Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Laat jou hande nie slap word nie”

“Laat jou hande nie slap word nie”

“Laat jou hande nie slap word nie.”—SEF. 3:16.

LIEDERE: 81, 32

1, 2. (a) Voor watter probleme kom baie vandag te staan, en met watter gevolg? (b) Watter vaste hoop vind ons in Jesaja 41:10, 13?

’N SUSTER wat ’n gewone pionier is en met ’n ouer man getroud is, sê: “Ten spyte van ’n goeie geestelike roetine sukkel ek al jare lank met angstigheid. Dit beroof my van slaap, benadeel my gesondheid, het ’n uitwerking op hoe ek ander behandel en maak dat ek soms wil moed opgee en in ’n gat wil kruip.”

2 Kan jy jou vereenselwig met hoe hierdie suster voel? Ongelukkig veroorsaak die lewe in Satan se goddelose wêreld baie druk, wat ’n persoon angstig kan laat voel en asof hy onder ’n swaar las gebuk gaan. Dit kan soos ’n boot se anker wees, wat keer dat die boot vorentoe beweeg (Spr. 12:25). Wat kan jou so laat voel? Wel, miskien probeer jy die dood van ’n geliefde verwerk, worstel jy met ’n ernstige siekte, probeer jy in hierdie moeilike ekonomiese tye vir jou gesin sorg of ondervind jy teenstand. Die emosionele spanning wat dit tot gevolg het, kan jou mettertyd uitput. Dit kan jou selfs jou vreugde laat verloor. Maar jy kan seker wees dat God ’n helpende hand na jou wil uitsteek.—Lees Jesaja 41:10, 13.

3, 4. (a) Hoe gebruik die Bybel die woord “hande”? (b) Wat kan veroorsaak dat ons hande slap word?

3 Die Bybel verwys dikwels na dele van die menseliggaam om verskillende eienskappe of dade te beskryf. Die hand word byvoorbeeld honderde kere genoem. As ’n mens se hande versterk is, kan dit beteken dat jy aangemoedig en versterk voel en gereed is vir optrede (1 Sam. 23:16; Esra 1:6). Dit kan te kenne gee dat jy ’n positiewe en hoopvolle beskouing van die toekoms het.

4 As ’n persoon se hande in figuurlike sin slap word, kan dit beteken dat hy ontmoedig of sonder hoop is (2 Kron. 15:7; Heb. 12:12). Mense wat hulle in so ’n situasie bevind, gee dikwels moed op. Hoe kan jy die nodige moed verkry as jy jou in omstandighede bevind wat vir jou spanning veroorsaak of jou fisies, emosioneel of selfs geestelik uitgeput laat voel? Wat kan jou aanspoor en versterk om te volhard en jou vreugde te behou?

“DIE HAND VAN JEHOVAH HET NIE TE KORT GEWORD OM TE RED NIE”

5. (a) Wat is ons dalk geneig om te doen wanneer probleme ontstaan, maar waaraan moet ons ons herinner? (b) Wat sal ons bespreek?

5 Lees Sefanja 3:16, 17. Ons wil nie swig voor vrees en ontmoediging nie, want dan is dit asof ons ons hande slap laat word; ons wil eerder ons liefdevolle Vader, Jehovah, se uitnodiging aanvaar om ‘al ons sorge op hom te werp’ (1 Pet. 5:7). God het vir die Israeliete gesê dat sy magtige ‘hand nie te kort geword het om [sy lojale knegte] te red nie’, en ons kan hierdie woorde ter harte neem (Jes. 59:1). Ons sal drie uitsonderlike Bybelvoorbeelde bespreek wat toon dat Jehovah sy volk wil en kan versterk om sy wil te doen ten spyte van probleme wat dalk oorweldigend lyk. Kom ons kyk hoe hierdie voorbeelde ons kan opbou.

6, 7. Watter belangrike lesse kan ons leer uit Israel se oorwinning oor die Amalekiete?

6 Kort nadat die Israeliete op wonderdadige wyse uit slawerny in Egipte verlos is, het die Amalekiete hulle aangeval. Die moedige Josua het Moses se instruksies gevolg en die Israeliete in die geveg gelei. Intussen het Moses vir Aäron en Hur na ’n nabygeleë heuwel geneem van waar hulle die slagveld kon sien. Het hierdie drie mans uit vrees van die geveg af weggehardloop? Beslis nie!

7 Moses het ’n plan in werking gestel wat die sleutel tot hulle sukses was. Moses het sy hande en die staf van die ware God in die lug gehou. So lank as wat Moses dit gedoen het, het Jehovah die hande van die Israeliete versterk en het hulle met sukses teen die Amalekiete geveg. Maar wanneer Moses se hande moeg geword het en hy dit laat sak het, het die Amalekiete begin wen. Aäron en Hur het met beslistheid opgetree en “’n klip geneem en dit onder [Moses] neergesit, en hy het daarop gesit; en Aäron en Hur het sy hande ondersteun, een aan hierdie kant en die ander aan daardie kant, sodat sy hande onbeweeglik gebly het tot die son ondergegaan het”. Ja, God se magtige hand het die Israeliete in staat gestel om die geveg te wen.—Eks. 17:8-13.

8. (a) Hoe het Asa gereageer toe die Etiopiërs Juda bedreig het? (b) Hoe kan ons toon dat ons soos Asa op God vertrou?

8 Jehovah het ook in koning Asa se dag getoon dat sy hand nie te kort is nie. Baie gevegte word in die Bybel genoem. Maar die grootste leër waarvan gepraat word, is dié van Serag die Etiopiër. Hy het 1 000 000 ervare soldate gehad. Die Etiopiërs se leër was byna twee keer so groot soos Asa s’n. Jy kan jou voorstel hoe maklik dit vir Asa sou gewees het om angstig en bang te word en sy hande moedeloos te laat sak. Maar Asa het hom onmiddellik tot Jehovah gewend vir hulp. Vanuit ’n militêre oogpunt het ’n oorwinning oor die Etiopiërs onmoontlik gelyk, maar “by God is alles moontlik” (Matt. 19:26). God het sy groot krag getoon en ‘die Etiopiërs verslaan voor Asa’, wie se “hart al sy dae volkome met Jehovah” was.—2 Kron. 14:8-13; 1 Kon. 15:14.

9. (a) Wat het nie gekeer dat Nehemia die mure van Jerusalem herbou nie? (b) Hoe het God op Nehemia se gebed gereageer?

9 Stel jou voor hoe Nehemia gevoel het toe hy na Jerusalem gegaan het. Die stad het feitlik geen beskerming gehad nie, en sy mede-Jode was moedeloos. Die dreigemente van teenstanders het veroorsaak dat die Jode hulle hande slap laat word het—dat hulle opgehou het om Jerusalem se mure te herbou. Het Nehemia toegelaat dat die situasie veroorsaak dat hy sy hande ook moedeloos laat sak? Nee! Soos Moses, Asa en ander getroue knegte van Jehovah, was Nehemia reeds in die gewoonte om in gebed op Jehovah te vertrou. En hy het dit hierdie keer ook gedoen. Al het die situasie dalk vir die Jode onmoontlik gelyk, het Jehovah gereageer op Nehemia se opregte gebed om hulp. God het sy “groot krag” en “sterk hand” gebruik om die Jode se slap hande te versterk. (Lees Nehemia 1:10; 2:17-20; 6:9.) Glo jy dat Jehovah sy “groot krag” en “sterk hand” gebruik om sy knegte vandag te versterk?

JEHOVAH SAL JOU HANDE VERSTERK

10, 11. (a) Hoe probeer Satan ons kry om ons hande slap te laat word? (b) Wat gebruik Jehovah om ons te versterk en ons krag te gee? (c) Hoe het jy baat gevind by teokratiese onderrigting en opleiding?

10 Ons kan daarvan seker wees dat die Duiwel nooit sy hande slap sal laat word nie. Hy sal altyd probeer om ons Christelike bedrywighede stop te sit. Hy gebruik leuens en dreigemente van regerings, godsdiensleiers en afvalliges. Wat is sy doelwit? Hy wil ons hande slap laat word wat die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk betref. Maar Jehovah kan en wil ons versterk deur middel van sy heilige gees (1 Kron. 29:12). Dit is noodsaaklik dat ons staatmaak op daardie gees sodat ons enige uitdaging die hoof kan bied wat Satan en sy goddelose stelsel oor ons bring (Ps. 18:39; 1 Kor. 10:13). Ons kan ook dankbaar wees dat ons God se Woord het, wat deur heilige gees voortgebring is. En dink aan die geestelike voedsel wat op die Bybel gebaseer is en wat ons elke maand ontvang. Die woorde van Sagaria 8:9, 13 (lees) is geuiter terwyl die Jode besig was om die tempel in Jerusalem te herbou, en hierdie woorde is ook baie gepas vir ons.

11 Ons word ook versterk deur goddelike onderrigting by ons Christelike vergaderinge, byeenkomste en teokratiese skole. Hierdie opleiding kan ons help om die regte beweegredes te hê, om geestelike doelwitte te stel en om al ons Christelike verantwoordelikhede na te kom (Ps. 119:32). Doen jy jou bes om krag te put uit hierdie opleiding?

12. Wat moet ons doen om geestelik sterk te bly?

12 Jehovah het die Israeliete gehelp om die Amalekiete en die Etiopiërs te verslaan, en hy het Nehemia en sy metgeselle versterk om Jerusalem se mure te voltooi. Net so sal God ons die krag gee om ten spyte van teenstand, onverskilligheid en angstigheid standvastig te bly sodat ons ons predikingswerk kan doen (1 Pet. 5:10). Ons verwag nie dat Jehovah wonderwerke vir ons sal verrig nie. Ons moet ons deel doen. Ons kan dit doen deur God se Woord elke dag te lees, elke week vir die vergaderinge voor te berei en dit by te woon, ons verstand en hart te voed deur middel van persoonlike studie en gesinsaanbidding en deur altyd in gebed op Jehovah te vertrou. Ons moet nooit toelaat dat ander strewes en bedrywighede ons verhinder om ten volle baat te vind by die middele wat Jehovah gebruik om ons te versterk en aan te moedig nie. As jy agterkom dat jou hande op enige van hierdie gebiede slap geword het, moet jy God vra om jou te help. Dan sal jy sien hoe sy gees ‘in jou werk sodat jy kan wil sowel as werk’ (Fil. 2:13). Maar wat kan jy doen om ander se hande te versterk?

VERSTERK DIE HANDE WAT HANG

13, 14. (a) Hoe is ’n broer ná die dood van sy vrou versterk? (b) Hoe kan ons ander versterk?

13 Jehovah gee ons ’n wêreldwye broederskap wat vir ons omgee en ons kan aanmoedig. Dink aan wat die apostel Paulus geskryf het: “Rig derhalwe die hande wat hang en die lam knieë op, en hou aan om reguit paaie vir julle voete te maak” (Heb. 12:12, 13). In die eerste eeu is baie Christene geestelik versterk deur hulle broers en susters. Dit is ook vandag die geval. Nadat een broer sy vrou aan die dood afgestaan het en voor ander moeilike omstandighede te staan gekom het, het hy gesê: “Ek het geleer dat ons nie ons toetse kan kies nie, en ook nie wanneer of hoe gereeld dit kom nie. Gebed en persoonlike studie was soos ’n reddingsbaadjie wat my gehelp het om kop bo water te hou. En die ondersteuning van my geestelike broers en susters het my baie vertroos. Ek het besef hoe belangrik dit is om ’n goeie persoonlike verhouding met Jehovah op te bou voordat moeilike situasies ontstaan.”

Elke lid van die gemeente kan ’n bron van aanmoediging vir ander wees (Sien paragraaf 14)

14 Aäron en Hur het Moses se hande letterlik gedurende ’n geveg ondersteun. Ons kan ook na maniere soek om ander te ondersteun en praktiese hulp aan hulle te verleen. Ons kan byvoorbeeld hulp verleen aan diegene wat sukkel weens die ouderdom, gesondheidsprobleme, teenstand van familielede, eensaamheid of die dood van ’n geliefde. Ons kan ook jongmense versterk op wie daar druk uitgeoefen word om verkeerde dinge te doen of om “sukses” in hierdie stelsel van dinge na te streef, of dit nou deur middel van geleerdheid, geld of ’n loopbaan is (1 Tess. 3:1-3; 5:11, 14). Soek na maniere om opregte belangstelling in ander te toon by die Koninkryksaal, in die bediening, terwyl julle ’n ete saam geniet of oor die telefoon gesels.

15. Watter uitwerking kan positiewe woorde op mede-Christene hê?

15 Ná Asa se merkwaardige oorwinning het die profeet Asarja hom en sy volk met hierdie woorde aangemoedig: “En julle, wees moedig en moenie julle hande slap laat word nie, want daar is ’n beloning vir julle werk” (2 Kron. 15:7). Dit het Asa beweeg om baie veranderinge aan te bring om rein aanbidding te herstel. Jou positiewe woorde kan ook ander se hart raak. Dit kan hulle help om hulle diens aan Jehovah te verbeter (Spr. 15:23). En moet nooit vergeet watter kragtige uitwerking dit op ander kan hê as jy by die vergadering jou hand opsteek en opbouende kommentaar lewer nie.

16. Hoe kan ouer manne die hande van broers en susters in die gemeente versterk, soos Nehemia gedoen het? Gee voorbeelde van hoe medegelowiges jou persoonlik gehelp het.

16 Met Jehovah se ondersteuning het Nehemia en sy metgeselle hulle hande versterk vir die werk. Toe het hulle Jerusalem se mure in net 52 dae voltooi! (Neh. 2:18; 6:15, 16). Nehemia het nie net toesig gehou oor die werk nie. Hy het self ook gehelp om Jerusalem se mure te herbou (Neh. 5:16). Talle liefdevolle ouer manne volg Nehemia se voorbeeld deur op teokratiese bouprojekte te help of deur hulle plaaslike Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou. Deur saam met medeverkondigers in die bediening te werk en deur herdersbesoeke te doen, versterk hulle ook die swak hande van dié wat angstig van hart is.—Lees Jesaja 35:3, 4.

“LAAT JOU HANDE NIE SLAP WORD NIE”

17, 18. Waarvan kan ons seker wees wanneer ons probleme ondervind of angstig is?

17 As ons skouer aan skouer met ons broers en susters dien, bevorder dit eenheid. Dit help ons ook om blywende vriendskappe op te bou en versterk ons vertroue in die komende seëninge onder God se Koninkryk. Wanneer ons die hande van ander versterk, help ons hulle om ontmoedigende omstandighede te verduur en om ’n positiewe en hoopvolle beskouing van die toekoms te behou. En dit help ons om ons geestelike fokus te behou en om die werklikheid te ervaar van wat God in die toekoms vir ons gaan doen. Ja, dit versterk ook ons hande.

18 As ons kyk na hoe Jehovah sy getroue knegte by verskillende geleenthede in die verlede ondersteun en beskerm het, versterk dit vandag ons geloof en vertroue in hom. Wanneer jy dus druk en probleme ondervind, moet jy “jou hande nie slap [laat] word nie”! Nader Jehovah eerder in gebed en laat sy magtige hand jou versterk en na Koninkrykseëninge lei.—Ps. 73:23, 24.