STUDIEARTIKEL 42
Gelukkig is dié wat hulle integriteit aan Jehovah behou
“Gelukkig is dié wat hulle onkreukbaarheid [of, integriteit] behou, wat die wet van Jehovah volg.” – PS. 119:1, vtn.
LIED 124 Bly lojaal
IN HIERDIE ARTIKEL a
1-2. (a) Hoe het party regerings Jehovah se volk teëgestaan, maar hoe reageer sy volk? (b) Hoekom kan ons gelukkig wees, selfs wanneer ons vervolg word? (Lewer ook kommentaar oor prent op voorblad.)
OP DIE oomblik is ons werk in meer as 30 lande regoor die wêreld beperk of verbied. In party van daardie lande het die owerheid ons broers en susters tronk toe gestuur. Wat het hulle verkeerd gedoen? Volgens Jehovah het hulle niks verkeerd gedoen nie. Al wat hulle gedoen het, is om die Bybel te lees en te studeer, hulle geloof met ander te deel en vergaderinge saam met hulle broers en susters by te woon. Hulle het ook geweier om kant te kies in politieke sake. Ten spyte van verskriklike teenstand, het hierdie getroue knegte van God hulle integriteit b behou; dit wil sê, hulle het gewys dat hulle toegewydheid aan Jehovah nie gebreek kan word nie. En dit maak hulle gelukkig!
2 Jy het moontlik al foto’s van party van hierdie moedige Getuies gesien en opgelet dat hulle glimlag. Hulle is vreugdevol, want hulle weet dat hulle Jehovah gelukkig maak omdat hulle hulle integriteit aan hom behou (1 Kron. 29:17a). Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is . . . Wees bly en vreugdevol omdat julle beloning groot is.” – Matt. 5:10-12.
’N VOORBEELD VIR ONS
3. Volgens Handelinge 4:19, 20, hoe het die apostels in die eerste eeu op vervolging gereageer, en hoekom het hulle so gereageer?
3 Ons broers en susters ondervind wat die apostels in die eerste eeu ondervind het toe hulle vervolg is omdat hulle oor Jesus gepreek het. Die regters van die Joodse Hoë Raad het hulle oor en oor “beveel om op te hou om in Jesus se naam te praat” (Hand. 4:18; 5:27, 28, 40). Hoe het die apostels gereageer? (Lees Handelinge 4:19, 20.) Hulle het geweet dat ’n hoër gesag hulle ‘beveel het om vir die volk te preek en om deeglik te getuig’ oor die Christus (Hand. 10:42). Daarom het hulle verteenwoordigers Petrus en Johannes moedig gesê dat hulle God sou gehoorsaam eerder as daardie regters, en hulle het gesê dat hulle nie sou ophou om oor Jesus te praat nie. Dit was asof hulle vir daardie regters gevra het: ‘Dink julle dat julle bevele hoër is as dié van God?’
4. Volgens Handelinge 5:27-29, watter voorbeeld het die apostels vir alle ware Christene gestel, en hoe kan ons hulle navolg?
4 Die apostels het ’n goeie voorbeeld gestel wat alle ware Christene van toe af gevolg het, naamlik om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”. (Lees Handelinge 5:27-29.) Nadat die apostels geslaan is omdat hulle hulle integriteit behou het, het hulle die Joodse Hoë Raad verlaat, en hulle “was bly omdat hulle waardig bevind is om ter wille van [Jesus se] naam verneder te word”, en hulle het aangehou preek! – Hand. 5:40-42.
5. Watter vrae moet ons beantwoord?
5 Die voorbeeld wat die apostels gestel het, laat ’n paar vrae ontstaan. Byvoorbeeld, hoe kon die apostels aan God gehoorsaam wees eerder as aan mense en terselfdertyd gehoorsaam wees aan die Bybel se bevel om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede”? (Rom. 13:1). Hoe kan ons “gehoorsaam . . . wees aan regerings en owerhede” soos die apostel Paulus gesê het en nog steeds ons integriteit aan God behou as ons belangrikste Heerser? – Tit. 3:1.
“DIE HOËR OWERHEDE”
6. (a) Wie is “die hoër owerhede” waarvan Romeine 13:1 praat, en watter verpligting het ons teenoor hulle? (b) Wat is waar van alle menseheersers?
6 Lees Romeine 13:1. In hierdie vers verwys die term “hoër owerhede” na menseheersers wat mag oor ander het. Christene moet gehoorsaam wees aan hierdie menseheersers. Hulle handhaaf vrede, maak seker dat mense gehoorsaam is aan die wet en soms verdedig hulle Jehovah se volk selfs (Op. 12:16). Daarom word ons beveel om hulle die belasting, skatting, respek en eer te gee wat hulle vereis (Rom. 13:7). Maar daardie regerings het net gesag omdat Jehovah hulle toelaat om gesag te hê. Jesus het daardie beginsel duidelik gemaak toe hy deur die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus ondervra is. Toe Pilatus gesê het dat hy die gesag het om Jesus se lewe te spaar of om hom te laat doodmaak, het Jesus vir hom gesê: “U sou hoegenaamd geen gesag oor my hê as dit nie van bo aan u gegee was nie” (Joh. 19:11). Soos in die geval van Pilatus is die gesag van alle menseheersers en politieke leiers vandag beperk.
7. In watter situasies moet ons nie gehoorsaam wees aan menseheersers nie, en waarvan moet hulle bewus wees?
7 Christene is gehoorsaam aan die wette van die regering wanneer dit nie in teenstelling met God se wette is nie. Maar ons kan nie gehoorsaam wees aan mense wanneer hulle vereis wat God verbied of wanneer hulle verbied wat God vereis nie. Byvoorbeeld, hulle vereis dalk dat jong mans in die weermag van die land moet veg. c Of hulle verban dalk ons Bybel en ons Bybelpublikasies en verbied ons om te preek en om saam te aanbid. Wanneer heersers hulle gesag misbruik, soos deur Christus se dissipels te vervolg, sal God hulle verantwoordelik hou daarvoor. Jehovah hou hulle dop! – Pred. 5:8.
8. Wat is die verskil tussen “hoër” en “allerhoogste”, en hoekom maak dit saak?
8 Die woord “hoër” beteken “beter, groter, hoër in rang”. Maar dit beteken nie die “beste, grootste, hoogste in rang” nie. Dit beskryf ’n ander woord – “allerhoogste”. Al word menseregerings “die hoër owerhede” genoem, is daar ’n ander gesag wat die hoogste in rang is – die allerhoogste. Jehovah God word baie keer in die Bybel “die Allerhoogste” genoem. – Dan. 7:18, 22, 25, 27.
“DIE ALLERHOOGSTE”
9. Wat het die profeet Daniël in visioene gesien?
9 Die profeet Daniël het visioene gesien wat duidelik wys dat Jehovah meer gesag as alle ander owerhede het. Daniël het eers vier yslike diere gesien wat die wêreldmagte verteenwoordig van die verlede, naamlik Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome en die wêreldmag wat vandag regeer, Anglo-Amerika (Dan. 7:1-3, 17). Toe het Daniël Jehovah God op ’n troon in die hemelse hof sien sit (Dan. 7:9, 10). Wat daardie getroue profeet volgende gesien het, is ’n waarskuwing vir heersers van vandag.
10. Volgens Daniël 7:13, 14, 27, aan wie gee Jehovah gesag oor die aarde, en wat bewys dit oor Hom?
10 Lees Daniël 7:13, 14, 27. God neem alle gesag weg van menseregerings en gee dit aan ander wat dit meer verdien en wat magtiger is. Aan wie? Aan “iemand soos ’n seun van die mens”, Jesus Christus, en aan “die heiliges van die Allerhoogste”, die 144 000 wat “vir ewig en altyd” sal regeer (Dan. 7:18). Jehovah is duidelik “die Allerhoogste”, want hy het alleen die gesag om so iets te doen.
11. Wat het Daniël nog geskryf wat wys dat Jehovah meer gesag as die nasies het?
11 Die gebeurtenis wat Daniël in ’n visioen gesien het, stem ooreen met iets wat hy vroeër gesê het. Daniël het gesê: “Die God van die hemel . . . verwyder konings en stel konings aan.” Hy het ook geskryf “dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy ook al wil” (Dan. 2:19-21; 4:17). Was daar al tye toe Jehovah heersers verwyder of aangestel het? Absoluut!
12. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah in die verlede konings van hulle trone verwyder het. (Sien prent.)
12 Jehovah het duidelik gewys dat hy meer gesag as “die hoër owerhede” het. Kom ons kyk na drie voorbeelde. Farao van Egipte het Jehovah se volk gevange geneem en oor en oor geweier om hulle vry te laat. Maar God het hulle bevry en Farao in die Rooisee laat verdrink (Eks. 14:26-28; Ps. 136:15). Koning Belsasar van Babilon het ’n fees gehou en “in opstand gekom teen die Here van die hemel” en “gode van silwer en goud . . . geloof” in plaas van Jehovah (Dan. 5:22, 23). Maar God het daardie arrogante man verneder. Belsasar is “daardie selfde nag” doodgemaak, en sy koninkryk is aan die Mede en die Perse gegee (Dan. 5:28, 30, 31). Koning Herodes Agrippa I van Palestina het die apostel Jakobus laat doodmaak en toe die apostel Petrus in die tronk gegooi met die doel om hom ook dood te maak. Maar Jehovah het gekeer dat Herodes sy plan uitvoer. “Die engel van Jehovah [het] hom getref”, en hy het gesterf. – Hand. 12:1-5, 21-23.
13. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah groepe heersers oorwin het.
13 Jehovah het ook gewys dat hy meer gesag as groepe heersers het. Hy het vir Israel geveg en hulle gehelp om ’n groep van 31 Kanaänitiese konings te vernietig en om groot dele van die Beloofde Land te verower (Jos. 11:4-6, 20; 12:1, 7, 24). Jehovah het ook die Israeliete gehelp om koning Ben-Hadad en 32 ander Siriese heersers wat teen Israel geveg het, te oorwin. – 1 Kon. 20:1, 26-29.
14-15. (a) Wat het konings Nebukadnesar en Darius oor Jehovah se soewereiniteit gesê? (b) Wat het die psalmis oor Jehovah en Sy nasie gesê?
14 Jehovah het oor en oor bewys dat hy die Allerhoogste is! Toe koning Nebukadnesar van Babilon oor ‘sy eie krag en mag en die heerlikheid van sy majesteit’ gespog het eerder as om nederig te erken dat Jehovah die Een is wat verdien om geloof te word, het God hom laat mal word. Nadat hy herstel het, het Nebukadnesar “die Allerhoogste geloof” en erken dat “[Jehovah se] heerskappy . . . ’n ewige heerskappy” is. Hy het bygevoeg: “Daar is niemand wat hom kan keer” nie (Dan. 4:30, 33-35). Nadat Daniël se integriteit aan God getoets was en Jehovah hom uit die leeukuil gered het, het koning Darius beveel: “Mense in elke gebied van my koninkryk moet bewe van vrees voor die God van Daniël. Want hy is die lewende God wat vir ewig bestaan. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie, en sy soewereiniteit duur vir ewig.” – Dan. 6:7-10, 19-22, 26, 27, vtn.
15 Die psalmis het gesê: “Jehovah het die planne van die nasies op niks laat uitloop. Hy het die planne van die volke laat misluk.” Hy het bygevoeg: “Gelukkig is die nasie wie se God Jehovah is, die volk wat hy as sy eie besitting gekies het” (Ps. 33:10, 12). Ons het beslis ’n goeie rede om ons integriteit aan Jehovah te behou!
DIE LAASTE OORLOG
16. Waarvan kan ons seker wees wanneer dit kom by die “groot verdrukking”, en hoekom? (Sien prent.)
16 Ons het gelees wat Jehovah in die verlede gedoen het. Wat kan ons dan in die nabye toekoms verwag? Ons kan seker wees dat Jehovah sy lojale knegte gedurende die komende “groot verdrukking” sal red (Matt. 24:21; Dan. 12:1). Jehovah sal dit doen wanneer ’n groep nasies, wat as Gog van Magog bekend staan, sy getroue knegte regoor die wêreld op ’n wrede manier aanval. Selfs al sluit daardie groep al 193 lede van die Verenigde Nasies in, sal hulle glad nie ’n kans staan teen die Allerhoogste en sy hemelse leërmag nie. Jehovah belowe: “Ek sal my beslis verheerlik en my heilig en my bekend maak voor die oë van baie nasies, en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.” – Eseg. 38:14-16, 23; Ps. 46:10.
17. Watter toekoms voorspel die Bybel vir die konings van die aarde en vir dié wat hulle integriteit aan Jehovah behou?
17 Gog se aanval sal lei tot die oorlog van Armageddon wanneer Jehovah “die konings van die hele aarde” vernietig (Op. 16:14, 16; 19:19-21). Maar “net die goeie mense sal op die aarde woon, en dié wat hulle integriteit behou, sal daarop oorbly.” – Spr. 2:21, vtn.
ONS MOET ONS INTEGRITEIT BEHOU
18. Wat was baie ware Christene bereid om te doen, en hoekom? (Daniël 3:28)
18 Oor die jare het baie ware Christene hulle vryheid en selfs hulle lewens gewaag uit liefde vir Jehovah as hulle Soewereine Heerser. Hulle is vasbeslote om hulle integriteit te behou, en hulle is soos die drie Hebreërs wat deur die Allerhoogste uit die brandende vuuroond gered is omdat hulle getrou gebly het. – Lees Daniël 3:28.
19. Op grond waarvan sal Jehovah sy volk oordeel, en wat moet ons nou doen?
19 Die psalmis Dawid het geskryf oor hoe belangrik dit is om ons integriteit aan God te behou: “Jehovah sal die volke vonnis. Oordeel my, o Jehovah, volgens my regverdigheid en volgens my integriteit” (Ps. 7:8). En Dawid het geskryf: “Laat integriteit en getrouheid my bewaar” (Ps. 25:21). Die beste manier om te lewe, is om getrou en lojaal aan Jehovah te bly maak nie saak wat gebeur nie! Dan sal ons voel soos die psalmis wat geskryf het: “Gelukkig is dié wat hulle onkreukbaarheid [of, integriteit] behou, wat die wet van Jehovah volg.” – Ps. 119:1, vtn.
LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!
a Die Bybel moedig Christene aan om gehoorsaam te wees aan die hoër owerhede – die regerings van hierdie wêreld. Maar party regerings staan Jehovah en sy knegte openlik teë. Hoe kan ons gehoorsaam wees aan menseheersers en nog steeds ons integriteit aan Jehovah behou?
b WAT DIT BETEKEN: Om ons integriteit aan Jehovah te behou, beteken dat ons altyd lojaal aan hom en sy soewereiniteit bly, selfs wanneer dit moeilik is.
c Sien die artikel “Die eertydse Israeliete het oorlog gevoer – Hoekom doen ons dit nie?” in hierdie tydskrif.