Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense, versterk julle geloof

Jongmense, versterk julle geloof

“Geloof is . . . die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie.”—HEB. 11:1.

LIEDERE: 41, 69

1, 2. Watter druk ervaar sommige jongmense vandag, en wat kan hulle daaromtrent doen?

“EK HET gedink dat jy te slim is om aan God te glo”, het ’n klasmaat vir ’n jong suster in Brittanje gesê. ’n Broer in Duitsland het geskryf: “My onderwysers beskou die skeppingsverslag in die Bybel as ’n mite. En hulle aanvaar net dat die leerders aan evolusie glo.” ’n Jong suster in Frankryk het gesê: “Onderwysers in my skool is baie verbaas dat daar nog leerders is wat in die Bybel glo.”

2 As ’n jong kneg van Jehovah of as iemand wat besig is om meer van Hom te leer, voel jy dalk dat daar druk op jou geplaas word om eerder aan dinge soos evolusie as aan ’n Skepper te glo. Indien wel, kan jy stappe doen om jou geloof te versterk en dit dan sterk te hou. Een stap is om die vermoë te gebruik wat God jou gegee het om vir jouself te dink, want dit sal “oor jou wag hou”. Dit sal jou beskerm teen wêreldse filosofieë wat jou geloof kan vernietig.—Lees Spreuke 2:10-12.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ware geloof is op juiste kennis van God gebaseer (1 Tim. 2:4). Wanneer jy God se Woord en ons Christelike publikasies studeer, moet jy dit dus nie net vinnig lees nie. Jy moet dink terwyl jy lees sodat jy kan begryp, of verstaan, wat jy lees (Matt. 13:23). As jy dit doen, sal jy “duidelike bewys” vind dat God die Skepper is en dat die Bybel van hom af kom. Kom ons kyk hoe dit jou geloof kan versterk.—Heb. 11:1.

HOE OM JOU GELOOF TE VERSTERK

4. Waarom is geloof nodig, hetsy ’n mens aan God of aan evolusie glo, en wat moet ons dus doen?

4 Het iemand dalk al vir jou gesê dat hulle aan evolusie glo omdat dit op die wetenskap gebaseer is, maar dat geloof nodig is om aan God te glo? Baie mense het hierdie beskouing. Maar dit is goed om die volgende te onthou: Maak nie saak of iemand aan God of aan evolusie glo nie, geloof is nodig. Hoe so? Nie een van ons het God gesien of gesien hoe iets geskep word nie (Joh. 1:18). En geen mens—of hy ’n wetenskaplike is of nie—het al gesien dat een plant- of diersoort in ’n ander evolueer nie. Niemand het byvoorbeeld al gesien dat ’n reptiel in ’n soogdier verander nie (Job 38:1, 4). Daarom moet ons almal die bewyse ondersoek en ons gesonde verstand gebruik om tot die regte gevolgtrekkings te kom. Die apostel Paulus het oor die skepping geskryf: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is.”—Rom. 1:20.

Maak gebruik van die hulpmiddele wat in jou taal beskikbaar is wanneer jy met ander redeneer (Sien paragraaf 5)

5. Hoe word ons as God se volk gehelp om ons waarnemingsvermoëns te gebruik?

5 “Om waar te neem” beteken dat ’n mens bewus word van iets wat dalk nie onmiddellik sigbaar of duidelik is nie (Heb. 11:3). Mense wat hulle waarnemingsvermoëns gebruik, gebruik dus hulle verstand, nie net hulle oë en ore nie. Jehovah se organisasie help ons om navorsing te doen. Hulle help ons om ons Skepper met oë van geloof ‘te sien’ (Heb. 11:27). Daar is navorsingshulpe soos die video The Wonders of Creation Reveal God’s Glory, die brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe en die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? Ons ontvang ook baie goeie inligting in ons tydskrifte. Die Ontwaak! bevat dikwels onderhoude met wetenskaplikes en ander wat verduidelik waarom hulle nou aan God glo. Die reeks artikels “Is dit ontwerp?” bespreek voorbeelde van die verbasende ontwerp wat ons in die natuur sien. Wetenskaplikes probeer dikwels om hierdie wonderlike ontwerpe na te boots.

6. Watter voordele hou dit in om die hulpmiddele te gebruik wat beskikbaar is, en hoe het jy al daarby baat gevind?

6 ’n Negentienjarige broer in die Verenigde State het die volgende gesê oor die twee brosjures wat vroeër genoem is: “Dit het my baie gehelp. Ek het hierdie brosjures seker al ’n dosyn keer deurgegaan.” ’n Suster in Frankryk het geskryf: “Die ‘Is dit ontwerp?’-artikels verstom my! Dit wys dat die slimste ingenieurs komplekse ontwerpe in die natuur kan naboots, maar dit is nooit so goed soos die oorspronklike nie.” Die ouers van ’n 15-jarige meisie in Suid-Afrika het gesê: “Die eerste artikel wat ons dogter gewoonlik in die Ontwaak! lees, is die ‘Onderhoud’-artikel.” Wat van jou? Maak jy ten volle gebruik van hierdie voorsienings? Dit kan jou geloof versterk sodat dit soos ’n boom met diep wortels word wat jou kan help om staande te bly teen die kragtige uitwerking van valse leringe.—Jer. 17:5-8.

JOU GELOOF IN DIE BYBEL

7. Waarom wil God hê dat jy jou denkvermoë moet gebruik?

7 Is dit verkeerd om opregte vrae oor die Bybel te vra? Glad nie! Jehovah wil hê dat jy jou “denkvermoë”, of verstand, moet gebruik om self seker te maak wat die waarheid is. Hy wil nie hê dat jy moet glo net omdat ander glo nie. Gebruik dus jou denkvermoë om juiste kennis op te doen. Hierdie kennis kan dan die vaste fondament word waarop ware geloof gebaseer is. (Lees Romeine 12:1, 2; 1 Timoteus 2:4.) Een manier waarop jy hierdie kennis kan verkry, is om studieprojekte te doen oor onderwerpe waaroor jy graag meer wil weet.

8, 9. (a) Watter studieprojekte geniet party? (b) Hoe het party daarby baat gevind om na te dink oor wat hulle studeer?

8 Sommige het gekies om studieprojekte te doen oor Bybelprofesieë of oor die geskiedkundige, argeologiese en wetenskaplike akkuraatheid van die Bybel. Een fassinerende profesie is Genesis 3:15. Hierdie vers lei die hooftema van die Bybel in, naamlik die regverdiging van God se soewereiniteit en die heiliging van sy naam deur middel van die Koninkryk. Dit gebruik figuurlike taal om te toon hoe Jehovah al die lyding wat die mens sedert Eden verduur, uit die weg sal ruim. Hoe kan jy te werk gaan om ’n studie van Genesis 3:15 te maak? Een manier is om ’n tydlyn te maak. Jy kan sleuteltekste daarop aanbring wat toon hoe God geleidelik meer inligting voorsien het oor die persone en die reëling waarna hierdie vers verwys en wat bewys dat die profesie vervul sal word. Wanneer jy sien hoe die tekste inmekaar skakel, sal jy sekerlik tot die slotsom kom dat die Bybelprofete en -skrywers “deur heilige gees meegevoer is”.—2 Pet. 1:21.

9 ’n Broer in Duitsland het geskryf: “Die Koninkrykstema is soos ’n goue draad wat dwarsdeur die Bybel loop. Dit is die geval al het omtrent 40 manne die Bybel geskryf. En baie van hulle het op verskillende tye gelewe en het mekaar nie persoonlik geken nie.” ’n Australiese suster het ’n studieartikel in Die Wagtoring van 15 Desember 2013 baie interessant gevind. Dit het gehandel oor die betekenis van die Pasga. Hierdie spesiale viering hou ten nouste verband met Genesis 3:15 en die koms van die Messias. “Daardie studie het my laat besef hoe wonderlik Jehovah is”, het sy geskryf. “Die feit dat iemand kon dink aan hierdie reëling vir die Israeliete, wat later in Jesus vervul is, het my werklik beïndruk. Ek moes letterlik stop en dink aan hoe fantasties daardie profetiese Pasgamaal was!” Waarom het hierdie suster so gevoel? Sy het diep nagedink oor wat sy gelees het en die betekenis daarvan begryp. Dit het haar geloof versterk en haar nader aan Jehovah laat kom.—Matt. 13:23.

10. Hoe versterk die eerlikheid van Bybelskrywers ons geloof in die Bybel?

10 Nog iets wat ons geloof kan versterk, is die moed en eerlikheid van die manne wat die Bybel geskryf het. In die ou tyd het baie skrywers net goeie dinge oor hulle leiers en hulle koninkryke geskryf. Maar Jehovah se profete het altyd die waarheid gepraat. Hulle het die tekortkominge van hulle eie mense, selfs van hulle konings, genoem (2 Kron. 16:9, 10; 24:18-22). En hulle het hulle eie foute en dié van ander knegte van God opgeteken (2 Sam. 12:1-14; Mark. 14:50). “Sulke eerlikheid is baie skaars”, het ’n jong broer in Brittanje gesê. “Dit versterk ons vertroue dat die Bybel werklik van Jehovah kom.”

11. Hoe kan jongmense groter waardering opbou vir Bybelbeginsels?

11 Die beginsels wat in die Bybel gevind word, het baie oortuig dat die Bybel deur God geïnspireer is. (Lees Psalm 19:7-11.) ’n Jong suster in Japan het geskryf: “Wanneer ons gesin Bybelbeginsels toegepas het, was ons werklik gelukkig. Ons het vrede, eenheid en liefde ervaar.” Bybelbeginsels beskerm ons teen valse aanbidding en teen bygelowe wat ’n houvas op baie mense het (Ps. 115:3-8). Het filosofieë wat sê dat God nie bestaan nie, ’n uitwerking op mense? Leringe soos evolusie is geneig om ’n god van die natuur te maak en skryf kragte aan die natuur toe wat eintlik net aan Jehovah behoort. Mense wat sê dat daar geen God is nie, beweer dat ons toekoms geheel en al in ons eie hande is. Maar hulle bied geen vaste hoop vir ’n beter toekoms nie.—Ps. 146:3, 4.

REDENEER MET ANDER

12, 13. Hoe kan jy met klasmaats, onderwysers of ander oor die skepping of die Bybel praat?

12 Hoe kan jy op ’n doeltreffende manier met ander oor die skepping en die Bybel redeneer? Moenie net aanvaar dat jy weet wat ander glo nie. Sommige mense sê dat hulle aan evolusie glo, maar hulle glo ook dat God bestaan. Hulle dink dat God evolusie gebruik het om verskillende lewende dinge te skep. Ander sê dat hulle aan evolusie glo omdat hulle voel dat dit nie op skool geleer sou word as dit nie ’n feit is nie. En party glo nie meer aan God nie omdat godsdiens hulle teleurgestel het. Wanneer jy dus die oorsprong van lewe met iemand bespreek, is dit gewoonlik wys om eers vrae te vra. Vind uit wat die persoon glo. As jy redelik is en bereid is om te luister, sal hy dalk geneig wees om na jou te luister.—Tit. 3:2.

13 As dit lyk of iemand jou geloof in die skepping aanval, kan jy hom taktvol vra om sy standpunt te verduidelik. Vra hom om te verduidelik hoe lewe sonder ’n Skepper kon begin het. Die eerste lewensvorm kon slegs voortbestaan het as dit nog van sy eie soort kon voortbring. ’n Chemieprofessor het gesê dat dit onder andere die volgende nodig sou hê: (1) ’n beskermende membraan, (2) die vermoë om energie te ontvang en te verwerk, (3) inligting in die gene en (4) die vermoë om hierdie inligting te repliseer. Hy het bygevoeg: “’n Mens is verstom as jy sien hoe kompleks selfs die eenvoudigste lewensvorm is.”

14. Wat kan jy doen as dit vir jou moeilik is om evolusie of die skepping te bespreek?

14 As jy voel dat dit vir jou moeilik is om evolusie of die skepping te bespreek, kan jy die eenvoudige redenasie probeer gebruik wat Paulus gebruik het. Hy het geskryf: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Heb. 3:4). Sulke logika is redelik en doeltreffend! Ja, ’n intelligente verstand is nodig om iets kompleks te ontwerp. Jy kan ook ’n geskikte publikasie gebruik wanneer jy hierdie onderwerp bespreek. ’n Suster het die twee brosjures wat vroeër genoem is, gebruik toe sy met ’n jong man gepraat het wat gesê het dat hy nie glo dat daar ’n God is nie en dat hy aan evolusie glo. ’n Week of wat later het die jong man erken: “Nou glo ek aan God.” Dit het tot ’n Bybelstudie gelei, en hierdie jong man het een van ons broers geword.

15, 16. Watter metode kan jy gebruik wanneer jy oor die Bybel praat, en wat moet jou doelwit wees?

15 Jy kan dieselfde metode gebruik wanneer jy met iemand praat wat twyfel of die Bybel van God af kom. Vind uit wat hy werklik glo en in watter onderwerpe hy belangstel (Spr. 18:13). As hy belangstel in wetenskaplike dinge, sal hy dalk goed reageer wanneer jy punte noem wat toon dat die Bybel met die wetenskap ooreenstem. Ander mense sal dalk luister as jy vir hulle wys dat die Bybel betroubare profesieë en akkurate geskiedenis bevat. Of jy kan nuttige Bybelbeginsels vir hulle wys, soos dié in die Bergpredikasie.

16 Onthou, jou doel is om harte te wen, nie argumente nie. Wees dus ’n goeie luisteraar. Vra opregte vrae, en gee jou mening op ’n sagmoedige en respekvolle manier, veral wanneer jy met ouer persone praat. Dan sal dit vir hulle makliker wees om jou beskouing te respekteer. Hulle sal ook sien dat jy goed nagedink het oor wat jy glo. Dit is iets wat baie jongmense nie doen nie. Dit is natuurlik goed om te onthou dat jy mense wat onredelik is of wat net wil spot met jou oortuigings, nie hoef te antwoord nie.—Spr. 26:4.

MAAK DIE WAARHEID JOU EIE

17, 18. (a) Wat kan jou help om die waarheid jou eie te maak? (b) Watter vraag sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Meer as net ’n basiese kennis van die Bybel is nodig om sterk geloof te hê. Delf dus diep in God se Woord, asof jy na verborge skatte soek (Spr. 2:3-6). Maak goed gebruik van hulpmiddele wat moontlik in jou taal beskikbaar is, soos die Watchtower Library op DVD, die Wagtoring—AANLYN BIBLIOTEEK sowel as die Watch Tower Publications Index of die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Maak dit ook jou doelwit om deur die hele Bybel te lees. Jy kan probeer om dit binne 12 maande te doen. Een van die beste maniere waarop ons ons geloof kan versterk, is om God se Woord te lees. ’n Kringopsiener het gedink aan sy jong dae en gesê: “Iets wat my gehelp het om te besef dat die Bybel die Woord van God is, was om dit deur te lees. Die Bybelverhale wat ek as kind geleer het, het uiteindelik vir my sin gemaak. Dit was ’n keerpunt in my geestelike groei.”

18 Ouers—julle speel ’n belangrike rol in die geestelike vooruitgang van julle kinders. Hoe kan julle hulle help om sterk geloof op te bou? Dit word in die volgende artikel bespreek.