STUDIEARTIKEL 41
Jy kan regtig gelukkig wees
“Gelukkig is enigiemand wat Jehovah vrees, wat Sy weë volg.” – PS. 128:1.
LIED 110 “Die vreugde van Jehovah”
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Hoe hou ware geluk verband met die feit dat ons God nodig het?
WARE geluk is nie net ’n lekker gevoel wat kom en gaan nie. Dit is iets wat regdeur ’n persoon se lewe kan hou. Hoe so? Jesus het in sy Bergpredikasie verduidelik: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het” (Matt. 5:3). Jesus het geweet dat mense met ’n sterk begeerte gemaak is om hulle Skepper, Jehovah God, te ken en te aanbid. En omdat Jehovah “die gelukkige God” is, kan dié wat hom aanbid ook gelukkig wees. – 1 Tim. 1:11.
2-3. (a) Wie kan nog gelukkig wees, volgens Jesus? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom is dit nodig?
2 Kan ons net gelukkig wees as ons nie probleme het nie? Nee. In sy Bergpredikasie het Jesus iets verbasends gesê. “Dié wat treur” – dalk omdat hulle skuldig voel as gevolg van hulle sondes of dalk omdat hulle ernstige probleme in hulle lewe het – kan gelukkig wees. Jesus het dieselfde gesê van “dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is” of dié wat “beledig” word omdat hulle volgelinge van Christus is (Matt. 5:4, 10, 11). Maar hoe is dit moontlik om in sulke situasies regtig gelukkig te wees?
3 Jesus was besig om ons te leer dat ons gelukkig kan wees, nie omdat ons nie probleme in ons lewe het nie, maar omdat ons besef dat ons God nodig het en nader aan Hom wil kom (Jak. 4:8). Hoe kan ons dit doen? In hierdie artikel sal ons drie basiese stappe bespreek wat ons sal help om regtig gelukkig te wees.
NEEM GEESTELIKE KOS IN
4. Wat is die eerste stap wat ons regtig gelukkig sal maak? (Psalm 1:1-3)
4 STAP 1: Om regtig gelukkig te wees, moet ons geestelike kos inneem. Mense en diere het fisiese kos nodig om te oorleef. Maar net mense kan geestelike kos inneem. En ons het dit nodig. Dit is hoekom Jesus gesê het: “Die mens moenie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matt. 4:4). Daarom moet ons nie toelaat dat ’n dag verbygaan sonder dat ons God se kosbare Woord, die Bybel, lees nie. Die psalmis het gesê: ‘Gelukkig is die man wat vreugde vind in die wet van Jehovah en wat dit dag en nag lees.’ – Lees Psalm 1:1-3.
5-6. (a) Wat kan ons uit die Bybel leer? (b) Op watter maniere kan dit ons help wanneer ons die Bybel lees?
5 Omdat Jehovah ons liefhet, het hy vir ons belangrike inligting in die Bybel gegee oor hoe om ’n gelukkige lewe te hê. Ons leer wat sy doel vir ons lewe is. Ons leer hoe ons nader aan hom kan kom en hoe ons sy vergifnis vir ons sondes kan kry. En ons leer oor die wonderlike hoop wat hy vir die toekoms belowe (Jer. 29:11). Hierdie waarhede wat ons uit ’n studie van die Bybel leer, maak ons harte gelukkig!
6 Soos ons weet, is die Bybel ook vol praktiese raad wat ons elke dag kan gebruik. Wanneer ons daardie raad volg, kan ons gelukkig wees. Wanneer jy mismoedig voel as gevolg van probleme in die lewe, sal dit jou help as jy Jehovah se Woord meer lees en daaroor nadink. Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat die woord van God hoor en dit gehoorsaam!” – Luk. 11:28.
7. Hoe kan jy die meeste kry uit die tyd wat jy gebruik om God se Woord te lees?
7 Terwyl jy God se Woord lees, vat jou tyd om te geniet wat jy lees. Het jy byvoorbeeld al ooit hierdie ondervinding gehad? Iemand maak een van jou gunstelingetes. Maar miskien is jy haastig of jou aandag is afgetrek omdat jy aan ander dinge dink, en daarom eet jy vinnig sonder om regtig elke happie te proe. Dan besef jy hoe vinnig jy geëet het, en jy wens dat jy stadiger geëet het en elke happie geniet het. Wel, het jy al ooit die Bybel so vinnig gelees dat jy nie die boodskap daarin geniet het nie? Neem die tyd om te geniet wat jy in God se Woord lees; visualiseer die tonele, verbeel jou hoe die stemme klink en dink na oor wat jy gelees het. Wanneer jy dit doen, sal dit jou gelukkiger maak.
8. Hoe vervul “die getroue en verstandige slaaf” hulle rol? (Sien ook voetnoot.)
8 Jesus het “die getroue en verstandige slaaf” aangestel om geestelike kos op die regte tyd te voorsien, en ons is geestelik baie goed gevoed (Matt. 24:45). b Die Bybel is die hoofbestanddeel in alles wat die getroue slaaf voorsien (1 Tess. 2:13). Daardie geestelike kos help ons om Jehovah se denke te leer ken, soos dit in die Bybel geopenbaar word. Daarom lees ons die Wagtoring en Ontwaak! en die artikels op jw.org. Ons berei voor vir die vergaderinge wat in die week en oor die naweek gehou word. En ons kyk elke maand die program op JW Broadcasting® as dit beskikbaar is. As ons genoeg geestelike kos inneem, sal dit ons help om die tweede stap te neem om regtig gelukkig te wees.
LEWE VOLGENS JEHOVAH SE STANDAARDE
9. Wat is die tweede stap wat ons regtig gelukkig sal maak?
9 STAP 2: Om regtig gelukkig te wees, moet ons volgens Jehovah se standaarde lewe. Die psalmis het geskryf: “Gelukkig is enigiemand wat Jehovah vrees, wat Sy weë volg” (Ps. 128:1). Om Jehovah te vrees, beteken dat ons hom so baie respekteer dat ons enige iets sal vermy wat hom ongelukkig maak (Spr. 16:6). Daarom hou ons aan om ons bes te doen om volgens Jehovah se standaarde van reg en verkeerd te lewe, soos dit in die Bybel verduidelik word (2 Kor. 7:1). Ons sal gelukkig wees wanneer ons die dinge doen wat Jehovah liefhet en die dinge verwerp wat hy haat. – Ps. 37:27; 97:10; Rom. 12:9.
10. Wat is ons verantwoordelikheid, volgens Romeine 12:2?
10 Lees Romeine 12:2. ’n Persoon weet dalk dat Jehovah die gesag het om te besluit wat reg en verkeerd is, maar hy moet ook self besluit om God se standaarde te aanvaar. Byvoorbeeld, ’n persoon weet dalk dat die regering die reg het om die spoedbeperkings op die paaie te stel. Maar hy is dalk nie bereid om daardie beperkings te aanvaar nie. Daarom ry hy vinniger as wat hy moet. Ons wys deur ons gedrag dat ons regtig glo dat dit die beste is om volgens Jehovah se standaarde te lewe (Spr. 12:28). Dawid het so gevoel, en daarom het hy van Jehovah gesê: “U maak die pad van die lewe aan my bekend. In u teenwoordigheid is daar oorvloedige vreugde. Daar is geluk aan u regterhand, vir ewig.” – Ps. 16:11.
11-12. (a) Waarvoor moet ons versigtig wees wanneer ons bekommerd of mismoedig voel? (b) Hoe kan die woorde in Filippense 4:8 ons help wanneer ons vermaak kies?
11 Wanneer ons bekommerd of mismoedig voel, voel ons dalk dat ons iets moet doen om van ons probleme te vergeet. Dit is verstaanbaar, maar ons moet versigtig wees om nie iets te doen wat Jehovah haat nie. – Ef. 5:10-12, 15-17.
12 In sy brief aan die Filippense het die apostel Paulus Christene aangemoedig om aan te hou dink aan dinge wat “regverdig, . . . rein, . . . lieflik [en] goed is”. (Lees Filippense 4:8.) Alhoewel Paulus nie spesifiek van vermaak gepraat het nie, moet sy woorde ons keuse van vermaak beïnvloed. Probeer die volgende: Vervang die woord “alles” oral in die vers met die woord “liedjies”, “films”, “boeke” of “videospeletjies”. As jy dit doen, kan dit jou help om te sien watter van hierdie dinge dalk vir God aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Ons wil in ooreenstemming met Jehovah se hoë standaarde lewe (Ps. 119:1-3). Dan kan ons met ’n skoon gewete die volgende stap neem wat ons regtig gelukkig sal maak. – Hand. 23:1.
STEL DIE AANBIDDING VAN JEHOVAH EERSTE
13. Wat is die derde stap wat ons regtig gelukkig sal maak? (Johannes 4:23, 24)
13 STAP 3: Maak seker dat die aanbidding van Jehovah eerste in jou lewe kom. As ons Skepper verdien Jehovah ons aanbidding (Op. 4:11; 14:6, 7). So om Jehovah op die manier te aanbid wat hy goedkeur, dit wil sê “met gees en waarheid”, moet die belangrikste ding in ons lewe wees. (Lees Johannes 4:23, 24.) Ons wil hê dat God se heilige gees ons aanbidding moet rig sodat dit in ooreenstemming is met die waarhede in sy Woord. Ons aanbidding moet eerste kom, al bly ons in ’n land waar ons werk beperk of verbied is. Op die oomblik is meer as 100 van ons broers en susters in die tronk net omdat hulle Jehovah se Getuies is. c Maar hulle doen wat hulle ook al kan om te bid, te studeer en ander van ons God en sy Koninkryk te vertel. Wanneer mense ons kritiseer of ons vervolg, is ons gelukkig, want ons weet dat Jehovah ons help om te volhard en dat hy ons sal beloon. – Jak. 1:12; 1 Pet. 4:14.
’N GOEIE VOORBEELD
14. Wat het met ’n jong broer in Tadjikistan gebeur, en hoekom?
14 Die ondervindinge van ons broers en susters wys dat die drie stappe wat ons nou net bespreek het, ons sal help om regtig gelukkig te wees, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Kyk wat met die 19-jarige Jowidon Bobojonof van Tadjikistan gebeur het omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Op 4 Oktober 2019 was hy met geweld van sy huis af weggeneem, vir maande in die tronk gehou en soos ’n krimineel behandel. Hierdie onregverdige behandeling het internasionale aandag gekry. Daar was berig dat hy geslaan was om hom te dwing om ’n militêre eed van getrouheid af te lê en ’n uniform te dra. Daarna was hy skuldig bevind en na ’n strafkamp gestuur totdat die president van die land hom verskoon het en beveel het dat hy vrygelaat moet word. Gedurende hierdie hele ondervinding het Jowidon sy integriteit en geluk behou. Hoe? Deur altyd bewus te bly van die feit dat hy God nodig het.
15. Hoe het Jowidon geestelike kos ingeneem terwyl hy in die tronk was?
15 Terwyl hy in die tronk was, het Jowidon geestelike kos ingeneem, al het hy nie ’n Bybel of enige van ons publikasies gehad nie. Hoe was dit moontlik? Plaaslike broers en susters het vir hom fisiese kos gebring en die dagteks op die sakkies geskryf. Op daardie manier kon hy elke dag die Bybel lees en daaroor nadink. Nadat hy vrygelaat was, het hy hierdie raad gegee vir dié wat nog nie deur baie moeilike tye gegaan het nie: “Dit is noodsaaklik dat jy jou vryheid ten volle gebruik om meer kennis van Jehovah in te neem deur sy Woord en ons publikasies te lees.”
16. Waarop het Jowidon gefokus?
16 Ons broer het volgens Jehovah se standaarde gelewe. Eerder as om op verkeerde begeertes te fokus en by verkeerde gedrag betrokke te raak, het hy op Jehovah gefokus en op wat vir Hom belangrik is. Jowidon het God se pragtige skepping bewonder. Elke oggend wanneer hy wakker geword het, het hy gehoor hoe die voëltjies fluit en sing. Saans het hy na die maan en die sterre gekyk. Hy het gesê: “Daardie geskenke van Jehovah het my gelukkig gemaak en aangemoedig.” Wanneer ons dankbaar is vir Jehovah se geestelike en fisiese voorsienings, het ons ’n vreugdevolle hart, en daardie vreugde kan ons help om te volhard.
17. Hoe kan die woorde in 1 Petrus 1:6, 7 van toepassing wees op ’n persoon wat dalk deur ’n soortgelyke situasie gaan as Jowidon?
17 Jowidon het ook die aanbidding van Jehovah eerste gestel. Hy het geweet hoe belangrik dit is om getrou te bly aan die ware God. Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien” (Luk. 4:8). Militêre bevelvoerders en soldate wou hê dat Jowidon sy geloof moes opgee. Maar hy het eerder elke dag en elke nag hard gebid en Jehovah gevra om hom te help om nie op te gee nie en om getrou te bly. Al was Jowidon onregverdig behandel, het hy getrou gebly. As gevolg daarvan kan hy nou vreugdevol wees omdat hy iets het wat hy nie gehad het voordat hy met geweld weggevat, geslaan en in die tronk gegooi is nie – ’n getoetste geloof. – Lees 1 Petrus 1:6, 7.
18. Hoe kan ons gelukkig bly?
18 Jehovah weet wat ons nodig het om regtig gelukkig te wees. As jy die drie stappe volg wat jou regtig gelukkig sal maak, kan jy gelukkig bly ten spyte van moeilike uitdagings. Dan kan jy ook sê: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” – Ps. 144:15.
LIED 89 Luister en doen wat God sê
a Vir baie is dit moeilik om gelukkig te wees omdat hulle geluk op die verkeerde manier probeer vind deur genot, rykdom, beroemdheid of mag na te jaag. Maar toe Jesus op die aarde was, het hy vir mense gesê hoe om dit te vind. In hierdie artikel sal ons na drie stappe kyk wat ons kan help om regtig gelukkig te wees.
b Sien die artikel “Ontvang jy ‘voedsel op die regte tyd’?” in Die Wagtoring van 15 Augustus 2014.
c Vir details soek “In die tronk weens hulle geloof” op jw.org.
d BESKRYWING VAN PRENT: In hierdie prentjie wys broers en susters hulle ondersteuning vir ’n broer wat gearresteer word en hof toe geneem word om aangekla te word.