Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 41

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

Wat ons uit Jesus se laaste 40 dae op die aarde leer

Wat ons uit Jesus se laaste 40 dae op die aarde leer

“Hulle het hom oor ’n tydperk van 40 dae gesien, en hy het oor die Koninkryk van God gepraat.”HAND. 1:3.

DOEL

Hoe om die voorbeeld na te volg wat Jesus gestel het gedurende sy laaste 40 dae op die aarde.

1-2. Wat het gebeur terwyl twee van Jesus se dissipels na Emmaus geloop het?

 DIT is 16 Nisan 33 HJ. Jesus se dissipels is hartseer en bang. Twee van hulle verlaat Jerusalem en gaan na Emmaus, ’n dorpie omtrent 11 kilometer van Jerusalem af. Hierdie mans voel baie mismoedig omdat Jesus, die man wat hulle gevolg het, so pas doodgemaak is. Hulle het dalk alle hoop verloor vir wat die Messias sou doen. Maar ’n verrassing wag op die mans.

2 ’n Vreemdeling kom nader en loop saam met hulle. Die dissipels vertel hom hoe teleurgesteld hulle is oor wat met Jesus gebeur het. Dan begin die man ’n gesprek wat hulle lewens verander. “Hy het by Moses en al die Profete begin” en verduidelik hoekom die Messias moes ly en sterf. Toe die drie mans in Emmaus aankom, openbaar die vreemdeling wie hy is – Jesus, wat deur God opgewek is! Ons kan ons net voorstel hoe bly die dissipels was toe hulle leer dat die Messias lewe! – Luk. 24:​13-35.

3-4. Wat het met Jesus se dissipels gebeur, en wat sal ons in hierdie artikel leer? (Handelinge 1:3)

3 Jesus het gedurende sy laaste 40 dae op die aarde ’n hele paar keer aan sy dissipels verskyn. (Lees Handelinge 1:3.) Gedurende daardie tyd het Jesus se hartseer en bang volgelinge verander in ’n vreugdevolle en moedige leërmag van Koninkrykspredikers en -onderrigters. a

4 Ons kan daarby baat vind as ons ’n studie maak van hierdie opwindende tydperk in Jesus se lewe. In hierdie artikel sal ons sien hoe Jesus hierdie tyd gebruik het (1) om sy dissipels aan te moedig, (2) om hulle te help om die Skrif beter te verstaan en (3) om hulle op te lei om meer verantwoordelikhede te aanvaar. In elke geval sal ons sien hoe ons Jesus se voorbeeld kan navolg.

MOEDIG ANDER AAN

5. Hoekom het Jesus se dissipels aanmoediging nodig gehad?

5 Jesus se dissipels het aanmoediging nodig gehad. Hoekom? Party het huise, families en besighede agtergelaat om Jesus voltyds te volg (Matt. 19:27). Ander is onregverdig behandel omdat hulle sy dissipels geword het (Joh. 9:22). Hulle het hierdie opofferings gemaak omdat hulle geglo het dat Jesus die beloofde Messias is (Matt. 16:16). Maar toe Jesus doodgemaak is, het hulle hopeloos gevoel en mismoedig geword.

6. Wat het Jesus gedoen nadat hy opgewek is?

6 Jesus het sy dissipels se hartseer beslis nie gesien as ’n teken dat hulle geestelik swak is nie, maar as ’n normale reaksie op ’n verskriklike verlies. So op daardie einste dag dat hy opgewek is, het hy begin om sy vriende aan te moedig. Byvoorbeeld, hy het aan Maria Magdalena verskyn terwyl sy by sy graf gehuil het (Joh. 20:​11, 16). Hy het ook aan die twee dissipels verskyn wat aan die begin van hierdie artikel beskryf is. En hy het aan die apostel Petrus verskyn (Luk. 24:34). Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer? Kyk na wat gebeur het toe hy aan Maria Magdalena verskyn het.

7. Volgens Johannes 20:​11-16, wat het Jesus Maria sien doen vroeg op die oggend van 16 Nisan, en wat het dit hom gemotiveer om te doen? (Sien ook prent.)

7 Lees Johannes 20:​11-16. Vroeg op die oggend van 16 Nisan het ’n paar lojale vrouens na die plek gegaan waar Jesus se lewelose liggaam gelê het (Luk. 24:​1, 10). Kom ons fokus op die ondervinding van een van die vrouens, Maria Magdalena. Toe Maria by die graf aankom, was dit leeg. Sy het Petrus en Johannes daarvan gaan vertel en het hulle toe gevolg terwyl hulle na die graf gehardloop het. Nadat hulle bevestig het dat die graf leeg is, het die mans teruggegaan huis toe. Maar nie Maria nie. Sy het daar gebly en gehuil. Min het sy geweet dat Jesus alles dophou. Hy het hierdie getroue vrou se trane gesien, en dit het hom diep geraak. Daarom het hy aan Maria verskyn en toe iets eenvoudigs gedoen wat haar baie aangemoedig het. Hy het met haar gepraat en vir haar ’n belangrike toewysing gegee – om die nuus van sy opstanding met sy broers te deel. – Joh. 20:​17, 18.

Volg Jesus na deur oplettend te wees en deur empatie te hê met dié wat mismoedig is (Sien paragraaf 7)


8. Hoe kan ons Jesus navolg?

8 Hoe kan ons Jesus navolg? Ons kan baie doen om ons broers en susters te motiveer om Jehovah te bly dien as ons, soos Jesus, bewus is van hulle probleme en op ’n vertroostende manier met hulle praat. Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Jocelyn, wie se suster in ’n tragiese ongeluk gesterf het. “Ek het baie maande lank heeltyd verskriklik hartseer gevoel,” sê sy. Maar ’n broer en sy vrou het haar na hulle huis genooi, met empatie na haar geluister en haar verseker dat sy in God se oë waardevol is. Jocelyn sê: “Ek het gevoel asof Jehovah hulle gebruik het om my uit ’n donker stormagtige see te haal en in ’n reddingsbootjie in te trek. Hulle het my gehelp om weer die begeerte te kry om Jehovah te bly dien.” Ons kan ook ander aanmoedig deur mooi te luister terwyl hulle hulle hart uitstort en deur op ’n vertroostende manier met hulle te praat, en op hierdie manier kan ons hulle help om Jehovah te bly dien. – Rom. 12:15.

REDENEER OOR DIE SKRIF

9. Watter uitdaging het Jesus se dissipels gehad, en hoe het Jesus hulle gehelp?

9 Jesus se dissipels het God se Woord aanvaar en hulle bes probeer om dit in hulle lewe toe te pas (Joh. 17:6). Maar hulle kon nie verstaan hoekom Jesus as ’n misdadiger aan ’n folterpaal gesterf het nie. Jesus het besef dat hulle nie getwyfel het omdat hulle ’n slegte hart gehad het nie, maar omdat hulle die Skrif beter moes verstaan (Luk. 9:​44, 45; Joh. 20:9). Daarom het hy hulle geleer om oor die Skrif te redeneer. Kyk hoe hy dit gedoen het toe hy aan die twee dissipels verskyn het op die pad na Emmaus.

10. Hoe het Jesus sy dissipels oortuig dat hy werklik die Messias is? (Lukas 24:​18-27)

10 Lees Lukas 24:​18-27. Let op dat Jesus nie onmiddellik vir die mans gesê het wie hy is nie. Hy het eerder vrae gevra. Hoekom? Dalk wou hy hê dat hulle vir hom moet sê wat hulle dink en hoe hulle voel. En hulle het. Hulle het vir hom gesê dat hulle verwag het dat Jesus Israel van Romeinse onderdrukking sou bevry. Nadat hulle duidelik gesê het wat hulle bekommer het, het Jesus die Skrif gebruik om die mans te help verstaan wat gebeur het. b Later daardie aand het Jesus ook die ander dissipels van hierdie waarhede verseker (Luk. 24:​33-48). Wat kan ons uit hierdie verslag leer?

11-12. (a) Watter les kan ons leer uit die manier hoe Jesus Bybelwaarhede aan ander geleer het? (Sien ook prente.) (b) Hoe het Nortey se Bybelonderrigter hom gehelp?

11 Hoe kan ons Jesus navolg? Eerstens, wanneer jy Bybelstudente onderrig, moet jy taktvolle vrae vra wat jou sal help om uit te vind wat hulle dink en hoe hulle voel (Spr. 20:5). Wanneer jy hulle gevoelens verstaan, moet jy hulle wys hoe om spesifieke tekste te vind wat op hulle omstandighede van toepassing is. Vermy dit dan om vir hulle te sê wat om te doen. Help hulle eerder om oor die Bybel te redeneer en om te dink oor hoe hulle Bybelbeginsels in hulle lewe kan toepas. Kyk na die voorbeeld van ’n broer in Ghana met die naam Nortey.

12 Toe Nortey 16 jaar oud was, het hy die Bybel begin studeer. Maar kort daarna het sy gesin hom teëgestaan. Wat het hom gehelp om aan te hou om die Bybel te studeer? Sy Bybelonderrigter het Matteus hoofstuk 10 gebruik om te verduidelik dat ware Christene vervolg sal word. “So toe die vervolging begin, was ek oortuig dat ek die waarheid gevind het,” sê Nortey. Sy onderrigter het hom ook gehelp om te redeneer oor Matteus 10:16 sodat hy versigtig en respekvol kan wees wanneer hy godsdienstige dinge by die huis bespreek het. Ná sy doop wou Nortey pionier, maar sy pa wou hê dat hy universiteit toe moet gaan. Eerder as om vir Nortey te sê wat om te doen, het sy onderrigter vir hom vrae gevra om uit te vind hoe hy voel en hom gehelp om oor Bybelbeginsels te redeneer. Wat was die gevolg? Nortey het besluit om te begin pionier. Sy pa het hom gedwing om die huis te verlaat. Hoe voel Nortey oor wat met hom gebeur het? “Ek is oortuig dat ek die regte keuse gemaak het,” sê hy. Wanneer ons ook tyd neem om ander te help om oor die Bybel te redeneer, help ons hulle om hulle geloof te versterk en om Jehovah te bly dien. – Ef. 3:​16-19.

Volg Jesus na deur ander te help om oor die Bybel te redeneer (Sien paragraaf 11) e


HELP MANS OM TE KWALIFISEER OM “GAWES IN DIE VORM VAN MENSE” TE WORD

13. Wat het Jesus gedoen om seker te maak dat daar steeds omgesien word na sy Vader se werk? (Efesiërs 4:8)

13 Terwyl Jesus op die aarde was, het hy volmaak omgesien na die werk wat sy Vader hom gegee het om te doen (Joh. 17:4). Maar Jesus het nie gevoel: ‘As jy wil hê dat iets reg gedoen moet word, moet jy dit self doen’ nie. Gedurende sy bediening van drie en ’n half jaar het hy ander opgelei om die werk te doen. Voordat Jesus na die hemel teruggekeer het, het hy vir sy dissipels – party van hulle was dalk in hulle 20’s – die verantwoordelikheid gegee om vir Jehovah se kosbare skape te sorg en die leiding in die predikings- en onderrigtingswerk te neem. (Lees Efesiërs 4:8.) Hoe het Jesus sy laaste 40 dae gebruik om hierdie toegewyde, lojale en hardwerkende mans te help om te kwalifiseer om “gawes in die vorm van mense” te word? – Ef. 4:8.

14. Hoe het Jesus sy dissipels gedurende sy laaste 40 dae op die aarde gehelp om geestelik te groei? (Sien ook prent.)

14 Jesus het sy dissipels reguit maar liefdevolle raad gegee. Byvoorbeeld, hy het opgelet dat party van hulle die gewoonte gehad het om te twyfel, en daarom het hy hulle raad gegee (Luk. 24:​25-27; Joh. 20:27). Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle meer op die herderswerk moet fokus as op hulle sekulêre loopbane (Joh. 21:15). Hy het hulle daaraan herinner dat hulle hulle nie te veel moet bekommer oor watter voorregte ander dalk in Jehovah se diens ontvang nie (Joh. 21:​20-22). En hy het party verkeerde idees wat hulle oor die Koninkryk gehad het, reggestel en hulle gehelp om daarop te fokus om die goeie nuus te verkondig (Hand. 1:​6-8). Wat kan ouermanne by Jesus leer?

Volg Jesus na deur mans te help om vir meer verantwoordelikhede te kwalifiseer (Sien paragraaf 14)


15-16. (a) Op watter maniere kan ouermanne Jesus navolg? Verduidelik. (b) Hoe het Patrick by raad baat gevind?

15 Hoe kan ouermanne Jesus navolg? Hulle moet mans, insluitende dié wat redelik jonk is, oplei en ondersteun sodat hulle vir meer verantwoordelikhede kan kwalifiseer. c Ouermanne verwag nie dat hierdie broers volmaak moet wees nie. Hulle moet hierdie jong broers liefdevolle raad gee sodat hulle ondervinding kan opdoen en kan leer om nederig en betroubaar te wees en gewillig te wees om ander te help. – 1 Tim. 3:1; 2 Tim. 2:2; 1 Pet. 5:5.

16 Kyk hoe ’n broer met die naam Patrick by raad baat gevind het. As ’n jong persoon het hy die gewoonte gehad om onbeskof te wees en om lelik te praat, selfs met susters. ’n Volwasse ouerman het Patrick se swakheid raakgesien en hom liefdevolle maar reguit raad gegee. “Ek is bly dat hy dit gedoen het,” sê Patrick. “Ek het mismoedig gevoel wanneer ek gesien het dat ander broers diensvoorregte ontvang wat ek wou hê. Maar die ouerman se raad het my gehelp om te sien dat ek nie op ’n posisie of voorreg in die gemeente moet fokus nie, maar eerder daarop moet fokus om my broers en susters nederig te dien.” As gevolg daarvan is Patrick as ’n ouerman aangestel toe hy in sy vroeë 20’s was. – Spr. 27:9.

17. Hoe het Jesus gewys dat hy sy dissipels vertrou het?

17 Jesus het sy dissipels die verantwoordelikheid gegee om nie net te preek nie, maar ook om te onderrig (Matt. 28:20). Die dissipels het dalk gevoel dat hulle nie in staat is om te doen wat Jesus hulle gevra het om te doen nie. Maar Jesus het nie getwyfel dat hulle die werk kon doen nie, en hy het dit vir hulle gesê. Jesus het volle vertroue in hulle gehad en gesê: “Net soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook.” – Joh. 20:21.

18. Hoe kan ouermanne Jesus navolg?

18 Hoe kan ouermanne Jesus navolg? Ervare ouermanne delegeer verantwoordelikhede (Fil. 2:​19-22). Byvoorbeeld, ouermanne kan jongmense betrek by die skoonmaak en instandhouding van die Koninkryksaal. Nadat ouermanne broers ’n taak gegee het om te doen, kan hulle wys dat hulle daardie broers vertrou deur hulle op te lei en dan te vertrou dat hulle die werk reg sal doen. ’n Nuwe ouerman met die naam Matthew sê dat hy regtig ervare ouermanne waardeer wat hom deeglik oplei om ’n toewysing te hanteer en dan vertrou dat hy dit goed sal doen. Hy sê: “Wanneer ek foute gemaak het, het hulle my gehelp om te sien hoe ek uit daardie foute kan leer en kan verbeter.” d

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

19 Jesus het sy laaste 40 dae op die aarde gebruik om ander aan te moedig, te onderrig en op te lei. Mag ons vasbeslote wees om sy voorbeeld goed te volg (1 Pet. 2:21). Hy sal ons help om dit te doen. Om die waarheid te sê, hy het belowe: “Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel.” – Matt. 28:20.

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

a Die Evangelieverslae en ander Bybelboeke praat van verskeie geleenthede toe Jesus ná sy opstanding aan ander verskyn het, soos aan Maria Magdalena (Joh. 20:​11-18); aan ander vrouens (Matt. 28:​8-10; Luk. 24:​8-11); aan 2 dissipels (Luk. 24:​13-15); aan Petrus (Luk. 24:34); aan die apostels behalwe Tomas (Joh. 20:​19-24); aan die apostels, insluitende Tomas (Joh. 20:26); aan 7 dissipels (Joh. 21:​1, 2); aan meer as 500 dissipels (Matt. 28:16; 1 Kor. 15:6); aan sy broer Jakobus (1 Kor. 15:7); aan al die apostels (Hand. 1:4); en aan die apostels naby Betanië (Luk. 24:​50-52). Bybelskrywers het dalk nie al die kere dat Jesus aan sy dissipels verskyn het, genoem nie. – Joh. 21:25.

b Vir ’n lys van Messiaanse profesieë sien op jw.org die artikel “Bewys Messiaanse profesieë dat Jesus die Messias was?

c In party gevalle kan bekwame mans in hulle middel- tot laat-20’s as kringopsieners aangestel word. Maar sulke mans moet eers ondervinding as ouermanne opdoen.

d Vir nog voorstelle oor hoe om jonger broers te help om vir verantwoordelikhede te kwalifiseer, hersien Die Wagtoring van Augustus 2018, bl. 11-12, par. 15-17 sowel as Die Wagtoring van 15 April 2015, bl. 3-14.

e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Bybelstudent besluit om sy Kersversierings weg te gooi nadat hy gehelp is om oor die Bybel te redeneer.