Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Terwyl God se “storm” al hoe nader kom, moet mense die waarskuwing hoor!

God se oordele – Gee hy altyd genoeg waarskuwing?

God se oordele – Gee hy altyd genoeg waarskuwing?

DIE weervoorspeller kyk na ’n radarbeeld. Hy sien hoe ’n gevaarlike storm al hoe nader aan ’n gebied beweeg waar daar baie mense woon. Omdat hy bekommerd is oor die mense se veiligheid, doen hy alles wat hy kan om hulle te waarsku voordat dit te laat is.

Net so is Jehovah vandag besig om mense te waarsku oor ’n “storm” wat gevaarliker is as enigiets waarvan hulle dalk in ’n weervoorspelling sal hoor. Hoe doen hy dit? En hoekom kan ons seker wees dat hy mense genoeg tyd gee om op die waarskuwing te reageer? Om die antwoorde hierop te kry, kom ons kyk eers na ’n paar waarskuwings wat Jehovah in die verlede gegee het.

WAARSKUWINGS IN DIE VERLEDE

In Bybeltye het Jehovah mense gewaarsku oor verskeie “storms”, of oordele, wat hy oor dié sou bring wat opsetlik ongehoorsaam aan sy bevele was (Spr. 10:25; Jer. 30:23). Elke keer het hy die ongehoorsame mense vooraf gewaarsku en vir hulle gesê wat hulle moes doen om hom te gehoorsaam (2 Kon. 17:12-15; Neh. 9:29, 30). Om mense te help om die nodige veranderinge te maak, het hy dikwels sy lojale knegte op aarde gebruik om sy oordele te verkondig en om mense te help verstaan dat hulle onmiddellik moes reageer. – Amos 3:7.

Noag was een van hierdie getroue knegte. Hy het jare lank die onsedelike en gewelddadige mense van sy dag moedig gewaarsku dat daar ’n wêreldwye Vloed sou kom (Gen. 6:9-13, 17). Hy het ook vir hulle gesê wat hulle moes doen om gered te word. Daarom is hy later “’n prediker van regverdigheid” genoem. – 2 Pet. 2:5.

Maar ten spyte van Noag se pogings het die mense nie na God se boodskap geluister nie. Hulle het gewys dat hulle geen geloof het nie. Daarom het hulle gesterf toe die Vloed gekom het en “hulle almal weggesleur het” (Matt. 24:39; Heb. 11:7). Toe hulle besef dat hulle gaan sterf, kon hulle nie sê dat God hulle nie gewaarsku het nie.

In party gevalle het Jehovah persone gewaarsku kort voordat die “storm” van sy oordeel begin het. Maar hy het nog steeds seker gemaak dat dié wat geaffekteer sou word, genoeg tyd sou hê om te reageer. Jehovah het byvoorbeeld vooraf waarskuwings gegee gedurende die tyd toe hy die Tien Plae oor Egipte gebring het. Een so ’n voorbeeld is toe Jehovah Moses en Aäron gestuur het om Farao en sy knegte te waarsku oor die sewende plaag, ’n verwoestende haelstorm. Maar het God hulle genoeg tyd gegee om skuiling teen die storm te vind, aangesien die storm die volgende dag sou begin? Die Bybel sê: “Elkeen wat Jehovah se woord gevrees het onder Farao se knegte, het sy knegte en sy vee in die huise laat invlug, maar elkeen wat Jehovah se woord geensins ter harte geneem het nie, het sy knegte en sy vee in die veld gelos” (Eks. 9:18-21). Dit is duidelik dat Jehovah genoeg waarskuwing gegee het sodat dié wat vinnig gereageer het, nie so erg deur die plaag geraak sou word nie.

Farao en sy knegte is ook oor die tiende plaag gewaarsku voordat dit begin het. Maar hulle was dwaas en het nie na die waarskuwing geluister nie (Eks. 4:22, 23). As gevolg daarvan het hulle gesien hoe hulle eersgebore seuns sterf. Hoe hartseer moes dit nie gewees het nie! (Eks. 11:4-10; 12:29). Het hulle genoeg tyd gehad om op die waarskuwing te reageer? Ja! Moses het die Israeliete dadelik oor die tiende plaag gewaarsku en gesê wat hulle moes doen om hulle families te red (Eks. 12:21-28). Hoeveel mense het op hierdie waarskuwing gereageer? Daar word geskat dat drie miljoen mense, insluitende Israeliete en “’n groot gemengde geselskap” nie-Israeliete en Egiptenare, God se oordeel oorleef het en Egipte verlaat het. – Eks. 12:38.

Hierdie voorbeelde wys dat Jehovah mense altyd genoeg tyd gegee het om op sy waarskuwings te reageer (Deut. 32:4). Hoekom het God dit gedoen? Die apostel Petrus het verduidelik dat Jehovah “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Pet. 3:9). Ja, God het vir die mense omgegee. Hy wou hê dat hulle berou moes toon en die nodige veranderinge moes maak voordat sy oordeel sou kom. – Jes. 48:17, 18; Rom. 2:4.

REAGEER OP GOD SE WAARSKUWING VANDAG

Vandag moet almal ook reageer op ’n belangrike waarskuwingsboodskap wat nou wêreldwyd verkondig word. Toe Jesus op die aarde was, het hy gewaarsku dat hierdie wêreld uiteindelik vernietig sou word gedurende ’n “groot verdrukking” (Matt. 24:21). Hy het ’n profesie aan sy volgelinge gegee waarin hy duidelik beskryf het wat hulle sou sien en ervaar terwyl daardie oordeel nader kom. Jesus het dus belangrike gebeurtenisse beskryf wat regoor die wêreld sou gebeur, en ons sien hoe sy profesie in ons dag vervul word. – Matt. 24:3-12; Luk. 21:10-13.

In ooreenstemming met hierdie profesie, spoor Jehovah almal nou aan om hulle te onderwerp aan Sy liefdevolle heerskappy. Hy wil graag hê dat gehoorsame mense nou ’n beter lewe moet hê, asook in die toekoms die seëninge in sy regverdige nuwe wêreld moet geniet (2 Pet. 3:13). Om mense te help om geloof in sy beloftes te stel, het Jehovah ’n lewensreddende boodskap voorsien, die “goeie nuus van die koninkryk”, wat Jesus voorspel het “in die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). God het sy ware aanbidders georganiseer om hierdie “getuienis” te gee, of om sy boodskap te verkondig, in sowat 240 lande. Jehovah wil hê dat soveel mense as moontlik op die waarskuwing moet reageer sodat hulle nie tydens die komende “storm” van sy regverdige oordeel vernietig word nie. – Sef. 1:14, 15; 2:2, 3.

Die belangrike vraag is dus nie of Jehovah mense genoeg tyd gee om op sy waarskuwings te reageer nie. Die bewyse is dat hy dit altyd doen. Die belangrike vraag is eerder: Sal mense op God se waarskuwing reageer terwyl daar nog tyd is? Laat ons as God se boodskappers aanhou om soveel mense as moontlik te help om die einde van hierdie wêreld te oorleef.