Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe hoog was die portaal van Salomo se tempel?

Die portaal het as ’n ingang gedien na die Heilige vertrek van die tempel. Volgens uitgawes van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel wat voor 2023 gepubliseer is, was “die voorportaal . . . 20 el breed (net so breed soos die huis), en die hoogte daarvan was 120” (2 Kron. 3:4). Ander vertalings sê ook dat die portaal “120 el” hoog was, wat sou beteken dat dit ’n 53 meter hoë toring was!

Maar die 2023-uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling sê oor die portaal van Salomo se tempel: “Die hoogte daarvan was 20 el,” of omtrent 9 meter hoog. a Kyk na ’n paar redes vir hierdie verandering.

Die hoogte van die portaal word nie in 1 Konings 6:3 genoem nie. In daardie vers praat die skrywer Jeremia oor die breedte en die lengte van die portaal, maar hy sê nie hoe hoog dit was nie. Hy gee dan in die volgende hoofstuk meer besonderhede oor ander belangrike kenmerke van die tempel, insluitende die See van gegote metaal, die tien waentjies en die twee koperpilare wat buite die portaal was (1 Kon. 7:​15-37). As die portaal regtig meer as 50 meter hoog was en baie hoër as die res van die tempel was, hoekom het Jeremia nie gesê hoe hoog dit was nie? Selfs eeue later het Joodse skrywers geskryf dat die portaal nie hoër as die res van Salomo se tempel was nie.

Geleerdes bevraagteken of die tempelmure ’n 120 el hoë portaal kon ondersteun het. Verskriklik hoë klip- en baksteenstrukture in eertydse tye, soos tempelpoorte in Egipte, was baie breed aan die onderkant en nouer aan die bokant. Maar Salomo se tempel was anders. Geleerdes glo dat die mure daarvan nie meer as 6 el, of 2,7 meter, dik was nie. Daarom het Theodor Busink, ’n geskiedkundige in argitektuur, tot hierdie slotsom gekom: “Gebaseer op die dikte van die [tempelingang] se mure, kon die portaal nie 120 el [hoog] wees nie.”

Die teks van 2 Kronieke 3:4 is dalk verkeerd oorgeskryf. Al sê party eertydse manuskripte “120” in hierdie vers, sê ander gesaghebbende tekste, soos die Codex Alexandrinus van die vyfde eeu en die Codex Ambrosianus van die sesde eeu, “20 el”. Hoekom het ’n kopiis dalk per ongeluk “120” geskryf? Die woorde vir “honderd” en “el” lyk soortgelyk in Hebreeus. So ’n kopiis het dalk die woord “honderd” in plaas van “el” geskryf.

Ons probeer natuurlik om hierdie besonderhede te verstaan en om Salomo se tempel akkuraat uit te beeld, maar ons fokus veral op wat daardie tempel voorafgeskadu het – die groot geestelike tempel. Ons is baie dankbaar dat Jehovah al sy knegte genooi het om hom by daardie tempel te aanbid! – Heb. 9:​11-14; Op. 3:12; 7:​9-17.

a ’n Voetnoot sê: “Party eertydse manuskripte sê ‘120’, terwyl ander manuskripte en party vertalings ‘20 el’ sê.”