Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

1918 — Honderd jaar gelede

1918 — Honderd jaar gelede

Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Januarie 1918 het met die volgende woorde begin: “Wat hou die jaar 1918 vir ons in?” Die Groot Oorlog was nog steeds in Europa aan die gang, maar gebeure vroeg in daardie jaar het dit laat lyk asof dinge beter sou word vir die Bybelstudente en vir die wêreld oor die algemeen.

DIE WÊRELD PRAAT VAN VREDE

Op 8 Januarie 1918 het president Woodrow Wilson, in sy toespraak aan die Amerikaanse Kongres, 14 punte genoem wat hy gevoel het noodsaaklik is vir ’n “regverdige en stabiele vrede”. Hy het voorgestel dat nasies openlik saamwerk, dat wapens verminder word en dat ’n “algemene bondgenootskap van nasies” gestig word wat “groot en kleiner state” sou bevoordeel. Hierdie “Veertien punte” is later gebruik om die Volkebond te vorm. Dit is ook gebruik in die onderhandeling van die Verdrag van Versailles, wat die Groot Oorlog tot ’n einde gebring het.

TEENSTANDERS WORD OORWIN

Ten spyte van die probleme van die vorige jaar, * het gebeure by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap dit laat lyk asof daar binnekort ook vir die Bybelstudente vrede sou wees.

By hierdie vergadering, wat op 5 Januarie 1918 gehou is, het ’n paar belangrike manne wat vroeër gevra is om Bethel te verlaat, probeer om die beheer van die organisasie oor te neem. Richard H. Barber, ’n getroue reisende opsiener, het die vergadering met ’n gebed geopen. Ná ’n verslag oor die vorige jaar se werk, is die jaarlikse verkiesing van die direkteure gehou. Broer Barber het Joseph Rutherford en ses ander broers genomineer. Toe het ’n prokureur, wat ’n ondersteuner van die teenstanders was, sewe ander manne genomineer, insluitende diegene wat gevra is om Bethel te verlaat. Maar hulle het nie gewen nie. Broer Rutherford en ses ander getroue broers is deur ’n oorweldigende meerderheid gekies om die direkteure te wees.

Baie broers wat by hierdie vergadering was, het gesê dat dit “die mees geseënde byeenkoms was wat hulle ooit bygewoon het”. Maar hulle vreugde het nie lank gehou nie.

REAKSIE OP DIE BOEK THE FINISHED MYSTERY

Die Bybelstudente was reeds ’n hele paar maande lank besig om die boek The Finished Mystery te versprei. Opregte mense het positief gereageer op die Bybelwaarhede daarin.

E.F. Crist, ’n reisende opsiener in Kanada, het vertel van ’n paartjie wat The Finished Mystery gelees het en die waarheid in net vyf weke aanvaar het! Hy het gesê: “Die man en vrou is albei ten volle toegewyd en maak wonderlike vordering.”

’n Man wat hierdie boek gekry het, het dadelik vir sy vriende daarvan vertel. Die boodskap daarin het hom “getref”. Hy vertel: “Ek het in Derdelaan afgestap [en] toe het iets my teen die skouer getref. Ek het gedink dat dit ’n baksteen was, maar dit was ‘The Finished Mystery’. Ek het dit huis toe gevat en dit deurgelees. . . . Later het ek uitgevind dat dit ’n prediker was . . . wat die boek by die venster uitgegooi het omdat hy baie kwaad was. . . . Ek glo vas dat hy deur daardie een daad meer mense gehelp het om ’n hoop vir die lewe te hê as deur enigiets anders wat hy ooit in sy lewe gedoen het. . . . Hierdie prediker se woede is die rede waarom ons God nou prys.”

Daardie prediker was nie die enigste een wat so gereageer het nie. Op 12 Februarie 1918 het die owerheid in Kanada die boek verban. Hulle het beweer dat die boek verklarings bevat wat teen die regering en die oorlogspoging is. Die owerheid in die Verenigde State het kort daarna dieselfde gedoen. Regeringsamptenare het die Bethelhuis en die kantore in New York, Pennsilvanië en Kalifornië deursoek om bewyse teen die leiers van die organisasie te kry. Op 14 Maart 1918 het die Amerikaanse Departement van Justisie The Finished Mystery verban. Hulle het beweer dat die druk en verspreiding van hierdie boek die oorlogspoging beperk, wat ’n oortreding van die Wet op Spioenasie was.

IN DIE TRONK!

Op 7 Mei 1918 het die Departement van Justisie toestemming gekry om die volgende broers te arresteer: Giovanni DeCecca, George Fisher, Alexander Macmillan, Robert Martin, Frederick Robison, Joseph Rutherford, William Van Amburgh en Clayton Woodworth. Hulle is daarvan aangekla dat hulle ‘onwettig en doelbewus veroorsaak dat mense opstandig en dislojaal is en weier om diens in die weermag en vloot van die Verenigde State te doen’. Hulle verhoor het op 5 Junie 1918 begin, maar almal het geweet dat hulle skuldig bevind gaan word. Hoekom?

Die prokureur-generaal van die Verenigde State het die Wet op Spioenasie, wat hierdie broers na bewering oortree het, ’n “effektiewe wapen teen propaganda” genoem. Op 16 Mei 1918 het die Kongres ’n verandering aan hierdie Wet verwerp. Hierdie verandering sou diegene beskerm wat iets publiseer “wat waar is, dit met goeie motiewe doen en vir ’n grondige rede”. ’n Groot gedeelte van hulle debat was oor The Finished Mystery. In verband daarmee sê die amptelike verslag van die Amerikaanse Kongres: “Een van die gevaarlikste voorbeelde van hierdie soort propaganda is die boek ‘The Finished Mystery’. . . . Dit veroorsaak net dat soldate nie meer in ons doel glo nie en . . . dat mense daarteen gekant is om vir militêre diens opgeroep te word.”

Op 20 Junie 1918 is die agt broers op al die aanklagte skuldig bevind. Die volgende dag is hulle deur die regter gevonnis. Hy het gesê: “Die godsdienspropaganda wat ywerig deur hierdie beskuldigdes ondersteun en versprei is . . . is gevaarliker as ’n afdeling van die Duitse weermag. . . . Daarom . . . moet hulle swaar gestraf word.” Twee weke later is hierdie agt broers na die Federale Gevangenis in Atlanta, Georgia, gestuur waar hulle tronkstraf van tussen 10 tot 20 jaar moes uitdien.

DIE PREDIKINGSWERK GAAN VOORT

Gedurende hierdie tyd is die Bybelstudente erg teëgestaan. Die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) het hulle bedrywighede deeglik ondersoek en het duisende dokumente bymekaargemaak. Hierdie dokumente wys dat ons broers vasbeslote was om aan te hou preek.

In ’n brief aan die FBI het die posmeester van Orlando, Florida, geskryf: “[Die Bybelstudente] gaan van huis tot huis in die dorp, en hulle doen dit meestal in die nag. . . . Dit lyk asof hulle nog steeds moeilikheid probeer maak.”

’n Kolonel in die Departement van Oorlog het aan die FBI geskryf om verslag te doen oor die bedrywighede van Frederick W. Franz, wat later op die Bestuursliggaam gedien het. Die kolonel het geskryf: “F.W. Franz . . . het aktief deelgeneem aan die verkope van omtrent ’n duisend uitgawes van die ‘Finished Mystery’.”

Charles Fekel, wat ook later op die Bestuursliggaam gedien het, is erg vervolg. Hy is deur die owerheid gearresteer omdat hy The Finished Mystery versprei het, en hulle het sy persoonlike briewe gemonitor. Hy was ’n maand lank in die tronk in Baltimore, Maryland, en is geklassifiseer as ’n “Oostenrykse vyandige vreemdeling”. Terwyl hy moedig vir sy ondervraers getuig het, het hy gedink aan Paulus se woorde in 1 Korintiërs 9:16, wat sê: “Wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!” *

Behalwe dat hulle ywerig gepreek het, het die Bybelstudente ook met groot geesdrif ’n petisie laat onderteken vir die vrylating van die broers wat in Atlanta in die tronk was. Anna K. Gardner het vertel: “Ons was altyd besig met iets. Toe die broers tronk toe gestuur is, was dit ons werk om mense te kry om ’n petisie te onderteken. Ons het van deur tot deur gegaan en duisende handtekeninge gekry! Ons het vir die mense vertel dat hierdie manne ware Christene is en dat hulle onregverdig in die tronk gesit is.”

BYEENKOMSTE

Gedurende hierdie moeilike tyd is daar gereeld byeenkomste gehou om die broers geestelik te versterk. Die Wagtoring het gesê: “Daar is meer as veertig byeenkomste . . . gedurende die jaar gehou . . . Ons het baie goeie verslae van al hierdie byeenkomste ontvang. Voorheen is al die byeenkomste teen die einde van die somer of vroeg in die herfs gehou, maar nou is daar elke maand ’n byeenkoms.”

Opregte mense het nog steeds op die goeie nuus gereageer. Omtrent 1 200 het ’n byeenkoms in Cleveland, Ohio, bygewoon en 42 is gedoop. Een van hulle was ’n jong seun wie se “waardering vir God en beskouing van toewyding baie mense wat ouer as hy is, in die skande sou steek”.

WAT WAS VOLGENDE?

Teen die einde van 1918 was die Bybelstudente onseker oor hulle toekoms. Party eiendomme in Brooklyn is verkoop en die hoofkwartier is verskuif na Pittsburgh, Pennsilvanië. Terwyl die broers wat die leiding geneem het in die tronk was, is die volgende jaarvergadering vir aandeelhouers gereël, wat op 4 Januarie 1919 sou plaasvind. Wat sou gebeur?

Ons broers het aangehou met hulle werk. Hulle het soveel vertroue gehad dat dinge sou verbeter dat hulle Jesaja 54:17 as hulle jaarteks vir 1919 gekies het. Dit sê: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie.” Hulle was gereed vir ’n skielike en drastiese verandering wat hulle geloof sou versterk vir die groot werk wat voorgelê het.

^ par. 6 Sien “Honderd Jaar Gelede 1917” in die 2017 Jaarboek van Jehovah se Getuies, bl. 172-176.

^ par. 22 Sien Charles Fekel se lewensverhaal “Joys Through Perseverance in Good Work” in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1969.