meer vasbeslote gemaak om teen die probleem te veg en om Jehovah te smeek om my te help. Met sy hulp kon ek my probleem toe oorkom.”

“JY [SAL] SUKSESVOL WEES”

9. Watter moeilike tye het Dawid in sy lewe deurgemaak?

9 Dawid was ’n baie goeie koning. Hy was ook ’n musikant, ’n digter, ’n vegter en ’n profeet. Hy het baie moeilike tye deurgemaak. Vir ’n paar jaar het hy as ’n vlugteling gelewe toe hy van jaloerse koning Saul gevlug het. Nadat Dawid koning geword het, moes hy weer vir sy lewe vlug toe sy seun Absalom sy troon probeer steel het. Ten spyte van Dawid se probleme en persoonlike foute was hy lojaal aan God tot die einde van sy lewe. Jehovah het hom beskryf as “’n man na [Sy] hart”. Dit is die moeite werd om na Dawid se raad te luister. – Hand. 13:22; 1 Kon. 15:5.

10. Hoekom het Dawid raad aan sy seun en opvolger, Salomo, gegee?

10 Dink byvoorbeeld aan die raad wat Dawid aan sy seun en opvolger, Salomo, gegee het. Die jong man is deur Jehovah gekies om aan te hou om rein aanbidding te bevorder en om ’n tempel te bou om God te eer (1 Kron. 22:5). Salomo sou probleme ondervind. Wat het Dawid vir hom gesê? Kom ons kyk.

11. Waarvan het Dawid Salomo verseker volgens 1 Konings 2:2, 3, en hoe het hierdie woorde waar geword? (Sien ook prent.)

11 Wat het Dawid gesê? (Lees 1 Konings 2:2, 3.) Dawid het vir sy seun gesê dat hy suksesvol in die lewe sou wees as hy Jehovah gehoorsaam. En Salomo was jare lank baie suksesvol (1 Kron. 29:23-25). Hy het die indrukwekkende tempel gebou, hy het party boeke van die Bybel geskryf en van sy woorde is op ander plekke in die Bybel. Hy het bekend geword vir sy wysheid en rykdom (1 Kon. 4:34). Maar soos Dawid verduidelik het, sou Salomo net suksesvol wees as hy aan Jehovah God gehoorsaam was. Ongelukkig het Salomo later in sy lewe ander gode begin aanbid. Salomo het Jehovah se goedkeuring verloor, sowel as die wysheid om op ’n liefdevolle en regverdige manier te regeer. – 1 Kon. 11:9, 10; 12:4.

Dawid se laaste woorde aan sy seun Salomo help ons om te sien dat Jehovah ons die wysheid sal gee om goeie besluite te maak as ons gehoorsaam is aan hom (Sien paragraaf 11-12) b


12. Wat kan ons uit Dawid se woorde leer?

12 Wat is die les vir ons? Gehoorsaamheid lei tot sukses (Ps. 1:1-3). Jehovah het natuurlik nie belowe om ons die rykdom en die heerlikheid van Salomo te gee nie. Maar as ons ons God gehoorsaam, sal hy ons die wysheid gee wat ons sal help om goeie besluite te maak (Spr. 2:6, 7; Jak. 1:5). Sy beginsels kan ons lei wanneer dit by praktiese dinge kom soos sekulêre werk, opvoeding, vermaak en geldsake. As ons sy raad volg, beskerm ons ons verhouding met hom en sal ons ewige lewe hê (Spr. 2:10, 11). Ons sal sterk vriendskappe ontwikkel. En ons sal die leiding hê wat ons nodig het vir ’n gelukkige gesinslewe.

13. Hoe het Carmen ware sukses in die lewe gevind?

13 Carmen, wat in Mosambiek bly, het gedink dat hoër onderwys die sleutel tot sukses is. Sy het universiteit toe gegaan en argitektuur gestudeer. “Ek het geniet wat ek geleer het,” het sy geskryf. “Maar dit het so baie van my tyd en energie geneem. Ek was by die skool vanaf half agt die oggend tot sesuur die aand. Dit was moeilik om by vergaderinge uit te kom, en my geestelikheid het daaronder gely. Diep binne my het ek besef dat ek twee meesters probeer dien” (Matt. 6:24). Sy het oor haar situasie gebid, en navorsing in ons publikasies gedoen. Sy het bygevoeg: “Nadat ek goeie raad by volwasse broers en by my ma gekry het, het ek besluit om die universiteit te verlaat om Jehovah voltyds te dien. Dit het my gehelp om die beste keuses in my lewe te maak, en ek is oor niks spyt nie.”

14. Wat was Moses en Dawid se hoofboodskap?

14 Moses en Dawid was lief vir Jehovah en het geweet dat dit baie belangrik is om hom te gehoorsaam. In hulle laaste woorde het hulle hulle luisteraars aangemoedig om hulle voorbeeld na te volg deur lojaal aan Jehovah hulle God te bly. Hulle albei het ook gewaarsku dat dié wat Jehovah sou verlaat, sy goedkeuring sou verloor, sowel as die seëninge wat hy aan hulle belowe het. Hulle raad is vandag vir ons waardevol. Honderde jare later het nog ’n kneg van Jehovah ook verduidelik hoe belangrik dit vir ons is om getrou aan God te bly.

“NIKS GEE MY GROTER VREUGDE”

15. Wat het die apostel Johannes gedurende sy lewe ondervind?

15 Johannes was ’n geliefde apostel van Jesus Christus (Matt. 10:2; Joh. 19:26). Johannes was saam met Jesus regdeur sy bediening, hy het sy wonderwerke gesien en gedurende moeilike tye by hom gebly. Hy was daar toe Jesus doodgemaak is en het hom gesien nadat hy opgewek is. Hy het ook gesien hoe die Christelike geloof in die eerste eeu gegroei het – van ’n klein groepie getroues totdat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is”. – Kol. 1:23.

16. Wie het al by Johannes se briewe baat gevind?

16 Na aan die einde van sy lang lewe was Johannes bevoorreg om by te dra tot God se geïnspireerde Woord. Hy het die indrukwekkende “openbaring deur Jesus Christus” neergeskryf (Op. 1:1). Johannes het die Evangelieverslag wat sy naam dra, geskryf. Hy het ook drie geïnspireerde briewe geskryf. Hy het sy derde brief aan ’n getroue Christen met die naam Gajus geskryf, wat vir Johannes soos ’n geliefde geestelike kind was (3 Joh. 1). Teen daardie tyd was daar sekerlik baie wat vir Johannes soos geestelike kinders was. Wat hierdie getroue ouer man geskryf het, het al Jesus se volgelinge tot in ons dag aangemoedig.

17. Volgens 3 Johannes 4, wat bring groot vreugde?

17 Wat het Johannes geskryf? (Lees 3 Johannes 4.) Johannes het geskryf oor die vreugde wat dit bring om gehoorsaam aan God te wees. Teen die tyd dat Johannes sy derde brief geskryf het, het party persone valse leringe versprei en verdeeldhede veroorsaak. Maar ander het aangehou om “die weg van die waarheid [te] volg”. Hulle het Jehovah gehoorsaam en “volgens sy gebooie [gelewe]” (2 Joh. 4, 6). Hierdie getroue Christene het nie net vir Johannes vreugde gebring nie, maar ook vir Jehovah. – Spr. 27:11.

18. Wat kan ons uit Johannes se woorde leer?

18 Wat is die les vir ons? Getrouheid lei tot vreugde (1 Joh. 5:3). Byvoorbeeld, ons is vreugdevol omdat ons Jehovah gelukkig maak. Dit maak hom bly om te sien dat ons die versoekings van die wêreld verwerp en die waarheid aanvaar (Spr. 23:15). Ander in die hemel is ook bly (Luk. 15:10). Ons kan ook vreugde vind wanneer ons sien dat ander getrou bly, veral gedurende moeilike tye en wanneer hulle in die versoeking kom om iets verkeerds te doen (2 Tess. 1:4). En wanneer Satan se wêreld vernietig word, sal ons bly wees dat ons lojaal aan Jehovah gebly het.

19. Wat het ’n suster met die naam Rachel gesê oor hoe sy voel wanneer sy die waarheid aan ander leer? (Sien ook prent.)

19 Ons is veral vreugdevol wanneer ons die waarheid met ander deel. Rachel, wat in die Dominikaanse Republiek bly, voel dat dit ’n onbeskryflike voorreg is om iemand oor die wonderlike God wat ons dien, te leer. Sy sê die volgende oor haar geestelike kinders: “Dit is moeilik om die vreugde te beskryf wat ek voel wanneer ek sien hoe dié wat ek leer, Jehovah begin liefkry, leer om hom te vertrou en hulle lewens verander om hom gelukkig te maak. Daardie vreugde is groter as enige moeite wat ek dalk ingesit het of enige opoffering wat ek dalk gemaak het om hulle te leer.”

Dit gee ons vreugde wanneer ons ander leer om Jehovah lief te hê en te gehoorsaam (Sien paragraaf 19)


VIND BAAT BY DIE LAASTE WOORDE VAN GETROUE MANS

20. Wat het ons in gemeen met Moses, Dawid en Johannes?

20 Die tye en omstandighede waarin Moses, Dawid en Johannes gelewe het, is anders as ons s’n. Maar ons het baie in gemeen met hulle. Hulle het die ware God gedien, en dit is ook die geval met ons. Soos hulle bid ons tot Jehovah en vertrou ons op hom vir hulp en leiding. En soos daardie manne van ouds het ons die vertroue dat Jehovah dié wat hom gehoorsaam, ryklik seën.

21. Watter seëninge wag op dié wat luister na die raad van sulke getroue ouer persone soos Moses, Dawid en Johannes?

21 So laat ons na die laaste woorde van daardie ouer mans luister deur Jehovah se gebooie te gehoorsaam. Dan sal ons ware sukses hê in alles wat ons doen. Ons sal lewe hê en “’n lang tyd” bestaan, ja, vir ewig (Deut. 30:20). En ons sal die vreugde hê wat ons ondervind wanneer ons ons liefdevolle hemelse Vader bly maak, wat al sy beloftes vervul op maniere wat baie beter is as enige iets wat ons ons ooit kan voorstel. – Ef. 3:20.

LIED 129 Ons sal volhard

a Die oorgrote meerderheid Israeliete wat Jehovah se wonderwerke by die Rooisee gesien het, het nie die geleentheid gehad om die Beloofde Land te sien nie (Num. 14:22, 23). Jehovah het gesê dat dié wat 20 jaar en ouer is en wat geregistreer is, in die wildernis sou sterf (Num. 14:29). Maar Josua, Kaleb en baie van die jonger geslag en van die stam van Levi het lank genoeg gelewe om te sien hoe Jehovah sy belofte vervul toe Israel die Jordaanrivier oorgesteek het en Kanaän binnegegaan het. – Deut. 1:24-40.

b BESKRYWING VAN PRENT: Links: Dawid gee aan sy seun Salomo ’n paar laaste woorde van wysheid. Regs: Studente by ’n Pionierdiensskool vind baat by teokratiese onderrigting.