Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 43

Gee Jehovah uitsluitlike toegewydheid

Gee Jehovah uitsluitlike toegewydheid

“Jehovah is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.” – NAH. 1:2.

LIED 51 Ons is aan God toegewy!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom verdien Jehovah ons uitsluitlike toegewydheid?

JEHOVAH verdien ons uitsluitlike toegewydheid omdat hy ons Skepper en Lewegewer is (Op. 4:11). Alhoewel ons Jehovah liefhet en respekteer, is daar ’n gevaar dat ander dinge dalk ons aandag daarvan kan aftrek om hom die uitsluitlike toegewydheid te gee wat hy verdien. Ons moet verstaan hoe dit kan gebeur. Maar kom ons kyk eers wat dit beteken om uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee.

2. Wat sal ons volgens Eksodus 34:14 doen as ons uitsluitlik toegewyd is aan Jehovah?

2 Volgens die Bybel beteken toegewydheid aan God dat ons ’n diep liefde vir hom het. As ons uitsluitlik toegewyd is aan Jehovah, sal ons slegs hom aanbid. Ons sal nie toelaat dat enigiemand of enigiets sy plek in ons hart inneem nie. – Lees Eksodus 34:14.

3. Hoekom is ons nie blindelings aan Jehovah toegewyd nie?

3 Ons is nie blindelings aan Jehovah toegewyd nie. Hoekom nie? Omdat ons toegewydheid gebaseer is op die feite wat ons oor hom geleer het. Ons het waardering opgebou vir sy pragtige eienskappe. Ons weet wat Jehovah liefhet en wat hy haat en ons voel dieselfde daaroor. Ons verstaan wat hy vir ons in gedagte het en ons ondersteun dit. Dit is vir ons ’n groot eer dat hy ons toelaat om sy vriende te wees (Ps. 25:14). Elke klein dingetjie wat ons oor ons Skepper leer, bring ons nader aan hom. – Jak. 4:8.

4. (a) Wat gebruik die Duiwel om ons toegewydheid aan Jehovah te verswak? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Die Duiwel beheer hierdie wêreld en hy gebruik dit om ons natuurlike begeertes en vleeslike swakhede uit te buit (Ef. 2:1-3; 1 Joh. 5:19). Hy wil hê dat ons ander dinge ook moet liefhê sodat ons nie ons uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gee nie. Kom ons kyk na twee maniere hoe hy dit kan doen. Eerstens probeer hy ons kry om lief te word vir geld, en tweedens probeer hy ons kry om slegte besluite te neem wanneer dit by vermaak kom.

BESKERM JOU TEEN DIE LIEFDE VIR GELD

5. Hoekom moet ons versigtig wees om nie ’n liefde vir geld te ontwikkel nie?

5 Ons almal wil genoeg hê om te eet, gepaste klere hê om te dra en ’n behoorlike plek hê om in te bly. Maar ons moet versigtig wees dat ons nie ’n liefde vir geld ontwikkel nie. Baie wat deel is van Satan se wêreld is “liefhebbers van geld” en is lief vir die dinge wat geld kan koop (2 Tim. 3:2). Jesus het geweet dat sy volgelinge dalk in die versoeking sou kom om hierdie soort liefde te ontwikkel. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matt. 6:24). ’n Persoon wat Jehovah dien terwyl hy ook baie tyd en energie daaraan spandeer om in hierdie wêreld ryk te word, is in werklikheid besig om twee here te probeer dien. Hy sal nie Jehovah sy uitsluitlike toegewydheid gee nie.

Hoe party in die gemeente in Laodisea hulleself gesien het . . . en hoe Jehovah en Jesus hulle gesien het (Sien paragraaf 6)

6. Wat kan ons leer uit Jesus se woorde aan die gemeente in Laodisea?

6 Aan die einde van die eerste eeu HJ het lede van die gemeente in die stad Laodisea gespog: “Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie.” Maar in Jehovah en Jesus se oë was hulle “ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak”. Jesus het hulle raad gegee, nie omdat hulle ryk was nie, maar omdat hulle liefde vir geld hulle verhouding met Jehovah beskadig het (Op. 3:14-17). As ons agterkom dat ons begin lief word vir geld, moet ons gou optree om ons denke reg te stel (1 Tim. 6:7, 8). As ons dit nie doen nie, sal ons hart verdeeld raak, en Jehovah sal nie ons aanbidding aanvaar nie. Hy vereis “uitsluitlike toegewydheid” (Deut. 4:24). Hoe kan geld te belangrik in ons lewe word?

7-9. Wat leer jy uit die ondervinding van ’n ouerman met die naam David?

7 Kyk na die voorbeeld van David, ’n hardwerkende ouerman wat in die Verenigde State bly. Hy sê dat hy ’n toegewyde werker was. Hy het ’n beter posisie gekry in die maatskappy waar hy gewerk het en hy het selfs nasionale erkenning gekry vir die werk wat hy in sy veld gedoen het. “Ek het gedink dat my sukses ’n bewys is van Jehovah se seëning,” het David gesê. Maar was dit?

8 David het besef dat sy werk besig is om sy verhouding met Jehovah te beskadig. Hy sê: “By gemeentelike vergaderinge en selfs in die velddiens het ek aan probleme by die werk gedink. Ek het baie geld verdien, maar ek het al hoe meer begin stres, en my huwelik het daaronder gely.”

9 David het besef dat hy moes besluit wat vir hom die belangrikste is. Hy sê: “Ek was vasbeslote om dinge reg te stel.” David wou sy werkskedule verander en het vir sy werkgewer gesê wat sy plan was. Wat het toe gebeur? David het sy werk verloor! Wat het hy toe gedoen? “Ek het die volgende dag aansoek gedoen om vir ’n onbepaalde tyd hulppionierdiens te doen,” sê hy. David en sy vrou het skoonmaakwerk begin doen om hulleself finansieel te ondersteun. Ná ’n rukkie het hy as ’n gewone pionier begin dien, en sy vrou het later saam met hom begin pionier. Hierdie paartjie het ’n werk gekies waarop baie mense neersien. Maar dit is nie vir hulle belangrik watter soort werk hulle doen nie. Alhoewel hulle nou baie minder verdien, het hulle elke maand genoeg om hulle uitgawes te dek. Hulle wil Jehovah eerste in hulle lewe stel en hulle het persoonlik ondervind dat Jehovah vir dié sorg wat Koninkryksbelange eerste stel. – Matt. 6:31-33.

10. Hoe kan ons ons hart beskerm?

10 Of ons nou baie of min geld het, ons moet ons hart beskerm. Hoe? Moenie ’n liefde vir geld ontwikkel nie. En moenie toelaat dat jou werk belangriker word as jou diens aan Jehovah nie. Hoe sal jy weet of dit besig is om met jou te gebeur? ’n Paar vrae wat jy jou kan afvra, is: ‘Is ek geneig om aan my werk te dink wanneer ek by vergaderinge is of wanneer ek velddiens doen? Bekommer ek my gedurig oor die toekoms en of ek genoeg geld sal hê? Veroorsaak geld en materiële besittings probleme in my huwelik? Is ek bereid om ’n werk te doen waarop ander neersien as dit my toelaat om meer vir Jehovah te doen?’ (1 Tim. 6:9-12). Wanneer ons oor hierdie vrae nadink, moet ons onthou dat Jehovah ons liefhet en die volgende belofte maak aan dié wat aan hom toegewyd is: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.” Dit is hoekom die apostel Paulus geskryf het: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld.” – Heb. 13:5, 6.

KIES JOU VERMAAK WYSLIK

11. Watter uitwerking kan vermaak op ’n persoon hê?

11 Jehovah wil hê dat ons die lewe moet geniet, en vermaak kan ons help om dit te doen. Om die waarheid te sê, God se Woord sê: “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk” (Pred. 2:24). Maar baie van die vermaak in die wêreld kan ’n slegte uitwerking op ons hê. Dit verlaag mense se sedelike standaarde. Dit veroorsaak dat mense die dinge wat die Bybel veroordeel, aanvaar of selfs liefkry.

Wie berei jou vermaak voor? (Sien paragraaf 11-14) *

12. Hoekom moet ons volgens 1 Korintiërs 10:21, 22 ons vermaak wyslik kies?

12 Ons wil Jehovah uitsluitlike toegewydheid gee, en daarom kan ons nie aan “die tafel van Jehovah” en aan “die tafel van demone” eet nie. (Lees 1 Korintiërs 10:21, 22.) Om ’n maaltyd saam met iemand te eet, is dikwels ’n teken van vriendskap. As ons vermaak kies wat geweld, spiritisme, onsedelikheid of ander vleeslike begeertes en gesindhede bevorder, is ons eintlik besig om ’n maaltyd saam met God se vyande te eet wat deur hulle voorberei is. Wanneer ons dit doen, benadeel ons nie net onsself nie, maar ons beskadig ook ons vriendskap met Jehovah.

13-14. (a) Hoe is vermaak soos letterlike kos? (b) Met Jakobus 1:14, 15 in gedagte, verduidelik hoekom slegte vermaak skadelik is vir ons.

13 Kyk na ’n paar maniere hoe vermaak soos letterlike kos is. Wanneer ons eet, kan ons kies wat ons in ons mond wil sit. Maar nadat ons die kos gesluk het, neem outomatiese prosesse oor en die voedingstowwe in die kos word later deel van ons liggaam. ’n Goeie dieet kan lei tot goeie gesondheid, maar ’n slegte dieet sal nadelig vir ons gesondheid wees. Ons sal dalk nie die resultate oornag sien nie, maar later sal dit wel gesien kan word.

14 Net so wanneer ons vermaak kies, kan ons kies wat ons in ons verstand wil sit. Daarna neem outomatiese prosesse oor en word ons hart en verstand beïnvloed. Goeie vermaak kan opbouend wees, maar slegte vermaak sal skadelik vir ons wees. (Lees Jakobus 1:14, 15.) Die gevolge van slegte vermaak sal dalk nie onmiddellik gesien kan word nie, maar dit sal wel later duidelik word. Daarom waarsku die Bybel ons: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai; want hy wat met die oog op sy vlees saai, sal verderwing uit sy vlees maai” (Gal. 6:7, 8). Dit is baie belangrik dat ons vermaak verwerp wat dinge bevorder wat Jehovah haat! – Ps. 97:10.

15. Watter geskenk het Jehovah ons gegee om te geniet?

15 Baie van Jehovah se knegte geniet dit om JW Broadcasting® te kyk, ons Internet-televisiestasie. ’n Suster met die naam Marilyn het gesê: “JW Broadcasting help my om meer positief te wees, en ek hoef nie te besluit of ek iets daarop mag kyk of nie mag kyk nie. Wanneer ek eensaam of mismoedig voel, soek ek na ’n aanmoedigende toespraak of ’n Oggendaanbidding-program om na te kyk. Dit laat my nader aan Jehovah en sy organisasie voel. JW Broadcasting het my lewe heeltemal verander.” Vind jy baat by Jehovah se geskenk? JW Broadcasting het elke maand nuwe programme en daar is ook oudio- en videoprogramme en aanmoedigende liedjies wat jy enige tyd na kan kyk en luister.

16-17. Hoekom moet ons die hoeveelheid tyd wat ons aan vermaak spandeer, beperk, en hoe kan ons dit doen?

16 Ons moenie net die tipe vermaak wat ons geniet, wyslik kies nie, maar ons moet ook die hoeveelheid tyd wat ons daaraan spandeer, beperk. As ons dit nie doen nie, sal ons dalk meer tyd aan vermaak spandeer as aan ons diens aan Jehovah. Baie vind dit moeilik om die hoeveelheid tyd wat hulle aan vermaak spandeer, te beperk. ’n Suster met die naam Abigail wat 18 jaar oud is, sê: “Om TV te kyk help my om te ontspan aan die einde van ’n besige dag. Maar as ek nie versigtig is nie, kan ek ure lank sit en TV kyk.” ’n Jong broer met die naam Samuel sê: “Soms kyk ek ’n klomp kort video’s op die Internet. Ek begin met een, en wanneer ek weer kyk, het drie of vier ure verbygegaan.”

17 Hoe kan jy die hoeveelheid tyd wat jy aan vermaak spandeer, beperk? Jy moet eers uitvind hoeveel tyd jy eintlik daaraan spandeer. Dalk kan jy ’n rekord hou van die hoeveelheid tyd wat jy in ’n week aan vermaak spandeer. Skryf op ’n kalender neer hoeveel tyd jy daaraan spandeer om televisie te kyk, op die Internet te wees en speletjies op jou elektroniese toestel te speel. As jy voel dat jy te veel tyd aan hierdie dinge spandeer, probeer dan om ’n skedule op te stel. Beplan om eers die belangriker dinge te doen en dan kan jy tyd opsysit vir vermaak. Vra Jehovah dan om jou te help om by jou skedule te bly. Op hierdie manier sal jy genoeg tyd en energie hê vir persoonlike studie, gesinsaanbidding, gemeentelike vergaderinge en vir die predikings- en onderrigtingswerk. En jy sal waarskynlik minder skuldig voel oor die tyd wat jy aan vermaak spandeer.

BLY UITSLUITLIK TOEGEWYD AAN JEHOVAH

18-19. Hoe kan ons wys dat ons uitsluitlik toegewyd is aan Jehovah?

18 Nadat die apostel Petrus geskryf het oor die einde van Satan se wêreld en die nuwe wêreld wat moet kom, het hy gesê: “Geliefdes, aangesien julle hierdie dinge verwag, moet julle julle uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word” (2 Pet. 3:14). Wanneer ons hierdie raad toepas en ons bes doen om sedelik en geestelik rein te bly, wys ons dat ons uitsluitlik toegewyd is aan Jehovah.

19 Satan en sy wêreld sal aanhou probeer om ons te kry om ander dinge bo Jehovah te stel (Luk. 4:13). Maar ons sal nie toelaat dat enigiemand of enigiets Jehovah se plek in ons hart inneem nie. Ons is vasbeslote om Jehovah te gee wat net hy verdien – ons uitsluitlike toegewydheid!

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

^ par. 5 Ons is aan Jehovah toegewy om sy wil te doen. Maar gee ons hom ons uitsluitlike toegewydheid? Die besluite wat ons neem, wys wat die antwoord op hierdie vraag is. Kom ons kyk na twee spesifieke gebiede in ons lewe wat ons kan help om te sien hoe toegewyd ons aan Jehovah is.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENTE: Ons sou nie kos eet wat in ’n vuil kombuis gemaak is nie, omdat dit besmet sou wees. Hoekom sou ons dan na vermaak kyk wat besmet is met geweld, spiritisme of onsedelikheid?