Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 42

Wat sal Jehovah jou laat word?

Wat sal Jehovah jou laat word?

‘God versterk julle. Hy gee julle die begeerte en die krag om op te tree.’ – FIL. 2:13, Engelse weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling.

LIED 104 God se gawe van heilige gees

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat kan Jehovah doen om sy voorneme te vervul?

JEHOVAH kan enigiets word wat nodig is om sy voorneme te vervul. Jehovah het byvoorbeeld ’n Onderrigter, ’n Vertrooster en ’n Evangelieprediker geword. Dit is maar net ’n paar van die baie dinge wat hy geword het (Jes. 48:17; 2 Kor. 7:6; Gal. 3:8). Nogtans gebruik hy dikwels mense om sy voorneme uit te voer (Matt. 24:14; 28:19, 20; 2 Kor. 1:3, 4). Jehovah kan ook enigeen van ons die wysheid en krag gee wat ons nodig het om te word wat ook al nodig is om sy voorneme te vervul. Dit is alles deel van die betekenis van Jehovah se naam, volgens ’n hele paar geleerdes.

2. (a) Hoekom twyfel ons soms dat Jehovah ons gebruik? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons almal wil deur Jehovah gebruik word, maar party twyfel dalk of Jehovah hulle gebruik. Hoekom? Omdat hulle beperk voel deur hulle ouderdom, omstandighede of vermoëns. Maar ander voel dalk dat hulle alreeds genoeg doen en dat dit nie nodig is om meer te doen nie. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jehovah enigeen van ons kan gee wat ons nodig het om sy voorneme uit te voer. Dan sal ons na Bybelverslae kyk en sien hoe Jehovah sy knegte, beide manne en vroue, die begeerte en die krag gegee het om op te tree. En laastens sal ons kyk hoe ons Jehovah kan toelaat om ons te gebruik.

HOE JEHOVAH ONS GEE WAT ONS NODIG HET

3. Hoe gee Jehovah ons dalk die begeerte om op te tree volgens Filippense 2:13?

3 Lees Filippense 2:13. * Jehovah kan ons die begeerte gee om op te tree. Hoe doen hy dit dalk? Miskien hoor ons van ’n sekere behoefte in die gemeente. Of dalk lees die ouermanne ’n brief van die takkantoor wat ons vertel van ’n behoefte buite ons gemeente se gebied. Ons vra ons dalk af: ‘Wat kan ek doen om te help?’ Of ons het dalk ’n moeilike toewysing gekry en ons wonder of ons dit goed genoeg sal kan doen. Of nadat ons ’n gedeelte in God se Woord gelees het, wonder ons dalk: ‘Hoe kan ek hierdie gedeelte in die Bybel gebruik om ander te help?’ Jehovah sal ons nie dwing om iets te doen nie. Maar wanneer Jehovah sien dat ons bereid is om selfondersoek te doen, kan hy ons die begeerte gee om op te tree.

4. Hoe gee Jehovah ons dalk die krag om op te tree?

4 Jehovah kan ons ook die krag gee om op te tree (Jes. 40:29). Hy kan ons heilige gees gee om die vermoëns wat ons alreeds het, te verbeter (Eks. 35:30-35). Jehovah kan sy organisasie gebruik om ons te leer hoe om ’n sekere taak te doen. As jy ooit onseker is oor hoe om ’n toewysing uit te voer, moet jy vir hulp vra. Moet ook nie huiwer om ons vrygewige hemelse Vader te vra vir “krag wat bo die normale is” nie (2 Kor. 4:7; Luk. 11:13). Daar is baie voorbeelde in die Bybel van hoe Jehovah manne en vroue die begeerte en krag gegee het om op te tree. Terwyl ons na hierdie verslae kyk, dink aan hoe Jehovah jou op ’n soortgelyke manier kan gebruik.

WAT JEHOVAH MANNE LAAT WORD HET

5. Wat leer ons uit hoe en wanneer Jehovah Moses gebruik het om Sy volk te bevry?

5 Jehovah het Moses ’n verlosser van die Israeliete laat word. Maar wanneer het Jehovah hom gebruik? Was dit toe Moses gedink het dat hy gereed is nadat hy “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” is? (Hand. 7:22-25). Nee, Jehovah het Moses eers gebruik nadat Hy hom gehelp het om ’n nederige en saggeaarde man te word (Hand. 7:30, 34-36). Jehovah het Moses die moed gegee om voor die magtigste heerser in Egipte te staan (Eks. 9:13-19). Wat leer ons uit hoe en wanneer Jehovah Moses gebruik het? Jehovah gebruik dié wat probeer om sy eienskappe na te volg en dié wat op hom vertrou vir krag. – Fil. 4:13.

6. Wat leer ons uit die manier hoe Jehovah Barsillai gebruik het om koning Dawid te help?

6 Honderde jare later het Jehovah Barsillai gebruik om koning Dawid te help. Dawid en dié wat saam met hom was, was “honger en moeg en dors” terwyl hulle van Dawid se seun Absalom gevlug het. Barsillai, wat op hierdie stadium ’n ou man was, asook ander het hulle lewens in gevaar gestel om Dawid en dié wat saam met hom was, te help. Barsillai het nie gedink dat Jehovah hom nie meer kon gebruik omdat hy oud is nie. Hy was eerder vrygewig en het gebruik wat hy gehad het om God se knegte te help (2 Sam. 17:27-29). Wat leer ons hieruit? Maak nie saak hoe oud ons is nie, Jehovah kan ons gebruik om in die basiese behoeftes van ons broers en susters te voorsien wat in ons land of in ander lande woon (Spr. 3:27, 28; 19:17). Selfs al kan ons hulle nie persoonlik help nie, kan ons dalk tot die wêreldwye werk bydra sodat daar fondse beskikbaar is om ons broers en susters te help wanneer en waar dit nodig is. – 2 Kor. 8:14, 15; 9:11.

7. Hoe het Jehovah Simeon gebruik, en hoekom is dit aanmoedigend?

7 Jehovah het Simeon, ’n lojale ou man in Jerusalem, belowe dat hy nie sou sterf voordat hy die Messias gesien het nie. Daardie belofte moes Simeon sekerlik baie aangemoedig het, aangesien hy jare lank vir die Messias gewag het. Jehovah het Simeon beloon vir sy geloof en volharding. Eendag, “onder die krag van die gees”, het hy in die tempel ingekom. Daar het hy die baba Jesus gesien, en Jehovah het Simeon gebruik om oor hierdie kind te profeteer wat die Christus sou word (Luk. 2:25-35). Al het Simeon waarskynlik nie lank genoeg gelewe om te sien hoe Jesus sy bediening uitvoer nie, was hy dankbaar dat Jehovah hom op hierdie manier gebruik het, en daar lê nog baie goeie dinge vir hom in die toekoms voor! In die nuwe wêreld sal hierdie getroue man sien hoe Jesus se heerskappy ’n seëning vir almal op die aarde sal wees (Gen. 22:18). Ons kan ook dankbaar wees vir enige voorreg wat Jehovah ons in sy diens gee.

8. Hoe kan Jehovah ons gebruik soos hy Barnabas gebruik het?

8 In die eerste eeu HJ het ’n vrygewige man met die naam Josef homself beskikbaar gemaak om deur Jehovah gebruik te word (Hand. 4:36, 37). Die apostels het hom Barnabas genoem, wat “Seun van Vertroosting” beteken, waarskynlik omdat hy ’n baie goeie vertrooster was. Byvoorbeeld, nadat Saulus ’n Christen geword het, was baie broers bang om na hom toe te gaan omdat almal geweet het dat hy die gemeentes in die verlede vervolg het. Maar Barnabas het Saulus vertroos en gehelp, en Saulus moes dit sekerlik baie waardeer het (Hand. 9:21, 26-28). Die ouermanne in Jerusalem het later gesien dat die broers so ver as Antiogië van Sirië, aanmoediging nodig gehad het. Wie het hulle gestuur? Barnabas! Hulle het ’n goeie keuse gemaak. Volgens die Bybel het Barnabas “hulle almal begin aanmoedig om met hartlike voorneme voort te gaan in die Here” (Hand. 11:22-24). Jehovah kan ons ook vandag help om ’n “seun van vertroosting” te word vir ons broers en susters. Byvoorbeeld, hy gebruik ons dalk om iemand wat ’n geliefde in die dood verloor het, te vertroos. Of hy kan ons beweeg om iemand wat siek of depressief is, te besoek of te bel om hulle aan te moedig. Sal jy toelaat dat Jehovah jou gebruik soos hy Barnabas gebruik het? – 1 Tess. 5:14.

9. Wat leer ons uit die manier waarop Jehovah ’n broer met die naam Wasili gehelp het om ’n bekwame geestelike herder te word?

9 Jehovah het ’n broer met die naam Wasili gehelp om ’n bekwame geestelike herder te word. Toe Wasili op die ouderdom van 26 as ’n ouerman aangestel is, het hy gedink dat hy nie genoeg ondervinding het om die broers en susters geestelik te help nie, veral dié wat deur moeilike tye gaan. Maar hy het goeie opleiding by ervare ouermanne en by die Koninkryksbedieningskool ontvang. Wasili het hard gewerk om te verbeter. Hy het byvoorbeeld ’n lys gemaak van klein doelwitte wat hy wou bereik. Hoe meer hy van hierdie doelwitte bereik het, hoe meer selfvertroue het hy opgebou. Hy sê nou: “Wat my destyds bang gemaak het, maak my nou baie gelukkig. Wanneer Jehovah my help om die regte teks te vind om ’n broer of suster in die gemeente te vertroos, gee dit my ’n gevoel van tevredenheid.” Broers, as julle soos Wasili julleself beskikbaar maak om deur Jehovah gebruik te word, kan hy julle die vermoë gee om meer in die gemeente te doen.

WAT JEHOVAH VROUE LAAT WORD HET

10. Wat het Abigail gedoen, en wat leer ons uit haar voorbeeld?

10 Dawid en sy lojale manne het van koning Saul gevlug en hulle het hulp nodig gehad. Dawid se manne het ’n ryk Israeliet met die naam Nabal vir ’n bietjie kos gevra. Hulle het gevoel dat hulle hom daarvoor kon vra omdat hulle ’n ruk lank Nabal se kuddes in die wildernis beskerm het. Maar Nabal was selfsugtig en het geweier om hulle enigiets te gee. Dawid het woedend geword en wou Nabal en al die manne van sy huishouding doodmaak (1 Sam. 25:3-13, 22). Maar Nabal se pragtige vrou Abigail was baie verstandig. Sy was moedig en het voor Dawid neergebuig en hom gesmeek om homself nie bloedskuldig te maak deur Nabal en sy manne dood te maak nie. Sy het hom taktvol aangemoedig om die situasie in Jehovah se hande te los. Abigail se nederige woorde en verstandige dade het Dawid se hart geraak. Hy het besef dat sy deur Jehovah gestuur is (1 Sam. 25:23-28, 32-34). Abigail het eienskappe gehad wat dit vir Jehovah moontlik gemaak het om haar te gebruik. Net so kan Christensusters wat leer om taktvol en verstandig te wees, deur Jehovah gebruik word om hulle gesin en ander in die gemeente op te bou. – Spr. 24:3; Tit. 2:3-5.

11. Wat het die dogters van Sallum gedoen, en wie volg hulle voorbeeld vandag na?

11 Honderde jare later was die dogters van Sallum deel van die groep mense wat Jehovah gebruik het om die mure van Jerusalem te herbou (Neh. 2:20; 3:12). Alhoewel hulle pa ’n vors, of ’n leier, was, was Sallum se dogters bereid om hierdie moeilike en gevaarlike werk te doen (Neh. 4:15-18). Hulle was nie soos die belangrike manne van die Tekoïete wat hulleself nie wou verneder om hierdie werk te doen nie! (Neh. 3:5). Stel jou net voor hoe gelukkig die dogters van Sallum was toe die projek in net 52 dae voltooi is! (Neh. 6:15). In ons dag is gewillige susters bly om in ’n spesiale vorm van heilige diens te dien – die bou en instandhouding van geboue wat aan Jehovah toegewy is. Ons het hierdie vaardige, entoesiastiese en lojale susters nodig vir hierdie werk om suksesvol te wees.

12. Hoe kan Jehovah ons gebruik soos hy Tabita gebruik het?

12 Jehovah het Tabita gemotiveer om “oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes” te wees, veral teenoor weduwees (Hand. 9:36). Omdat sy so vrygewig en liefdevol was, het baie gehuil toe sy gesterf het. Maar hulle was baie bly toe die apostel Petrus haar opgewek het (Hand. 9:39-41). Wat leer ons uit Tabita se voorbeeld? Of ons nou jonk of oud is en of ons ’n man of ’n vrou is, ons almal kan praktiese dinge doen om ons broers en susters te help. – Heb. 13:16.

13. Hoe is ’n skaam suster met die naam Ruth deur Jehovah gebruik, en wat het sy gesê?

13 ’n Skaam suster met die naam Ruth wou ’n sendeling word. As ’n jong meisie het sy ywerig van huis tot huis gegaan om pamflette te versprei. “Ek het hierdie werk regtig geniet,” het sy gesê. Maar tog was dit vir haar moeilik om by die deure te praat en mense van God se Koninkryk te vertel. Alhoewel Ruth skaam was, het sy op die ouderdom van 18 ’n gewone pionier geword. In 1946 het sy die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en later in Hawaii en Japan gedien. Jehovah het haar op ’n kragtige manier gebruik om die goeie nuus in daardie lande te versprei. Nadat Ruth omtrent 80 jaar lank aan die predikingswerk deelgeneem het, het sy gesê: “Jehovah was ’n versterkende hulp vir my. Hy het my gehelp om my skaamheid te oorkom. Ek glo vas dat Jehovah enigiemand kan gebruik wat op hom vertrou.”

LAAT JEHOVAH TOE OM JOU TE GEBRUIK

14. Wat moet ons volgens Kolossense 1:29 doen as ons deur Jehovah gebruik wil word?

14 Regdeur die geskiedenis het Jehovah sy knegte laat word wat hy nodig gehad het om sy voorneme te vervul. Wat sal hy jou laat word? Dit hang baie af van hoe gewillig jy is om hard te werk. (Lees Kolossense 1:29.) As jy jouself beskikbaar maak, kan Jehovah jou ’n ywerige evangeliedienaar, ’n doeltreffende onderrigter, ’n bekwame vertrooster, ’n vaardige werker, ’n ondersteunende vriend of enigiets anders laat word wat hy nodig het om sy voorneme uit te voer.

15. Waarvoor moet jong broers Jehovah smeek om hulle mee te help volgens 1 Timoteus 4:12, 15?

15 Wat van julle jong broers wat binnekort volwassenes sal wees? Daar is ’n groot behoefte aan jong manne met baie energie om die gemeente as bedieningsknegte te help. In baie gemeentes is daar meer ouermanne as bedieningsknegte. Kan party van julle jong broers die begeerte aankweek om meer in die gemeente te doen? Partykeer sê sommige broers: “Ek is gelukkig om maar net ’n gewone verkondiger te wees.” As dit is hoe jy voel, smeek Jehovah om jou te help om die begeerte aan te kweek om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer en om jou die krag te gee om alles te doen wat jy kan om hom te dien (Pred. 12:1). Ons het jou hulp nodig! – Lees 1 Timoteus 4:12, 15.

16. Waarvoor moet ons Jehovah vra, en hoekom?

16 Jehovah kan jou laat word wat hy ook al nodig het om sy voorneme uit te voer. So vra hom om jou die begeerte te gee om sy werk te doen, en dan vra jy hom om jou die krag te gee wat jy nodig het. Of jy nou jonk of oud is, gebruik jou tyd, energie en alles wat jy het om Jehovah nou te eer (Pred. 9:10). Moet nooit toelaat dat vrees of die gevoel dat jy nie goed genoeg is nie, jou keer om alles te doen wat jy kan in Jehovah se diens nie. Dit is werklik ’n voorreg om te doen wat ons ook al kan om ons liefdevolle Vader die eer te gee wat hy verdien!

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

^ par. 5 Wens jy dat jy meer in Jehovah se diens kon doen? Wonder jy of jy nog steeds deur hom gebruik kan word? Of voel jy dat jy nie meer in Jehovah se diens hoef te doen nie? Hierdie artikel sal verskillende maniere bespreek hoe Jehovah jou die begeerte en die krag kan gee om enigiets te word wat nodig is om sy voorneme te vervul.

^ par. 3 Al het Paulus sy brief aan die Christene in die eerste eeu geskryf, is sy woorde van toepassing op al Jehovah se knegte.