Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die eertydse Israeliete het oorlog gevoer – Hoekom doen ons dit nie?

Die eertydse Israeliete het oorlog gevoer – Hoekom doen ons dit nie?

“AS ENIGE een van julle weier om teen Frankryk of Engeland te veg, moet julle almal sterf!” het ’n Nazi-beampte geskree vir ’n groep van Jehovah se Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Al het gewapende Nazi-soldate daar naby gestaan, het nie een van ons broers ingegee nie. Dit was ’n baie moedige ding om te doen! Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe Jehovah se Getuies oorloë beskou: Ons weier om in die oorloë van hierdie wêreld te veg. Al word ons met die dood gedreig, weier ons om kant te kies in hierdie wêreld se konflikte.

Maar nie almal wat hulleself Christene noem, stem saam met hierdie beskouing nie. Baie glo dat ’n Christen sy land kan en moet verdedig. Hulle redeneer dalk: ‘Die eertydse Israeliete was God se volk, en hulle het oorlog gevoer, so hoekom moet Christene van vandag dit dan nie doen nie?’ Hoe sal jy antwoord? Jy kan verduidelik dat die situasie van die eertydse Israeliete baie verskil van God se volk van vandag. Kyk na vyf verskille.

1. GOD SE VOLK HET ALMAL AAN EEN NASIE BEHOORT

In die verlede het Jehovah een nasie gekies om sy volk te wees – Israel. Hy het die Israeliete sy “spesiale eiendom uit al die volke” genoem (Eks. 19:5). God het hulle ook ’n spesifieke gebied gegee om in te bly. So toe God die Israeliete beveel het om teen ander nasies oorlog te voer, het hulle nie teen ander aanbidders van Jehovah geveg of hulle doodgemaak nie. a

Vandag kom ware aanbidders uit “alle nasies en stamme en volke en tale” (Op. 7:9). As God se volk oorlog sou voer, is daar ’n moontlikheid dat hulle teen hulle mede-aanbidders kan veg en hulle selfs kan doodmaak.

2. JEHOVAH HET DIE ISRAELIETE BEVEEL OM OORLOG TE VOER

In die verlede het Jehovah besluit wanneer en hoekom dit vir die Israeliete nodig was om oorlog te voer. Byvoorbeeld, God het vir die Israeliete gesê om sy oordeel uit te voer teen die Kanaäniete, wat bekend was vir hulle demoonaanbidding, walglike seksuele onsedelikheid en kinderofferandes. Jehovah het die Israeliete beveel om hierdie goddelose invloed te verwyder uit die land wat hy hulle belowe het (Lev. 18:24, 25). Nadat die Israeliete hulle in die Beloofde Land gevestig het, het God soms vir hulle gesê om oorlog te voer om Israel te verdedig teen vyande wat hulle onderdruk het (2 Sam. 5:17-25). Maar Jehovah het die Israeliete nooit toegelaat om self te besluit om oorlog te voer nie. Wanneer hulle dit wel gedoen het, het daar dikwels baie slegte dinge gebeur. – Num. 14:41-45; 2 Kron. 35:20-24.

Vandag sê Jehovah nie vir mense om oorlog te voer nie. Nasies veg om mense se belange eerder as God se belange te bevorder. Hulle begin dalk oorloë omdat hulle meer gebied wil hê, om baie geld te maak of om ’n politieke idee te bevorder. Maar wat van dié wat sê dat hulle in God se naam veg om hulle aanbidding te beskerm of om God se vyande dood te maak? Jehovah sal sy ware aanbidders beskerm en sy vyande vernietig in ’n toekomstige oorlog – die oorlog van Armageddon (Op. 16:14, 16). In daardie oorlog sal God se leërmag net uit sy geesskepsele bestaan en nie uit sy aanbidders op die aarde nie. – Op. 19:11-15.

3. DIE ISRAELIETE HET DIÉ WAT GELOOF BEOEFEN HET, GESPAAR

Spaar oorloë van vandag dié wat getrou is soos Jehovah se oorlog teen Jerigo Ragab en haar gesin gespaar het?

In die verlede het die Israelitiese leërmag dikwels genade gewys aan dié wat geloof in God gehad het en net dié doodgemaak wat Jehovah besluit het moes sterf. Kyk na twee voorbeelde. Alhoewel Jehovah beveel het dat Jerigo vernietig moes word, het die Israeliete Ragab en haar familie gespaar omdat sy geloof gehad het (Jos. 2:9-16; 6:16, 17). Later was die hele stad Gibeon gespaar nadat die Gibeoniete gewys het dat hulle respek het vir God. – Jos. 9:3-9, 17-19.

Vandag spaar nasies wat oorlog voer nie dié wat geloof beoefen nie. En soms word onskuldige mense in die konflikte tussen nasies doodgemaak.

4. DIE ISRAELIETE MOES JEHOVAH SE REËLS VOLG WANNEER DIT BY OORLOG GEKOM HET

In die verlede het Jehovah vereis dat Israelitiese soldate sy instruksies moes volg wanneer hulle oorlog voer. Byvoorbeeld, God het hulle soms gevra om “’n vredesaanbod” met ’n stad te maak (Deut. 20:10). Jehovah het ook verwag dat die Israelitiese soldate hulleself en hulle kamp fisies en sedelik rein moes hou (Deut. 23:9-14). Al het die leërmagte van die omliggende nasies dikwels vroue van die gebiede wat hulle verower het, verkrag, het Jehovah die Israeliete verbied om dit te doen. Om die waarheid te sê, nadat hulle ’n stad verower het, moes hulle ’n maand wag voordat hulle met ’n vrou kon trou wat hulle gevange geneem het. – Deut. 21:10-13.

Vandag het die meeste lande internasionale ooreenkomste geteken wat bepaal hoe hulle oorlog voer. Alhoewel hierdie ooreenkomste bedoel is om mense te beskerm, word die reëls ongelukkig dikwels gebreek.

5. GOD HET VIR SY NASIE GEVEG

Veg God vandag vir enige nasie soos hy vir Israel by Jerigo geveg het?

In die verlede het Jehovah vir die Israeliete geveg en hulle dikwels deur middel van wonderwerke gehelp om die oorloë te wen. Byvoorbeeld, hoe het Jehovah die Israeliete gehelp om die stad Jerigo te oorwin? Toe die Israeliete op Jehovah se bevel “hard geskree het, het die muur inmekaargestort”, wat dit vir hulle makliker gemaak het om die stad te oorwin (Jos. 6:20). En hoe het hulle die geveg teen die Amoriete gewen? “Jehovah [het] groot haelstene uit die lug op hulle laat val . . . Meer mense het gesterf as gevolg van die hael as van die swaard van die Israeliete.” – Jos. 10:6-11.

Vandag veg Jehovah nie vir enige aardse nasie nie. Sy Koninkryk, met Jesus as Koning, “is geen deel van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). Satan is eintlik die een wat gesag het oor alle menseregerings. Die wrede oorloë van die wêreld weerspieël sy slegte persoonlikheid. – Luk. 4:5, 6; 1 Joh. 5:19.

WARE CHRISTENE IS VREDEMAKERS

Soos ons gesien het, is ons situasie vandag baie anders as dié van eertydse Israel. Maar hierdie verskille is nie die enigste redes hoekom ons nie oorlog voer nie. Daar is ander redes. Byvoorbeeld, God het voorspel dat dié wat deur hom geleer word in die laaste dae “nie meer [sou] leer om oorlog te voer nie”. So hulle sou natuurlik ook nie daaraan deelneem nie (Jes. 2:2-4). En Christus het gesê dat sy dissipels “geen deel van die wêreld” sou wees nie; hulle sou nie kant kies in die wêreld se konflikte nie. – Joh. 15:19.

Christus het ook sy volgelinge aangemoedig om ’n stappie verder te gaan. Hy het hulle beveel om die gesindhede te vermy wat lei tot kwade gevoelens, woede en oorlog (Matt. 5:21, 22). En hy het sy volgelinge beveel om vredemakers te wees en om lief te wees vir hulle vyande. – Matt. 5:9, 44.

Hoe kan ons dit doen? Ons het seker geen begeerte om deel te neem aan enige oorlog nie, maar kan daar gevoelens van vyandigheid in ons hart wees wat konflikte of verdeeldheid in die gemeente kan veroorsaak? Laat ons hard probeer om ontslae te raak van sulke gevoelens. – Jak. 4:1, 11.

Ons raak nie betrokke by die oorloë van die nasies nie; ons werk eerder hard om vrede en liefde onder ons te bevorder (Joh. 13:34, 35). Laat ons vasbeslote wees om neutraal te bly terwyl ons uitsien na die dag wanneer Jehovah alle oorloë vir ewig sal verwyder. – Ps. 46:9.

a Soms het Israelitiese stamme teen mekaar geveg, alhoewel hierdie oorloë Jehovah nie gelukkig gemaak het nie (1 Kon. 12:24). Maar partykeer het hy sulke konflikte goedgekeur omdat sekere stamme hulle rug op hom gedraai het of ander ernstige sondes gepleeg het. – Rigt. 20:3-35; 2 Kron. 13:3-18; 25:14-22; 28:1-8.