Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

1921 – Honderd jaar gelede

1921 – Honderd jaar gelede

“WATTER werk lê vir ons voor hierdie jaar?” Dit is die vraag wat The Watch Tower van 1 Januarie 1921 aan Bybelstudente gestel het. Toe het dit Jesaja 61:1, 2 aangehaal, wat hulle herinner het aan hulle opdrag om te preek. “Jehovah het my gesalf om goeie nuus aan die nederiges te verkondig . . . , om die jaar van Jehovah se genade en die dag van die wraak van ons God aan te kondig.”

VREESLOSE VERKONDIGERS

Die Bybelstudente moes vreesloos wees om hulle opdrag uit te voer. Hulle moes nie net “goeie nuus” aan die nederiges verkondig nie, maar ook “die dag van . . . wraak” aan die goddeloses.

Broer J. H. Hoskin, wat in Kanada gebly het, het vreesloos getuig, al was hy teëgestaan. Vroeg in 1921 het hy ’n Metodistepredikant in die huis-tot-huis-werk ontmoet. Broer Hoskin het die gesprek begin deur te sê: “Ons moet oor die Bybel kan gesels, al stem ons nie oor alles saam nie. Dan sal ons op ’n goeie voet uitmekaar uit kan gaan.” Maar dit is nie wat gebeur het nie. Broer Hoskin sê: “Ons het net ’n paar minute gepraat toe [die predikant] die deur so hard toegeslaan het dat ek gedink het dat die glasgedeelte daarvan sou breek en op die vloer sou val.”

“Hoekom gaan praat jy nie met die heidene nie?”, het die predikant geskree. Broer Hoskin het niks gesê nie, maar hy het by homself gedink: ‘Wel, dan is ek mos by die regte deur!’

By die kerkdiens die volgende dag het die predikant nog lelike dinge van broer Hoskin gesê. Broer Hoskin het gesê: “Hy het sy gemeentelede teen my gewaarsku en vir hulle gesê dat ek die ergste skurk was wat nog ooit na daardie dorp toe gekom het en dat ek geskiet behoort te word.” Maar dit het broer Hoskin glad nie afgeskrik nie. Hy het aanhou preek en het sukses gehad. Hy het gesê: “Dit was die lekkerste velddiens wat ek nog ooit gedoen het. Van die mense het selfs vir my gesê: ‘Ek weet dat jy ’n man van God is!’, en hulle het aangebied om vir my die dinge te gee wat ek nodig het.”

PERSOONLIKE EN GESINSTUDIE

Die Bybelstudente het Bybelstudiekursusse in The Golden Age gepubliseer om belangstellendes te help om vordering te maak. * Die Bybelstudiekursus vir jongmense het bestaan uit vrae wat ouers met hulle kinders kon bespreek. Ouers het hulle kinders hierdie vrae gevra en het hulle gehelp om die antwoorde in die Bybel te vind. Party vrae soos “Hoeveel boeke is daar in die Bybel?” het kinders gehelp om basiese feite oor die Bybel te leer. Ander vrae soos “Moet elke ware Christen verwag om op die een of ander manier vervolg te word?” het jongmense voorberei om vreeslose verkondigers te wees.

Daar was ook ’n Bybelstudiekursus vir dié wat alreeds meer kennis van die Bybel gehad het. Die antwoorde op die vrae daarin kon in die boek Studies in the Scriptures gevind word. Duisende lesers het baie uit hierdie kursusse geleer, maar The Golden Age van 21 Desember 1921 het aangekondig dat albei hierdie kursusse beëindig sou word. Wat was die rede daarvoor?

’N NUWE BOEK!

Die boek Die harp van God

’n Boekmerk met die student se leesgedeelte op

Kaartjies met vrae

Die broers wat die leiding geneem het, het besef dat nuwe Bybelstudente basiese waarhede onderwerp vir onderwerp moes leer. Daarom is die boek Die harp van God in November 1921 vrygestel. Belangstellendes wat die boek aanvaar het, was ook ingeskryf vir die Harp-Bybelstudiekursus. Hierdie kursus het mense geleer oor hoe God die mensdom sou seën en vir hulle ewige lewe sou gee. En hulle kon hierdie kursus op hulle eie doen. Hoe het hierdie kursus gewerk?

Wanneer iemand die boek aanvaar het, het hy ook ’n klein kaartjie bygekry, wat vir hom gesê het watter bladsye hy eerste moet lees. Die volgende week het hy ’n kaartjie gekry met die vrae vir die gedeelte wat hy gelees het. Aan die einde van die kaartjie het die persoon gesien watter gedeelte hy vir die volgende week moes lees.

Die student het 12 weke lank, elke week, ’n nuwe kaartjie gekry, wat deur die plaaslike klas, of gemeente, gepos is. Baie keer was hierdie kaartjies gestuur deur broers en susters wat as gevolg van hulle omstandighede of die ouderdom nie huis-tot-huis-werk kon doen nie. Byvoorbeeld, Anna K. Gardner, van Millvale, Pennsilvanië, VSA, het gesê: “Toe Die harp van God vrygestel is, het dit my suster Thayle, wat gesukkel het om te loop, meer werk gegee om te doen, want sy kon die kaartjies met die vrae elke week uitstuur.” Nadat die student die kursus voltooi het, het iemand hom kom besoek om hom te help om meer oor die Bybel te leer.

Thayle Gardner in haar rolstoel

DIE WERK WAT VOORGELÊ HET

Aan die einde van die jaar het broer J.F. Rutherford ’n brief aan al die gemeentes gestuur. Hy het gesê dat meer mense daardie jaar met die goeie nuus van die Koninkryk bereik is as enige van die vorige jare van die oestyd. Toe het hy gesê: “Maar daar lê nog baie werk vir ons voor. Moedig ander aan om ook deel te neem aan hierdie wonderlike werk.” Dit is duidelik dat die Bybelstudente hierdie raad gevolg het. In die jaar 1922 het hulle die goeie nuus van die Koninkryk meer as ooit tevore vreesloos verkondig.

^ par. 9 Die naam van The Golden Age is in 1937 na Consolation (Vertroosting) verander, en in 1946 na Awake! (Ontwaak!).