Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om te stry vir Jehovah se seën

Hou aan om te stry vir Jehovah se seën

“Jy het met God en met mense geworstel sodat jy uiteindelik die oorhand gekry het.”—GEN. 32:28.

LIEDERE: 60, 38

1, 2. Waarteen moet Jehovah se knegte stry?

VAN die eerste getroue mens, Abel, tot in ons dag het lojale aanbidders ’n stryd gevoer. Die apostel Paulus het aan Hebreeuse Christene geskryf dat hulle “onder baie lyding ’n groot stryd verduur het” terwyl hulle Jehovah se goedkeuring en seën probeer verkry het (Heb. 10:32-34). Paulus het die stryd van Christene vergelyk met die inspanning van atlete wat deelgeneem het aan Griekse spele, soos wedlope, stoeigevegte en boksgevegte (Heb. 12:1, 4). Vandag is ons in die wedloop om die lewe, en daar is baie teenstanders wat ons aandag wil aflei, ons wil pootjie, ons wil platslaan en ons van ons vreugde en toekomstige seëninge wil beroof.

2 Ons voer in die eerste plek ’n hewige “worstelstryd” teen Satan en sy goddelose wêreld (Ef. 6:12). Dit is belangrik dat ons die invloed weerstaan van die wêreld se “sterk verskanste dinge”. Dit sluit in sy leerstellings, filosofieë en skadelike dinge, soos onsedelikheid, tabakgebruik, alkohol- en dwelmmisbruik. Ons moet ook voortdurend stry teen ons vleeslike swakhede en ontmoediging.—2 Kor. 10:3-6; Kol. 3:5-9.

3. Hoe lei God ons op om teen ons vyande te stry?

3 Is dit werklik moontlik om die oorhand te kry oor sulke kragtige teenstanders? Ja, maar nie sonder ’n stryd nie. Paulus het homself met ’n bokser vergelyk en gesê: “Die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie” (1 Kor. 9:26). Net soos ’n bokser teen sy teenstander baklei, moet ons teen ons vyande baklei. Jehovah lei ons op en help ons in ons stryd. Hy voorsien lewensreddende instruksies in sy Woord. Hy help ons ook deur middel van ons Bybelpublikasies, Christelike vergaderinge en byeenkomste. Pas jy toe wat jy leer? As jy dit nie doen nie, sal dit wees asof jy “in die lug slaan”, of nie met al jou mag teen jou vyand baklei nie.

4. Hoe kan ons voorkom dat die kwaad ons oorwin?

4 Ons vyande val ons dalk aan wanneer ons dit die minste verwag of wanneer ons ’n laagtepunt bereik, en daarom moet ons altyd op ons hoede wees. Die Bybel waarsku ons: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Rom. 12:21). Die aansporing om ons “nie deur die kwaad [te] laat oorwin nie”, toon dat ons die kwaad kan oorwin. Ons kan dit doen as ons aanhou om daarteen te stry. Maar Satan, sy bose wêreld en ons onvolmaakte vlees kan die oorhand oor ons kry as ons ons waaksaamheid verslap en ophou stry. Moet nooit toelaat dat Satan jou intimideer sodat jy jou hande moedeloos laat sak nie!—1 Pet. 5:9.

5. (a) Wat kan ons help om te volhard in ons stryd om God se seën te verkry? (b) Watter Bybelkarakters sal ons bespreek?

5 Diegene wat suksesvol wil wees in die stryd, moenie vergeet waarom hulle stry nie. As hulle God se goedkeuring en seën wil verkry, moet hulle altyd die versekering in Hebreërs 11:6 in gedagte hou: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.” Die vorm van die Griekse werkwoord wat met “ernstig soek” vertaal word, impliseer dat ’n intense en doelbewuste poging nodig is (Hand. 15:17). Die Skrif bevat goeie voorbeelde van manne en vroue wat ’n doelbewuste poging aangewend het om Jehovah se seën te verkry. Jakob, Ragel, Josef en Paulus het omstandighede ondervind wat hulle emosioneel en fisies uitgeput het, en tog het hulle bewys dat volharding tot ryk seëninge lei. Hoe kan ons hulle goeie voorbeeld navolg?

VOLHARDING LEI TOT SEËNINGE

6. Wat het Jakob gehelp om te volhard, en hoe is hy beloon? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Die aartsvader Jakob het volhard in sy stryd omdat hy lief was vir Jehovah, geestelike dinge waardeer het en volkome vertroue gehad het in Jehovah se belofte om sy nageslag te seën (Gen. 28:3, 4). Dit is die rede waarom Jakob, toe hy amper 100 jaar oud was, alles in sy vermoë gedoen het om God se seën te verkry; hy het selfs met ’n gematerialiseerde engel geworstel. (Lees Genesis 32:24-28.) Het Jakob in sy eie krag met ’n magtige engel geworstel? Natuurlik nie! Maar hy was baie vasberade en het bewys dat hy nie die stryd gewonne sou gee nie! En hy is beslis vir sy volharding beloon. Hy het die gepaste naam Israel ontvang (wat “worstelaar [volharder] met God” of “God worstel” beteken). Jakob het die ryk beloning ontvang wat ons ook wil hê—Jehovah se goedkeuring en seën.

7. (a) Met watter beproewing het Ragel te kampe gehad? (b) Hoe het sy aanhou stry en hoe is sy uiteindelik geseën?

7 Jakob se geliefde vrou, Ragel, was net so gretig om te sien hoe Jehovah sy belofte aan haar man sou vervul. Maar daar was ’n probleem wat skynbaar nie opgelos kon word nie. Sy het nie kinders gehad nie. In haar dag was hierdie situasie ’n groot beproewing. Hoe het Ragel die emosionele en fisiese krag gekry om aan te hou stry teen omstandighede wat nie net ontmoedigend was nie, maar wat ook heeltemal buite haar beheer was? Sy het nooit hoop verloor nie. Intense gebede het haar gehelp om haar stryd voort te sit. Jehovah het Ragel se hartgrondige gebede gehoor, en sy is uiteindelik met kinders geseën. Dit is te verstane dat Ragel eenkeer vreugdevol uitgeroep het: “Met moeisame worstelinge het ek . . . geworstel. Ek het ook oorwin!”—Gen. 30:8, 20-24.

8. Watter langdurige en moeilike uitdaging het Josef ervaar, en hoe is sy reaksie daarop vir ons ’n goeie voorbeeld?

8 Die getroue voorbeeld van Jakob en Ragel het ongetwyfeld ’n kragtige uitwerking op hulle seun Josef gehad en hom tydens toetse van sy geloof gehelp. Toe Josef 17 jaar oud was, is sy lewe heeltemal onderstebo gekeer. Sy broers was jaloers op hom en het hom as ’n slaaf verkoop. Later was hy jare lank opgesluit in ’n tronk in Egipte, al was hy onskuldig (Gen. 37:23-28; 39:7-9, 20- 21). Josef het nie moed verloor nie; hy was ook nie so gegriefd dat hy wraak wou neem nie. Hy het eerder gekonsentreer op sy geseënde verhouding met Jehovah (Lev. 19:18; Rom. 12:17-21). Josef se voorbeeld kan ons help. As ons byvoorbeeld moeilike kinderjare gehad het of meen dat ons huidige situasie hopeloos is, moet ons aanhou stry en volhard. As ons dit doen, kan ons die vertroue hê dat Jehovah ons sal seën.—Lees Genesis 39:21-23.

9. Hoe kan ons soos Jakob, Ragel en Josef aanhou stry om Jehovah se seën te verkry?

9 Dink aan ’n situasie wat jy verduur en wat dalk vir jou ’n beproewing is. Miskien is dit die een of ander vorm van ongeregtigheid, vooroordeel of bespotting. Of dalk het iemand jou vals beskuldig, miskien uit jaloesie. Moenie jou hande moedeloos laat sak nie; onthou eerder wat Jakob, Ragel en Josef in staat gestel het om Jehovah met vreugde te bly dien. God het hulle versterk en geseën omdat hulle aangehou het om innige waardering vir geestelike dinge te toon. Hulle het aangehou om te stry en om in ooreenstemming met hulle opregte gebede op te tree. Ons lewe na aan die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge, en daarom het ons goeie rede om stewig vas te hou aan ons hoop! Is jy bereid om jou in te span om Jehovah se guns te verkry en om as ’t ware daarvoor te worstel?

WEES GEWILLIG OM TE WORSTEL VIR ’N SEËN

10, 11. (a) Watter omstandighede kan vereis dat ons moet worstel vir God se seën? (b) Wat sal ons in staat stel om die regte keuses te maak en om ons stryd teen ontmoediging en afleidings te wen?

10 Watter omstandighede kan vereis dat ons moet worstel vir God se seën? Baie moet teen ’n vleeslike swakheid stry. Ander moet ’n doelbewuste poging aanwend om ’n positiewe beskouing van die bediening te behou. Of miskien moet jy volhard ten spyte van slegte gesondheid of eensaamheid. Dan is daar ook diegene vir wie dit ’n stryd is om iemand te vergewe wat hulle aanstoot gegee het of teen hulle gesondig het. Ongeag hoe lank ons Jehovah al dien, ons moet stry teen dinge wat ’n negatiewe uitwerking kan hê op ons diens aan God, wat sy getroue knegte beloon.

Worstel jy om God se seën te verkry? (Sien paragraaf 10, 11)

11 Dit kan ’n groot stryd wees om die regte keuses te maak en op die Christelike lewensweg te bly. Dit is veral so as ons verraderlike hart ons in die teenoorgestelde rigting wil laat gaan (Jer. 17:9). As jy besef dat dit met jou gebeur, moet jy in gebed vir heilige gees vra. Gebed en heilige gees kan jou die krag gee om die weg te volg wat jy weet reg is en wat Jehovah kan seën. Tree in ooreenstemming met jou gebede op. Probeer om elke dag ’n gedeelte van die Bybel te lees, en ruim tyd in vir persoonlike studie en Gesinsaanbidding.—Lees Psalm 119:32.

12, 13. Wat het twee Christene gehelp om verkeerde begeertes te beheers?

12 Daar is baie voorbeelde van hoe God se Woord, sy gees en ons Christelike publikasies Christene gehelp het om verkeerde begeertes te oorkom. ’n Tiener het die artikel “Hoe kan jy verkeerde begeertes weerstaan?” in die Ontwaak! van 8 Desember 2003 gelees. Wat was sy reaksie? “Ek stry teen ongepaste gedagtes. Toe ek in die artikel gelees het dat ‘die stryd om verkeerde begeertes te oorwin, vir baie ’n geweldige uitdaging is’, het dit my laat voel dat ek deel van die broederskap is. Ek het gevoel dat ek nie alleen is nie.” Hierdie jong man het ook baat gevind by die artikel “Alternatiewe lewenswyses—Keur God dit goed?” wat verskyn het in die Ontwaak! van 8 Oktober 2003. Hy het gesê dat dit genoem het dat die stryd vir party “’n doring in die vlees” is (2 Kor. 12:7). Terwyl hulle ’n stryd voer om hulle gedrag rein te hou, kan hulle vol moed na die toekoms kyk. Toe het hy gesê: “Daarom voel ek met elke dag wat verbygaan dat ek getrou kan bly. Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy sy organisasie gebruik om ons te help om elke dag in hierdie goddelose stelsel te oorleef.”

13 Kyk ook na die voorbeeld van ’n suster in die Verenigde State. Sy skryf: “Ek wil dankie sê dat julle ons altyd die geestelike voedsel wat ons nodig het, op die regte tyd gee. Ek voel dikwels dat hierdie artikels net vir my geskryf is. Ek stry al jare lank teen ’n sterk begeerte na iets wat Jehovah haat. Soms wil ek my hande in die lug gooi en ophou stry. Ek weet dat Jehovah barmhartig en vergewensgesind is, maar omdat ek hierdie verkeerde begeerte het en diep in my hart nie ’n haat daarvoor het nie, voel ek dat ek nie sy hulp kan kry nie. Hierdie voortdurende stryd het elke aspek van my lewe geraak. . . . Nadat ek die artikel ‘Het jy “’n hart om Jehovah te ken”?’ in Die Wagtoring van 15 Maart 2013 gelees het, het ek regtig gevoel dat Jehovah my wil help.”

14. (a) Hoe het Paulus gevoel oor die stryd wat hy gevoer het? (b) Hoe kan ons suksesvol wees in die stryd teen vleeslike swakhede?

14 Lees Romeine 7:21-25. Paulus het geweet hoe moeilik dit kan wees om teen die begeertes en swakhede van die onvolmaakte vlees te stry. Maar hy het volle vertroue gehad dat hy sy innerlike stryd kan wen deur biddend op Jehovah te vertrou en geloof in Jesus se losprysoffer te beoefen. Wat van ons? Ons kan ook suksesvol wees in die stryd teen ons vleeslike swakhede. Hoe? Deur Paulus se voorbeeld te volg, deur ten volle op Jehovah te vertrou en nie op ons eie krag nie en deur geloof in die losprys te stel.

15. Waarom kan gebed ons help om getrou te bly en beproewinge te verduur?

15 God laat soms toe dat ons toon hoe besorg ons werklik oor ’n saak is. Gestel ons (of ’n gesinslid) word ernstig siek of het te kampe met ongeregtigheid. Ons sal toon dat ons ten volle op Jehovah vertrou deur hom in gebed te smeek om ons die krag te gee om getrou te bly en om nie ons vreugde en geestelike balans te verloor nie (Fil. 4:13). In Paulus se dag sowel as in ons dag het baie ondervind dat gebed kan help om ons krag te hernieu en om ons die moed te gee om te volhard.

HOU AAN OM TE STRY VIR JEHOVAH SE SEËN

16, 17. Wat is jy vasbeslote om te doen?

16 Die Duiwel sal graag wil sien dat jy moed verloor en jou hande laat sak. Wees vasbeslote om “vas [te hou] aan wat goed is” (1 Tess. 5:21). Wees verseker dat jy die stryd teen Satan, sy goddelose wêreld en enige sondige neigings kan wen. Jy kan dit doen deur jou volle vertroue te stel in God se vermoë om jou te versterk.—2 Kor. 4:7-9; Gal. 6:9.

17 Moenie moed opgee nie. Hou aan stry. Hou aan worstel. Hou aan om te volhard. Stel volle vertroue in Jehovah se belofte dat hy “op [jou] ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie”.—Mal. 3:10.