Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

1924 – Honderd jaar gelede

1924 – Honderd jaar gelede

“AAN die begin van die jaar is dit ’n goeie tyd vir elke gedoopte Christen . . . om na maniere te soek om meer in hulle diens aan Jehovah te doen,” het die Januarie 1924 nommer van die Bulletin gesê. a Gedurende daardie jaar het die Bybelstudente daardie raad toegepas deur moedig te wees en op nuwe maniere te preek.

HULLE HET ’N RADIOSTASIE GEBOU

Die broers by Bethel het vir meer as ’n jaar gewerk om die WBBR-radiostasie in Staten Island in die stad New York te bou. Nadat hulle die grond skoongemaak het, het hulle ’n groot huis vir die werkers gebou, en ’n aparte gebou vir die toerusting. Toe hulle klaar was met hierdie werk het die broers begin om die toerusting bymekaar te maak sodat hulle “op die lug” kon gaan. Maar hulle moes ’n hele paar uitdagings oorkom.

Die broers het gesukkel om die hoofantenna vir die stasie te installeer. Die 91 meter lange antenna moes tussen twee stukke hout gehang word wat elk 61 meter hoog was. Die eerste probeerslag het misluk. Die broers het op Jehovah se hulp vertrou en was uiteindelik suksesvol. Calvin Prosser, wat aan die projek gewerk het, het gesê: “As ons dit op die eerste probeerslag reggekry het, sou ons onsself op die rug geklop het en gesê het: ‘Kyk wat ons reggekry het!’” Die broers het eerder Jehovah geprys omdat hy hulle gehelp het, maar hulle probleme was nie verby nie.

Een van die antennas vir WBBR word opgerig

Radiouitsendings het toe maar net begin, en kommersiële toerusting was nie oor die algemeen beskikbaar nie. So die broers het ’n tweedehandse 500 watt-seintoestel daar naby gevind wat iemand gebou het. In plaas daarvan om ’n mikrofoon te koop, het hulle die mikrofoon van ’n gewone telefoon gebruik. Een aand in Februarie het die broers besluit om al hierdie eenvoudige toerusting te toets. Hulle het ’n program nodig gehad om uit te saai, en daarom het die broers Koninkryksliedjies gesing. Een van daardie broers, Ernest Lowe, het ’n snaakse storie vertel oor wat daardie dag gebeur het. Hy sê dat terwyl hulle gesing het hulle ’n oproep van regter Rutherford b ontvang het, wat hulle op sy radio in Brooklyn hoor sing het, omtrent 25 kilometer daarvandaan.

“Hou op geraas maak,” het broer Rutherford gesê. “Julle klink soos ’n kattekoor!” Dit het die broers laat skaam voel, en hulle het die program vinnig gestop, maar hulle het geweet dat die radio werk en dat hulle gereed is om te begin uitsaai.

Op 24 Februarie 1924, gedurende die eerste amptelike uitsending, het broer Rutherford gesê dat die radiostasie gebruik sou word om die werk te doen wat Christus die Koning hulle gegee het om te doen. Hy het gesê dat die doel van die stasie was “om mense, ongeag van hulle geloof of denominasie, te help om die betekenis van die tye waarin ons lewe in die lig van die Bybel te verstaan”.

Links: Broer Rutherford by die eerste studio

Regs: Toerusting wat by die radiostasie gebruik is

Die eerste uitsending was ’n groot sukses. Vir die volgende 33 jaar is WBBR gebruik om radioprogramme van Jehovah se volk uit te saai.

HULLE HET GODSDIENSLEIERS MOEDIG VEROORDEEL

In Julie 1924 het die Bybelstudente bymekaargekom vir ’n byeenkoms in Columbus, Ohio. Bybelstudente het van regoor die wêreld gekom, en hulle het toesprake gehoor in Arabies, Duits, Engels, Frans, Grieks, Hongaars, Italiaans, Litaus, Pools, Russies, die Skandinawiese tale en Oekraïens. Dele van die program is oor die radio uitgesaai, en planne is gemaak sodat die Ohio State Journal elke dag artikels oor die byeenkomsprogram kon skryf.

Die byeenkoms in Columbus, Ohio, in 1924

Op Donderdag 24 Julie het meer as 5 000 broers en susters aan ’n velddiensdag deelgeneem. Hulle het amper 30 000 boeke versprei en duisende Bybelstudies begin. The Watch Tower het hierdie dag “die gelukkigste deel van die byeenkoms” genoem.

Nog ’n hoogtepunt van die byeenkoms was op Vrydag 25 Julie toe broer Rutherford moedig ’n dokument gelees het wat die godsdiensleiers veroordeel het. Hy het gesê dat politieke leiers, godsdiensleiers en sakemanne mense keer om die waarheid te leer oor God se Koninkryk, wat God sal gebruik om alle mense te seën. Hy het ook gesê dat hierdie mans verkeerd is omdat hulle die Volkebond ondersteun het en gesê het dat dit God se manier is om oor die aarde te regeer. Die Bybelstudente sou moed nodig hê om hierdie boodskap te verkondig.

The Watch Tower het die uitwerking van die byeenkoms opgesom en gesê: “Hierdie klein leërmag van die Here wat by die byeenkoms in Columbus bymekaargekom het, het daar weggegaan met sterker geloof.” Dit het hulle die moed gegee om te preek ten spyte van enige teenstand. Leo Claus, wat die byeenkoms bygewoon het, het vertel: “Toe die byeenkoms klaar was, was ons baie gretig om hierdie boodskap in ons gebied te verkondig.”

’n Kopie van die pamflet Ecclesiastics Indicted

In Oktober het die Bybelstudente begin om miljoene kopieë te versprei van die pamflet Ecclesiastics Indicted, die gedrukte weergawe van wat broer Rutherford gelees het. In die dorpie Cleveland, Oklahoma, was Frank Johnson klaar met die verspreiding van die pamflette en moes hy 20 minute wag vir ander broers en susters om hom te kom optel. Hy kon nie net openlik vir hulle wag nie omdat mans van die dorp wat kwaad was omdat hy gepreek het, na hom gesoek het. Broer Johnson het besluit om in ’n kerk daar naby weg te kruip. Toe hy sien dat dit leeg is, het hy kopieë van Ecclesiastics Indicted in die predikant se Bybel en op elke sitplek gelos. Hy was so vinnig by die kerk uit soos wat hy daar in is. Hy het nog ’n bietjie tyd oorgehad, en daarom het hy nog twee kerke besoek en dieselfde daar gedoen.

Frank het teruggejaag na die plek waar hulle hom sou optel. Hy het agter ’n petrolstasie weggekruip terwyl hy op die uitkyk was vir die mans wat na hom gesoek het. Die mans het verby hom gery, maar hulle het hom nie gesien nie. Die oomblik toe hulle weg is, het die ander broers en susters wat daar naby gepreek het, gekom om hom op te tel, en hulle almal het weggery.

“Terwyl ons die dorp verlaat het, het ons verby die drie kerke gery,” het een van die broers vertel. “Daar was omtrent 50 mense wat buite elke kerk gestaan het. Party van die mense het die pamflet gelees en ander was besig om dit vir die predikant te wys. Dit was so hittete! Maar ons het vir Jehovah ons God dankie gesê vir sy beskerming en vir die kennis om hierdie vyande van die Koninkryk ore aan te sit.”

DIE BYBELSTUDENTE HET MOEDIG IN ANDER LANDE GEPREEK

Józef Krett

Die Bybelstudente in ander lande het ook moedig gepreek. In die noorde van Frankryk het Józef Krett vir mynwerkers gepreek wat van Pole gekom het. Hy moes ’n toespraak gee met die titel “Binnekort die opstanding van die dooies”. Toe die broers en susters die uitnodigings vir die mense van die dorp gegee het, het ’n plaaslike priester sy kerklede gewaarsku om dit nie by te woon nie. Sy waarskuwing het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Meer as 5 000 mense het die toespraak bygewoon, insluitende die priester! Broer Krett het die priester genooi om sy oortuigings te verdedig, maar hy het geweier. Broer Krett het al die lektuur wat hy gehad het, geplaas en het gesien dat die mense vir wie hy getuig het ’n dors na God se Woord gehad het. – Amos 8:11.

Claude Brown

In Afrika het Claude Brown die goeie nuus gebring na die Goudkus, wat nou bekend staan as Ghana. Sy toesprake en die lektuur wat hy uitgegee het, het gehelp om die waarheid vinnig in daardie land te laat versprei. John Blankson, wat gestudeer het om ’n apteker te word, het een van broer Brown se toesprake bygewoon. Hy het vinnig besef dat hy die waarheid gevind het. “Die waarheid het my baie opgewonde laat voel, en ek het vryelik daaroor gepraat by ons aptekerskool,” het John vertel.

John Blankson

John het geleer dat die Bybel nie sê dat God ’n Drie-eenheid is nie. So op ’n dag het hy ’n kerk besoek om die priester daaroor uit te vra. Die priester het hom weggejaag en geskree: “Jy is nie ’n Christen nie; jy behoort aan die Duiwel. Maak dat jy hier wegkom!”

Toe John by die huis aankom, het hy ’n brief vir die priester geskryf en hom genooi om hom in die publiek te ontmoet en die Drie-eenheid te bespreek. Die priester het vir John gesê om na die hoofdosent van die aptekerskool se kantoor te gaan, waar die dosent hom gevra het of hy die brief vir die priester geskryf het.

“Ek het, Meneer,” het John gesê.

Die dosent het daarop aangedring dat John vir die priester ’n brief skryf om om verskoning te vra. John het toe geskryf:

“Meneer, my dosent het my gevra om vir u om verskoning te vra, en ek is bereid om dit te doen, maar net as u sal erken dat u mense valse dinge leer.”

Die dosent was geskok en het gevra: “Blankson, is dit wat jy wil skryf?”

“Ja, Meneer, dit is al wat ek kan skryf.”

“Jy gaan geskors word. Hoe kan jy teen die priester van die regering se kerk praat en hoop om vir die regering te bly werk?”

“Maar, Meneer, . . . wanneer u vir ons klas gee en daar punte is wat ons nie verstaan nie, vra ons nie vir u vrae nie?”

“Natuurlik vra julle vrae.”

“Wel, Meneer, . . . dit is wat gebeur het. Hy het ons uit die Bybel geleer, en ek het hom ’n vraag gevra. As hy nie die vraag kan beantwoord nie, hoekom moet ek dan vir hom om verskoning vra?”

Blankson is nie geskors nie. Geen verskoning is gestuur nie.

DIE BYBELSTUDENTE IS OPGEWONDE OM MEER WERK TE DOEN

The Watch Tower het die jaar se bedrywighede opgesom en gesê: “Ons kan beslis met Dawid saamstem, wat gesê het: ‘U sal my krag gee vir die geveg’ (Psalm 18:39). Die jaar was baie aanmoedigend omdat ons die hand van die Here gesien het . . . Sy getroue knegte . . . het die goeie nuus vreugdevol verkondig.”

Laat in die jaar het die broers planne gemaak om nog ’n radiostasie te begin. Daardie radiostasie is in Chicago, VSA, gebou. Hierdie nuwe stasie is WORD genoem. WORD het ’n 5 000 watt-seintoestel gebruik en het die Koninkryksboodskap oor honderde kilometers uitgesaai, selfs tot in die noorde in Kanada.

In die jaar 1925 het Jehovah die broers gehelp om opwindende nuwe inligting oor Openbaring hoofstuk 12 te verstaan. Dit sou vir party ’n struikelblok wees. Maar baie ander was bly om die dinge wat in die hemel gebeur het, beter te verstaan, en hoe dit God se volk op die aarde geraak het.

a Nou Ons Christelike Lewe en BedieningVergaderingwerkboek

b J. F. Rutherford, wat op daardie stadium die leiding geneem het onder die Bybelstudente, was bekend as regter Rutherford. Voordat hy by Bethel was, het hy soms as ’n spesiale regter gedien in die howe van die Agtste Regstreek van Missouri.