Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Nabyfoto van die verhoog en die banier bo die verhoog

1922 – Honderd jaar gelede

1922 – Honderd jaar gelede

“GOD . . . gee ons die oorwinning deur . . . Jesus Christus” (1 Kor. 15:57). Hierdie woorde, wat as die jaarteks vir 1922 gekies is, het die Bybelstudente verseker dat hulle getrouheid beloon sou word. Gedurende daardie jaar het Jehovah wel hierdie ywerige predikers beloon. Hy het hulle geseën toe hulle hulle eie boeke begin druk en bind het en die radio begin gebruik het om Koninkrykswaarhede te versprei. Toe later in 1922 was dit weereens duidelik dat Jehovah besig was om sy volk te seën. Die Bybelstudente kon by ’n geskiedkundige byeenkoms bymekaarkom in Cedar Point, Ohio, VSA. Daardie byeenkoms het tot vandag toe ’n uitwerking op die werk van Jehovah se organisasie.

“’N OPWINDENDE IDEE”

Toe meer mense gepreek het, het die broers en susters meer lektuur nodig gehad. Die broers by die Bethel in Brooklyn het tydskrifte vervaardig, maar hulle was nog steeds afhanklik van kommersiële maatskappye vir hardebandboeke. Toe daar maande lank ’n tekort aan boeke was om in die predikingswerk te gebruik, het broer Rutherford vir Robert Martin, die fabrieksbestuurder, gevra of dit moontlik is om hulle eie boeke te druk.

Die fabriek in Concordstraat in Brooklyn, New York

Broer Martin vertel: “Dit was ’n baie opwindende idee, want dit het beteken dat ons ’n fabriek sou moes open met setmasjiene, elektroplateertoerusting, drukperse en ’n bindery.” Die broers het ’n plek gehuur by Concordstraat 18 in Brooklyn en het die nodige toerusting gekry.

Nie almal was gelukkig met hierdie nuwe idee nie. Die president van ’n maatskappy wat ons boeke vervaardig het, het die nuwe fabriek besoek. Hy het gesê: “Hier sit julle met ’n drukkery van die hoogste gehalte en niemand in die plek weet hoe om daarmee te werk nie. Binne ses maande sal dit alles ’n hoop rommel wees.”

Broer Martin het gesê: “Dit het sin gemaak, maar dit het die Here uitgesluit, en hy was nog altyd met ons.” Broer Martin was reg. Kort daarna het die nuwe bindery 2 000 boeke per dag vervaardig.

Broers staan by hulle drukmasjiene in die fabriek

DUISENDE WORD OOR DIE RADIO BEREIK

Jehovah se volk het nie net party van hulle eie boeke begin druk nie, maar hulle het ook ’n nuwe metode om die goeie nuus te versprei, begin gebruik – radio-uitsending. Op Sondagmiddag 26 Februarie 1922 het broer Rutherford vir die eerste keer oor die radio gepraat. Hy het die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” gegee op die radiostasie KOG in Los Angeles, Kalifornië, VSA.

Omtrent 25 000 mense het die program gehoor. Party van hulle het briewe gestuur om dankie te sê vir die uitsending. Een van hierdie briewe was van Willard Ashford, wat in Santa Ana, Kalifornië, gebly het. Hy het broer Rutherford bedank vir ’n “lekker en interessante” aanbieding. En hy het gesê: “Met drie siekes in die huis sou nie een van ons na jou kon kom luister het nie, al het jy die toespraak naby ons gegee.”

Daar was nog uitsendings in die weke daarna. Teen die einde van die jaar het The Watch Tower gesê dat “ten minste 300 000 mense die boodskap oor die radio gehoor het”.

Die briewe en kommentare het die Bybelstudente baie aangemoedig, en hulle het toe besluit om ’n radiostasie te bou op ’n eiendom in Staten Island, nie ver van die Bethel in Brooklyn nie. In die jare daarna sou die Bybelstudente hierdie stasie, WBBR, gebruik om die Koninkryksboodskap aan baie mense op baie plekke te versprei.

“ADV”

The Watch Tower van 15 Junie 1922 het aangekondig dat ’n byeenkoms van 5-13 September 1922 in Cedar Point, Ohio, gehou sou word. Die Bybelstudente was baie opgewonde toe hulle in Cedar Point aangekom het.

In sy eerste toespraak het broer Rutherford vir die gehoor gesê: “Ek is doodseker dat die Here hierdie byeenkoms . . . sal seën en sal seker maak dat ’n groter getuienis gegee sal word as wat al ooit tevore hier op die aarde gegee is.” Die sprekers by daardie byeenkoms het die broers en susters oor en oor aangemoedig om die predikingswerk te doen.

Die skare by die 1922-byeenkoms in Cedar Point, Ohio

Toe op Vrydag 8 September was daar omtrent 8 000 mense in die saal, en hulle het gretig gewag om na ’n toespraak deur broer Rutherford te luister. Hulle het gehoop dat hy die betekenis sou verduidelik van “ADV” wat op hulle uitnodigings gedruk was. Toe hulle gaan sit het, het baie van hulle ’n groot rol materiaal bo die verhoog gesien. Arthur Claus, wat van Tulsa, Oklahoma, VSA, na die byeenkoms gekom het, het ’n sitplek gekry waar hy goed sou kon hoor, iets wat in daardie tyd baie moeilik was omdat daar nie mikrofone of luidsprekers was om die klank harder te maak nie.

“Ons het aan sy lippe gehang”

Om seker te maak dat daar geen onderbrekings was nie, het die voorsitter aangekondig dat geen laatkommers gedurende broer Rutherford se toespraak toegelaat sou word om in die saal in te kom nie. Om 9:30 vm. het broer Rutherford begin deur Jesus se woorde in Matteus 4:17 aan te haal: “Die Koninkryk van die hemel het naby gekom.” Toe hy bespreek het hoe mense van hierdie Koninkryk sou hoor, het hy gesê: “Jesus het self gesê dat hy gedurende sy teenwoordigheid sy ware en lojale knegte bymekaar sou maak.”

Broer Claus, wat in die hoofsaal gesit het, het gesê: “Ons het aan sy lippe gehang.” Maar skielik het Arthur siek gevoel en moes hy die saal verlaat. Hy wou dit nie doen nie, want hy het geweet dat hy nie toegelaat sou word om weer terug te kom nie.

’n Paar minute later het hy beter begin voel. Hy het gesê dat hy ’n groot applous gehoor het terwyl hy teruggestap het na die saal toe. Dit het hom baie opgewonde gemaak. Hy het besluit dat hy op die dak sou klim as hy moet net sodat hy na die res van hierdie wonderlike toespraak kon luister. Broer Claus, wat op daardie tyd ’n jong man van 23 was, het ’n manier gevind om op die dak te klim. Die dakvensters was oop, en toe hy nader aan hulle gekom het, kon hy die toespraak baie goed hoor.

Maar Arthur was nie alleen nie. Party van sy vriende was ook op die dak. Een van hulle, Frank Johnson, het na hom toe gekom en hom gevra: “Het jy ’n skerp knipmes?”

“Ja, ek het,” het Arthur gesê.

“Jy is die antwoord op ons gebede,” het Frank gesê. “Sien jy hierdie groot rol materiaal? Dit is ’n banier wat aan hierdie spykers vasgemaak is. Luister mooi na die Regter. a Wanneer hy sê: ‘en julle moet adverteer, adverteer’, moet jy hierdie vier toue sny.”

Arthur het sy mes in sy hand gehou en saam met sy vriende vir die teken gewag. Kort daarna het broer Rutherford die belangrikste deel van sy toespraak bereik. Broer Rutherford was baie opgewonde en ywerig en het seker amper geskree toe hy gesê het: “Wees getroue en ware Getuies vir die Here. Gaan vooruit in die geveg totdat Babilon heeltemal vernietig is. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus Koning van konings en Here van here is. Dit is die belangrikste dag in die geskiedenis. Kyk, die koning regeer! Julle het die toewysing om vir almal hiervan te vertel. So, adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy Koninkryk.”

Arthur het gesê dat hy en die ander broers die toue gesny het, en die banier het sonder enige probleme afgerol. In ooreenstemming met die letters “ADV”, het die banier gesê: “Adverteer die Koning en die Koninkryk.”

’N BELANGRIKE WERK

Die byeenkoms in Cedar Point het die broers gehelp om op die belangrike Koninkrykspredikingswerk te fokus, en dié wat gewillig was, was bly dat hulle daaraan kon deelneem. ’n Kolporteur (wat nou bekend is as ’n pionier) van Oklahoma, VSA, het geskryf: “Ons het in ’n gebied gepreek waar baie mense in die steenkoolmyne gewerk het en baie arm was.” Hy het gesê dat mense dikwels “in trane uitgebars het” wanneer hulle die boodskap in die Golden Age-tydskrif gehoor het. Hy het dit so opgesom: “Dit is so ’n seëning om hulle te vertroos.”

Hierdie Bybelstudente het die dringendheid gevoel van Jesus se woorde in Lukas 10:2: “Die oes is groot, maar die werkers is min.” Terwyl die jaar tot ’n einde gekom het, was hulle meer vasbeslote as ooit tevore om die Koninkryksboodskap wyd en syd te adverteer.

a Broer Rutherford is soms “die Regter” genoem omdat hy partykeer as ’n spesiale regter in Missouri, VSA, gedien het.