STUDIEARTIKEL 40
LIED 30 My Vader, my God en Vriend
Jehovah “genees dié wie se hart gebreek is”
“Hy genees dié wie se hart gebreek is. Hy verbind hulle wonde.” – PS 147:3.
DOEL
Jehovah is baie besorg oor dié wat ly as gevolg van emosionele wonde. Hierdie artikel sal wys hoe hy ons vertroos wanneer ons hartseer voel en hoe hy ons help om ander te vertroos.
1. Hoe voel Jehovah oor sy knegte?
WAT sien Jehovah wanneer hy na sy knegte op die aarde kyk? Hy sien wanneer ons gelukkig is en wanneer ons hartseer is (Ps. 37:18). Wanneer hy sien dat ons hom na die beste van ons vermoë dien selfs wanneer ons met pynlike emosies sukkel, maak dit hom baie bly! Wat meer is, hy wil ons baie graag ondersteun en vertroos.
2. Wat doen Jehovah vir dié wie se hart gebreek is, en hoe kan ons by sy sorg baat vind?
2 Psalm 147:3 sê dat Jehovah ‘die wonde verbind’ van dié wie se hart gebreek is. Jehovah word hier uitgebeeld as iemand wat liefdevol sorg vir dié wat emosioneel beseer is. Wat moet ons doen om by Jehovah se sorg baat te vind? Kyk na ’n illustrasie. ’n Goeie dokter kan baie doen om ’n beseerde persoon te help om gesond te word. Maar om daarby baat te vind, moet die beseerde persoon die dokter se instruksies goed volg. In hierdie artikel sal ons kyk wat Jehovah in sy Woord vir dié wat emosioneel sukkel, sê, en ons sal sien hoe ons sy liefdevolle raad kan toepas.
JEHOVAH VERSEKER ONS VAN ONS WAARDE
3. Hoekom voel party dat hulle waardeloos is?
3 Ons lewe in ’n wêreld sonder liefde, en ongelukkig voel baie mense dat hulle waardeloos is omdat ander hulle dalk sleg behandel het. ’n Suster met die naam Helen a sê: “Ek het in ’n liefdelose familie grootgeword. My pa was gewelddadig en het elke dag oor en oor vir ons gesê dat ons niks werd is nie.” Dalk is jy al, soos Helen, mishandel, dikwels gekritiseer of laat voel dat niemand jou kan liefhê nie. As dit die geval is, vind jy dit dalk moeilik om te glo dat enige iemand regtig vir jou omgee.
4. Watter versekering gee Jehovah ons volgens Psalm 34:18?
4 Selfs as ander jou al sleg behandel het, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah jou liefhet en jou waardeer. Hy “is naby dié wie se hart gebreek is”. (Lees Psalm 34:18.) As jy “mismoedig” voel, moet jy onthou dat Jehovah goeie dinge in jou hart gesien het en jou persoonlik na hom toe getrek het (Joh. 6:44). Hy is altyd gereed om jou te help omdat jy vir hom kosbaar is.
5. Wat kan ons leer uit die manier hoe Jesus dié behandel het waarop ander neergekyk het?
5 Ons kan oor Jehovah se gevoelens leer deur na Jesus se voorbeeld te kyk. Gedurende sy aardse bediening het Jesus dié waarop ander neergekyk het, raakgesien, en hy het hulle liefdevol behandel (Matt. 9:9-12). Toe ’n vrou wat gehoop het om genees te word van ’n verskriklike siekte aan Jesus se kleed geraak het, het Jesus haar vertroos en haar geprys vir haar geloof (Mark. 5:25-34). Jesus volg sy Vader se persoonlikheid volmaak na (Joh. 14:9). So jy kan daarvan seker wees dat jy vir Jehovah waardevol is en dat hy jou goeie eienskappe sien, insluitende jou geloof en jou liefde vir hom.
6. Wat kan jy doen as jy voel dat jy waardeloos is?
6 Wat kan jy doen as jy ooit voel dat jy waardeloos is? Lees Bybelverse wat jou verseker dat jy vir Jehovah waardevol is, en dink daaroor na (Ps. 94:19). b As jy nie ’n doelwit bereik het nie of mismoedig voel omdat jy nie so baie soos ander kan doen nie, moet jy nie te hard op jouself wees nie. Jehovah het redelike verwagtinge (Ps. 103:13, 14). As jy al in die verlede mishandel is, moet jy nie jouself blameer vir wat daardie persoon gedoen het nie. Jy het nie verdien om so behandel te word nie! Onthou dat Jehovah die oortreders verantwoordelik hou, nie die slagoffers nie (1 Pet. 3:12). Sandra, wat as ’n kind mishandel is, sê: “Ek vra Jehovah gereeld om my te help om die goeie eienskappe te sien wat hy in my sien.”
7. Hoe kan ons ons ondervindinge in die lewe goed gebruik in Jehovah se diens?
7 Moet nooit twyfel dat Jehovah jou kan gebruik om ander te help nie. Hy het jou die voorreg gegee om sy medewerker in die Christelike bediening te wees (1 Kor. 3:9). Jou ondervindinge in die lewe het jou heel moontlik gehelp om empatie met ander te hê en om te verstaan hoe hulle dalk voel. Jy kan baie doen om hulle te help. Helen, wat vroeër aangehaal is, het hulp ontvang en kan ander nou beter help. Sy sê: “Jehovah het hierdie ‘nikswerd persoon’ verander in iemand wat geliefd voel en wat deur hom gebruik word om ander te help.” Helen geniet dit om as ’n gewone pionier te dien.
JEHOVAH WIL HÊ DAT ONS SY VERGIFNIS MOET AANVAAR
8. Watter versekering kry ons in Jesaja 1:18?
8 Party van Jehovah se knegte voel nog steeds baie skuldig oor sondes wat hulle in die verlede gepleeg het, of dit nou voor of selfs ná hulle doop was. Maar dit is goed om te onthou dat Jehovah die losprys voorsien het omdat hy ons baie liefhet. Ons kan daarvan seker wees dat hy wil hê dat ons sy geskenk moet aanvaar. Jehovah verseker ons dat hy nie meer ons sondes teen ons hou nadat ons ‘sake reggestel’ c het met hom nie. (Lees Jesaja 1:18.) Ons is so dankbaar dat ons liefdevolle Vader, Jehovah, nie aan ons vorige sondes dink nie! Op dieselfde tyd vergeet hy nooit van die goeie dinge wat ons gedoen het nie. – Ps. 103:9, 12; Heb. 6:10.
9. Hoekom moet ons nie bly dink aan sondes wat ons in die verlede gepleeg het nie?
9 As jy skuldig voel oor dinge wat jy in die verlede gedoen het, moet jy jou bes doen om te fokus op wat jy nou doen en op wat jy in die toekoms sal kan doen. Kyk na die voorbeeld van die apostel Paulus. Hy was spyt dat hy Christene op een stadium wreed vervolg het, maar hy het geweet dat Jehovah hom vergewe het (1 Tim. 1:12-15). Het hy toe bly dink aan sy vorige sondes? Hy het sekerlik geweier om dit te doen, net soos hy nie bly dink het aan sy vorige prestasies as ’n voorstander van Judaïsme nie (Fil. 3:4-8, 13-15). Paulus het eerder aangehou om sy bes in sy bediening te doen en het op die toekoms gefokus. Soos Paulus kan jy nie die verlede verander nie. Maar jy kan Jehovah in jou huidige omstandighede eer en op die wonderlike toekoms fokus wat hy jou belowe het.
10. Wat kan ons doen as die dinge wat ons in die verlede gedoen het, ander seergemaak het?
10 Jy voel dalk skuldig omdat party dinge wat jy in die verlede gedoen het, ander seergemaak het. Wat kan help? Doen wat jy kan om die skade te herstel, insluitende om opreg om verskoning te vra (2 Kor. 7:11). Vra Jehovah om dié te help wat jy seergemaak het. Hy kan jou en dié wat jy seergemaak het, help om te volhard en om weer vrede te hê.
11. Wat kan ons uit die profeet Jona se voorbeeld leer? (Sien ook prent.)
11 Leer uit vorige foute, en wees bereid om Jehovah toe te laat om jou te gebruik op enige manier wat hy goeddink. Dink aan die voorbeeld van die profeet Jona. In plaas daarvan om na Nineve te gaan soos God hom beveel het, het Jona in die teenoorgestelde rigting gevlug. Jehovah het Jona gedissiplineer, en hy het uit sy fout geleer (Jona 1:1-4, 15-17; 2:7-10). Jehovah het nie opgehou om Jona as ’n profeet te gebruik nie. God het hom nog ’n geleentheid gegee om na Nineve te gaan, en hierdie keer het Jona dit onmiddellik gedoen. Al was hy spyt oor die fout wat hy gemaak het, het dit hom nie gekeer om hierdie toewysing van Jehovah te aanvaar nie. – Jona 3:1-3.
JEHOVAH VERTROOS ONS DEUR MIDDEL VAN SY HEILIGE GEES
12. Hoe gee Jehovah ons vrede wanneer iets traumaties met ons gebeur? (Filippense 4:6, 7)
12 Jehovah vertroos ons deur middel van sy heilige gees wanneer iets traumaties met ons gebeur. Kyk na die ondervinding van Ron en Carol. Ongelukkig het hulle seun selfmoord gepleeg. Hulle sê: “Ons het al deur moeilike tye gegaan, maar dit was die heel ergste. Ons het gedurende baie slapelose nagte gebid, en ons het werklik die vrede ondervind wat beskryf word in Filippense 4:6, 7.” (Lees.) As jy ’n verskriklik moeilike tyd deurmaak, kan jy so gereeld en vir so lank as wat jy wil, jou hart in gebed tot Jehovah uitstort (Ps. 86:3; 88:1). Vra Jehovah herhaaldelik vir sy heilige gees. Hy sal nooit jou versoeke ignoreer nie. – Luk. 11:9-13.
13. Hoe kan heilige gees ons help om Jehovah getrou te bly aanbid? (Efesiërs 3:16)
13 Het jy ’n moeilike tyd ondervind en nou voel jy swak as gevolg daarvan? Heilige gees kan jou die krag gee om Jehovah getrou te bly aanbid. (Lees Efesiërs 3:16.) Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Flora. Sy en haar man het saam as sendelinge gedien toe haar man ontrou aan haar was, en hulle is toe geskei. Sy sê: “Ek het baie hartseer gevoel omdat hy ontrou was, en dit was al waaraan ek kon dink. Ek het Jehovah gevra vir sy heilige gees sodat ek kan volhard. Jehovah het my gegee wat ek nodig gehad het om te genees en om iets te hanteer wat aan die begin onmoontlik gelyk het om te oorkom.” Flora voel dat God haar gehelp het om haar vertroue in hom te versterk, en sy is seker dat hy haar sal ondersteun gedurende al haar moeilike tye. Sy voeg by: “Die woorde van Psalm 119:32 was op my van toepassing: ‘Ek sal die weg van u gebooie gretig volg, want u maak plek daarvoor in my hart.’”
14. Wat kan ons doen om meer van God se gees te ontvang?
14 Hoe kan jy in ooreenstemming met jou versoeke vir heilige gees optree? Neem aan aktiwiteite deel wat jou sal help om meer van God se gees te ontvang. Dit sluit in om vergaderinge by te woon en om vir ander te preek. Vul jou verstand met Jehovah se gedagtes deur sy Woord elke dag te lees (Fil. 4:8, 9). Terwyl jy lees, skenk aandag aan Bybelkarakters wat moeilike tye deurgemaak het en dink na oor hoe Jehovah hulle gehelp het om te volhard. Sandra, wat vroeër aangehaal is, het ’n paar verskriklik moeilike tye deurgemaak. Sy sê: “Die verslag van Josef raak regtig my hart. Hy het nie toegelaat dat die moeilike tye en ongeregtighede wat hy ondervind het, sy verhouding met Jehovah verswak nie.” – Gen. 39:21-23.
JEHOVAH VERTROOS ONS DEUR MIDDEL VAN ONS BROERS EN SUSTERS
15. Wie kan ons vertroos, en hoe kan hulle ons help? (Sien ook prent.)
15 Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, kan ons broers en susters “’n bron van groot vertroosting” wees (Kol. 4:11). Ons broers en susters is werklik ’n lewende bewys van Jehovah se liefde vir ons. Hulle kan ons vertroos deur met empatie na ons te luister, of hulle ondersteun ons dalk deur tyd met ons te spandeer. Hulle deel dalk ’n vertroostende Bybelvers met ons of bid saam met ons (Rom. 15:4). d Soms herinner ’n broer of ’n suster ons dalk aan hoe Jehovah dink, en op hierdie manier help hulle ons om ons balans te behou. Ons broers en susters kan ons ook praktiese ondersteuning gee, soos om ’n maaltyd te voorsien wanneer ons hartseer voel.
16. Wat moet ons dalk doen sodat ander ons kan ondersteun?
16 Om ondersteuning van ander te ontvang, sal ons dalk daarvoor moet vra. Ons broers en susters is lief vir ons en wil ons help (Spr. 17:17). Maar hulle weet dalk nie hoe ons voel of wat ons nodig het nie (Spr. 14:10). As jy emosioneel sukkel, moet jy bereid wees om vir volwasse vriende te sê hoe jy voel. Sê vir hulle wat jou sal help. Jy besluit dalk om met een of twee ouermanne te praat met wie jy gemaklik voel. Party susters is al vertroos omdat hulle met ’n ander volwasse suster gepraat het.
17. Wat is party uitdagings wat kan keer dat ons aanmoediging ontvang, en hoe kan ons dit oorkom?
17 Weerstaan die versoeking om jouself af te sonder. As gevolg van pynlike emosies voel jy dalk nie lus om tyd met ander te spandeer nie. Soms verstaan jou broers en susters jou dalk verkeerd of sê hulle dalk die verkeerde ding (Jak. 3:2). Moenie toelaat dat sulke uitdagings keer dat jy die aanmoediging ontvang wat jy nodig het nie. Gavin, ’n ouerman wat aan depressie ly, sê: “Om met my vriende in kontak te bly, is baie keer die laaste ding wat ek wil doen.” Maar Gavin doen moeite om tyd saam met sy broers te spandeer, en baie keer laat dit hom beter voel. ’n Suster met die naam Amy sê: “As gevolg van my vorige ondervindinge is dit vir my moeilik om mense te vertrou. Maar ek is besig om te leer om my broers en susters lief te hê en te vertrou, net soos Jehovah hulle liefhet en vertrou. Ek weet dat dit Jehovah gelukkig maak, en dit maak my ook gelukkig.”
JEHOVAH SE BELOFTES VIR DIE TOEKOMS KAN ONS VERTROOS
18. Waarna kan ons in die toekoms uitsien, en wat kan ons nou doen?
18 Ons kan met vertroue na die toekoms uitsien omdat ons weet dat Jehovah ons binnekort heeltemal sal genees van alle fisiese en emosionele pyn (Op. 21:3, 4). Wanneer dit gebeur, sal die pynlike dinge wat ons ondervind het, nie “in die hart opkom nie” (Jes. 65:17). Soos ons gesien het, “verbind” Jehovah selfs nou ons wonde. Maak goed gebruik van Jehovah se liefdevolle voorsienings om vir jou vertroosting en verligting te bring. Moet nooit vir ’n oomblik twyfel dat ‘hy vir jou omgee’ nie. – 1 Pet. 5:7.
LIED 7 Jehovah, ons sterkte
a Name is verander.
b Sien die venster “ Jy is waardevol vir Jehovah”.
c Om ‘sake reg te stel’ met Jehovah, moet ons bewys dat ons berouvol is deur hom te vra om ons te vergewe vir ons sondes en deur ons gedrag te verander. As ons ernstig sondig, moet ons ook die ouermanne in die gemeente vir hulp vra. – Jak. 5:14, 15.
d Kyk byvoorbeeld na die tekste onder die onderwerpe “Angstigheid” en “Vertroosting” in die publikasie Bybeltekste vir ons Christelike lewenswyse.