Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 42

Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee

Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee

“Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting.”  1 TIM. 4:16.

LIED 77 Lig in ’n donker wêreld

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe weet ons dat die dissipelmaakwerk ’n lewensreddende werk is?

 DIE dissipelmaakwerk is ’n lewensreddende werk! Hoe weet ons dit? Toe Jesus die opdrag gegee het wat in Matteus 28:19, 20 is, het hy gesê: “Gaan . . . maak dissipels . . .  en doop hulle.” Hoe belangrik is dit om gedoop te word? Ons moet gedoop word as ons gered wil word. Die gedoopte persoon moet glo dat hy net gered kan word omdat Jesus vir ons gesterf het en opgewek is. Dit is hoekom die apostel Petrus vir mede-Christene gesê het: “Doop . . . red julle . . . nou deur die opstanding van Jesus Christus” (1 Pet. 3:21). So wanneer ’n nuwe dissipel gedoop word, het hy die hoop om vir ewig te lewe.

2. Watter soort onderrigters moet ons volgens 2 Timoteus 4:1, 2 wees?

2 Om dissipels te maak, moet ons leer om “goed te onderrig”. (Lees 2 Timoteus 4:1, 2.) Hoekom? Omdat Jesus vir ons gesê het: “Gaan . . . maak dissipels . . . en leer hulle.” Die apostel Paulus het gesê om ‘aan te hou’ om hierdie werk te doen, “want so sal jy jouself red en dié wat na jou luister”. Daarom het Paulus met goeie rede gesê: “Skenk voortdurend aandag . . . aan jou onderrigting” (1 Tim. 4:16). As ons dissipels wil maak, moet ons mense kan onderrig, en daarom wil ons hê dat ons onderrigting die beste moet wees.

3. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek oor hoe om Bybelstudies te hou?

3 Ons leer gereeld miljoene mense die waarhede wat in die Bybel is. Maar soos ons in die vorige artikel gesien het, wil ons weet hoe ons meer van hulle kan help om gedoopte dissipels van Jesus Christus te word. In hierdie artikel sal ons nog vyf dinge bespreek wat elke onderrigter moet doen om ’n student te help om tot doop te vorder.

LAAT DIE BYBEL DIE ONDERRIGTING DOEN

Vra ’n ervare onderrigter om jou te help om die Bybel beter te gebruik (Sien paragraaf 4-6) *

4. Hoekom moet ’n onderrigter selfbeheersing hê wanneer hy ’n Bybelstudie hou? (Sien ook voetnoot.)

4 Ons is lief vir die dinge wat ons vir ander uit God se Woord leer. So dalk sal ons baie daaroor wil praat. Maar dit maak nie saak of ’n persoon die Wagtoring-studie, die Gemeentelike Bybelstudie of ’n tuisbybelstudie hou nie, die persoon wat die studie hou, moenie te veel praat nie. Om die Bybel toe te laat om die onderrigting te doen, moet die onderrigter selfbeheersing hê en nie probeer om alles te verduidelik wat hy omtrent ’n Bybelvers of -onderwerp weet nie (Joh. 16:12). * Vergelyk die Bybelkennis wat jy gehad het toe jy gedoop is met die kennis wat jy nou het. Toe jy gedoop is, het jy heel moontlik net die basiese leringe van die Bybel verstaan (Heb. 6:1). Dit het jou jare gevat om alles te leer wat jy vandag weet, so moenie probeer om ’n nuwe student alles op een slag te leer nie.

5. (a) Met 1 Tessalonisense 2:13 in gedagte, wat wil ons hê moet ons student verstaan? (b) Hoe kan ons ’n student aanmoedig om te praat oor die dinge wat hy leer?

5 Ons wil hê dat ons student moet verstaan dat wat hy leer, uit God se geïnspireerde Woord kom. (Lees 1 Tessalonisense 2:13.) Hoe kan ons dit doen? Moedig die student aan om te praat oor die dinge wat hy leer. In plaas daarvan om altyd Bybeltekste aan die student te verduidelik, vra hom om party van hulle aan jou te verduidelik. Help die student om te sien hoe God se Woord op hom persoonlik van toepassing is. Vra vrae wat hom sal help om te sê wat hy dink en hoe hy voel oor die tekste wat hy lees (Luk. 10:25-28). Byvoorbeeld, vra hom: “Hoe het hierdie teks jou gehelp om een van Jehovah se eienskappe te sien?” “Hoe kan hierdie Bybelwaarheid jou help?” “Hoe voel jy oor wat jy nou net geleer het?” (Spr. 20:5). Wat belangrik is, is nie hoeveel ’n student weet nie, maar dat hy lief is vir die dinge wat hy weet en dat hy dit toepas.

6. Hoekom sal dit dalk goed wees om ’n ervare onderrigter saam met jou na ’n Bybelstudie te vat?

6 Wanneer jy ’n Bybelstudie hou, vat jy ooit verkondigers wat ervare onderrigters is saam met jou? As jy dit doen, kan jy hulle vra wat hulle dink oor hoe jy die Bybelstudie hou en of jy goed gebruik maak van die Bybel. Jy moet nederig wees as jy jou onderrigtingsvermoë wil verbeter. (Vergelyk Handelinge 18:24-26.) Vra die ervare verkondiger ná die studie of hy dink dat die student verstaan wat hy besig is om te leer. Jy kan ook dieselfde verkondiger vra om die Bybelstudie te hou as jy vir ’n week of meer weg gaan wees. As jy dit doen, sal die studie gereeld gehou word en dit sal vir die student wys hoe belangrik sy studie is. Moet nooit voel dat dit “jou” studie is en dat niemand anders dit kan hou nie. Jy wil natuurlik die beste vir jou student hê sodat hy vordering kan maak en kan aanhou om oor die waarheid te leer.

WYS DAT JY DIE DINGE WAT JY AAN ANDER LEER, LIEFHET EN GLO

Vertel ondervindinge wat jou student kan help om te sien hoe om Bybelbeginsels toe te pas (Sien paragraaf 7-9) *

7. Wat sal ’n student help om opgewonde te wees oor die dinge wat hy leer?

7 ’n Student moet sien dat jy lief is vir die waarhede wat in die Bybel is en dat jy dit glo (1 Tess. 1:5). Dan sal hy heel moontlik opgewonde raak oor die dinge wat hy besig is om te leer. Miskien kan jy vir hom sê hoe die Bybel jou in jou lewe gehelp het. Dan sal hy besef dat die Bybel hom ook kan help.

8. Wat kan jy nog doen om jou Bybelstudent te help, en hoekom sal jy dit doen?

8 Vertel jou student gedurende die Bybelstudie van broers en susters wat probleme gehad het wat soortgelyk is aan syne. Jy kan ’n broer of suster wie se voorbeeld die student dalk sal help, saam na die studie toe vat. Of jy kan aanmoedigende ondervindinge op jw.org in die reeks “Die Bybel verander lewens” vind. * Sulke artikels en video’s sal jou student help om te sien hoe wys dit is om Bybelbeginsels in sy lewe toe te pas.

9. Hoe kan jy ’n student aanmoedig om vir sy familie en vriende te vertel wat hy besig is om te leer?

9 As die student getroud is, studeer sy maat ook? As hy nie studeer nie, nooi die maat om ook by die studie in te sit. Moedig jou student aan om vir sy familie en vriende te vertel wat hy besig is om te leer (Joh. 1:40-45). Hoe? Jy kan eenvoudig vra: “Hoe sal jy hierdie Bybelwaarheid aan jou familie verduidelik?” of “Watter teks sal jy gebruik om hierdie punt aan ’n vriend te bewys?” Op hierdie manier sal jy die student oplei om ’n onderrigter te wees. Dan wanneer hy kwalifiseer, kan hy aan die bediening deelneem as ’n ongedoopte verkondiger. Jy kan die student vra of hy van enige een weet wat die Bybel wil studeer. As hy van iemand weet, kontak die persoon onmiddellik en bied ’n Bybelstudie aan. Wys vir hom die video Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie? *

MOEDIG DIE STUDENT AAN OM VRIENDE IN DIE GEMEENTE TE MAAK

Moedig die student aan om vriende in die gemeente te maak (Sien paragraaf 10-11) *

10. Hoe kan ’n onderrigter volgens 1 Tessalonisense 2:7, 8 Paulus se voorbeeld navolg?

10 Onderrigters moet regtig belangstel in hulle studente en wys dat hulle vir hulle omgee. Beskou hulle as jou toekomstige geestelike broers en susters. (Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.) Dit is nie vir hulle maklik om vriende in die wêreld op te gee en om die nodige veranderinge in hulle lewe te maak om Jehovah te dien nie. Ons moet hulle help om ware vriende in die gemeente te maak. Wees ’n vriend vir jou student deur tyd saam met hom te spandeer, nie net wanneer julle die Bybelstudie hou nie, maar ook op ander tye. ’n Oproep, ’n boodskap of ’n kort kuiertjie op dae wat julle nie studeer nie, wys dat jy regtig vir hom omgee.

11. Wat wil ons hê moet ons studente in die gemeente vind, en hoekom?

11 Daar is al gesê: “Dit vat ’n dorpie om ’n kind groot te maak.” Ons kan sê: “Dit vat ’n gemeente om ’n dissipel te maak.” Dit is hoekom goeie Bybelonderrigters hulle studente aan ander in die gemeente voorstel wat ’n goeie invloed op hulle kan hê. Hierdie studente kan dan tyd saam met God se knegte spandeer, en hierdie broers en susters kan hulle help om beter vriende van Jehovah te word en kan hulle aanmoedig wanneer hulle probleme het. Ons wil hê dat elke student moet voel dat hy in die gemeente behoort en dat hy deel is van ons geestelike familie. Ons wil hê dat hy moet voel dat hy deel wil wees van ons liefdevolle Christenbroederskap. Dan sal dit vir hom makliker wees om nie meer vriende te wees met persone wat hom nie sal help om Jehovah lief te hê nie (Spr. 13:20). As hierdie mense nie meer vriende met hom wil wees nie, sal hy weet dat hy ware vriende in Jehovah se organisasie kan vind. – Mark. 10:29, 30; 1 Pet. 4:4.

PRAAT GEREELD OOR DIE DOEL OM HOM TE LAAT TOEWY EN DOOP

Daar is ’n hele paar dinge wat ’n Bybelstudent moet doen om gedoop te word (Sien paragraaf 12-13)

12. Hoekom moet ons met ons student oor toewyding en doop praat?

12 Jy moet gereeld praat oor hoe belangrik dit vir ’n persoon is om sy lewe aan Jehovah toe te wy en om gedoop te word. Die rede hoekom ons met iemand studeer, is om hom te help om Jehovah te dien en om gedoop te word. Nadat ’n student al ’n paar maande lank die Bybel gestudeer het en veral nadat hy die vergaderinge begin bywoon het, moet hy verstaan dat ons hom wil help om een van Jehovah se Getuies te word.

13. Wat moet ’n student doen om gedoop te word?

13 Daar is ’n hele paar dinge wat ’n Bybelstudent moet doen om gedoop te word. Eerstens, die student leer Jehovah ken, word lief vir Hom en stel geloof in Hom (Joh. 3:16; 17:3). Die student word dan ’n vriend van Jehovah en ook van die broers en susters in die gemeente (Heb. 10:24, 25; Jak. 4:8). Uiteindelik voel die student sleg oor al die verkeerde dinge wat hy gedoen het en hou hy op om dit te doen (Hand. 3:19). Hy vertel ook vir ander wat hy nou glo (2 Kor. 4:13). Dan wy hy hom aan Jehovah toe en simboliseer hy sy toewyding deur gedoop te word (1 Pet. 3:21; 4:2). Dit is ’n baie vreugdevolle dag vir almal! Terwyl die student die nodige stappe doen om gedoop te word, moet jy aanhou om hom te prys en hom aan te moedig om voort te gaan om hierdie dinge te doen.

KYK AF EN TOE OF DIE STUDENT VORDERING MAAK

14. Hoe kan ’n onderrigter kyk of ’n student vordering maak?

14 Ons moet geduldig wees wanneer ons ’n student help om tot toewyding en doop te vorder. Maar ons moet ook uitvind of hy die begeerte het om Jehovah God te dien. Wys jou student dat hy probeer om Jesus se gebooie te gehoorsaam? Of wil hy net interessante dinge uit die Bybel leer?

15. Wat sal vir ’n onderrigter wys dat ’n student vordering maak?

15 Kyk gereeld na die vordering wat die student maak. Byvoorbeeld, sê hy hoe hy oor Jehovah voel? Bid hy tot Jehovah? (Ps. 116:1, 2). Geniet hy dit om die Bybel te lees? (Ps. 119:97). Woon hy die vergaderinge gereeld by? (Ps. 22:22). Het hy enige veranderinge in sy lewe gemaak? (Ps. 119:112). Het hy begin om vir sy familie en vriende te vertel wat hy leer? (Ps. 9:1). Die belangrikste is, wil hy een van Jehovah se Getuies word? (Ps. 40:8). As die student nie op enige van hierdie gebiede vordering maak nie, moet jy op ’n taktvolle manier probeer uitvind hoekom hy nie vordering maak nie en dan die saak op ’n vriendelike maar reguit manier met hom bespreek. *

16. Wat kan dalk wys dat ’n Bybelstudie gestop moet word?

16 Kyk gereeld of jy moet aanhou om met iemand te studeer. Vra jou af: ‘Berei die student nie vir die studie voor nie? Wil hy nie die vergaderinge bywoon nie? Het hy nog steeds slegte gewoontes? Is hy nog steeds deel van ’n valse godsdiens?’ As die antwoord ja is en jy nog steeds aanhou om met hom te studeer, sal dit wees soos om swemlesse vir iemand te gee wat nie nat wil word nie! As jou student nie regtig waardeer wat hy besig is om te leer nie en nie bereid is om veranderinge te maak nie, hoekom hou jy aan om met hom te studeer?

17. Wat moet alle Bybelonderrigters volgens 1 Timoteus 4:16 doen?

17 Ons verantwoordelikheid om dissipels te maak, is vir ons baie belangrik, en ons wil ons Bybelstudente help om tot doop te vorder. Dit is hoekom ons die Bybel sal toelaat om die onderrigting te doen en hoekom ons vir die student sal wys dat ons die dinge wat ons vir hom leer, liefhet en glo. Ons sal die student aanmoedig om vriende in die gemeente te maak. En ons sal gereeld praat oor die doel om hom te laat toewy en doop en af en toe kyk of die student vordering maak. (Sien die venster “ Wat onderrigters moet doen om studente te help om tot doop te vorder”.) Ons is baie bly dat ons deel kan neem aan hierdie lewensreddende werk! Laat ons vasbeslote wees om ons bes te doen om Bybelstudies te hou wat vordering maak en tot doop lei.

LIED 79 Leer hulle om standvastig te bly

^ par. 5 Wanneer ons Bybelstudies hou, het ons die voorreg om mense te help om te leer hoe Jehovah wil hê hulle moet dink, voel en optree. Hierdie artikel sal verder verduidelik hoe ons ons onderrigtingsvermoë kan verbeter.

^ par. 4 Sien die artikel “Strikke om te vermy wanneer jy ’n Bybelstudie hou” in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek van September 2016.

^ par. 8 Gaan na OMTRENT ONS > ONDERVINDINGE.

^ par. 9 In JW Library®, gaan na MEDIA > ONS VERGADERINGE EN BEDIENING > HULPMIDDELLE VIR DIE BEDIENING.

^ par. 15 Sien die artikels “Liefde en waardering vir Jehovah lei tot doop” en “Is jy reg om gedoop te word?” in Die Wagtoring van Maart 2020.

^ par. 77 BESKRYWING VAN PRENT: Die een of ander tyd ná die Bybelstudie help die ervare suster die een wat die Bybelstudie gehou het om te sien hoe om nie so baie gedurende die Bybelstudie te praat nie.

^ par. 79 BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende die Bybelstudie leer die student hoe om ’n beter vrou vir haar man te wees. Later sê sy vir haar man wat sy geleer het.

^ par. 81 BESKRYWING VAN PRENT: Die student en haar man kuier by een van die broers en susters wat sy by die Koninkryksaal ontmoet het.