Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jou vriendskap met Jehovah weer op te bou

Hoe om jou vriendskap met Jehovah weer op te bou

ELKE jaar word baie van Jehovah se kosbare skape in die Christengemeente herstel. Dink net aan hoeveel ‘vreugde daar in die hemel is’ wanneer elkeen van hulle terugkeer! (Luk. 15:7, 10). As jy een van hulle is, kan jy seker wees dat Jesus, die engele en Jehovah oorloop van vreugde omdat jy weer deel is van die gemeente. Maar terwyl jy jou vriendskap met Jehovah opbou, sal daar dalk uitdagings wees. Wat is party van die uitdagings, en wat kan jou help?

WAT IS DIE UITDAGINGS?

Baie sukkel met negatiewe gevoelens nadat hulle na die gemeente terugkeer. As jy in so ’n situasie is, voel jy miskien soos koning Dawid gevoel het. Selfs nadat hy vir sy sondes vergewe is, het hy gesê: “Ek word oorweldig deur soveel van my sondes” (Ps. 40:12; 65:3). Nadat iemand na Jehovah teruggekeer het, kan hy dalk nog jare lank met skuldgevoelens sukkel. Isabelle, * wat meer as 20 jaar lank uitgesit was, sê: “Ek het dit moeilik gevind om die idee te aanvaar dat Jehovah my kon vergewe.” As jy mismoedig word, loop jy die gevaar om weer geestelik swak te word (Spr. 24:10). Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie.

Ander voel dalk mismoedig wanneer hulle dink aan hoeveel werk dit sal vat om hulle verhouding met Jehovah te herstel. Nadat Antoine herstel is, het hy gesê: “Ek het gevoel asof ek vergeet het hoe om ’n Getuie te wees.” As gevolg van sulke gevoelens huiwer party dalk om ten volle by geestelike aktiwiteite betrokke te raak.

Hulle voel dalk soos iemand wie se huis erg deur ’n orkaan beskadig is en wat mismoedig voel wanneer hy dink aan hoeveel tyd en energie dit sal vat om dit te herbou. As jou verhouding met Jehovah erg beskadig is deur ernstige sonde, voel jy miskien dat jy baie hard sal moet werk om jou verhouding met Jehovah te herstel. Maar jy hoef dit nie alleen te doen nie.

Jehovah nooi ons: “Kom, laat ons sake regstel tussen ons” (Jes. 1:18). Jy het alreeds hard gewerk om ‘sake reg te stel’. Jehovah waardeer baie wat jy gedoen het. Dink net daaraan: Omdat jy na Jehovah toe teruggekeer het, kan hy jou as ’n voorbeeld gebruik om te bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is! – Spr. 27:11.

Deur na Jehovah toe terug te keer, het jy alreeds nader aan hom gekom, en hy belowe dat hy dieselfde sal doen (Jak. 4:8). Dit is goed dat jy weer deel is van die gemeente, maar daar is nog iets wat jy moet doen. Jy moet aanhou om jou liefde vir Jehovah, jou Vader en Vriend, te versterk. Hoe kan jy dit doen?

STEL REDELIKE DOELWITTE

Probeer om redelike doelwitte te stel. Onthou dat daar heel moontlik niks fout is met jou geestelike fondasie nie. Jy onthou seker nog die basiese dinge wat jy geleer het oor Jehovah en sy beloftes vir die toekoms. Maar wat jy nou nodig het, is ’n goeie roetine van geestelike aktiwiteite, soos om velddiens te doen, om vergaderinge by te woon en om tyd saam met jou broers en susters te spandeer. Jy kan miskien die volgende doelwitte vir jouself stel.

Praat gereeld met Jehovah. Jou Vader verstaan dat skuldgevoelens dit vir jou moeilik kan maak om met hom te praat (Rom. 8:26). Maar hou aan om tot Jehovah te bid en om vir hom te sê hoe graag jy sy vriend wil wees (Rom. 12:12). ’n Broer met die naam Andrej sê: “Ek het baie skuldig en sleg oor myself gevoel. Maar ná elke gebed het ek beter gevoel. Ek het meer innerlike vrede gehad.” As jy nie weet waaroor om te bid nie, kan jy die gebede van die berouvolle koning Dawid in Psalm 51 en 65 gaan lees.

Studeer die Bybel gereeld. Dit sal jou help om geestelik sterk te word en sal jou liefde vir Jehovah versterk (Ps. 19:7-11). Felipe sê: “Die rede hoekom ek in die eerste plek geestelik swak geword het, is omdat ek nie ’n geestelike roetine gehad het nie. Ek wou nie weer dieselfde fout maak nie, en daarom het ek besluit om persoonlike studie my beskerming te maak.” Jy kan dieselfde doen. As jy hulp nodig het om onderwerpe vir persoonlike studie te kies, kan jy ’n vriend vra wat sterk in die waarheid is, om jou te help.

Bou jou vriendskappe met jou broers en susters weer op. Party wat na die gemeente toe terugkeer, is bekommerd dat ander sleg van hulle sal dink. Larissa erken: “Ek het baie sleg gevoel. Ek het gevoel asof ek die gemeente in die steek gelaat het. En ek het baie lank so gevoel.” Wees verseker dat die ouermanne en ander wat sterk in die waarheid is, jou graag wil help om weer ’n sterk verhouding met Jehovah op te bou. (Sien die venster “ Wat kan ouermanne doen?”) Hulle is so bly dat jy na die gemeente toe teruggekeer het, en hulle wil hê dat jy gelukkig moet wees! – Spr. 17:17.

Wat kan jou help om nader aan die gemeente te kom? Raak ten volle betrokke by die dinge wat die broers en susters doen: Woon vergaderinge by en doen gereeld velddiens. Hoe sal dit jou help? Felix het gesê: “Die gemeente het daarna uitgesien om my terug te verwelkom. Hulle almal het my gehelp om weer deel van ’n familie te wees, om te voel dat ek vergewe is en om aan te beweeg. – Sien die venster “ Wat kan jy doen?

MOENIE OPGEE NIE!

Satan sal aanhou om nog “orkane” na jou kant toe te stuur terwyl jy probeer om jou verhouding met Jehovah weer op te bou (Luk. 4:13). So berei nou voor deur jou geestelike huis te versterk.

In verband met sy skape het Jehovah gesê: “Die een wat verlore is, sal ek soek en die een wat weggedwaal het, sal ek terugbring en die een wat beseer is, sal ek verbind en die sieke sal ek versterk” (Eseg. 34:16). Jehovah het al baie mense gehelp om hulle verhouding met hom te herstel. Wees verseker dat hy jou wil help om aan te hou om jou verhouding met hom te versterk.

^ par. 4 Name in hierdie artikel is verander.