Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behou innerlike vrede, al verander jou omstandighede

Behou innerlike vrede, al verander jou omstandighede

“Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak.” — PS. 131:2.

LIED: 128, 129

1, 2. Watter uitwerking kan dit op ’n Christen hê wanneer sy omstandighede onverwags verander? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Watter gesindheid, volgens Psalm 131, kan ons help om ons innerlike vrede te behou?

TOE Lloyd en Alexandra hoor dat hulle ’n nuwe toewysing gekry het, was hulle aan die begin hartseer. Hulle het reeds meer as 25 jaar by Bethel gewerk toe hulle gevra is om in die veld te gaan dien. Lloyd sê: “Dit het vir my gevoel asof Bethel en my toewysing deel geword het van wie ek is. Ek het die redes vir die verandering verstaan, maar in die weke en maande daarna het ek baie keer gevoel asof ek verwerp is.” Lloyd was die een oomblik positief oor die verandering en die volgende oomblik het hy moedeloos gevoel.

2 Wanneer ons omstandighede onverwags verander, kan dit ons angstig maak en emosionele stres veroorsaak (Spr. 12:25). Dit kan selfs vir ons moeilik wees om hierdie veranderinge te aanvaar. Hoe kan ons in sulke tye ons siel ‘tot bedaring bring en stilmaak’? (Lees Psalm 131:1-3.) Kom ons kyk hoe party van Jehovah se knegte in Bybeltye en in ons tyd hulle innerlike vrede behou het, al het hulle omstandighede verander.

HOE “DIE VREDE VAN GOD” ONS HELP

3. Hoe het Josef se lewe onverwags verander?

3 Josef was omtrent 17 jaar oud toe sy eie broers hom as ’n slaaf verkoop het omdat hulle jaloers was. Voordat dit gebeur het, was hy sy pa se gunsteling (Gen. 37:2-4, 23-28). Dit het omtrent 13 jaar lank baie sleg gegaan met hom in Egipte. Hy was eers ’n slaaf en toe in die tronk, en hy was ver weg van sy pa, Jakob, vir wie hy baie lief was. Wat het Josef gehelp om nie moedeloos en verbitterd te word nie?

4. (a) Waarop het Josef gefokus terwyl hy in die tronk was? (b) Hoe het Jehovah Josef se gebede beantwoord?

4 Terwyl Josef in die tronk was en baie swaargekry het, het hy waarskynlik gefokus op die bewyse dat Jehovah hom seën (Gen. 39:21; Ps. 105:17-19). Die profetiese drome wat Josef gehad het toe hy jonger was, sou hom ook daarvan verseker het dat Jehovah hom goedkeur (Gen. 37:5-11). Hy het moontlik meer as een keer sy hart voor Jehovah uitgestort (Ps. 145:18). Jehovah het Josef se gebede beantwoord deur hom die vertroue te gee dat Hy “met hom” sou wees, maak nie saak watter probleme hy sou deurmaak nie. — Hand. 7:9, 10. *

5. Watter uitwerking kan “die vrede van God” op ons begeerte hê om geestelike doelwitte na te streef?

5 Vandag kan ons ook, ten spyte van moeilike omstandighede, die kalmerende uitwerking ervaar van “die vrede van God” wat ons verstandelike vermoëns beskerm. (Lees Filippense 4:6, 7.) As ons op Jehovah vertrou wanneer gevoelens van angstigheid ons oorweldig, kan die vrede van God ons meer vasbeslote maak om ons geestelike doelwitte te bereik. Die vrede van God kan ons ook beskerm teen enige neiging om moed op te gee. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van persone in ons dag wat dit ervaar het.

VERTROU OP JEHOVAH OM JOU WEER INNERLIKE VREDE TE GEE

6, 7. Hoe kan dit ons help om weer innerlike vrede te kry as ons spesifiek is wanneer ons bid? Gee ’n voorbeeld.

6 Toe Ryan en Juliette hoor dat hulle toewysing as tydelike spesiale pioniers tot ’n einde gekom het, het hulle mismoedig gevoel. Ryan sê: “Ons het dadelik met Jehovah in gebed hieroor gepraat. Ons het geweet dat hierdie situasie ons ’n unieke geleentheid gee om te wys dat ons op hom vertrou. In ons gemeente was daar baie wat nuut in die waarheid was. Daarom het ons tot Jehovah gebid en hom gevra om ons te help om ’n goeie voorbeeld van geloof vir hulle te wees.”

7 Hoe het Jehovah hulle gebed beantwoord? Ryan sê: “Onmiddellik nadat ons gebid het, het die negatiewe gevoelens en bekommernisse wat ons eers gehad het, verdwyn. Die vrede van God het ons harte en verstandelike vermoëns beskerm. Ons het besef dat Jehovah ons nog steeds kon gebruik as ons die regte gesindheid behou.”

8-10. (a) Hoe kan God se gees ons help as ons angstig is? (b) Hoe kan Jehovah ons help wanneer ons probeer om op geestelike dinge te fokus?

8 God se gees help ons nie net om kalm te bly nie, maar ook om tekste te vind wat ons sal help om aan te hou om op geestelike dinge te fokus. (Lees Johannes 14:26, 27.) Kyk na die voorbeeld van Philip en Mary, ’n getroude paartjie wat amper 25 jaar lank by Bethel gedien het. Binne ’n tydperk van net vier maande het Philip se ma, Mary se ma en nog ’n familielid gesterf. Hulle moes ook vir Mary se pa, wat demensie het, begin sorg.

9 Philip vertel: “Ek het gedink dat ek die situasie goed hanteer, maar ek het gevoel dat daar nog iets nodig was. Toe het ek Kolossense 1:11 in ’n Wagtoring-studieartikel gesien. Ja, ek was besig om te volhard, maar nie in die volle sin van die woord nie. Ek moes ‘ten volle volhard met lankmoedigheid en vreugde’. Hierdie teks het my daaraan herinner dat my vreugde nie van my omstandighede afhang nie. Dit hang eerder af van die uitwerking wat God se gees op my lewe het.”

10 Jehovah het Philip en Mary op baie maniere geseën omdat hulle hard probeer het om hulle geestelike fokus te behou, ten spyte van hulle omstandighede. Kort nadat hulle Bethel verlaat het, het hulle albei Bybelstudies begin met persone wat goeie vordering gemaak het en wat meer as een keer ’n week die Bybel wou studeer. Mary onthou daardie tyd en sê: “Hulle het ons baie vreugde gebring, en dit was Jehovah se manier om vir ons te wys dat alles sou uitwerk.”

GEE JEHOVAH IETS OM TE SEËN

Hoe kan ons Josef se voorbeeld navolg, maak nie saak wat ons omstandighede is nie? (Sien paragraaf 11-13)

11, 12. (a) Hoe het Josef vir Jehovah iets gegee om te seën? (b) Hoe is Josef beloon omdat hy volhard het?

11 Wanneer ons omstandighede skielik verander, kan ons maklik toelaat dat ons so bekommerd raak oor die toekoms dat ons aan niks anders kan dink nie. Dit kon met Josef gebeur het. Maar dit is duidelik dat hy besluit het om die beste van sy situasie te maak, en deur dit te doen het hy Jehovah iets gegee om te seën. Net soos Josef hard gewerk het vir Potifar, het hy ook hard gewerk toe hy in die tronk was en alles gedoen wat die hoofbeampte hom gegee het om te doen. — Gen. 39:21-23.

12 Op ’n dag het Josef die verantwoordelikheid gekry om twee mans te bedien wat voorheen belangrike posisies in Farao se huis gehad het. Omdat Josef hulle vriendelik behandel het, het hulle hom van hulle probleme vertel en ook van die vreemde drome wat hulle die vorige aand gehad het (Gen. 40:5-8). Josef het dit nie besef nie, maar hierdie gesprek sou later daartoe lei dat hy uit die tronk vrygelaat word. Alhoewel hy nog twee jaar in die tronk was, is hy uiteindelik vrygelaat en op dieselfde dag in ’n baie magtige posisie aangestel. Net Farao het meer mag as hy gehad. — Gen. 41:1, 14-16, 39-41.

13. Hoe kan ons Jehovah iets gee om te seën, maak nie saak wat ons omstandighede is nie?

13 Net soos Josef, is ons dalk ook in ’n situasie waaroor ons min of geen beheer het nie. Maar as ons geduldig bly en hard werk om die beste van ons omstandighede te maak, sal ons Jehovah iets gee om te seën (Ps. 37:5). Soms voel ons dalk “raadop”, maar ons sal nooit, soos die apostel Paulus dit gestel het, “heeltemal sonder uitweg” wees nie (2 Kor. 4:8). Hierdie woorde van Paulus sal ook in ons geval waar word, veral as ons op ons bediening gefokus bly.

BLY GEFOKUS OP JOU BEDIENING

14-16. Hoe het die evangeliedienaar Filippus op sy bediening gefokus gebly, al het sy omstandighede verander?

14 Die evangeliedienaar Filippus is ’n goeie voorbeeld van iemand wat op sy bediening gefokus gebly het, al het sy omstandighede verander. Nadat Stefanus ’n marteldood gesterf het, is die Christene in Jerusalem wreed vervolg. * Op daardie stadium het Filippus die voorreg gehad om in ’n nuwe toewysing te dien (Hand. 6:1-6). Die vervolging het veroorsaak dat die Christene moes vlug, maar Filippus wou nog steeds besig bly in Jehovah se diens. Hy het in Samaria gaan preek, ’n stad waar mense die goeie nuus moes hoor. — Matt. 10:5; Hand. 8:1, 5.

15 Filippus was bereid om na enige plek te gaan waar God se gees hom gelei het. Daarom het Jehovah hom gebruik om in nuwe gebiede te gaan preek. Die Samaritane was waarskynlik baie verbaas oor die onpartydige manier waarop Filippus hulle behandel het omdat die Jode hulle gewoonlik sleg behandel het. Dit is geen wonder dat baie mense na hom geluister het nie! — Hand. 8:6-8.

16 Toe het God se gees Filippus na Asdod en Sesarea gelei. Die meeste mense wat in hierdie stede gebly het, was heidene (Hand. 8:39, 40). Omtrent 20 jaar nadat Filippus vir die eerste keer in Samaria gepreek het, het sy omstandighede blykbaar weer verander. Hy het nou ’n gesin gehad en het in die gebied gebly waar hy gepreek het. Al het sy omstandighede verander, het Filippus op sy bediening gefokus gebly, en daarom het Jehovah hom en sy gesin ryklik geseën. — Hand. 21:8, 9.

17, 18. Hoe kan die feit dat ons op ons bediening fokus ons help om gebalanseerd te bly wanneer ons omstandighede verander?

17 Baie voltydse dienaars wie se omstandighede verander het, sal vir jou sê dat dit hulle gehelp het om gebalanseerd te bly deur op hulle bediening te fokus. Toe Osborne en Polite, ’n Suid-Afrikaanse paartjie, Bethel verlaat het, het hulle gedink dat hulle sommer gou deeltydse werk en blyplek sou kry. Maar Osborne sê: “Ongelukkig het ons nie so gou werk gekry soos wat ons gehoop het nie.” Sy vrou, Polite, sê: “Ons kon vir drie maande nie werk kry nie, en ons het nie spaargeld gehad nie. Dit was regtig baie moeilik.”

18 Wat het hulle gehelp om hierdie stresvolle situasie te hanteer? Osborne som dit soos volg op: “Om saam met die gemeente velddiens te doen het ons baie gehelp om ons gedagtes gefokus te hou en positief te bly. Ons het besluit om eerder in die predikingswerk besig te bly as om net te sit en ons te bekommer. En dit het ons baie vreugde gebring. Ons het oral werk gesoek, en toe uiteindelik iets gekry.”

WAG GEDULDIG OP JEHOVAH

19-21. (a) Wat sal ons help om ons innerlike vrede te behou? (b) Hoe kan dit ons persoonlik bevoordeel as ons by nuwe omstandighede aanpas?

19 Soos hierdie voorbeelde vir ons wys, sal ons ons innerlike vrede behou as ons die beste van ons omstandighede maak en geduldig op Jehovah wag. (Lees Miga 7:7.) Ons sal dalk selfs agterkom dat ons geestelik sterker geword het omdat ons by nuwe omstandighede aangepas het. Polite, wat vroeër genoem is, dink terug aan wat met haar gebeur het en sê: “Om ’n nuwe toewysing te kry het my geleer wat dit eintlik beteken om op Jehovah te vertrou, selfs al lyk dit asof dinge nie wil uitwerk nie. Ek het nou ’n sterker verhouding met hom.”

20 Mary, wat ook vroeër genoem is, sorg nog steeds vir haar bejaarde pa terwyl sy pionier. Sy erken: “Ek het geleer wat om te doen wanneer ek angstig is. Ek moet stop, bid en kalm word. Die grootste les wat ek geleer het, is om dinge in Jehovah se hande te los. En dit is iets wat in die toekoms baie nodig sal wees.”

21 Lloyd en Alexandra, wat aan die begin van die artikel genoem is, erken dat hulle nuwe omstandighede hulle geloof getoets het op maniere wat hulle nie verwag het nie. Maar hulle sê: “Toetse van geloof wys of ons geloof opreg is en of ons geloof sterk genoeg is om ons te ondersteun en te vertroos wanneer dinge moeilik raak. Dit maak jou ’n beter mens.”

Onverwagte veranderinge kan tot onverwagte seëninge lei! (Sien paragraaf 19-21)

22. Waarvan kan ons seker wees as ons probeer om die beste van ons omstandighede te maak?

22 Jou omstandighede kan dalk onverwags verander. Jy kry dalk ’n ander teokratiese toewysing, nuwe gesinsverantwoordelikhede of miskien verswak jou gesondheid. Maar wat ook al gebeur, jy kan daarvan seker wees dat Jehovah vir jou sal sorg en jou op die regte tyd sal help (Heb. 4:16; 1 Pet. 5:6, 7). Intussen moet jy probeer om die beste van jou situasie te maak. Kom nader aan jou hemelse Vader deur te bid, en leer om ten volle op hom te vertrou. Op hierdie manier sal jy ook jou innerlike vrede behou, al verander jou omstandighede.

^ par. 4 Die een of ander tyd nadat Josef uit die tronk vrygelaat is, het hy erken dat Jehovah hom gehelp het om sy pynlike herinneringe te vergeet deur hom ’n seun te gee. Daarom het hy sy eerste seun Manasse genoem (wat beteken “hy wat vergeetagtig maak; hy wat laat vergeet”), want hy het gesê: “God het my al my moeite . . . laat vergeet.” — Gen. 41:51.

^ par. 14 Sien die artikel “Het jy geweet?” in hierdie nommer van Die Wagtoring.