Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 42

Is jy “bereid om te gehoorsaam”?

Is jy “bereid om te gehoorsaam”?

“Die wysheid van bo is . . . bereid om te gehoorsaam.” – JAK. 3:17.

LIED 101 Werk eensgesind saam

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom kan dit vir ons moeilik wees om gehoorsaam te wees?

 SUKKEL jy ooit om gehoorsaam te wees? Koning Dawid het, en daarom het hy tot God gebid: “Gee my ’n begeerte om u te gehoorsaam” (Ps. 51:12). Dawid was lief vir Jehovah. Maar Dawid het soms gesukkel om gehoorsaam te wees, en dit is ook met ons die geval. Hoekom? Eerstens, ons het ’n oorgeërfde neiging om ongehoorsaam te wees. Tweedens, Satan probeer heeltyd om ons te kry om teen Jehovah te rebelleer, net soos hy gedoen het (2 Kor. 11:3). Derdens, ons is omring deur hierdie wêreld se opstandige gesindheid, dit wil sê “die gees wat nou in die seuns van ongehoorsaamheid aan die werk is” (Ef. 2:2). Ons moet hard werk om nie net te veg teen ons neiging om te sondig nie, maar ook om die druk te weerstaan wat die Duiwel en hierdie wêreld op ons sit om ongehoorsaam te wees. Ons moet hard probeer om gehoorsaam te wees aan Jehovah en dié wat hy in ’n posisie van gesag aangestel het.

2. Wat beteken dit as iemand “bereid [is] om te gehoorsaam”? (Jakobus 3:17)

2 Lees Jakobus 3:17. Die geïnspireerde skrywer Jakobus het gesê dat wyse mense “bereid [is] om te gehoorsaam”. Dink aan wat dit beteken. Ons moet gretig en bereid wees om gehoorsaam te wees aan dié wat Jehovah ’n mate van gesag gegee het. Jehovah verwag natuurlik nie van ons om gehoorsaam te wees aan iemand wat ons vra om Sy gebooie te ignoreer nie. – Hand. 4:​18-20.

3. Hoekom is dit vir Jehovah belangrik dat ons gehoorsaam moet wees aan dié wat gesag oor ons het?

3 Ons voel dalk dat dit makliker is om gehoorsaam te wees aan Jehovah as aan ’n mens. Ja, Jehovah gee altyd volmaakte leiding (Ps. 19:7). Dit is glad nie die geval met mense wat gesag het nie. Maar ons hemelse Vader het ’n mate van gesag gegee aan ouers, regeringsamptenare en ouermanne (Spr. 6:20; 1 Tess. 5:12; 1 Pet. 2:​13, 14). Wanneer ons aan hulle gehoorsaam is, is ons eintlik aan Jehovah gehoorsaam. Kom ons kyk hoe ons gehoorsaam kan wees aan mense aan wie Jehovah gesag gee, al is dit dalk soms vir ons moeilik om hulle leiding te aanvaar en te volg.

WEES GEHOORSAAM AAN JOU OUERS

4. Hoekom is baie kinders ongehoorsaam aan hulle ouers?

4 Jongmense is omring deur ander jongmense wat “ongehoorsaam [is] aan hulle ouers” (2 Tim. 3:​1, 2). Hoekom is baie van hulle ongehoorsaam? Party voel dat hulle ouers skynheilig is. Daar word van die kinders verwag om dinge te doen wat die ouers self nie doen nie. Ander voel dat hulle ouers se raad outyds, onprakties of te streng is. As jy ’n jong persoon is, voel jy ooit so? Baie vind dit moeilik om gehoorsaam te wees aan Jehovah se gebod: “Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dit is regverdig” (Ef. 6:1). Wat kan jou help om dit te doen?

5. Hoekom is Jesus die beste voorbeeld van ’n jong persoon wat gehoorsaam was aan sy ouers? (Lukas 2:​46-52)

5 Jy kan leer om gehoorsaam te wees by die beste voorbeeld – Jesus (1 Pet. 2:​21-24). Hy was ’n volmaakte mens met onvolmaakte ouers. Maar Jesus het sy ouers geëer selfs wanneer hulle foute gemaak het en hom soms verkeerd verstaan het (Eks. 20:12). Kyk wat gebeur het toe Jesus 12 jaar oud was. (Lees Lukas 2:​46-52.) Sy ouers het hom in Jerusalem agtergelaat. Dit was Josef en Maria se verantwoordelikheid om seker te maak dat al hulle kinders by hulle was toe hulle ná die fees terug huis toe gereis het. Toe Josef en Maria Jesus uiteindelik vind, het Maria hom blameer vir die moeite wat hy vir hulle veroorsaak het! Jesus kon gesê het hoe onregverdig dit was. In plaas daarvan het hy sy ouers ’n eenvoudige en respekvolle antwoord gegee. Maar Josef en Maria het “nie verstaan wat hy vir hulle gesê het nie”. Tog het Jesus “aan hulle onderdanig gebly”.

6-7. Wat kan jongmense help om gehoorsaam te wees aan hulle ouers?

6 Jongmense, vind julle dit ooit moeilik om gehoorsaam te wees aan julle ouers wanneer hulle foute maak of wanneer hulle julle verkeerd verstaan? Wat kan help? Eerstens, dink aan hoe Jehovah voel. Die Bybel sê dat ‘dit die Here se hart bly maak’ wanneer jy gehoorsaam is aan jou ouers (Kol. 3:20). Jehovah weet wanneer jou ouers jou nie heeltemal verstaan nie of wanneer hulle reëls maak wat dalk onregverdig lyk. Maar wanneer jy kies om in elk geval gehoorsaam te wees aan hulle, maak jy hom gelukkig.

7 Tweedens, dink aan hoe jou ouers voel. Wanneer jy gehoorsaam is aan jou ouers, maak jy hulle gelukkig en wen jy hulle vertroue (Spr. 23:​22-25). Jy sal heel moontlik ook nader aan hulle kom. ’n Broer van België met die naam Alexandre sê: “Toe ek my ouers meer begin gehoorsaam, het ons verhouding verander. Ons het nader aan mekaar gekom, en ons was gelukkiger.” b Derdens, dink aan hoe dit jou later sal help as jy nou gehoorsaam is. Paulo, wat in Brasilië bly, sê: “Om gehoorsaam te wees aan my ouers het my gehelp om gehoorsaam te wees aan Jehovah en ander met gesag.” God se Woord gee jou ’n goeie rede om gehoorsaam te wees aan jou ouers. Dit sê: “Sodat dit met jou goed kan gaan en jy lank op die aarde kan bly.” – Ef. 6:​2, 3

8. Hoekom kies baie jongmense om gehoorsaam te wees aan hulle ouers?

8 Baie jongmense het gesien hoe goed dinge vir hulle uitdraai wanneer hulle gehoorsaam is. Luiza, ook van Brasilië, het dit eers moeilik gevind om te verstaan hoekom haar ouers haar vir ’n ruk lank nie toegelaat het om ’n selfoon te hê nie, aangesien die meeste mense van haar ouderdom een gehad het. Maar toe het sy besef dat haar ouers eintlik besig was om haar te beskerm. Sy weet nou dat sy nie beperk moet voel wanneer sy haar ouers gehoorsaam nie omdat hulle raad presies is wat sy nodig het. Elizabeth, ’n jong suster van die Verenigde State, sukkel soms nog om gehoorsaam te wees aan haar ouers. Sy verduidelik: “Wanneer ek nie heeltemal verstaan hoekom my ouers ’n sekere reël gemaak het nie, dink ek terug aan die kere toe hulle reëls my beskerm het.” Monica, wat in Armenië bly, sê dat dinge altyd beter uitgedraai het wanneer sy gehoorsaam was aan haar ouers as wanneer sy ongehoorsaam was aan hulle.

WEES GEHOORSAAM AAN “DIE HOËR OWERHEDE”

9. Hoe voel baie mense oor gehoorsaamheid aan die wet?

9 Baie mense erken dat ons regerings nodig het en dat ons aan ten minste party van die wette wat hierdie “hoër owerhede” maak, gehoorsaam moet wees (Rom. 13:1). Maar daardie selfde mense is dalk nie gehoorsaam aan die wette wat hulle voel onregverdig is of aan die wette waarvan hulle nie hou nie. Dink byvoorbeeld aan die betaling van belasting. In een Europese land het baie mense geglo dat “dit nie verkeerd is om nie belasting te betaal as jy dink dat dit onregverdig is nie”. Daarom betaal die mense in daardie land nie al die belasting wat die regering van hulle vereis nie.

Wat leer ons oor gehoorsaamheid by Josef en Maria? (Sien paragraaf 10-12) c

10. Hoekom is ons gehoorsaam selfs aan wette waarvan ons nie hou nie?

10 Die Bybel erken dat menseregerings pyn en lyding veroorsaak, onder Satan se beheer is en binnekort vernietig gaan word (Ps. 110:​5, 6; Pred. 8:9; Luk. 4:​5, 6). Dit sê ook vir ons dat “die een wat die owerhede teëstaan, . . . God se reëling [teëstaan]”. Vir nou het Jehovah regerings toegelaat om te regeer sodat hulle orde kan handhaaf, en hy verwag dat ons gehoorsaam moet wees aan hulle. Daarom moet ons “aan almal [gee] wat hulle toekom”, insluitende belasting, respek en gehoorsaamheid (Rom. 13:​1-7). Ons voel dalk dat ’n wet te veel verg om te gehoorsaam of dat dit ongerieflik of onregverdig is. Maar ons is gehoorsaam aan Jehovah, en hy sê vir ons om gehoorsaam te wees aan hierdie regerings solank hulle ons nie vra om sy gebooie te breek nie. – Hand. 5:29.

11-12. Volgens Lukas 2:​1-6, wat het Josef en Maria gedoen om gehoorsaam te wees aan ’n wet wat ongerieflik was, en wat was die gevolg? (Sien ook prente.)

11 Ons kan leer uit die voorbeelde van Josef en Maria, wat bereid was om gehoorsaam te wees aan die hoër owerhede selfs toe dit ongerieflik was. (Lees Lukas 2:​1-6.) Toe Maria omtrent nege maande swanger was, is haar en Josef se gehoorsaamheid getoets. Augustus, wat oor die Romeinse Ryk regeer het, het gesê dat ’n sensus gedoen moet word. Josef en Maria moes na Betlehem reis, ’n reis van omtrent 150 kilometer deur heuwelagtige gebied. Daardie reis sou ongemaklik wees, veral vir Maria. Die paartjie was dalk bekommerd oor haar veiligheid en dié van hulle ongebore baba. Sê nou sy het begin kraam terwyl hulle gereis het? Sy was swanger met die toekomstige Messias. Kon hulle dit as ’n verskoning gebruik om ongehoorsaam te wees aan die regering?

12 Al het Josef en Maria redes gehad om bekommerd te wees, was hulle gehoorsaam aan die wet. Jehovah het hulle gehoorsaamheid geseën. Maria het veilig in Betlehem aangekom, geboorte gegee aan ’n gesonde baba en selfs gehelp om Bybelprofesieë te vervul! – Miga 5:2.

13. Hoe kan ons gehoorsaamheid ons broers affekteer?

13 Wanneer ons gehoorsaam is aan die hoër owerhede, vind ons en ander daarby baat. Hoe so? Om maar een ding te noem, ons vermy die straf wat dié kry wat ongehoorsaam is aan die wet (Rom. 13:4). Ons persoonlike gehoorsaamheid kan ’n uitwerking hê op hoe die regerings Jehovah se Getuies as ’n groep beskou. Byvoorbeeld, baie jare gelede in Nigerië het soldate gedurende ’n vergadering by ’n Koninkryksaal ingegaan omdat hulle opsoek was na mense wat betoog het omdat hulle nie belasting wil betaal nie. Maar die beampte wat oor die soldate toesig gehou het, het vir die soldate gesê om te gaan en gesê: “Jehovah se Getuies betaal altyd hulle belasting.” Elke keer dat jy gehoorsaam is aan die wet, help jy om die goeie reputasie wat Jehovah se Getuies het, te behou – ’n reputasie wat dalk eendag sal help om jou broers en susters te beskerm. – Matt. 5:16.

14. Wat het een suster gehelp om gehoorsaam te wees aan die hoër owerhede?

14 Maar ons sal dalk nie altyd gehoorsaam wil wees aan die hoër owerhede nie. Joanna, ’n suster in die Verenigde State, sê: “Dit was vir my verskriklik moeilik om gehoorsaam te wees omdat party in my familie onregverdig behandel is deur die regering.” Maar Joanna het baie hard probeer om haar denke te verander. Eerstens het sy opgehou om dinge op sosiale media te lees wat teen die regering gepraat het (Spr. 20:3). Tweedens het sy Jehovah gevra om haar te help om op hom te vertrou eerder as te hoop dat menseregerings sal verander (Ps. 9:​9, 10). Derdens het sy artikels oor neutraliteit in ons publikasies gelees (Joh. 17:16). Joanna sê nou dat respek en gehoorsaamheid aan die regering haar vrede gegee het wat sy nie in woorde kan beskryf nie.

WEES GEHOORSAAM AAN RIGLYNE VAN JEHOVAH SE ORGANISASIE

15. Hoekom sukkel ons dalk om gehoorsaam te wees aan riglyne wat van Jehovah se organisasie af kom?

15 Jehovah vra ons om “gehoorsaam [te wees] aan dié wat die leiding” in die gemeente neem (Heb. 13:17). Ons Leier, Jesus, is volmaak, maar dié wat hy gebruik om die leiding hier op die aarde te neem, is nie. Ons sukkel dalk om gehoorsaam te wees aan hulle, veral as hulle ons vra om iets te doen wat ons nie wil doen nie. Die apostel Petrus het eenkeer gesukkel om gehoorsaam te wees. Toe ’n engel vir hom gesê het om diere te eet wat onrein was onder die Wet van Moses, het Petrus geweier – nie een keer nie, maar drie keer! (Hand. 10:​9-16) Hoekom? Die nuwe riglyne het nie vir hom sin gemaak nie. Hy was gewoond aan ’n ander manier van dinge doen. As dit vir Petrus moeilik was om gehoorsaam te wees aan riglyne van ’n volmaakte engel, is dit nie verbasend dat ons dit soms moeilik sal vind om gehoorsaam te wees aan riglyne van onvolmaakte manne nie!

16. Wat het die apostel Paulus gedoen, al het hy dalk gedink dat die riglyne wat hy ontvang het, onredelik is? (Handelinge 21:​23, 24, 26)

16 Die apostel Paulus was bereid om gehoorsaam te wees selfs toe hy riglyne gekry het wat hy dalk gedink het onredelik was. Joodse Christene het stories oor Paulus gehoor – stories wat gesê het dat hy mense “geleer het om van Moses afvallig te word” en nie respek het vir die Wet van Moses nie (Hand. 21:21). Die ouermanne in Jerusalem het vir Paulus gesê om vier manne na die tempel te neem en homself seremonieel te reinig om te wys dat hy gehoorsaam is aan die Wet. Maar Paulus het geweet dat Christene nie meer onder die Wet is nie. En hy het niks verkeerds gedoen nie. Maar Paulus was dadelik gehoorsaam. “Die volgende dag het [hy] die manne geneem en hom saam met hulle seremonieel gereinig.” (Lees Handelinge 21:​23, 24, 26.) Paulus se gehoorsaamheid het eenheid bevorder. – Rom. 14:​19, 21.

17. Wat leer jy uit Stephanie se ondervinding?

17 ’n Suster met die naam Stephanie het gesukkel om ’n besluit te aanvaar wat deur verantwoordelike broers in haar land gemaak is. Sy en haar man het dit geniet om in ’n anderstalige groep te dien. Toe het die takkantoor gesê dat daar nie meer ’n groep sal wees nie, en die paartjie is teruggestuur na ’n gemeente in hulle moedertaal. Stephanie sê: “Ek was baie ongelukkig. Ek was nie oortuig dat daar ’n groter behoefte in ons moedertaal is nie.” Maar sy het besluit om die nuwe riglyn te ondersteun. “Later het ek die wysheid van hierdie besluit gesien,” sê sy. “Ons het geestelike ouers vir ’n hele paar in ons gemeente geword wat nie familie in die waarheid het nie. Ek studeer met ’n suster wat onlangs weer bedrywig geword het. En nou het ek meer tyd vir persoonlike studie.” Sy sê verder: “Ek het ’n skoon gewete omdat ek weet dat ek my bes gedoen het om gehoorsaam te wees.”

18. Hoe vind ons daarby baat as ons gehoorsaam is?

18 Ons kan leer om gehoorsaam te wees. Jesus het “gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het” en nie omdat hy in ideale omstandighede was nie (Heb. 5:8). Soos Jesus leer ons dikwels gehoorsaamheid onder moeilike omstandighede. Byvoorbeeld, het jy gesukkel om gehoorsaam te wees toe ons aan die begin van die COVID-19-pandemie gevra is om op te hou om by ons Koninkryksale te vergader en om nie meer aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem nie? Tog het jou gehoorsaamheid jou beskerm, jou met jou broers en susters verenig en Jehovah gelukkig gemaak. Ons almal is nou beter voorbereid om gedurende die groot verdrukking gehoorsaam te wees aan enige instruksies wat ons ontvang. Ons lewens sal daarvan afhang! – Job 36:11.

19. Hoekom wil jy gehoorsaam wees?

19 Ons het geleer dat gehoorsaamheid baie seëninge bring. Maar ons kies om gehoorsaam te wees aan Jehovah, hoofsaaklik omdat ons vir hom lief is en hom gelukkig wil maak (1 Joh. 5:3). Ons kan Jehovah nooit terugbetaal vir alles wat hy vir ons gedoen het nie (Ps. 116:12). Maar ons kan gehoorsaam wees aan hom en aan dié wat gesag oor ons het. As ons gehoorsaam is, wys ons dat ons wys is. En wyse persone maak Jehovah se hart bly. – Spr. 27:11.

LIED 89 Luister en doen wat God sê

a Omdat ons onvolmaak is, sukkel ons almal soms om gehoorsaam te wees, selfs wanneer die persoon wat vir ons riglyne gee, die reg het om dit te doen. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons baat vind wanneer ons gehoorsaam is aan ons ouers, “die hoër owerhede” en die broers wat die leiding neem in die Christengemeente.

b Vir voorstelle oor hoe om met jou ouers te praat oor reëls wat vir jou moeilik is om te gehoorsaam, sien die artikel “Hoe kan ek met my ouers oor hulle reëls praat?” op jw.org.

c BESKRYWING VAN PRENTE: Josef en Maria was gehoorsaam aan die keiser se bevel om hulle in Betlehem te laat registreer. Vandag is Christene gehoorsaam aan verkeerswette, belastingvereistes en waarskuwings wat die regering gee oor gesondheid.