Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 41

Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een

Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een

“Julle [is] ’n brief van Christus . . . wat deur ons as bedienaars geskryf is.” – 2 KOR. 3:3.

LIED 78 ‘Leer God se Woord aan ander’

IN HIERDIE ARTIKEL *

Wat kan meer opwindend vir ’n hele gemeente wees as om te sien hoe ’n Bybelstudent vir wie hulle lief geword het, gedoop word? (Sien paragraaf 1)

1. Hoe help 2 Korintiërs 3:1-3 ons om die voorreg te waardeer om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei? (Sien prent op voorblad.)

 HOE voel jy wanneer jy sien dat ’n Bybelstudent in jou gemeente se gebied gedoop word? Jy voel sekerlik baie gelukkig (Matt. 28:19). En as jy die een is wat met die nuwe dissipel gestudeer het, is jy baie opgewonde en bly wanneer jy sien dat hy gedoop word! (1 Tess. 2:19, 20). Nuwe gedoopte dissipels is “aanbevelingsbriewe”, nie net vir dié wat met hulle studeer het nie, maar ook vir die hele gemeente. – Lees 2 Korintiërs 3:1-3.

2. (a) Watter belangrike vraag moet ons bespreek, en hoekom? (b) Wat is ’n Bybelstudie? (Sien voetnoot.)

2 Dit is baie goed om te sien dat vir die afgelope vier jaar word daar elke maand omtrent 10 000 000 Bybelstudies * wêreldwyd gerapporteer. En gedurende daardie vier jaar is omtrent 280 000 elke jaar as Jehovah se Getuies en nuwe dissipels van Jesus Christus gedoop. Hoe kan ons meer van hierdie miljoene Bybelstudente help om gedoop te word? Jehovah gee mense nog steeds die geleentheid om sy Getuies te word. Dit is hoekom ons ons bes wil doen om hulle te help om so gou as moontlik tot doop te vorder. Die tyd loop vinnig uit! – 1 Kor. 7:29a; 1 Pet. 4:7.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek oor hoe om Bybelstudies te hou?

3 Omdat dit nou baie belangrik is om dissipels te maak, het die Bestuursliggaam takkantore gevra oor wat ons kan doen om meer Bybelstudente te help om tot doop te vorder. In hierdie en in die volgende artikel sal ons sien wat ons kan leer by ervare pioniers, sendelinge en kringopsieners (Spr. 11:14; 15:22). * Hulle verduidelik wat Bybelonderrigters en hulle studente kan doen om ’n Bybelstudie meer suksesvol te maak. In hierdie artikel sal ons vyf dinge bespreek wat elke student moet doen om vordering te maak sodat hy gedoop kan word.

STUDEER ELKE WEEK

Vra die student of julle kan sit om die Bybel te bespreek (Sien paragraaf 4-6)

4. Wat moet ons besef oor ’n Bybelstudie wat by die deur gehou word?

4 Baie van ons broers en susters hou Bybelstudies reg voor die huisbewoner se deur. Alhoewel dit ’n goeie begin is om iemand se belangstelling in die Bybel aan te wakker, is hierdie besprekings gewoonlik kort en word dit miskien nie eers elke week gehou nie. Om die belangstelling verder te vat, vra party broers en susters die persoon se kontakbesonderhede. Hulle bel dan die persoon of stuur hom ’n boodskap tussen hulle besoeke om ’n kort gedagte uit die Bybel met hom te deel. Sulke besprekings hou dalk maande lank aan sonder dat dit ’n produktiewe Bybelstudie word. Sal ’n student regtig vorder tot toewyding en doop as dit die enigste tyd en energie is wat hy * spandeer om God se Woord te studeer? Waarskynlik nie.

5. Wat het Jesus in Lukas 14:27-33 gesê wat ons kan gebruik om ons Bybelstudente te help?

5 Jesus het by een geleentheid ’n illustrasie gebruik om te wys wat dit sou kos om sy dissipel te word. Hy het gepraat van iemand wat ’n toring wou bou en van ’n koning wat oorlog wou voer. Jesus het gesê dat die bouer eers moes ‘gaan en die koste bereken’ om te sien of hy die toring kon klaar bou en dat die koning “eers [moes] gaan sit en met sy raadgewers bespreek” om te sien of hy en sy soldate kon doen wat hulle beplan het om te doen. (Lees Lukas 14:27-33.) Net so het Jesus geweet dat ’n persoon wat sy dissipel wil word, eers mooi moet dink oor wat hy moet doen om hom te volg. Ons kan ons Bybelstudente help om dit te doen deur hulle aan te moedig om elke week die Bybel saam met ons te studeer. Hoe kan ons dit doen?

6. Wat kan ons dalk probeer doen om progressiewe studies te hou?

6 Begin deur die studies wat by die deur gehou word, langer te maak. Dalk kan jy ’n ekstra Bybelgedagte bespreek elke keer wanneer jy die studie hou. Wanneer die student gemaklik voel met ’n langer besoek, vra hom of daar ’n plek is waar julle kan sit en voort kan gaan met die bespreking. Hoe die huisbewoner hierop reageer, sal wys hoe ernstig hy oor die Bybelstudie is. Om hom te help om vinniger te leer, kan jy die student dalk selfs vra of hy bereid sou wees om twee keer ’n week te studeer. Maar meer is nodig as om net een of twee keer ’n week te studeer.

BEREI VIR ELKE STUDIESESSIE VOOR

Berei goed voor vir jou Bybelstudie en wys vir die student hoe om voor te berei (Sien paragraaf 7-9)

7. Hoe kan die onderrigter goed voorberei vir elke Bybelstudiesessie?

7 As die onderrigter moet jy goed voorberei vir elke Bybelstudiesessie. Jy kan begin deur die materiaal te lees en die tekste op te soek. Maak seker dat jy weet wat die hoofgedagtes is. Dink oor die titel van die les, die onderhofies, die studievrae, die “lees”-tekste, die prente en enige video’s wat kan help om die onderwerp te verduidelik. Dan met jou student in gedagte, dink na oor hoe jy die inligting op ’n eenvoudige en duidelike manier sal verduidelik sodat jou student dit maklik kan verstaan en kan toepas. – Neh. 8:8; Spr. 15:28a.

8. Wat leer Paulus se woorde in Kolossense 1:9, 10 ons oor gebede vir ons Bybelstudente?

8 As deel van jou voorbereiding, bid tot Jehovah oor die student en oor wat hy nodig het. Vra Jehovah om jou te help om die Bybel op ’n manier te gebruik wat die persoon se hart sal raak. (Lees Kolossense 1:9, 10.) Vra jou af of daar enige iets is wat dalk moeilik vir die student sal wees om te verstaan of waarmee hy dalk nie sal saamstem nie. Hou in gedagte dat jou doel is om hom te help om tot doop te vorder.

9. Hoe kan die onderrigter die student help om vir sy studie voor te berei? Verduidelik.

9 Ons hoop dat die student deur middel van ’n gereelde Bybelstudie sal waardeer wat Jehovah en Jesus gedoen het en meer sal wil leer (Matt. 5:3, 6). Om ten volle by die studie baat te vind, moet die student konsentreer op wat hy besig is om te leer. Om hom hiermee te help, moet jy verduidelik hoe belangrik dit is dat hy vir elke studiesessie voorberei deur die les voor die tyd te lees en na te dink oor hoe hy dit kan toepas. Hoe kan die onderrigter hom help? Berei saam met die student ’n les voor om vir hom te wys hoe om dit te doen. * Verduidelik hoe hy die direkte antwoorde op die studievrae kan kry en wys vir hom hoe dit hom sal help om die antwoord te onthou as hy net sleutelwoorde of -frases merk. Vra hom dan om die antwoord in sy eie woorde te gee. Wanneer hy dit doen, sal jy kan sien hoe goed hy die inligting verstaan. Maar daar is iets anders wat jy jou student kan aanmoedig om te doen.

LEER HOM OM ELKE DAG MET JEHOVAH TE KOMMUNIKEER

Leer jou Bybelstudent hoe om met Jehovah te kommunikeer (Sien paragraaf 10-11)

10. Hoekom is dit belangrik om die Bybel elke dag te lees, en wat moet die student doen om die meeste uit sy Bybellees te kry?

10 Behalwe om elke week met sy onderrigter te studeer, sal dit die student help as hy elke dag ’n paar dingetjies op sy eie doen. Hy moet met Jehovah kommunikeer. Hoe? Deur na Jehovah te luister en met hom te praat. Hy kan na God luister deur elke dag die Bybel te lees (Jos. 1:8; Ps. 1:1-3). Wys vir hom hoe om die “Rooster vir Bybellees” te gebruik wat op jw.org is. * Om hom te help om die meeste uit sy Bybellees te kry, moet jy hom natuurlik aanmoedig om na te dink oor wat die Bybel hom leer oor Jehovah en hoe hy dit wat hy leer, in sy persoonlike lewe kan toepas. – Hand. 17:11; Jak. 1:25.

11. Hoe kan ’n student leer om op die regte manier te bid, en hoekom is dit vir hom belangrik om gereeld tot Jehovah te bid?

11 Moedig jou student aan om met Jehovah te praat deur elke dag te bid. Bid uit die hart voor en ná elke studiesessie, en bid met en vir jou studie. Terwyl hy na jou gebede luister, sal hy leer hoe om uit die hart tot Jehovah God in die naam van Jesus Christus te bid (Matt. 6:9; Joh. 15:16). Dink net hoe dit jou student sal help om nader aan God te kom as hy die Bybel elke dag lees (na Jehovah luister) en bid (met Jehovah praat)! (Jak. 4:8). Deur hierdie gewoontes aan te leer, sal dit hom help om tot toewyding en doop te vorder. Wat anders sal hom help?

HELP HOM OM ’N PERSOONLIKE VERHOUDING MET JEHOVAH OP TE BOU

12. Hoe kan ’n onderrigter ’n student help om ’n verhouding met Jehovah op te bou?

12 Wat ’n student gedurende ’n Bybelstudie leer, moenie net sy verstand raak nie, maar ook sy hart. Hoekom? Want ons hart – wat ons begeertes, emosies en gevoelens insluit – motiveer ons om op te tree. Jesus het mense baie dinge geleer, en hulle het gehou van wat hy hulle geleer het. Maar mense het hom gevolg omdat hy hulle hart geraak het (Luk. 24:15, 27, 32). Jou student moet Jehovah as ’n werklike Persoon sien, iemand met wie hy ’n verhouding kan opbou. Hy moet Hom ook as sy Vader, sy God en sy Vriend sien (Ps. 25:4, 5). Terwyl jy die Bybelstudie hou, help jou student om ons God se pragtige eienskappe te sien (Eks. 34:5, 6; 1 Pet. 5:6, 7). Fokus op die soort Persoon wat Jehovah is met elke onderwerp wat julle bespreek. Help jou student om Jehovah se pragtige eienskappe te waardeer – sy liefde, goedheid en meegevoel. Jesus het gesê “die grootste en eerste gebod” is om “Jehovah jou God lief [te] hê” (Matt. 22:37, 38). Probeer jou student help om Jehovah uit die hart lief te hê.

13. Gee ’n voorbeeld van hoe om ’n student te help om oor Jehovah se persoonlikheid te leer.

13 Verduidelik vir jou student hoekom jy Jehovah liefhet. Dit kan jou student dalk help om te besef dat hy sy eie persoonlike verhouding met God moet opbou en moet leer om hom lief te hê (Ps. 73:28). Byvoorbeeld, is daar ’n sin in die studiepublikasie of in ’n teks wat iets sê oor Jehovah se liefde, wysheid, regverdigheid of krag wat jou hart raak? Noem dit vir jou student en sê vir hom dat dit een van die baie redes is hoekom jy lief is vir ons hemelse Vader. Daar is nog iets wat elke Bybelstudent moet doen sodat hy tot doop kan vorder.

MOEDIG HOM AAN OM GEMEENTELIKE VERGADERINGE BY TE WOON

Moedig jou student aan om vergaderinge so gou as moontlik by te woon! (Sien paragraaf 14-15)

14. Wat sê Hebreërs 10:24, 25 oor gemeentelike vergaderinge wat ’n Bybelstudent kan help om vordering te maak?

14 Ons almal wil hê dat ons studente gedoop moet word. Een belangrike manier hoe ons hulle kan help, is deur hulle aan te moedig om gemeentelike vergaderinge by te woon. Ervare onderrigters sê dat studente wat van die begin af vergaderinge bywoon, die vinnigste vordering maak (Ps. 111:1). Party onderrigters verduidelik vir hulle studente dat hulle die helfte van hulle Bybelonderrigting by hulle studie sal ontvang en die ander helfte by die vergaderinge. Lees Hebreërs 10:24, 25 saam met jou student en verduidelik vir hom hoekom dit vir hom goed is om na die vergaderinge toe te gaan. Speel vir hom die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? * Help jou student om elke week die vergadering by te woon en om dit ’n belangrike deel van sy lewe te maak.

15. Wat kan ons doen om ’n student aan te moedig om die vergaderinge gereeld by te woon?

15 Wat kan jy doen as jou student nog nie ’n vergadering bygewoon het nie of as hy dit nie gereeld bywoon nie? Wees opgewonde wanneer jy vir hom sê wat jy by ’n onlangse vergadering geleer het. Wanneer hy sien hoe jy oor die vergadering voel, sal hy dalk na ’n vergadering wil gaan. Gee vir hom Die Wagtoring of die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek wat nou by die vergadering studeer word. Wys vir hom wat by die volgende vergadering bespreek sal word en vra hom watter deel vir hom interessant klink. Wat jou student by sy eerste vergadering gaan sien en hoor, sal beter wees as enige iets wat hy al by ’n ander godsdienstige vergadering gesien en gehoor het (1 Kor. 14:24, 25). Hy sal ander ontmoet wie se goeie voorbeeld hy kan navolg en wat hom sal help om tot doop te vorder.

16. Wat moet ons doen om Bybelstudies te hou wat tot doop lei, en wat sal ons in die volgende artikel leer?

16 Hoe kan ons Bybelstudies hou wat tot doop lei? Ons kan elke student help om te sien hoe belangrik die studie is deur hom aan te moedig om elke week te studeer en om vir elke studiesessie voor te berei. Ons wil hom ook aanmoedig om elke dag met Jehovah te kommunikeer en om ’n persoonlike verhouding met Hom op te bou. Ons wil die student aanmoedig om gemeentelike vergaderinge by te woon. (Sien die venster “ Wat studente moet doen om tot doop te vorder”.) Maar soos die volgende artikel sal verduidelik, is daar vyf ander dinge wat Bybelonderrigters kan doen om studente te help om tot doop te vorder.

LIED 76 Hoe laat dit jou voel?

^ par. 5 Om ’n persoon iets te leer, beteken om hom te help om “op ’n nuwe of ander manier te dink, te voel of op te tree”. Ons jaarteks vir 2020, Matteus 28:19, het ons daaraan herinner hoe belangrik dit is om die Bybel met mense te studeer en om hulle te leer hoe om gedoopte dissipels van Jesus Christus te word. In hierdie en in die volgende artikel sal ons sien hoe ons in hierdie baie belangrike werk kan verbeter.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: As jy gereeld Bybelonderwerpe bespreek met die doel om iemand te help om basiese Bybelwaarhede te leer, hou jy ’n Bybelstudie. Jy kan die studie rapporteer as jy dit twee keer gehou het nadat jy die studie gedemonstreer het en as jy rede het om te glo dat die studie sal aanhou.

^ par. 3 Hierdie artikels sluit ook voorstelle in uit die reeks “Hoe om progressiewe Bybelstudies te hou”, wat vanaf Julie 2004 tot Mei 2005 in Ons Koninkryksbediening verskyn het.

^ par. 4 Wanneer ons praat van ’n manlike student sluit dit ook ’n vroulike student in.

^ par. 9 Kyk na die kort video Leer jou student om voor te berei. In JW Library®, gaan na MEDIA > ONS VERGADERINGE EN BEDIENING > VERBETER JOU VAARDIGHEDE.

^ par. 10 Gaan na BYBELLERINGE > BYBELSTUDIEHULPE.

^ par. 14 In JW Library®, gaan na MEDIA > ONS VERGADERINGE EN BEDIENING > HULPMIDDELE VIR DIE BEDIENING.