Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 41

Bly getrou gedurende die “groot verdrukking”

Bly getrou gedurende die “groot verdrukking”

“Julle moet Jehovah liefhê, al sy lojales. Jehovah bewaar die getroues.” – PS. 31:23.

LIED 129 Ons sal volhard

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat sal die nasies binnekort aankondig? (b) Watter vrae moet beantwoord word?

STEL jou voor dat die nasies nou net die voorspelde aankondiging van “vrede en veiligheid” gemaak het. Hulle spog dalk dat die wêreld nog nooit so veilig was nie. Die nasies sal wil hê dat ons moet glo dat hulle die wêreld se probleme onder beheer het. Maar hulle het absoluut geen beheer oor wat volgende sal gebeur nie! Hoekom nie? Volgens Bybelprofesie “sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom . . . en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie”. – 1 Tess. 5:3.

2 Daar is belangrike vrae wat beantwoord moet word: Wat sal gedurende die “groot verdrukking” gebeur? Wat sal Jehovah gedurende daardie tyd van ons verwag? En hoe kan ons ons nou voorberei om getrou te bly gedurende die groot verdrukking? – Matt. 24:21.

WAT SAL GEDURENDE DIE “GROOT VERDRUKKING” GEBEUR?

3. Hoe sal God “Babilon die Grote” vernietig volgens Openbaring 17:5, 15-18?

3 Lees Openbaring 17:5, 15-18. “Babilon die Grote” sal vernietig word! Soos vroeër genoem is, sal die nasies geen beheer hê oor wat op hierdie stadium gebeur nie. Hoekom nie? Want “God [sal] dit in hulle harte [sit] om sy gedagte uit te voer”. Wat is daardie gedagte? Om die wêreldryk van valse godsdiens te vernietig, insluitende die Christendom. * God sal sy gedagte in die harte van “die tien horings” van die “skarlakenkleurige wilde dier” sit. Die tien horings stel al die regerings voor wat “die wilde dier”, die Verenigde Nasies, ondersteun (Op. 17:3, 11-13; 18:8). Wanneer hierdie regerings valse godsdiens aanval, sal dit die teken wees dat die groot verdrukking begin het. Dit sal regtig ’n rampspoedige gebeurtenis wees wat almal regoor die wêreld sal raak.

4. (a) Watter redes sal die nasies dalk gee waarom hulle valse godsdiens aanval? (b) Wat sal die mense wat aan daardie godsdienste behoort het, waarskynlik doen?

4 Ons weet nie watter redes die nasies dalk sal gee waarom hulle Babilon die Grote aanval nie. Hulle sal dalk sê dat die wêreld se godsdienste in die pad staan van vrede en dat hulle heeltyd inmeng in die politiek. Of hulle sal dalk sê dat hierdie godsdiensorganisasies te veel geld en eiendom bymekaargemaak het (Op. 18:3, 7). Dit lyk redelik om te dink dat hierdie aanval nie sal lei tot die vernietiging van al die lede van hierdie godsdienste nie. Dit lyk eerder of die nasies ontslae sal raak van die organisasies van hierdie godsdienste. Wanneer hierdie organisasies vernietig is, sal die mense wat voorheen aan hierdie godsdienste behoort het, besef dat hulle godsdiensleiers hulle in die steek gelaat het. Hulle sal dan waarskynlik sê dat hulle niks met hierdie godsdienste te doen het nie.

5. Watter belofte het Jehovah in verband met die groot verdrukking gemaak, en hoekom?

5 Die Bybel sê nie hoe lank die vernietiging van Babilon die Grote sal neem nie, maar ons weet wel dat dit nie baie lank sal neem nie (Op. 18:10, 21). Jehovah het belowe dat hy die dae van die groot verdrukking sal “verkort” sodat sy “uitverkorenes” en ware godsdiens sal oorleef (Mark. 13:19, 20). Maar wat sal Jehovah van ons verwag vanaf die begin van die groot verdrukking tot en met die oorlog van Armageddon?

HOU AAN OM DIE WARE GODSDIENS TE BEOEFEN

6. Wat moet ons nog doen, behalwe om alle bande met valse godsdiens te verbreek?

6 Soos ons in die vorige artikel gesien het, verwag Jehovah dat sy aanbidders heeltemal van Babilon die Grote moet wegbly. Maar dit beteken dat ons meer moet doen as om net bande met valse godsdiens te verbreek. Ons moet vasbeslote wees om ware godsdiens te beoefen – die ware aanbidding van Jehovah. Kom ons kyk na twee maniere hoe ons dit kan doen.

Laat ons nooit ophou om saam te vergader nie, selfs gedurende moeilike tye (Sien paragraaf 7) *

7. (a) Hoe kan ons getrou by Jehovah se regverdige sedelike standaarde bly? (b)Hoe wys Hebreërs 10:24, 25 dat dit belangrik is om saam te vergader, veral nou?

7 Eerstens, ons moet getrou by Jehovah se regverdige sedelike standaarde bly. Ons moet nooit die wêreld se sedelike gedrag goedkeur nie. Byvoorbeeld, ons keer nie enige soort seksuele onsedelikheid goed nie, insluitende huwelike tussen mense van dieselfde geslag en ander homoseksuele gedrag (Matt. 19:4, 5; Rom. 1:26, 27). Tweedens, ons moet aanhou om saam met ons broers en susters te aanbid. Ons doen dit waar ons ook al kan, of dit nou in ons Koninkryksale is, of waar dit nodig is, in private huise of selfs in die geheim. Maak nie saak wat gebeur nie, ons moenie ophou om bymekaar te kom vir aanbidding nie. Om die waarheid te sê, ons moet al hoe meer saam vergader “namate [ons] die dag sien nader kom”. – Lees Hebreërs 10:24, 25.

8. Hoe sal ons boodskap waarskynlik in die toekoms verander?

8 Gedurende die groot verdrukking sal die boodskap wat ons verkondig, waarskynlik verander. Op die oomblik verkondig ons die goeie nuus van die Koninkryk en ons probeer om dissipels te maak. Maar gedurende die groot verdrukking sal ons moontlik ’n boodskap verkondig wat baie direk is. Die Bybel vergelyk daardie boodskap met groot haelstene (Op. 16:21). Ons sal dalk verkondig dat Satan se wêreld binnekort heeltemal vernietig sal word. Ons sal later uitvind presies wat ons boodskap sal wees en hoe ons dit sal verkondig. Sal ons dieselfde metode gebruik wat ons al meer as honderd jaar lank gebruik om die predikingswerk te doen? Of sal ons ander metodes gebruik? Ons sal maar moet kyk wat gebeur. Dit maak nie saak hoe ons sal preek nie, dit lyk of ons die voorreg sal hê om Jehovah se oordeelsboodskap moedig te verkondig! – Eseg. 2:3-5.

9. Hoe sal die nasies moontlik op ons boodskap reageer, maar waarvan kan ons seker wees?

9 Ons boodskap sal heel waarskynlik veroorsaak dat die nasies sal probeer om ons predikingswerk heeltemal stop te sit. Net soos ons Jehovah se ondersteuning nou in die bediening nodig het, sal ons daardie tyd ook Jehovah se ondersteuning nodig hê. Ons kan daarvan seker wees dat God ons die krag sal gee om sy wil uit te voer. – Miga 3:8.

WEES GEREED VIR DIE AANVAL OP GOD SE VOLK

10. Wat sal volgens Lukas 21:25-28 die meeste mense se reaksie wees op die dinge wat gedurende die groot verdrukking sal gebeur?

10 Lees Lukas 21:25-28. Gedurende die groot verdrukking sal mense geskok wees wanneer hulle sien hoe alles wat hulle gedink het vir ewig sal bly staan, ineenstort. Hulle sal in “angs” wees en vir hulle lewe vrees gedurende die donkerste tyd in die mens se geskiedenis (Sef. 1:14, 15). Gedurende daardie tyd sal die lewe moeiliker word, selfs vir Jehovah se volk. Omdat ons nog steeds geen deel van die wêreld is nie, sal ons dalk swaar tye deurmaak en sonder die basiese dinge moet klaarkom.

11. (a) Nadat valse godsdiens vernietig is, hoekom sal mense en wêreldleiers se aandag op Jehovah se Getuies wees? (b) Hoekom hoef ons nie bang te wees vir die groot verdrukking nie?

11 Op die een of ander stadium sal die mense wie se godsdiens vernietig is, dalk kwaad wees dat Jehovah se Getuies nog steeds hulle geloof beoefen. Ons kan ons net indink watter drama dit dalk sal veroorsaak, insluitende op sosiale media. Die nasies en hulle heerser, Satan, sal ons haat omdat ons godsdiens die enigste een is wat nie vernietig is nie. Hulle sou nie hulle doelwit bereik het om alle godsdienste te vernietig nie. So al hulle aandag sal dan op ons wees. Op daardie stadium sal die nasies Gog van Magog word. * Hulle sal saamspan om Jehovah se volk met al hulle mag aan te val (Eseg. 38:2, 14-16). Dit kan ons dalk bekommer as ons dink aan alles wat moontlik gedurende die groot verdrukking kan gebeur, veral omdat ons nie al die besonderhede het nie. Maar een ding is seker: Ons hoef nie bang te wees vir die groot verdrukking nie. Jehovah sal ons instruksies gee wat ons lewe kan red (Ps. 34:19). Ons sal dan ‘regop kan staan en ons kop oplig’, want ons sal weet dat ons ‘verlossing nader kom’. *

12. Hoe berei “die getroue en verstandige slaaf” ons voor vir wat in die toekoms sal gebeur?

12 “Die getroue en verstandige slaaf” is besig om ons voor te berei om getrou te bly gedurende die groot verdrukking (Matt. 24:45). Hulle doen dit op baie maniere, maar kom ons kyk na net een voorbeeld: Ons streekbyeenkomsprogramme vir die jare 2016-2018. Deur middel van hierdie programme is ons aangemoedig om die eienskappe te versterk wat ons nodig sal hê terwyl Jehovah se dag nader kom. Kom ons kyk kortliks na hierdie eienskappe.

HOU AAN OM JOU LOJALITEIT, VOLHARDING EN MOED TE VERSTERK

Berei nou voor om die “groot verdrukking” te oorleef (Sien paragraaf 13-16) *

13. Hoe kan ons ons lojaliteit aan Jehovah versterk, en hoekom moet ons dit nou doen?

13 Lojaliteit: Die tema van die streekbyeenkomsprogram vir 2016 was “Bly lojaal aan Jehovah!” By hierdie byeenkoms het ons geleer dat ons lojaal aan Jehovah sal bly as ons ’n sterk persoonlike verhouding met hom het. Ons is daaraan herinner dat ons nader aan Jehovah kan kom as ons uit die hart tot hom bid en sy Woord ywerig studeer. Wanneer ons dit doen, gee dit ons die krag om selfs die moeilikste probleme te oorkom. Terwyl die einde van Satan se wêreld al hoe nader kom, kan ons verwag dat ons lojaliteit aan God en sy Koninkryk selfs meer getoets sal word. Mense sal waarskynlik aanhou om ons te spot (2 Pet. 3:3, 4). Dit sal dalk meer en meer gebeur, veral omdat ons geen deel van Satan se wêreld ondersteun nie. Ons moet ons lojaliteit nou versterk sodat ons gedurende die groot verdrukking lojaal sal bly.

14. (a) Watter verandering sal plaasvind in verband met die broers wat die leiding op die aarde neem? (b) Hoekom sal ons gedurende daardie tyd lojaal moet wees?

14 Gedurende die groot verdrukking sal daar ’n verandering wees in verband met die broers wat die leiding op die aarde neem. Op die een of ander stadium sal al die gesalfdes wat nog op die aarde is, hemel toe geneem word om in die oorlog van Armageddon te veg (Matt. 24:31; Op. 2:26, 27). Dit beteken dat die Bestuursliggaam nie meer saam met ons op die aarde sal wees nie. Maar die groot menigte sal nog steeds georganiseerd wees. Bekwame broers wat deel is van die ander skape, sal die leiding neem. Ons sal moet wys dat ons lojaal is aan Jehovah deur hierdie broers te ondersteun en die instruksies te volg wat hulle van hom ontvang. Ons lewe hang daarvan af!

15. Hoe kan ons ons volharding versterk, en hoekom is dit belangrik om dit nou te doen?

15 Volharding: Die tema van die streekbyeenkomsprogram vir 2017 was “Moenie opgee nie!” By hierdie byeenkoms het ons geleer hoe om gedurende moeilike tye te volhard. Ons het geleer dat ons volharding nie van gunstige omstandighede afhang nie. Ons kan ons volharding versterk deur op Jehovah te vertrou (Rom. 12:12). Laat ons nooit Jesus se belofte vergeet nie: “Wie tot die einde toe volhard . . . sal gered word” (Matt. 24:13). Hierdie belofte beteken dat ons getrou moet bly ten spyte van enige uitdagings wat ons dalk het. As ons nou gedurende al ons beproewinge volhard, sal ons geloof sterker word voordat die groot verdrukking begin.

16. Wat bepaal of ons moedig is, en hoe kan ons nou ons moed versterk?

16 Moed: Die tema van die streekbyeenkomsprogram vir 2018 was “Wees moedig!” Hierdie byeenkoms het ons daaraan herinner dat ons persoonlike vermoëns nie bepaal of ons moedig is nie. Net soos ons op Jehovah moet vertrou om volharding te hê, moet ons op hom vertrou om ware moed te hê. Hoe kan ons leer om selfs meer op hom te vertrou? Deur sy Woord elke dag te lees en na te dink oor hoe hy sy knegte in die verlede gered het (Ps. 68:20; 2 Pet. 2:9). Wanneer die nasies ons gedurende die groot verdrukking aanval, sal ons moedig moet wees en op Jehovah moet vertrou soos nog nooit tevore nie (Ps. 112:7, 8; Heb. 13:6). As ons nou op Jehovah vertrou, sal ons die nodige moed hê wanneer Gog ons aanval. *

SIEN UIT NA JOU REDDING

Jesus en sy hemelse leërmag sal binnekort God se vyande by die oorlog van Armageddon vernietig! (Sien paragraaf 17)

17. Hoekom hoef ons nie bang te wees vir Armageddon nie? (Sien prent op voorblad.)

17 Soos in die vorige artikel genoem is, lewe die meeste van ons al ons hele lewe lank in die laaste dae. Maar ons het ook die hoop om die groot verdrukking te oorleef. Hierdie stelsel van dinge sal uiteindelik heeltemal vernietig word by die oorlog van Armageddon. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Hoekom nie? Want dit is Jehovah se oorlog en ons sal nie hoef te veg nie (Spr. 1:33; Eseg. 38:18-20; Sag. 14:3). Wanneer Jehovah die bevel gee, sal Jesus Christus die leiding in die geveg neem. Saam met hom sal die gesalfdes en tienduisende engele wees. Saam sal hulle teen Satan, sy demone en hulle aardse leërmagte veg. – Dan. 12:1; Op. 6:2; 17:14.

18. (a) Wat het Jehovah belowe? (b) Hoe help Openbaring 7:9, 13-17 ons om ’n hoop vir die toekoms te hê?

18 Jehovah het belowe: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie” (Jes. 54:17). “’n Groot menigte” van Jehovah se getroue aanbidders sal “uit die groot verdrukking kom”! Dan sal hulle aanhou om hom te dien. (Lees Openbaring 7:9, 13-17.) Die Bybel gee ons baie redes om vol vertroue te wees dat ons in die toekoms gered sal word! Ons weet dat ‘Jehovah die getroues bewaar’ (Ps. 31:23). Almal wat Jehovah liefhet en hom loof, sal bly wees om te sien hoe hy sy heilige naam regverdig. – Eseg. 38:23.

19. Na watter wonderlike toekoms kan ons uitsien?

19 Dink aan wat 2 Timoteus 3:2-5 sou sê as dit mense in die nuwe wêreld sonder Satan se invloed sou beskryf. (Sien die venster “ Hoe mense dan sal wees”.) Broer George Gangas, * wat ’n lid van die Bestuursliggaam was, het dit so beskryf: “Dink net hoe die wêreld sal wees wanneer almal broers en susters is! Jy sal binnekort die voorreg hê om in die nuwe wêreld te lewe. Jy sal net so lank soos Jehovah lewe. Ons sal vir ewig lewe.” Wat ’n wonderlike hoop vir die toekoms!

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

^ par. 5 Ons weet dat ’n “groot verdrukking” binnekort oor die mensdom sal kom. Wat sal met Jehovah se knegte gedurende daardie tyd gebeur? Wat sal hy van ons verwag? Watter eienskappe moet ons nou versterk sodat ons getrou kan bly? Ons sal die antwoorde in hierdie artikel vind.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: Die Christendom bestaan uit godsdienste wat beweer dat hulle Christene is, maar hulle leer nie mense om Jehovah volgens sy standaarde te aanbid nie.

^ par. 11 WAT DIT BETEKEN: Die term Gog van Magog (en sy verkorte vorm, Gog) verwys na ’n groep nasies wat gedurende die groot verdrukking teen ware aanbidding sal veg.

^ par. 11 Vir meer inligting oor al die dinge wat voor die oorlog van Armageddon sal gebeur, sien hoofstuk 21 van die boek God se Koninkryk regeer! En vir meer besonderhede oor die aanval van Gog van Magog en hoe Jehovah sy volk gedurende Armageddon sal verdedig, sien hoofstuk 17 en 18 van die boek Pure Worship of Jehovah—Restored At Last! (beskikbaar in Engels) en Die Wagtoring van 15 Julie 2015, bl. 9-15.

^ par. 16 Die streekbyeenkomsprogram vir 2019 met die tema “Liefde faal nooit!” oortuig ons dat ons veilig sal bly onder Jehovah se liefdevolle beskerming. – 1 Kor. 13:8.

^ par. 19 Sien die artikel “Sy werke volg met hom” in Die Wagtoring van 1 Desember 1994.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENTE: Gedurende die groot verdrukking kom ’n klein groepie Getuies moedig in die woud bymekaar om ’n gemeentelike vergadering te hou.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Groot menigte van Jehovah se getroue aanbidders sal uit die groot verdrukking kom, lewendig en gelukkig!