STUDIEARTIKEL 45
Waardeer jou voorreg om in Jehovah se geestelike tempel te aanbid
“Aanbid . . . die Een wat die hemel en die aarde . . . gemaak het.” – OP. 14:7.
LIED 93 Seën ons vergadering
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Wat sê ’n engel, en wat beteken dit vir ons?
AS ’N engel met jou sou praat, sou jy luister na wat hy te sê het? Wel, vandag praat ’n engel met “elke nasie en stam en taal en volk”. Wat sê hy? “Vrees God en verheerlik hom . . . Aanbid . . . die Een wat die hemel en die aarde . . . gemaak het” (Op. 14:6, 7). Jehovah is die enigste ware God wat almal moet aanbid. Ons kan so dankbaar wees dat hy ons die kosbare geleentheid gegee het om hom in sy groot geestelike tempel te aanbid!
2. Wat is Jehovah se geestelike tempel? (Sien ook die venster “ Wat dit nie is nie”.)
2 Wat presies is die geestelike tempel, en waar kan ons die besonderhede vind wat dit verduidelik? Die geestelike tempel is nie ’n letterlike gebou nie. Dit is Jehovah se reëling om hom op ’n aanvaarbare manier te aanbid op grond van Jesus se losprysoffer. Die apostel Paulus het hierdie reëling verduidelik in die brief wat hy aan die eerste-eeuse Hebreeuse Christene in Judea geskryf het. b
3-4. Hoekom was Paulus bekommerd oor die Hebreeuse Christene in Judea, en hoe het hy hulle gehelp?
3 Hoekom het Paulus sy brief aan die Hebreeuse Christene in Judea geskryf? Daar was heel moontlik twee hoofredes. Eerstens, om hulle aan te moedig. Die meeste van hulle is in die Joodse godsdiens grootgemaak. Hulle vorige godsdiensleiers het hulle dalk gespot omdat hulle Christene geword het. Hoekom? Omdat Christene nie ’n indrukwekkende tempel gehad het waar hulle kon aanbid nie, nie ’n fisiese altaar gehad het waarop hulle offerandes aan God kon maak nie en nie priesters gehad het om hulle te leer nie. Dit kon Christus se dissipels mismoedig gemaak het en hulle geloof laat verswak het (Heb. 2:1; 3:12, 14). Party van hulle het dalk selfs daaraan gedink om terug te gaan na die Joodse godsdiens.
4 Tweedens, Paulus het vir daardie Hebreeuse Christene gesê dat hulle nie probeer het om nuwe of diep geestelike leringe, die “vaste voedsel” in God se Woord, te verstaan nie (Heb. 5:11-14). Party van hulle het blykbaar nog steeds vasgehou aan die Wet van Moses. Maar Paulus het verduidelik dat die offerandes wat die Wet vereis het, nie sondes heeltemal kon wegneem nie. Daarom is daar “’n einde gemaak” aan die Wet. Toe het Paulus hulle ’n paar dieper waarhede geleer. Hy het sy mede-Christene herinner aan ’n “beter hoop” op grond van Jesus se losprys wat hulle regtig kon help om “nader aan God” te kom. – Heb. 7:18, 19.
5. Wat moet ons uit die Bybelboek Hebreërs verstaan, en hoekom?
5 Paulus het aan sy Hebreeuse broers verduidelik dat die manier hoe hulle Jehovah nou aanbid het, baie beter is as die manier hoe hulle hom in die verlede aanbid het. Die manier hoe die Jode volgens die Wet aanbid het, was net “’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus” (Kol. 2:17). ’n Skaduwee is net ’n onduidelike vorm van iets; dit is nie die regte ding nie. Net so was die manier hoe die Jode God in die verlede aanbid het, ’n skaduwee omdat ’n beter manier van aanbidding sou kom. Ons moet die reëling verstaan wat Jehovah in plek gestel het vir ons sondes om vergewe te word sodat ons hom op ’n aanvaarbare manier kan aanbid. Kom ons vergelyk die “skaduwee” (die Joodse manier van aanbidding) met “die werklikheid” (die Christelike manier van aanbidding) soos dit in Hebreërs verduidelik word. As ons dit doen, kan ons die geestelike tempel en hoe ons daarby betrokke is, beter verstaan.
DIE TABERNAKEL
6. Hoe was die tabernakel gebruik?
6 Die Joodse manier van aanbidding. Paulus het sy bespreking gebaseer op die tabernakel wat in 1512 VHJ deur Moses opgerig is. (Sien die tabel “Die Joodse manier van aanbidding – Die Christelike manier van aanbidding”.) Die tabernakel was ’n tentagtige struktuur wat die Israeliete eers saam met hulle gedra het terwyl hulle van plek tot plek getrek het. Hulle het dit vir amper 500 jaar gebruik totdat ’n permanente tempel in Jerusalem gebou is (Eks. 25:8, 9; Num. 9:22). Hierdie “tent van samekoms” was die sentrale plek waar die Israeliete bymekaargekom het om God te aanbid en hulle offerandes te bring (Eks. 29:43-46). Maar die tabernakel het ook iets baie beter voorgestel wat vir Christene sou kom.
7. Wanneer het die geestelike tempel begin bestaan?
7 Die Christelike manier van aanbidding. Die eertydse tabernakel was “’n skaduwee van die hemelse dinge”, en dit het Jehovah se groot geestelike tempel afgebeeld. Paulus het gesê dat “hierdie tent [of tabernakel] ’n illustrasie [is] vir die huidige tyd” (Heb. 8:5; 9:9). So teen die tyd dat hy aan die Hebreërs geskryf het, het die geestelike tempel alreeds bestaan. Dit het in 29 HJ begin bestaan. Daardie jaar is Jesus gedoop, is hy met die heilige gees gesalf en het hy as Jehovah se “groot hoëpriester” in die geestelike tempel begin dien. – Heb. 4:14; Hand. 10:37, 38. c
DIE HOËPRIESTER
8-9. Watter groot verskil is daar tussen Israel se hoëpriesters en die groot Hoëpriester, Jesus Christus, volgens Hebreërs 7:23-27?
8 Die Joodse manier van aanbidding. Die hoëpriester het die gesag gehad om die volk voor God te verteenwoordig. Israel se eerste hoëpriester, Aäron, is deur Jehovah aangestel toe die tabernakel toegewy is. Maar soos Paulus verduidelik het, “moes baie priesters mekaar opvolg omdat die dood gekeer het dat hulle as priesters bly dien”. (Lees Hebreërs 7:23-27.) d En omdat daardie hoëpriesters onvolmaak was, moes hulle offerandes vir hulle eie sondes bring. Dit is ’n baie groot verskil tussen Israel se hoëpriesters en die groot Hoëpriester, Jesus Christus.
9 Die Christelike manier van aanbidding. As ons Hoëpriester is Jesus Christus “’n dienaar in . . . die ware tent, wat deur Jehovah opgerig is, nie deur ’n mens nie” (Heb. 8:1, 2). Paulus het verduidelik: “Omdat [Jesus] vir ewig bly lewe, sal niemand hom as priester opvolg nie.” Paulus het bygevoeg dat Jesus “onbesmet, afgeskeie van die sondaars” is en dat hy, anders as die hoëpriesters van Israel, “nie elke dag . . . vir sy eie sondes offers [hoef] te bring” nie. Kom ons kyk nou na hoe die altare en offerandes in die Joodse manier van aanbidding verskil van dié in die Christelike manier van aanbidding.
DIE ALTARE EN DIE OFFERANDES
10. Wat het die offerandes op die koperaltaar verteenwoordig?
10 Die Joodse manier van aanbidding. Buite die ingang van die tabernakel was daar ’n koperaltaar waarop diereoffers aan Jehovah geoffer is (Eks. 27:1, 2; 40:29). Maar daardie offerandes kon nie algehele vergifnis van sondes vir die volk voorsien nie (Heb. 10:1-4). Die voortdurende diereoffers by die tabernakel het die een offerande verteenwoordig wat mense heeltemal van sonde sou bevry.
11. Op watter altaar het Jesus homself as ’n offerande geoffer? (Hebreërs 10:5-7, 10)
11 Die Christelike manier van aanbidding. Jesus het geweet dat Jehovah hom na die aarde toe gestuur het om sy menselewe as ’n losprysoffer vir alle mense te offer (Matt. 20:28). Daarom het Jesus homself by sy doop aangebied om te doen wat Jehovah wou hê hy moes doen (Joh. 6:38; Gal. 1:4). Jesus het homself op ’n figuurlike altaar geoffer wat God se “wil” verteenwoordig het vir sy Seun om sy volmaakte menselewe te offer. Jesus het sy lewe “eens en vir altyd” opgeoffer om die sondes van almal wat geloof in Christus beoefen, permanent te bedek, of om versoening te doen daarvoor. (Lees Hebreërs 10:5-7, 10.) Kom ons bespreek nou wat die kenmerke van die binnekant van die tabernakel beteken het.
DIE HEILIGE EN DIE ALLERHEILIGSTE
12. Wie kon by elke vertrek van die tabernakel ingaan?
12 Die Joodse manier van aanbidding. Die tabernakel en die tempels wat later in Jerusalem gebou is, het dieselfde basiese uitleg gehad. Aan die binnekant was daar twee afdelings – “die Heilige” en “die Allerheiligste” – wat geskei was deur ’n geborduurde gordyn (Heb. 9:2-5; Eks. 26:31-33). Daar was ’n goue lampstaander, ’n altaar om reukwerk op te brand en ’n tafel met offerbrode in die Heilige. Net “die gesalfde priesters” was in die Heilige toegelaat om hulle heilige pligte uit te voer (Num. 3:3, 7, 10). Die goue ark van die verbond wat Jehovah se teenwoordigheid verteenwoordig het, was in die Allerheiligste (Eks. 25:21, 22). Net die hoëpriester was op die jaarlikse Versoendag toegelaat om verby die gordyn in die Allerheiligste in te gaan (Lev. 16:2, 17). Jaar ná jaar het hy daar ingegaan met die bloed van diere om versoening te doen vir sy eie sondes en vir dié van die hele nasie. Later het Jehovah dit deur middel van sy heilige gees duidelik gemaak wat hierdie kenmerke van die tabernakel regtig beteken het. – Heb. 9:6-8. e
13. Wat verteenwoordig die Heilige en die Allerheiligste van die tabernakel in die Christelike manier van aanbidding?
13 Die Christelike manier van aanbidding. ’n Beperkte aantal van Christus se dissipels is met die heilige gees gesalf, en hulle geniet ’n spesiale verhouding met Jehovah. Hierdie 144 000 gaan saam met Jesus as priesters in die hemel dien (Op. 1:6; 14:1). Die Heilige van die tabernakel verteenwoordig die feit dat hulle aangeneem is as geestelike seuns van God terwyl hulle nog op die aarde is (Rom. 8:15-17). Die Allerheiligste van die tabernakel verteenwoordig die hemel waar Jehovah woon. “Die gordyn” wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het, verteenwoordig Jesus se vleeslike liggaam wat gekeer het dat hy hemel toe gaan as die groot Hoëpriester van die geestelike tempel. Deur sy menseliggaam op te gee as ’n offerande vir alle mense het Jesus die weg geopen na hemelse lewe vir alle gesalfde Christene. Hulle moet ook hulle vleeslike liggame opgee om hulle hemelse beloning te ontvang (Heb. 10:19, 20; 1 Kor. 15:50). Ná Jesus se opstanding het hy in die Allerheiligste van die geestelike tempel ingegaan, waar al die gesalfdes uiteindelik by hom aansluit.
14. Wat maak Jehovah se geestelike tempelreëling baie beter volgens Hebreërs 9:12, 24-26?
14 Hier kan ons duidelik sien dat Jehovah se reëling vir rein aanbidding wat op die losprysoffer en die priesterdom van Jesus Christus gebaseer is, baie beter is. Die hoëpriester in Israel het by ’n mensgemaakte Allerheiligste ingegaan met die bloed van diereoffers, maar Jesus het “in die hemel self” ingegaan, die heel heiligste plek, om voor Jehovah te verskyn. Daar het hy die waarde van sy volmaakte menselewe vir ons aangebied “om ontslae te raak van sonde deur homself te offer”. (Lees Hebreërs 9:12, 24-26.) Jesus se offerande maak dit moontlik dat ons sondes heeltemal vergewe kan word. Soos ons volgende sal leer, kan ons almal Jehovah in sy geestelike tempel aanbid, of ons nou die hemelse of die aardse hoop het.
DIE VOORHOWE
15. Wie het in die voorhof van die tabernakel gedien?
15 Die Joodse manier van aanbidding. Die tabernakel het een voorhof gehad – ’n omheinde, oop area waar die priesters hulle pligte uitgevoer het. Die groot brandofferaltaar van koper was in die voorhof saam met ’n koperkom met water wat die priesters gebruik het om hulleself te reinig voordat hulle hulle heilige diens gedoen het (Eks. 30:17-20; 40:6-8). Maar die tempels wat later gebou is, het ook ’n buitenste voorhof gehad waar dié wat nie priesters was nie, kon staan en God kon aanbid.
16. Wie dien in elkeen van die voorhowe van die geestelike tempel?
16 Die Christelike manier van aanbidding. Voordat die gesalfdes op die aarde hemel toe gaan om as priesters saam met Jesus te dien, dien hulle getrou in die aardse binneste voorhof van die geestelike tempel. Die feit dat daar ’n groot kom met water was, is ’n belangrike herinnering vir hulle, sowel as vir alle Christene, om sedelik en geestelik rein te bly. Maar waar dien die “groot menigte”, wat Christus se gesalfde broers lojaal ondersteun, Jehovah? Die apostel Johannes het gesien dat hulle “voor die troon . . . staan” op ’n plek wat op die aarde ooreenstem met die buitenste voorhof, waar hulle “dag en nag heilige diens aan [God] in sy tempel” verrig (Op. 7:9, 13-15). Ons is so dankbaar dat ons ’n plek in Jehovah se reëling vir rein aanbidding het!
ONS VOORREG OM JEHOVAH TE AANBID
17. Watter offerandes kan ons aan Jehovah offer?
17 Vandag het alle Christene die voorreg om offerandes aan Jehovah te offer deur hulle tyd, energie en materiële dinge te gebruik om God se Koninkryk te ondersteun. Soos Paulus vir die Hebreeuse Christene gesê het, kan ons “altyd aan God ’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van ons lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Heb. 13:15). Ons kan wys dat ons ons voorreg om Jehovah te aanbid, waardeer deur ons bes in sy diens te doen.
18. Wat moet ons nooit afskeep nie, en wat moet ons nooit vergeet nie volgens Hebreërs 10:22-25?
18 Lees Hebreërs 10:22-25. Na aan die einde van sy brief aan die Hebreërs noem Paulus verskillende aspekte van ons aanbidding wat ons nooit moet afskeep nie. Dit sluit in om tot Jehovah te bid, om vir ander te preek, om saam as ’n gemeente te vergader en om mekaar aan te moedig en “dit al hoe meer [te] doen terwyl ons die dag sien nader kom”. Na aan die einde van die boek Openbaring sê Jehovah se engel die volgende twee keer vir beklemtoning: “Aanbid God!” (Op. 19:10; 22:9). Mag ons nooit hierdie diep geestelike waarheid vergeet in verband met Jehovah se groot geestelike tempel en die kosbare voorreg wat ons het om ons groot God te aanbid nie!
LIED 88 Maak u weë aan my bekend
a Een van die dieper leringe in God se Woord gaan oor Jehovah se groot geestelike tempel. Wat is daardie tempel? Hierdie artikel bespreek die besonderhede in die Bybelboek Hebreërs in verband met hierdie tempel. Dit sal jou waardering vergroot vir die voorreg wat jy het om Jehovah te aanbid.
b Om ’n oorsig te sien van die Bybelboek Hebreërs, kyk die video Inleiding tot Hebreërs op jw.org.
c Hebreërs is die enigste boek in die Christelike Griekse Geskrifte wat na Jesus verwys as die Hoëpriester.
d Volgens een naslaanwerk was daar dalk tot 84 hoëpriesters in Israel teen die tyd dat die tempel in Jerusalem in 70 HJ vernietig is.
f Sien die boek Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel! bl. 240.
g Sien die venster “Hoe die gees die betekenis van die geestelike tempel geopenbaar het” in Die Wagtoring van 15 Julie 2010, bl. 22.