Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe het die dissipel Stefanus dit reggekry om so kalm te bly toe hy vervolg is?

STEFANUS het voor ’n groep vyandige manne gestaan. Hulle was lede van die Sanhedrin, die hoogste hof in Israel. Hierdie 71 regters was van die magtigste manne in die nasie. Hulle was bymekaargeroep deur die hoëpriester Kajafas. Hy was ook die een wat die leiding geneem het toe die hof Jesus ’n paar maande vroeër die doodsvonnis gegee het (Matt. 26:57, 59; Hand. 6:8-12). Terwyl hulle die een valse getuie na die ander ingeroep het, het hulle iets buitengewoons omtrent Stefanus opgemerk — sy gesig was “soos die gesig van ’n engel”. — Hand. 6:13-15.

Hoe het Stefanus dit reggekry om in hierdie intimiderende situasie kalm en rustig te bly? Voordat Stefanus voor die Sanhedrin gesleep is, was hy met die hulp van God se kragtige gees baie besig in sy bedieningswerk (Hand. 6:3-7). Hierdie selfde gees het hom vertroos en gehelp om dinge te onthou terwyl hy in die hof was (Joh. 14:16). In Handelinge hoofstuk 7 sien ons hoe heilige gees Stefanus gehelp het om sowat 20 gedeeltes uit die Hebreeuse Geskrifte te onthou terwyl hy homself moedig verdedig het (Joh. 14:26). Maar Stefanus se geloof is nog verder versterk toe hy ’n visioen gesien het van Jesus wat aan God se regterhand staan. — Hand. 7:54-56, 59, 60.

Ons sal dalk eendag ook gedreig en vervolg word (Joh. 15:20). As ons God se Woord gereeld studeer en besig bly in die bediening, kan Jehovah se gees ’n invloed op ons hê. Ons sal ook die krag kry om vervolging te weerstaan en om ons innerlike vrede te behou wanneer ons teëgestaan word. — 1 Pet. 4:12-14.