Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Broer Rutherford hou ’n toespraak by die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, 1919

1919 – Honderd jaar gelede

1919 – Honderd jaar gelede

TEEN 1919 het die Groot Oorlog (later bekend as die Eerste Wêreldoorlog), wat meer as vier jaar lank aangehou het, geëindig. Teen die einde van 1918 het die nasies opgehou om teen mekaar te veg, en op 18 Januarie 1919 het die Paryse Vredeskonferensie begin. Een van die dinge wat daardie konferensie bereik het, was die Verdrag van Versailles, wat ’n einde gebring het aan die Geallieerdes se oorlog teen Duitsland. Dit is op 28 Junie 1919 geteken.

Die verdrag het ook ’n nuwe organisasie gestig wat die Volkebond genoem is. Die doel van die Volkebond was om “internasionale samewerking te bevorder en om internasionale vrede en veiligheid te bewerkstellig”. Baie van die Christendom se kerke het die Volkebond ondersteun. Die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika het gesê dat dit “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde is”. Hierdie raad het die Volkebond ondersteun deur verteenwoordigers na die Paryse Vredeskonferensie te stuur. Een van hierdie verteenwoordigers het gesê dat die konferensie “die begin van ’n nuwe era in die geskiedenis van die wêreld is”.

’n Nuwe era het begin, maar nie as gevolg van die manne wat betrokke was by hierdie vredeskonferensie nie. In 1919 het ’n nuwe era in die predikingswerk begin toe Jehovah sy volk die krag gegee het om baie meer in die predikingswerk te doen as ooit tevore. Maar die Bybelstudente het eers ’n dramatiese verandering in hulle situasie nodig gehad.

’N MOEILIKE BESLUIT

Joseph F. Rutherford

Die jaarlikse verkiesing van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap se direkteure was geskeduleer vir Saterdag 4 Januarie 1919. Joseph F. Rutherford, wat die leiding onder Jehovah se volk geneem het, en sewe ander was gedurende daardie tyd onregverdig in die tronk in Atlanta, Georgia, VSA. Die vraag was: Moes die broers in die tronk wat ampsdraers was, herkies word? Of moes hulle vervang word?

Evander J. Coward

Terwyl broer Rutherford in die tronk was, was hy bekommerd oor die toekoms van die organisasie. Hy het geweet dat party broers gevoel het dat dit beter sou wees as iemand anders as president verkies word. Daarom het hy ’n brief geskryf aan dié wat by die vergadering sou wees en Evander J. Coward as president aanbeveel. Rutherford het Coward beskryf as “kalm”, “verstandig” en “lojaal aan die Here”. Maar baie broers wou die verkiesing vir ses maande uitstel. Die regspan wat die broers wat in die tronk was, verdedig het, het saamgestem. Terwyl hierdie saak bespreek is, het party broers ontsteld geword.

Richard H. Barber

Toe het iets gebeur wat almal laat kalmeer het. Richard H. Barber het later gesê dit was soos om ‘olie op water te gooi’. Een van die broers wat daar was, het gesê: “Ek is nie ’n regsgeleerde nie, maar waar dit by die wettigheid van die situasie kom, weet ek iets oor die wet van die lojales. Lojaliteit is wat God vereis. Ek kan my nie voorstel dat ons enige groter blyk van vertroue kan toon as om ’n verkiesing te hou en broer Rutherford as president te herkies nie.” – Ps. 18:25.

Alexander H. Macmillan

A. H. Macmillan, wat ook in die tronk was, het later vertel hoe broer Rutherford die volgende dag aan sy selmuur geklop en gesê het: “Steek jou hand uit.” Broer Rutherford het toe vir hom ’n telegram gegee. Macmillan het die kort boodskap gesien en onmiddellik geweet wat dit beteken. Die boodskap het gesê: “RUTHERFORD WISE VAN BARBER ANDERSON BULLY EN SPILL DIREKTEUR EERSTE DRIE AMPSDRAERS LIEFDE AAN ALMAL.” Dit het beteken dat al die direkteure herkies is en dat Joseph Rutherford en William Van Amburgh nog steeds die ampsdraers was. Broer Rutherford sou dus die president bly.

VRYGELAAT!

Terwyl die agt broers in die tronk was, het getroue Bybelstudente mense gevra om ’n petisie te teken om die regering te vra om die broers vry te laat. Hierdie dapper broers en susters het meer as 700 000 mense gekry om die petisie te teken. Op Woensdag 26 Maart 1919, voordat hulle die petisie ingehandig het, is broer Rutherford en die ander verantwoordelike broers vrygelaat.

Broer Rutherford het in ’n toespraak aan dié wat hom verwelkom het, gesê: “Ek is oortuig dat hierdie ondervinding waardeur ons almal gegaan het, ons vir moeiliker tye voorberei. . . . Julle stryd was nie om julle broers uit die tronk te kry nie. Dit was maar net ’n bysaak. . . . Hierdie stryd was om vir die Waarheid te getuig, en dié wat dit gedoen het, het ’n wonderlike seëning ontvang.”

Die manier waarop die verhoor van ons broers verloop het, kan ’n aanduiding gee dat Jehovah sake gerig het. Op 14 Mei 1919 het die appèlhof beslis: “Die beskuldigdes in hierdie saak het nie die . . . onpartydige verhoor gehad waarop hulle geregtig was nie, en daarom word die beslissing ter syde gestel.” Hierdie broers is skuldig bevind aan ernstige misdade, en hierdie beslissings sou op hulle rekords gebly het as hulle net vrygespreek is of as hulle vonnisse slegs versag is. Geen verdere aanklagte is teen hulle ingedien nie. Regter Rutherford kon dus sy regskwalifikasies behou om Jehovah se volk voor die Hooggeregshof van die Verenigde State te verdedig, iets wat hy baie keer gedoen het nadat hy vrygelaat is.

VASBESLOTE OM TE PREEK

“Ons was nie van plan om rond te sit en met ons duime te speel terwyl ons vir die Here wag om ons hemel toe te neem nie,” het broer Macmillan vertel. “Ons het besef dat ons iets moes doen om te bepaal wat die Here se wil regtig is.”

Maar die broers by hoofkwartier kon nie net aangaan met die werk wat hulle al jare lank gedoen het nie. Hoekom nie? Omdat al die drukplate wat gebruik is om lektuur te druk, vernietig is terwyl die broers in die tronk was. Dit was baie ontmoedigend, en party broers het gewonder of die predikingswerk tot ’n einde gekom het.

Het mense nog in die Koninkryksboodskap belanggestel wat die Bybelstudente verkondig het? Om hierdie vraag te beantwoord, het broer Rutherford besluit om ’n toespraak te hou. Almal is genooi. Broer Macmillan het gesê: “As niemand daardie vergadering bygewoon het nie, dan was ons klaar.”

’n Advertensie in die koerant vir broer Rutherford se toespraak “Die hoop vir die bekommerde mensdom” in Los Angeles, Kalifornië, 1919

Op Sondag 4 Mei 1919 het broer Rutherford, ten spyte van ’n ernstige siekte, die toespraak “Die hoop vir die bekommerde mensdom” in Los Angeles, Kalifornië, gehou. Omtrent 3 500 mense het die toespraak bygewoon, en honderde is weggewys omdat daar nie genoeg plek vir almal was nie. Die volgende dag het nog 1 500 mense die toespraak bygewoon. Die broers het hulle antwoord gekry – mense het nog belanggestel!

Wat die broers volgende gedoen het, het ’n invloed gehad op hoe die predikingswerk van Jehovah se Getuies tot vandag toe gedoen word.

GEREED VIR TOEKOMSTIGE GROEI

The Watch Tower van 1 Augustus 1919 het aangekondig dat ’n algemene byeenkoms vroeg in September by Cedar Point, Ohio, gehou sal word. “Almal het gevoel dat hulle daar moet wees,” het Clarence B. Beaty, ’n jong Bybelstudent van Missouri, gesê. Meer as 6 000 broers en susters het die byeenkoms bygewoon, baie meer as wat hulle verwag het. Wat die byeenkoms meer opwindend gemaak het, is dat meer as 200 mense in die Erie-meer daar naby gedoop is.

Die voorblad van die eerste uitgawe van The Golden Age, 1 Oktober 1919

Op 5 September 1919, die vyfde dag van die byeenkoms, het broer Rutherford in sy “Toespraak aan mede-arbeiders” aangekondig dat ’n nuwe tydskrif met die naam The Golden Age * vrygestel is. Dit sou “die huidige nuus oor belangrike gebeurtenisse bevat en ’n skriftuurlike verduideliking gee oor hoekom hierdie dinge gebeur”.

Al die Bybelstudente is aangemoedig om hierdie nuwe publikasie te gebruik en moedig te preek. ’n Brief wat beskryf het hoe die werk georganiseer moet word, het gesê: “Laat elke toegewyde [gedoopte] persoon onthou dat dit ’n groot voorreg is om te dien, en gryp die geleentheid nou aan om soveel as moontlik in die predikingswerk te doen.” Baie mense het die uitnodiging om te preek, aanvaar! Teen Desember het ywerige Koninkryksverkondigers meer as 50 000 intekeninge op hierdie nuwe tydskrif gekry.

Broers in Brooklyn, New York, staan voor ’n vragmotor wat gelaai is met The Golden Age

Teen die einde van 1919 was Jehovah se volk herorganiseer en vol nuwe krag. En ’n hele paar belangrike profesieë oor die laaste dae is vervul. Die toetsing en suiwering van Jehovah se volk, wat in Maleagi 3:1-4 voorspel is, is voltooi. Jehovah se volk is uit hulle simboliese gevangenskap aan “Babilon die Grote” vrygelaat, en Jesus het die “getroue en verstandige slaaf” aangestel (Op. 18:2, 4; Matt. 24:45). * Nou was die Bybelstudente gereed vir die werk wat Jehovah wou hê hulle moes doen.

^ par. 22 Die naam van The Golden Age is in 1937 na Vertroosting verander en in 1946 na Ontwaak!