Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 42

Hou styf vas aan die waarheid

Hou styf vas aan die waarheid

“Maak seker van alles, en hou vas aan wat goed is.” – 1 TESS. 5:21.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Waaroor wonder baie mense?

DAAR is duisende kerke wat sê dat hulle God op die regte manier aanbid. Daarom wonder baie mense of daar net een ware godsdiens is of as al die godsdienste vir God aanvaarbaar is. Is ons heeltemal oortuig dat Jehovah se Getuies die waarheid het en dat ons God op die regte manier aanbid? Is dit regtig moontlik om daarvan oortuig te wees? Kom ons kyk na die bewyse.

2. Volgens 1 Tessalonisense 1:5, hoekom was die apostel Paulus oortuig dat hy die waarheid gehad het?

2 Die apostel Paulus was heeltemal oortuig dat hy die waarheid gehad het. (Lees 1 Tessalonisense 1:5.) Daardie oortuiging was nie gebaseer op hoe hy gevoel het nie. Paulus was ’n goeie student van God se Woord. Hy het geglo dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer [is]” (2 Tim. 3:16). Wat het hy in God se Woord geleer? Hy het oortuigende bewyse gevind dat Jesus die beloofde Messias is. Maar die Joodse godsdiensleiers het daardie bewyse geïgnoreer. Daardie skynheilige godsdiensleiers het gesê dat hulle God verteenwoordig, maar hulle het dinge gedoen wat God haat (Tit. 1:16). Maar Paulus was anders. Hy het nie gekies om net sekere dele van God se Woord te glo nie. Hy het “al die raad van God” geglo en dit aan ander geleer. – Hand. 20:27.

3. Moet ons die antwoorde op al ons vrae hê voordat ons oortuig kan wees dat ons die waarheid het? (Sien ook die venster “ Jehovah se werke en gedagtes – ‘Te veel om op te noem’”.)

3 Party dink dat die ware godsdiens elke liewe vraag moet kan beantwoord, selfs vrae wat nie in die Bybel beantwoord word nie. Is dit realisties? Kyk na wat Paulus gesê het. Hy het Christene aangemoedig om ‘van alles seker te maak’, maar hy het ook erken dat daar baie dinge was wat hy nie verstaan het nie (1 Tess. 5:21). Hy het gesê dat ons net “gedeeltelike kennis” het, en hy het ook geskryf dat ons “’n onduidelike beeld in ’n metaalspieël” sien (1 Kor. 13:9, 12). Paulus het nie alles verstaan nie, en ons verstaan ook nie alles nie. Maar die basiese dinge wat hy oor Jehovah geweet het, was genoeg om hom te oortuig dat hy die waarheid gehad het.

4. Hoe kan ons ons vertroue versterk dat ons die waarheid het, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Een manier om ons vertroue te versterk dat ons die waarheid het, is deur te kyk na hoe Jesus Jehovah aanbid het en dit te vergelyk met hoe Jehovah se Getuies Jehovah vandag aanbid. In hierdie artikel gaan ons sien dat ware Christene (1) niks met afgodediens te doen het nie, (2) Jehovah se naam respekteer, (3) die waarheid liefhet en (4) mekaar intens liefhet.

ONS HET NIKS MET AFGODEDIENS TE DOEN NIE

5. Wat leer ons by Jesus oor die regte manier om God te aanbid, en hoe kan ons toepas wat hy ons geleer het?

5 As gevolg van Jesus se diep liefde vir Jehovah, het hy niks en niemand behalwe Jehovah aanbid toe hy in die hemel was en toe hy op die aarde was nie (Luk. 4:8). Hy het sy dissipels geleer om dieselfde te doen. Nie Jesus of sy getroue dissipels het ooit beelde in hulle aanbidding gebruik nie. Omdat God ’n gees is en met niks vergelyk kan word nie, kan niks wat mense maak, hom ooit voorstel nie! (Jes. 46:5). Maar kan ’n mens beelde van sogenaamde heiliges maak en tot hulle bid? Die tweede gebod wat Jehovah vir die Israeliete gegee het, was: “Jy mag nie vir jou ’n beeld of ’n afbeelding maak van enigiets wat bo in die hemel [of] onder op die aarde . . . is nie. Jy mag nie voor hulle neerbuig . . . nie” (Eks. 20:4, 5). Mense wat God gelukkig wil maak, verstaan dus dat God afgodediens haat.

6. Wie se voorbeeld volg Jehovah se Getuies wanneer dit kom by hulle aanbidding?

6 Verskeie geskiedkundiges het al gesê dat die vroeë Christene niks en niemand behalwe God aanbid het nie. Byvoorbeeld, die boek History of the Christian Church sê dat die blote gedagte om beelde in plekke van aanbidding te plaas, vir die vroeë Christene “afstootlik sou gewees het”. Vandag volg Jehovah se Getuies die voorbeeld van die Christene in die eerste eeu. Ons bid nie tot beelde van “heiliges” of engele nie. Ons bid nie eers tot Jesus nie. Ons sal ook nie die vlag salueer of enige iets anders doen wat op aanbidding van die staat neerkom nie. Maak nie saak wat gebeur nie, ons is vasbeslote om Jesus se woorde te gehoorsaam: “Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien.” – Matt. 4:10.

7. Hoe is Jehovah se Getuies anders as ander godsdienste?

7 Vandag volg baie mense welbekende kerkleiers. Hulle is so mal oor hierdie mense dat hulle hulle basies verafgod. Mense stroom na hulle kerke toe, koop hulle boeke en gee skenkings aan hulle en aan die organisasies wat deur hierdie kerkleiers ondersteun word. Mense hang aan hulle lippe. Dit lyk amper asof hulle net so opgewonde is oor hierdie kerkleiers as wat hulle oor Jesus sou gewees het. Maar ware aanbidders van Jehovah het geen godsdiensleiers nie. Al respekteer ons die broers wat die leiding neem, is ons gehoorsaam aan Jesus se woorde: “Julle almal is broers” (Matt. 23:8-10). Ons sal nie politieke of godsdiensleiers of enige ander mens verafgod nie, en ons sal ook nie hulle ondersteuners word nie. Ons bly eerder neutraal en geen deel van die wêreld nie. Daarom is ons baie anders as ander sogenaamde Christene. – Joh. 18:36.

ONS RESPEKTEER JEHOVAH SE NAAM

Ware Christene is trots om mense oor Jehovah te vertel (Sien paragraaf 8-10) *

8. Hoe weet ons dat Jehovah wil hê dat sy naam verheerlik en bekend gemaak moet word?

8 Jesus het eenkeer gebid: “Vader, verheerlik u naam.” Jehovah het daardie gebed beantwoord deur met ’n baie harde stem uit die hemel te belowe dat hy sy naam sou verheerlik (Joh. 12:28). Dwarsdeur Jesus se bediening het hy sy Vader se naam verheerlik (Joh. 17:26). So dit is redelik om te verwag dat ware Christene trots sal wees om God se naam te gebruik en om dit aan ander bekend te maak.

9. Hoe het die Christene in die eerste eeu gewys dat hulle God se naam respekteer?

9 In die eerste eeu, kort nadat die Christengemeente gevorm is, het Jehovah “aan die nasies gedink . . . sodat hy uit hulle ’n volk vir sy naam kan neem” (Hand. 15:14). Daardie Christene in die eerste eeu was trots om God se naam te gebruik en om dit aan ander bekend te maak. Hulle het God se naam baie in hulle bediening gebruik, en Bybelskrywers het God se naam gebruik in die boeke wat hulle geskryf het. * Hulle het bewys dat hulle ’n volk vir God se naam is. – Hand. 2:14, 21.

10. Watter bewyse is daar dat Jehovah se Getuies ’n volk vir Jehovah se naam is?

10 Is Jehovah se Getuies ’n volk vir Jehovah se naam? Kyk na die bewyse. Vandag het baie godsdiensleiers alles gedoen wat hulle kon om te keer dat mense leer dat God ’n persoonlike naam het. Hulle het dit uit hulle Bybelvertalings verwyder, en in party gevalle het hulle mense verbied om daardie naam in hulle kerke te gebruik. * Kan enige iemand stry teen die feit dat dit net Jehovah se Getuies is wat Jehovah se naam die eer en respek gee wat dit verdien? Geen ander godsdiensgroep maak God se persoonlike naam bekend soos wat ons dit bekend maak nie! Op hierdie manier wys ons dat ons regtig Jehovah se Getuies is (Jes. 43:10-12). Ons het meer as 240 miljoen kopieë gedruk van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel, waar Jehovah se naam in die oorspronklike plekke verskyn, al het ander Bybelvertalers dit verwyder. En ons maak Bybelpublikasies wat Jehovah se naam bevat, in meer as 1 000 tale beskikbaar!

ONS IS LIEF VIR DIE WAARHEID

11. Hoe het die vroeë Christene gewys dat hulle lief is vir die waarheid?

11 Jesus was lief vir die waarheid, dit wil sê die waarheid oor God en oor wat God in die toekoms gaan doen. Alles wat Jesus gedoen het, het gewys dat hy die waarheid glo, en hy het daardie waarheid aan ander bekend gemaak (Joh. 18:37). Jesus se ware volgelinge was ook baie lief vir die waarheid (Joh. 4:23, 24). Die apostel Paulus het na die Christelike geloof verwys as “die weg van die waarheid” (2 Pet. 2:2). Omdat die vroeë Christene so lief was vir die waarheid, het hulle godsdiensleringe, tradisies en persoonlike opinies wat in stryd was met die waarheid, verwerp (Kol. 2:8). Vandag probeer ware Christene ook om “die weg van die waarheid te volg” deur alles wat hulle glo, sowel as hulle lewenswyse op Jehovah se Woord te baseer. – 3 Joh. 3, 4

12. Wat doen die broers wat die leiding neem wanneer hulle besef dat ons die manier hoe ons iets verstaan, moet verander, en hoekom?

12 Jehovah se Getuies sê nie dat hulle alles in die Bybel ten volle verstaan nie. Hulle het al in die verlede foute gemaak wanneer dit kom by hoe hulle ’n sekere Bybellering verduidelik of hoe hulle die gemeente organiseer. Dit moet ons nie verbaas nie. Die Bybel maak dit duidelik dat God se volk die waarheid al hoe beter sal verstaan (Kol. 1:9, 10). Jehovah maak die waarheid geleidelik aan ons bekend, en ons moet bereid wees om geduldig te wag vir die lig van die waarheid om helderder te word (Spr. 4:18). Wanneer die broers wat die leiding neem, besef dat ons die manier hoe ons ’n sekere waarheid verstaan, moet verander, huiwer hulle nie om die nodige aanpassings te maak nie. Baie kerke verander hulle leringe sodat hulle hulle gemeentelede tevrede kan stel of sodat hulle beter by die wêreld kan inpas. Maar as Jehovah se Getuies maak ons veranderinge omdat ons nader aan God wil kom en omdat ons hom wil aanbid soos Jesus hom aanbid het (Jak. 4:4). Ons maak veranderinge, nie omdat ons by die wêreld wil inpas nie, maar omdat ons die Bybel beter verstaan. Ons is lief vir die waarheid! – 1 Tess. 2:3, 4.

ONS HET INTENSE LIEFDE VIR MEKAAR

13. Wat is die belangrikste eienskap wat ware Christene moet hê, en hoe wys Jehovah se Getuies dat hulle dit het?

13 Van al die eienskappe wat die Christene in die eerste eeu gehad het, was liefde die belangrikste. Jesus het gesê: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Regoor die wêreld sien ons ware liefde en eenheid onder Jehovah se Getuies vandag. Ons is anders as al die ander godsdienste omdat ons soos ’n wêreldwye familie is, al kom ons uit verskillende agtergronde en lande. Ons sien bewyse van ware liefde by ons vergaderinge en byeenkomste. Daardie bewyse versterk ons vertroue dat ons Jehovah op die regte manier aanbid.

14. Volgens Kolossense 3:12-14, wat is ’n belangrike manier om te wys dat ons intense liefde vir mekaar het?

14 Die Bybel sê dat ons “intense liefde vir mekaar moet hê” (1 Pet. 4:8). Een manier om te wys dat ons hierdie soort liefde het, is deur mekaar te vergewe en deur mekaar se onvolmaakthede te verdra. Ons soek na geleenthede om vrygewig en gasvry teenoor almal in die gemeente te wees, selfs teenoor dié wat ons seergemaak het. (Lees Kolossense 3:12-14.) Hierdie band van liefde is die duidelikste bewys dat ons ware Christene is.

“EEN GELOOF”

15. Hoekom kan ons sê dat ons dieselfde patroon van aanbidding volg wat die Christene in die eerste eeu gevolg het?

15 Ons volg die patroon van aanbidding wat die Christene in die eerste eeu gevolg het. Byvoorbeeld, ons is op dieselfde manier georganiseer as daardie Christene. Net soos hulle, het ons reisende opsieners, ouermanne en bedieningsknegte (Fil. 1:1; Tit. 1:5). En net soos hulle, respekteer ons Jehovah se wette oor seks, die huwelik en bloed, en ons beskerm die gemeente ook teen mense wat nie God se wette wil gehoorsaam nie. – Hand. 15:28, 29; 1 Kor. 5:11-13; 6:9, 10; Heb. 13:4.

16. Wat leer ons uit Efesiërs 4:4-6?

16 Jesus het gesê dat baie van die mense wat sê dat hulle sy dissipels is, nie sy ware dissipels sal wees nie (Matt. 7:21-23). Let op wat sê die Bybel in verband met baie mense wat in die laaste dae lewe: “Dit sal lyk asof hulle God dien, maar hulle sal nie lewe soos mense wat God dien nie” (2 Tim. 3:1, 5). Die Bybel sê vir ons baie duidelik dat daar net “een geloof” is wat God se goedkeuring het. – Lees Efesiërs 4:4-6.

17. Watter geloof het God se goedkeuring vandag?

17 Watter geloof het God se goedkeuring vandag? Ons het die bewyse ondersoek. Ons het gekyk na Jesus se voorbeeld en na die patroon van aanbidding wat die Christene in die eerste eeu gevolg het. Daar is net een antwoord – Jehovah se Getuies. Wat ’n groot voorreg om een van Jehovah se knegte te wees en om te weet wat die waarheid is oor Jehovah en oor wat hy in die toekoms gaan doen. Mag ons aanhou om styf vas te hou aan die waarheid!

LIED 3 U gee ons hoop en krag

^ par. 5 In hierdie artikel gaan ons kyk na die voorbeeld wat Jesus gestel het wanneer dit kom by ware aanbidding en na hoe sy vroeë dissipels sy voorbeeld gevolg het. Ons sal ook na bewyse kyk dat Jehovah se Getuies daardie patroon van ware aanbidding volg.

^ par. 9 Sien die venster “Het die eerste Christene God se naam gebruik” in Die Wagtoring van 1 Julie 2010, bl. 6.

^ par. 10 Byvoorbeeld, in 2008 het pous Benediktus XVI gesê dat God se naam nie in Katolieke kerkdienste, gesange of gebede “gebruik of uitgespreek moet word nie”.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENT: Jehovah se organisasie het die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in meer as 200 tale beskikbaar gemaak sodat mense ’n Bybel in hulle eie taal kan lees wat God se naam bevat.